Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 63

Maandag 25 FEBRUARIE 2019 Lees Psalm 38

Оглавление

Sonder antwoord

Ek vertrou op U, Here, U sal antwoord … (v. 16).

Lees hierdie psalm van hoek tot kant deur: Jy sal nie ’n antwoord vind nie. Geen verligting nie. Soos dit in die eerste vers met ’n smeekroep begin (“Moet my tog nie …”) eindig dit meer as twintig verse later: “Maak tog gou om my te help …”

Die redes vir die benoudheid wissel: In die eerste verse is dit die Here se hand wat “swaar op my” lê (v. 3); in die daarop­volgende gedeelte wys die digter die vinger na homself, “my eie dwaas­heid”(v. 6). Nóg later wys hy sy vyande uit “wat my sonder rede haat” (v. 20).

Maar deurentyd, van begin tot einde, smeek hy: Help my, Here! Maak tog gou! “U weet waarna ek smag …” (v. 10).

Wat ’n roerende pleidooi. En ons kan ons, eeue later, steeds daar­mee vereenselwig. Met die desperaatheid, met die vyande – juis ook onsself, wat merendeels ons eie grootste vyand is. Ja, en selfs met die belewenis van die Here se swaar hand, sy toorn oor ons.

Maar veral, verál, met die noodroep waarop die antwoord steeds uitbly. Want wie van ons ken nie daardie stilte ná gebed nie? Wie het nog nie gewonder of ons gebede nie maar iewers tussen bed en plafon vassteek nie? Is ek ooit gehoor? Is daar hoegenaamd Iemand wat my aanhoor?

Dié digter wonder nie daaroor nie. Sy gebed het maar een adres: “Here, my Redder!” (v. 23). Nee, hy weet goed God hoor; dit is net die gewag wat hom onderkry.

By hom is dit geen kwessie nie: Om sonder ’n antwoord te wees, beteken nie dat jy sonder God is nie. Nooit. Moet jou net nie skaam om aan te hou vra nie. Dit sou ook Jesus later sê (vgl. Luk 11:5-13).

____________________

Ek vra sonder ophou, Here, ek soebat: Hoor my! Help my!

Uit die Beek 2019

Подняться наверх