Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 39

Vrydag 1 FEBRUARIE 2019 Lees 2 Kronieke 35:20-27

Оглавление

Hoog vlieg

Josia het … nie geluister na wat Neko op bevel van God self gesê het nie (v. 22).

Dit is ’n vreemde slothoofstuk vir hierdie mooi, opbouende verhaal; jy weet nie lekker wat om daarmee te maak nie.

Alles het dan so mooi begin: die agtjarige koning, sy gesonde verstand, sy hart wat op die regte plek is, al die ingrypende her­vormings wat hy aanpak en deurvoer. Die verbasende feit dat hy al sy mense met hom saamneem op hierdie nuwe pad. Hy wat self die leisels neem.

Toe loop alles bitterlik skeef. Wat ’n antiklimaks. En ons kry nie juis ’n oortuigende rede waarom alles so verkeerd geloop het nie. Behalwe miskien dié klein leidraad: die uiters suksesvolle Josia wat nie weet waar om halt te roep nie. Wat toe deur die farao se boogskutters neergevel word omdat hy nie die Egiptenaar – ná talle waarskuwings – met rus gelaat het nie. En só word iemand wat klaarblyklik vas in sy eie grootsheid begin glo het, noodlottig ontnugter.

Is dit dan die mens se lot wanneer hy te seker van sy saak begin word? Wanneer hy te hoog wil vlieg, té oortuig van sy on­aan­tas­baarheid is?

Daarom is dit jammer dat ons nie meer die treurliedere sing wat oor Josia se val geskryf is nie (vgl. v. 25). Dalk sou dit ons gereeld daaraan kon herinner dat die wesenskenmerk van sukses die bly­wende besef van jou afhanklikheid van God is. Dat om los hande hoog te wil vlieg, dikwels bloot ’n ver val voorafgaan.

Want ons gewaande belangrikheid rem ons af. Ons selftoe­ge­kende gewigtigheid maak ons loodswaar. Straks té swaar om steeds in God se arms te kan pas.

____________________

Ag, Here, en dit is my enigste uitweg: om onder u vleuels te skuil.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх