Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 44
Woensdag 6 FEBRUARIE 2019 Lees Lukas 19:41-44
ОглавлениеAs ons tog …
“As jy vandag tog wou insien …” (v. 42).
Spyt, sê die mense, is ’n goeie ding. Maar Jerusalem en sy leiers het nog nie spyt gekry nie; hulle karring maar aan. Hulle sal uiteindelik spyt kry, sê Jesus, maar dan sal dit te laat wees. Soos dit maar met spyt is.
Hoekom leer ons so swaar? Hoekom kyk ons op ’n dag terug op ’n paadjie wat ons geloop het en sien dán eers wat ons destyds nie wou sien nie, al was dit so duidelik sigbaar? Of, soos Jesus huilend aan Jerusalem gesê het: “… omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie” (v. 44).
Jerusalem se voorspelde vernietiging was aan ’t kom. Maar die leiers – juis ook die godsdiensleiers, hulle wat veronderstel is om beter en verder te kan sien – hou hulle blind. Hulle kyk eerder wie hulle ’n vlieg kan afvang. Ywerig soek hulle die splinter in ’n ander een se oog.
Maar by hulleself sien hulle geen fout nie. Net ’n vreeslike verontwaardiging oor ander se misstappe, ’n gillende ontsteltenis oor mense wat van hulle verskil (vgl. v. 39). Hulle leef ’n lewe van voortdurende selfregverdiging, ontkenning. Sien niks … dan ís daar niks.
Hulle sou die prys hiervoor betaal. Dalk sou hulle dán spyt kry omdat hulle nie gehoor het nie. Of dalk nie. Dalk was dit dan maar weer “húlle” skuld. Selfinsig kom nie maklik nie.
Wat sal ons hiervan sê? Ons wat al hierdie verhale lees en wat onsself so gou daarin herken? Sal ons God in óns verhaal sien? Sal ons Hom herken? Hy wat tot ons redding verskyn en vir wie ons so maklik-maklik ignoreer?
____________________
Maak my blinde oë oop, Here. Wys my hoe U lyk, en laat my luister.