Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 56

Maandag 18 FEBRUARIE 2019 Lees Psalm 120

Оглавление

Te lank

Te lank moes ek woon by mense wat vrede haat (v. 6).

In hierdie pelgrimslied hoor ons ’n hartseer sanger. Genadig genoeg begin sy lied met die uitroep dat die Here hom gehoor het, dat Hy hom verlos het. Dan word die leuenaars, die bedrieërs, met ver­nie­tig­ing gedreig. Met die wraak van die God wat jaloers na sy kinders omsien.

Maar hoe het dit gebeur dat hy, dié sanger, in hierdie situasie beland het?

Uit die lied blyk dit dat die vreemdelinge waar hy hom bevind het ’n vername rol in sy onvrede gespeel het. Dit is hulle, die mense van Mesek en Kedar, wat die lewe vir hom ondraaglik gemaak het. Hy kon hul veglustigheid, hul hatigheid, eenvoudig nie meer verduur nie. Toe roep hy om hulp. En sy Hulp tree beslissend op.

Noudat hy op alles terugkyk, sug hy: Ek het te lank hier gebly. Te lank het ek met hierdie mense opgeskeep gesit. Ek moes lankal padgegee het.

Vanuit ons moderne, leefstyl-afgerigte beterweterigheid sal ons dalk die kop skud en iets sê soos: Jy moet jou met positiewe mense omring. Jy moet die geselskap opsoek van mense wat waarde aan jou lewe toevoeg. Vermy die vreugdediewe!

Glinsterende raad. Motiveringsprekers se brood-en-botter-én-jêm. Wat maklik deur swaarbeproefde mense gesluk word. Wat, helaas, dikwels nie uitvoerbaar is nie. Want presies hóé kom jy onder die mense van Mesek en Kedar uit? Hoe breek jy die tente daar op? Dit is dan jou leefplek, jou werkplek. Jy móét eenvoudig tussen hulle leef en oorleef.

Het jy ’n ander uitweg as Hy vir wie jy jou liedjies sing? Hy tot wie jy jou smeekgebede rig? Hy heet tog ook Verlosser. Uitredder. Vader-wat-weet.

____________________

U weet alles, Here. U ken ook my hart, my behoeftes, begeertes. My onvrede.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх