Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 40

Saterdag 2 FEBRUARIE 2019 Lees Johannes 1:43-51

Оглавление

Sigbaar

“Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “… het Ek jou al gesien” (v. 48).

Dit bly ’n verbysterende ontdekking dat ons so sigbaar vir die Here is. Hoe suksesvol jy ook al daarin slaag om vir vyande (en vriende!) weg te kruip; vir die Here is jy so duidelik soos, nou ja, daglig.

Reeds die digter van Psalm 139 het sy verstomming hieroor uit­gespreek: “Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek … maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie …” (v. 11-12).

Die ironie hiervan is dat ons Hom so graag wil sigbaar maak. Ons sê, soos Filippus vir Natanael: “Kom kyk” (v. 46). In ons oor­moedigheid reken ons dat ons Hom in elke donker hoekie raaksien, om elke hoek en draai Hom kan uithaal en wys. Vir mense kan sê: Ek weet hoe Hy lyk, ek ken Hom en sy wil.

Ons doen ons voor as gidse van God. Ons beduie met vrymoe­dige vingers na Hom, die groot Besienswaardigheid. Dan roep ons ekstaties uit: Dáár is Hy! Só is Hy!

Intussen weet Hy alles van ons af. Sien Hy dwarsdeur ons. Kyk Hy tot in ons hovaardige hart en sien ons egoïsme raak, ons mate­lose selfliefde.

Maar, goddank, Hy kyk selfs dieper. Hy sien ook ons ver­laten­heid en verlange raak. Ons onsekerhede, al ons twyfel. Dan kom haal Hy ons uit ons skuilplek uit. Verwyder Hy die bravade­masker van ons gesig. Sê Hy, soos vir Natanael: Ek gaan jou nog groot dinge wys (vgl. v. 50-51).

Sy manier van kyk is enig: Daar is nie nóg so ’n ontfermende blik nie. En dít is mos uiteindelik wat so sigbaar vir sy wegkruiper-kinders is: sy oë, en die sagtheid daarvan.

____________________

Kyk asseblief goed na my, Here! Ek is swak en blind.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх