Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 43

Dinsdag 5 FEBRUARIE 2019 Lees 2 Konings 5:1-14

Оглавление

Dogtertjies

Op een van hulle strooptogte het die Arameërs ’n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het (v. 2).

Teen die verwagting in maak ’n dogtertjie soms haar verskyning in Ou Israel se geskiedenis. Wie kan Mirjam vergeet, Moses se sustertjie wat hom opgepas het toe hy in die mandjie in die rivier weggesteek is (vgl. Eks 2:1-8)?

Nou is daar hierdie een, sonder ’n naam waaraan ons haar kan onthou, maar met ’n vername werk: Sy is die leërhoof se vrou se bediende. Haar eintlike werk was om, soos Mirjam destyds, ’n weg­wyser na die Here te wees. Dit was mos deur Mirjam se toedoen dat Moses in die farao se paleis beland het.

Nou is dit hierdie kindjie-sonder-naam wat sorg dat Naäman by Israel se koning en uiteindelik by die befaamde profeet Elisa uitkom. Dit word ’n mooi storie dié, ’n verhaal van God se sorg vir vreemdes en skeptici. Vir ’n mens wat desperaat genoeg is om op ’n kind se woord ’n onwaarskynlike reis aan te pak.

Van dogtertjies gepraat: Daar was mos ook, só vertel die Evan­gelie­skrywer ons, die nooientjie uit Nasaret wat op ’n keer deur ’n engel besoek is … (vgl. Luk 1:26-38).

Ja-nee, ’n mens – vriend of vreemdeling, gelowig of skepties of doodgewoon agnosties – kyk net met moeite God se hand mis in hierdie lewe se onwaarskynlikhede. Sommige sal dit wel “toeval” of “karma” noem, of dit agter omslagtighede soos “soos dit nou moes wees” of “soos die duiwel dit wou hê” verbloem. Terwyl hulle wéét, of minstens ’n sterk vermoede het.

Terwyl daar ’n kindjie in hul omgewing is, dalk een met vlegsels of miskien ’n speelpop in die hand, wat hulle kan reghelp.

____________________

Dankie, Here, vir kinders om my wat met klokhelder stemme van U praat.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх