Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 32
Saterdag 26 JANUARIE 2019 Lees Nehemia 5:1-13
Оглавление“Ons is jammer …”
“Maar laat ons tog die uitbuiting staak. Gee vandag nog … terug …” (v. 10-11).
Nehemia vind toe baie gou uit dat alles wat die familie betref nie heeltemal pluis is nie. Bewerings word gemaak oor magsmisbruik, oor korrupsie en uitbuiting. Die gewone mense beskuldig die vooraanstaandes en bring onweerlegbare bewyse om dit te staaf.
Dit alles ontstel hom mateloos. Hy het immers sy loopbaan opgeoffer om sy mense te kom help, en nou blyk dit dat baie van hulle eintlik net daarin belangstel om hulleself te help. Dat hulle trap op enigeen wat in hul pad staan om dit te bereik.
Daar is darem ook niks nuuts onder die son nie …
Dit moet vir Nehemia ’n ontnugtering gewees het. Maar des te meer vir die arme slagoffers. Hulle trek reeds aan die kortste ent ná ’n misoes of twee, en nou word hulle in hul weerloosheid boonop skandelik uitgebuit. Nehemia konfronteer die oortreders; hulle beken skuld en onderneem om reg te maak waar hulle verbrou het – met rente. Eind goed, alles goed …
Of hoe? Sal alles nie eers goed eindig as hierdie (effens weggesteekte!) insident aan die groot klok gehang word nie, ook deesdae? Wanneer die klinkende boodskap hierin juis vandag wyd en syd verkondig word? As mense soos ons diep bloos oor sulke misstappe? En indien ons regstellende stappe doen om dit te beredder?
“Ons is jammer, Here!” is ’n uitspraak wat ons goed ken. Maar wat van: “Wys ons hoe om ons opregte spyt daadwerklik te betoon”? En om dan ons skuldbelydenis in dade te omskep. Om op dié manier geloofwaardig te wees as ons aan ’n misbruikte medemens sê: “Ons is jammer.”
____________________
Leer my, Here, hoe ek u vergifnis werd kan wees.