Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 19

Sondag 13 JANUARIE 2019 Lees Jesaja 43:1-7

Оглавление

Naamdraer

… Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne (v. 1).

Is hierdie klompie teksverse nie dalk, saam met Psalm 23, die bekendste en straks die mees troosvolle gedeelte in die hele Ou Testament nie? Word dit nie in tye van groot seer, swaarkry en selfs die dood aangehaal en geglo nie?

Sonder twyfel. Bloot by die lees hiervan sal almal saamstem: Met hierdie teks spring ek oor ’n muur, loop ek ’n bende storm.

Jesaja se trooswoorde aan sy mense in hul angs en vernedering eggo deur die geslagte, tot vandag toe. Ook Christengelowiges eien hulle dit toe – en tereg so. Die Here se waarheid het nie grense nie, dit ken nie tyd en omstandighede nie. Dit vloei oor sy kinders se lewe en gaan lê in hul hart.

Dit is jammer dat net vers 1 so bekend is, want saam met die volgende ses verse vorm dit ’n allertroostende eenheid. Ja, dit dui spesifieke beloftes vir ’n spesifieke groep mense aan, maar dit ver­klap ook soveel van die Here se hart vir sy kinders, ál sy kinders.

Deurentyd is daar die klem op herstel, en deurgaans dié refrein: Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ag, en dan hierdie woorde wat geen Godskind genoeg kan hoor nie: “Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet …” (v. 4).

Só is God. So was Hy van altyd af, en so sal Hy altyd wees. Hy is begaan oor sy handewerk, Hy waak jaloers oor die lewe wat Hy geskep het. Die Naam wat Hy aan sy seuns en dogters gegee het, laat Hom sonder ophou roep en soek, en verseker: Jy is Myne.

____________________

Dit is my grootste trots, Here, dat ek u Naam dra. En my enigste troos dat ek aan U behoort.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх