Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 21

Dinsdag 15 JANUARIE 2019 Lees Rigters 5:12-21

Оглавление

Volkslied

“Hou moed! Wees sterk!” (v. 21).

Dit is jammer dat die meeste van ons nie die ou Bybelse Hebreeus magtig is nie. Dink net hoeveel ekstra plesier ons dan uit hierdie lied sou put! Nou moet ons tevrede wees met die verskillende vertalings daarvan. En dikwels is dit so onmusikaal, so poësieloos, dat ons bloot daardeur waad, dikwels worstel. Ag, en soms liefs verby­blaai na iets anders, iets meer opwindends. Minder name, minder on­bekende beelde.

Dit sal jammer wees. Want selfs in sy vertaalde gedaante is hier­die rigterslied van Debora en Barak vol bemoediging, die ene troos. Bloot ’n vinnige kykie na die name in hierdie lied vertel ’n hele storie – een van dapperheid en heldemoed, maar ook van onbegryplike weifeling. Van mense wat bly wonder of hulle die regte ding doen, en sterre wat uit die hemel tot die stryd toetree.

Ten slotte sou die vertellers sing-sing uitroep: Moenie moed ver­loor nie! Sou hulle vol oortuiging jubel: Moenie vergeet dat julle die Here se eiendom is nie!

Mense soos ons – met ’n geskiedenis wat ook deur ’n ver­skei­den­heid halfvergete name bevolk word én deur ’n klomp oorvertelde heldedade wat deesdae al hoe onwaarskynliker klink – óns vermoed reeds dat die helfte ons nog nooit vertel is nie. Dat die waarheid iewers tussen die triomf en die twyfel verskuil lê. Dat die superhelde van weleer ook maar voete van klei gehad het, al is dit deur die jare in alle tale verswyg.

Ons sal egter goed vaar, skeptisisme en al, om fyn te luister na die luidrugtige volksliedere wat in hierdie tyd aan ons opgedis word. Spits maar die ore, totdat jy iets van God hoor, van sy troos en sy triomf. Dit kan jy goed glo, en by daardie stukkie lied kan jy gerus inval.

____________________

Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees – God regeer!

Uit die Beek 2019

Подняться наверх