Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 9

Donderdag 3 JANUARIE 2019 Lees Psalm 72

Оглавление

In u Naam

Leer tog die koning, o God, om te regeer volgens u wil, leer die koning om die reg te handhaaf soos U dit wil … (v. 1).

Hier is dit nou, en sekerlik onvermydelik aan die begin van ’n nuwe jaar: die gebed vir die koning. Die gelowige wat in hierdie dae die regeerders aan die Here opdra. Vir die owerheid bid ter wille van ’n rustige en stil lewe (vgl. 1 Tim 2:1-5).

Maar ons doen dit nie. Ons gil liewer op hulle – bitterbek, woedend. Vloek gans te gereeld wanneer ons aan “hulle” dink.

Ons gebruik al jare lank skelname wanneer ons oor hulle praat. Meestal suutjies, darem. Behalwe wanneer ons tussen mense is wat net so luidrugtig soos ons kla en net so uitgesproke oor “hulle”, die regeerders, te kere gaan.

Maar vir hulle bíd? Nie sommer nie.

Dit maak Psalm 72 ’n lastigheid. En 1 Timoteus 2:1-5 nogal ’n verleentheid. (By Romeine 13:1-7 blaai ons beslis haastig verby …)

Maar selfs ’n vinnige lees van dié psalm wys duidelik die eerste beginsel van elke gebed uit: Dit is ’n versugting tot God, tot niemand anders nie. Kyk dan hoe wemel dit van “laat hy …; leer hom …; mag hy …”

Sien, die bidder praat nie met die koning nie, maar met die Koning van die konings. Hier tree die bidder nie net vir die regeer­ders in nie, maar juis ook vir die onderdane. Vir die verdruktes, die armes, vir reg en geregtigheid.

Vir ’n rustige en stil lewe onder die regering van iemand wat dalk nie die naam koning werd is nie. Maar vir wie daar tog gebid moet word, in die verhewe Naam van die enigste Een wat magtige dade doen (vgl. v. 18-19).

____________________

Vergewe my dié teësinnige gebed, Here. Leer my, en die koning, lewe soos U dit wil hê.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх