Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 16

Donderdag 10 JANUARIE 2019 Lees Psalm 29

Оглавление

Die Here se stem

Die stem van die Here weerklink … (v. 3).

Die ander gode raas en blaas, maar wanneer die magtige stem van die Here weerklink, gebeur dinge. En dit gebeur gróót! Die see en die berge en die hemelruim getuig hiervan. Vir almal om te sien en te hoor en hulle te verwonder.

Die Here se kinders ken Hom so. Hulle weet hoe Hy klink. Daar­om sal hulle mekaar op berge en in dale en oral troos en sê: Sien jy daar? Hoor julle dit? Wees bly. Want dit is die Here wat daar praat.

Hierdie uitbundige psalm laat die gelowiges hul ore spits en oë fokus. Om beter te kan hoor hoe die Here klink, om beter te kan sien hoe Hy werk. Sodat hulle te midde van hierdie wêreld se gedruis hul Here se stem van die res kan onderskei.

Dit is goed so. Want deur die eeue het dit dikwels, selfs vir die Here se mees oplettende kinders, geklink asof Hy begin swyg. Hulle sal soms selfs vra: Hoekom bly U dan stil? Het U bes gegee met u wêreld? Tree U terug? Wat gaan dan van ons word, u kinders wat so deur die ander stemme oorweldig word? Ons wat dikwels daardeur aangelok, selfs meegesleur word?

Daarom is hierdie pêrel van ’n psalm ’n glinsterende herinnering aan die Stem wat bo alle stemme uitstyg. Wat verder as elke ander plaaslike geraas reik. Sodat al sy kinders, waar hulle ook al is, Hom kan hoor.

Nee, dit is selde ’n buldering en nooit ’n geskreeu nie. Dit is wel die onmiskenbare, vaste stem van Hom wat destyds al geselsende geskep het. En van altyd af ook só sy kosbare skepping onderhou en sy geliefde skepsels troos.

____________________

Ek hoor U, Here! Die klank van u stem maak my bly.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх