Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 11

Saterdag 5 JANUARIE 2019 Lees Jeremia 31:7-14

Оглавление

’n Dans vir die nuwe jaar

Dan sal die jong meisies dans van blydskap saam met die jong mans en die ou mans (v. 13).

Hier’s nou ’n ding: Kyk net hoe glinster die manne se oë! Wie van hulle sal dan nie dadelik opspring vir ’n dans saam met die jong meisies nie! (Die ou manne sal wel later die skade aan hul knieë en rug – en ego – bereken …)

Maar dit is ’n blydskapdans dié, want God is groot en goed. Hy belowe om Israel se ballingskaptrane in ’n lofgesang te verander. Hy sal die verstrooides bymekaarmaak; Hy sal hulle oppas; Hy sal hulle laat floreer. Sy goedheid sal vir hulle oorgenoeg wees.

Dit is die God van alle tye wat hier aan die woord is, die troue Bondsgod van weleer. Die Here wat vandag en môre dieselfde is, en tot in ewigheid.

En, ja, die tye en die omstandighede en die spesifieke be­son­derhede mag wel verander het. Maar die God wat sy mense in sy hande hou? Nooit. Steeds is Hy die Bevryder, die Oppasser, die Gewer. Die Gelykmaker van harde paaie, die Handevatter van die blindes en kreupeles, die Verloskundige van hulle wat moeilik die lewe skenk aan al die verwagtings wat van hulle gekoester word. Sy beloftes, soos sy genade, is vir hulle genoeg.

Én, hoor hier, Hy is toe ook die Musiekmaker, die Aanvoerder van die vrolikheid. Hy bring hulle wat krom loop orent, Hy self trek die ineengedokenes op. Hy is die galante Heer wat die eensame muurblom raaksien, aan die hand neem en saggies en teer deur die dansende menigte stuur. Hy is die Here van die dans.

____________________

Here, hou my styf vas wanneer U my om die lyf het! Help my om die musiek te hoor, om die ritme te volg. Om van pure lekkerkry saam te sing.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх