Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 36

Woensdag 30 JANUARIE 2019 Lees Psalm 119:89-96

Оглавление

U wonderlike wet

As ek my nie in u wet verlustig het nie, het ek omgekom in my ellende (v. 92).

Psalm 119 is by alle blokraaiselgeesdriftiges welbekend as die Bybel se langste psalm. Bybellesers sal wel ook weet dat dit hier is waar God se woord beskryf word as “’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Ps 119:105, 1933/53-vertaling).

Diegene wat die hele psalm deurlees, sal sien hoe die digter tel­kens sy verknogtheid aan die Woord verklaar – en veral dan ook aan die Here se “wet” en “bevele”, sy “verordeninge” en “gebod”.

Dit is dalk net hier waar die wenkbroue effens lig. Want die lief­de vir die Woord is navolgenswaardig, maar ’n verlustiging in die wét? Die entoesiastiese aanhang van ’n reeks moets en moenies? Nie sommer nie.

Dan blaai ons liefs verby en sug: Dit was darem maar ’n ander tyd daardie, ’n ander toewyding, ’n anderster vroomheid …

Maar só mis ons die digter se punt volledig. Want sy liefde vir God se gebod is ’n heel praktiese aangeleentheid, en straks selfs ’n saak van lewe en dood. Hoor dan: “Ek sal u bevele nooit verontag­saam nie, want deur hulle het U my in die lewe gehou” (v. 93).

Hy het dus vasgestel dat die Here se wette nie die reëls van die een of ander diktator is nie; dit is niks minder nie as beskermings­maat­reëls. Dit is die skild wat Hy voor sy kinders hou om die Bose se brandpyle af te weer. Dit is die muur wat Hy rondom hulle bou om die diewe te keer wat hul vreugde en dalk ook hul lewe wil steel.

Dit is ook sy Goddelike tienpuntplan om hulle teen hulleself te beskerm. Daarom die dankbaarheid daaroor en die vreugdevolle vasklou daaraan.

____________________

O Lig wat my donkerte verdryf, hoe groot is U, hoe helder skyn u woord!

Uit die Beek 2019

Подняться наверх