Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 14

Dinsdag 8 JANUARIE 2019 Lees Efesiërs 5:15-20

Оглавление

Soek-soek

Wees baie versigtig hoe julle lewe … soos verstandiges (v. 15).

Ons lewe in ’n goddelose tyd, skryf Paulus amper twee duisend jaar gelede. Ook maar goed hy sien nie wat deesdae gebeur nie …

As deel van sy uitgebreide vermaning dat diegene wat deur Christus verander is ook anders moet lewe, as “mense van die lig” (v. 8) moet lewe, voeg hy by: “Maak die beste gebruik van elke ge­leentheid …” (v. 16). Of, soos in die 1933/53-vertaling: “koop die tyd uit”. Carpe diem, sou die ou Romeine sê. Gryp die dag!

Dit klink gevaarlik naby aan ’n selfweerspreking: Eers maan Paulus die Efese-gelowiges om “baie versigtig” te lewe (“nougeset”, lui die 1933/53-vertaling), maar moedig hulle daarna aan om elke geleentheid aan te gryp. Pasop … én gryp! Keer … én kom!

Hoe verduidelik jy dit aan jouself?

Seker maar soos dit met elke Bybelse uitspraak die geval is: soos ’n verstandige mens. Met die gawe van goeie oordeel wat die Here aan sy kinders gee. Met die vaste voorneme om die dinge te “onderskei waarop dit werklik aankom” (Fil 1:10).

Dán sal jy weet – of ten minste begin leer – om in alle om­stan­dighede die Here se wil vir jou lewe te soek. Jy leer dat dit inderdaad ’n soektog is, ’n gedurige gevra: Is ek op die regte pad, Here? Hou ek nog die koers wat U vir my in gedagte het?

Dan begin jy agterkom waar om te vat en waar om te los. Jy leer die kosbare kuns van tydsberekening aan. Jy gryp nie meer wat voorkom nie; jy neem dit wat Hy aan jou gee gretig aan. Jy leer om ja te sê, en nee. Jy doen dinge wat by die Here se begenadigdes pas; die res leer jy af.

____________________

Net by U, Here, leer ek. Maak my ’n toegewyde, blymoedige student.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх