Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 35

Dinsdag 29 JANUARIE 2019 Lees Jeremia 36:11-26

Оглавление

Gevolge

Die koning en al sy amptenare wat hierdie dinge gehoor het, het nie bang geword en hulle klere geskeur nie (v. 24).

Dit is toe so. Soos ons kon verwag, is Jeremia en Baruk se boodskap nie goed ontvang nie. Ja, die koning se amptenare was ontsteld en wou opsluit dat die koning dit ook hoor.

Maar sý reaksie toon sy minagting vir wat hy hoor: Die een bladsy na die ander word, soos dit aan hom voorgelees word, uit die boekrol geskeur en in die vuur gegooi. Van die dapper amptenare wil keer, maar die koning steur hom nie aan hulle nie. Uiteindelik roep hy uit, sterkman wat hy is: Bring ’n bietjie daai profeet en sy ou skrywertjie hier na my toe! Laat ek hulle ’n les leer!

Ja-nee, dinge het nog weinig verander: Koningskap rym nie som­mer met boetvaardigheid nie. Leiers blink nie uit in verskoning vra nie. Inteendeel: Hulle bal die vuis net nog meer beslis, hulle draai die volume van hul bulderende stem net nog harder.

Waar wil die Bybelleser ’n beter voorbeeld kry van daardie ou geneigdheid by koning én onderdaan om die boodskapper te verkwalik as jy nie van die boodskap hou nie …?

Wat koning Jojakim uit die oog verloor, is dat dit toe nie Baruk se boekie of Jeremia se diktaat is wat hy in die vuur smyt nie, maar God se woorde. Dat die kragtige uitdaging wat hy só rig, toe nie die profeet teiken nie maar die profeet se Opdraggewer. Hy sou leer dat wie hom teen God verset, dapper genoeg moet wees om die gevolge te dra.

En as jy, leier, boonop jou volgelinge op ’n dwaalspoor lei, moet jy weet dat ook hul bloed uiteindelik aan jou hande sal kleef.

____________________

Here, lei U tog die leiers! En laat my luister.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх