Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 33

Sondag 27 JANUARIE 2019 Lees Lukas 4:14-21

Оглавление

Reisende prediker

Hy het die mense in die sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat (v. 15).

Rondreisende predikers se naam loop hulle vooruit. Oral waar hulle aandoen en preek, word daar groot verwagtings gekoester. Die toe­hoorders hang aan hul lippe, drink die bruisende woorde in. En ná hul vertrek word daar met lof oor die afgelope geseënde tyd gepraat.

Destyds het ’n Nasaretseun in Galilea rondgegaan en gepreek. Almal was opgewonde, en verwonderd, toe hy in die plaaslike sina­goge aan die woord kom. Hulle het mekaar gevra: “Is hy dan nie die seun van Josef nie?” (Luk 4:22).

Hy is, Hy is. Hy is egter ook meer. Het hulle dit dan nie gehoor nie? Hy sê dit self nadat hy uit die Jesajaboek voorgelees het, die boek toemaak en begin preek en sê: “Vandag is hierdie Skrif­woord … vervul” (v. 21).

Ag, dalk het hulle dit gehoor. En dalk was dit die vernaamste rede waarom hulle baie gou van hom ontslae wou raak (vgl. Luk 4:28-30). Hy het mos sy mandaat as besoekende prediker oorskry: Moe­nie aanvegbare stellings maak nie. Moenie uitdaag nie. Moet veral nie kritiseer nie. Praat nét “aangename woorde” (Luk 4:22).

Dit sou helaas nooit gebeur nie, nie waar dié prediker sou optree nie. Toe sy volgelinge boonop begin om na hom in hoofletters te verwys, soos na ’n god, was die kerkmense éérs kwaad.

Jammer vir julle, kan ons vandag sê. Die Gees van die Here is op Hom. Hy is die Gesalfde wat na die armes, die gevangenes, die blindes en die onderdruktes gestuur is. Niemand sal Hom keer nie. Hy is die Aanbringer van die genadejaar. Hy is hier om te bly.

____________________

U genade is ook vir my genoeg, my hoofletter-Here!

Uit die Beek 2019

Подняться наверх