Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 10

Vrydag 4 JANUARIE 2019 Lees Handelinge 7:44-53

Оглавление

Wie is “julle”?

“Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Soos julle voorvaders gemaak het, maak julle ook” (v. 51).

Stefanus se mond lei uiteindelik tot sy doodsvonnis. Hierdie jong diaken – een van die eerste verkose diensknegte in die kerk van Christus – sou sonder twyfel beter gevaar het as hy hom op sy werk sou toespits. Hy is immers aangestel om namens die kerk te help om die weduwees te versorg.

Maar toe doen hy veel meer as dit: In die Naam van die kerk se Here loop hy die Jode trompop. En toe hy voor die Joodse Raad gesleep word, gebruik hy die geleentheid om hul valsheid te ont­bloot en hul vormgodsdiens te ontmasker. “Julle is die mense wat deur bemiddeling van engele die wet van God ontvang het, en tog het julle dit nie gehoorsaam nie” (v. 53).

Allawêreld. Dis geen wonder dat hulle toe blitsig van Stefanus ontslae geraak het nie. Doodgegooi. Hom en sy skrynende vrae onder klippe begrawe.

Nee, dit is ook nie lekker om reeds hier aan die begin van die jaar met klipharde vrae oor godsdiens gekonfronteer te word nie. Stefanus se skerp aantygings teen die Jode vlek ook kwessies oop wat alle gelowige mense raak wat hier lees – dinge soos egtheid en opregtheid, toewyding en gehoorsaamheid.

Dit vra ook: Watter god dien jý? Jou Here of jou self? Is die mak­like “Here, Here” van jou mond en die “Almagtige God” van jou voorvaders werklik die Vader van Jesus Christus die Regverdige? En hoe gemaklik pas ’n klip in jou hande? Kortom: Weet jy wie is hierdie “julle” op wie Stefanus so skel?

____________________

Leer my, Here, om in hierdie jaar my motiewe voor U te ondersoek. Om my eie hart te ken.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх