Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 59

Donderdag 21 FEBRUARIE 2019 Lees Psalm 37:1-11, 39-40

Оглавление

Die Here se saak

Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here … (v. 3-4).

Moet jou nie ontstel oor die skynbare voorspoed van goddelose mense nie. Skelms se rakleeftyd verstryk gouer as wat jy – en hulle! – dink. Daar is baie beter dinge om te doen as om jou oor hulle te kwel. Byvoorbeeld: Gaan voort met jou lewe. Die Here wat Hom nog altyd oor jou gekwel het, sal steeds sorg.

Dit is ’n kort samevatting van hierdie langerige psalm. En dalk moet gelowiges dié paar sinne dadelik op ’n yskasdeur plak, daar waar hulle vandag ’n paar keer gaan aandoen. Of dalk voor hul bed, waar hulle vanoggend of vanaand gaan kniel.

Miskien is die heel beste plek vir hierdie opgeplakte samevatting bo teen die plafon. Daar waarheen jy staar wanneer jy op jou bed lê en sukkel om tot slaap te kom. Ja, gaan plak dit daar, sodat jy dit nie kan miskyk nie: die vermaning om jou nie oor skelms te ontstel nie. Om nie jou tyd en krag en slaap ter wille van boelies en ander skurke op te offer nie.

Want wat kan jý nou eintlik daaraan doen? Sal jy, soos Jesus later sou sê, daardeur jou lewe “met een enkele uur verleng”? (Matt 6:27). Nee, jy kan niks aan hulle doen nie. En jy wil ook nie. Hulle is in die Here se visier. Hý sal vergeld (vgl. Rom 12:19).

Haal dan maar daardie nota af van die yskasdeur, die bed se kopstuk, die plafon. Skeur dit op. Vergeet van hulle. Die Here sal aan hulle dink, en sy tyd afwag.

Leef vol vreugde voort in die beskerming van Hom wat jou nooit sal vergeet nie.

____________________

Reinig my gemoed, Here! Ek laat alles aan U oor.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх