Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 53

Vrydag 15 FEBRUARIE 2019 Lees Jeremia 13:20-27

Оглавление

Waarom?

Jy vra jou af: “Waarom het dit my oorgekom?” (v. 22).

Waarom? Waarom ék? Wat het ek dan gedoen wat so verkeerd is?

Stokou vrae. Die heersers in Jerusalem het dit al gevra. En, soos dit maar met sulke vrae gaan, vra hulle dit toe dit te laat is. Toe die werklikheid hulle reeds getref het. Toe die nag wat hulle beloof is, reeds op hulle toegesak het. Toe dit te laat was om hul gedrag te verander.

Buitendien, sê die Here deur sy profeet aan hulle, julle sal nie verander nie, want julle kán nie. Julle is gans te gewoond aan wat julle doen. Julle het noodlottig verslaaf geraak aan jul misdade.

Daarom wag daar nou ’n onbeskryflike vernedering op jou, Jeru­salem! Nie net sal jou ondergeskiktes, hulle wat jy as minderes be­skou, oor jou heers nie; jy sal ook, voor almal, kaal uitgetrek word. Dat jy in al jou naaktheid voor die mense vertoon kan word. Dat hulle almal oor jou skaamte kan lag.

En tog, en tóg …

Reg aan die einde van hierdie hoofstuk word hulle ’n ont­snap­kans gebied. Kom die Here se kreet: “Hoe lank gaan dit nog so bly?” (v. 27). En word die deur uit hierdie donkerte op ’n skrefie oop­ge­maak. Die Here kyk verlangend na hulle.

Sal hulle Hom sien? Sal hulle die kans aangryp? Of het hulle lankal afgeleer om Hom te hoor wanneer Hy laaste kanse aanbied? Om Hom raak te sien as Hy hulle wys hoe hulle kan uitkom uit die web wat hulle self gespin het en waarin hulle nou vasgevang sit?

____________________

Here, ek is só skaam dat ek U nie in die oë kan kyk nie. As U wil, kan U my aan die hand neem en my uit hierdie moeras lei. As U wil.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх