Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 18

Saterdag 12 JANUARIE 2019 Lees 1 Korintiërs 2:11-16

Оглавление

Gees van genade

Die Gees wat ons ontvang het, is … die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het (v. 12).

Daar is nogal baie wat ons van God se genade moet weet. On­be­rekenbaar baie. Ja, ons kop is heeltemal te klein en ons gees gans te bekrompe om die volle omvang van die Goddelike genade te begryp. Daarom het ons iets anders nodig om dit te bepaal. Of, beter gesê, iemand anders. Iemand Gans Anders.

En ons het Hom gekry. Ontvang. Uit God se hart: sy Heilige Gees.

Dit is hierdie Gees wat ons help om, onder meer, God se genade te verstaan. En Hy het, met respek gesê, ’n groot taak om ons hier­van te leer. Daar is immers soveel wat ons eers moet afleer. Al die genadeloosheid wat ons in hierdie wêreld aantref en self uitstraal, byvoorbeeld. Al die verstokte ongevoeligheid, al die onbetrokke liefdeloosheid. Die meedoënloosheid wat ongesiens in ons hart kom nesskop het.

Boonop moet die Gees ons van al die voorwaardes verlos wat dikwels eerste in ons kop kom wanneer ons die woord “genade” hoor. Daardie lysie wat deurlopend só begin: Ás ek so en so maak, dán sal God …

Dit is hierdie foutiewe inligting wat ons gees met die jare ver­samel het wat God se Gees eers moet verdryf. Dan moet Hy ons, soos kinders, leer wat “geskenk” (v. 12) beteken, en “aanvaar” (v. 14). Hy moet ons leer hoeveel “onsin” (v. 14) ons in ons gees ronddra.

Hierdie Gees leer ons nuwe waardes (vgl. v. 15), en nou kyk ons ’n tweede keer na hulle wat ons pad kruis. En verwonder ons, soos dit by begenadigdes hoort, aan Hom wat hulle oor ons pad stuur.

____________________

Leer my, o Gees, van God se genoegsame genade. Wys my hoe om dit te vier.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх