Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 41

Sondag 3 FEBRUARIE 2019 Lees Jeremia 1:4-10

Оглавление

Hy weet

Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken … (v. 5).

Ek is te jonk, Here, het Jeremia gekeer. En: “Ek kan nie goed praat nie” (v. 6).

Maar Hy het dit geweet, hierdie God wat hom geroep het. Hy het dit alles geweet. Hy ken hom dan van voor sy geboorte af. Niks wat Jeremia vir Hom sê, sal Hom verras nie. Of onkant betrap nie. Of Hom noop om sy oorspronklike planne te wysig nie.

Hy stel wel vir Jeremia gerus. Hy steek sy hand uit en raak aan die onwillige outjie se mond. Siedaar, sê Hy, “Ek het nou my woorde in jou mond gelê” (v. 9).

God is geen laatkommer in ons lewe nie. Ons hoef Hom dus nie in te lig of van enigiets in kennis te stel nie – Hy weet. Hy weet alles, van die begin af. Hy ken die hele storie, Hy weet wat die volle waarheid is. Hy ken dus ons verskoninkies. En Hy weet nie net alles van gister en van nou nie, Hy weet ook alles van môre.

Daarom moet ons maar versigtig wees om Hom teë te gaan, al lyk sy planne vir ons nie soos ons daarvan hou nie. En al is sy tyds­berekening daarvoor nie noodwendig vir wanneer ons gereed voel nie.

Maar moenie bang wees nie: As dit vir jou lyk Hy gaan jou by die diep kant ingooi, haal diep asem … en voel dan sy uitgesteekte hande. Dit sal altyd daar wees, hierdie sterk, sagte hande.

Hy sal jou nooit vir die wolwe gooi nie. Nee, nee. Jy is Syne. Van die begin af. Hy weet wat jy kán, en wanneer.

____________________

Ek is tot alles in staat deur U wat my krag gee. U krag kom dan juis in my swakheid tot volle werking.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх