Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 93

Dinsdag 26 MAART 2019 Lees Romeine 2:12-16

Оглавление

Vreemde genade

Dit sal aan die lig kom … wanneer God … oordeel … (v. 16).

Dit is die ding met Paulus se Romeinebrief: Die sinne is lank en die redenasies ingewikkeld, en gewone Bybellesers blaai dikwels hier verby. En só loop ons van die merkwaardigste gedeeltes in die Bybel mis, tot ons groot skade.

Kyk dan nou hier: Op ’n logiese wyse – al is die taalgebruik nogal ingewikkeld – bevestig Paulus minstens twee Jesusuitsprake wat ons in die Evangelies teëkom. Eers verduidelik Paulus dat nie die hoorders nie maar die doeners van die wet deur God vrygespreek word (vgl. v. 13). Dit rym volledig met Jesus se waarskuwing, reeds in sy preek op die berg, dat die “Here, Here”-sêers ’n groot en on­aangename verrassing te wagte kan wees wanneer hulle God van aangesig tot aangesig sal ontmoet (vgl. Matt 7:21-23).

Dié doodskisspyker word behoorlik omgeklink wanneer Jesus sy bergpreek afsluit met die gelykenis van die huise wat onderskeidelik op die rots en op die sand gebou is (vgl. Matt 7:24-27).

Die tweede uitspraak van Paulus in hierdie paar Romeineverse is selfs veelseggender. Hy sê daar sal eendag, wanneer God oor die verborge dinge oordeel, ’n nóg groter verrassing (’n ontnugter­ing, dalk?) op gelowiges wag: Heidene, wat nie God se wet ken nie om­dat hulle dit nooit gehoor het nie en wat nogtans die eise van die wet nakom, sal vrygespreek word.

Goeie genade!

Maar ook dit moet ons nie verras nie. Jesus het immers aan sy volgelinge gesê Hy het ook ander skape “wat nie van hierdie kraal is nie”, maar wat ook na sy stem luister (vgl. Joh 10:16).

O die ruimhartigheid van God, tog! Die groot hande, die wye arms. As ek dit tog net sal raaksien, sal uitleef …

____________________

Ook ék pas in u omhelsing, Here! Leer my om elke dag te doen wat U vra.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх