Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 47

Saterdag 9 FEBRUARIE 2019 Lees Lukas 4:42-44

Оглавление

Moenie my los nie!

Die mense het Hom … probeer beweeg om nie van hulle af weg te gaan nie (v. 42).

Dit is nog vroeg in Jesus van Nasaret se bediening en Hy maak groot indruk. Soms gee Hy ’n rukkie pad. Gaan rus Hy op ’n eenkantplek.

Maar die mense spoor Hom op. Bewonderaars laat hulle nie so maklik afskud nie …

Hulle wil nie laat los nie. Ook maar mens: As daar iets (of Iemand) is wat tot hul heil en beswil is, hou hulle wat hulle het.

Maar hier werk dit nie so nie; nie met Jesus nie. Hy laat Hom nie sommer vashou nie; sy werk is omvangryker as wat jy mag dink. Die trop vir wie Hy sorg, is groter as wat jy ooit kan vermoed. Hý is dus die Vashouer. Die Opsoeker. Opteller. Terugdraer.

Ook maar goed so. Want, sou ons later verneem, dié wat Hom so graag by en vir hulleself wou hou, het Hom uiteindelik gelos. Toe dinge té ingewikkeld raak en opofferings van hulle gevra is, het hulle padgegee.

Soos dit maar met mense is, weeg eiebelang verreweg die swaar­ste wanneer jy voor keuses te staan kom. En dan draai jy om en loop weg, dalk ook “diep teleurgesteld” soos die ryk jongman (vgl. Luk 18:23). Of vloekend, soos Petrus (vgl. Mark 14:71). Was jy jou hande in kamma-onskuld en met groot gebaar, soos Pilatus (vgl. Matt 27:24).

Maar, wegloper, jy moet weet dat jy nie baie ver gaan kom nie. Hy gaan jou agternasit, Hy sal jou opspoor en jou uit die gat haal waarin jy beland het. Hy sal afbuk en jou daar optel en terugdra na sy trop. Daar waar jy hoort.

____________________

Ek het niemand behalwe U nie. Ek kan nêrens heen as U my nie lei nie. Hou my vas, Here!

Uit die Beek 2019

Подняться наверх