Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 92
Maandag 25 MAART 2019 Lees Jeremia 11:1-17
ОглавлениеDuur genade
En jy … moenie vir hierdie volk bid nie … Ek (sal) nie luister nie (v. 14).
Sjoe! Hoe gebeur dit dat die Here sy profeet verbied om vir sy mense te bid? Dat Hy by voorbaat sy ore toedruk? Hoe bitter ver moes hulle nie afgedwaal het om Hom tot sulke harde woorde, sulke drastiese optrede te dryf nie?
So blyk dit dan ook uit hierdie Jesajaverse: Hulle het die pad volledig byster geraak. Hulle het teruggekeer na hul voorvaders se “eerste sondes” (v. 9) deurdat hulle nie na hul Here se woorde geluister het nie, deurdat hulle agter ander gode aanloop. Daar is trouens soveel afgode in hul lewe soos wat daar stede in Juda is, soveel Baälaltare as wat daar strate in Jerusalem is (vgl. v. 13).
Nou, sê die Here, is Hy klaar met hulle. Hy onttrek Hom, Hy het finaal bes gegee. Dit sal nie help die profeet tree vir hulle in nie; die Here, die Enigste wat saak maak, sal sulke pleidooie ignoreer. O, en hulle moenie dink dat hulle met hul vrome offergawes sy aandag sal trek nie. Al wat sal gebeur, is dat die vyandige hordes hulle sal kaal stroop.
Dit is die onafwendbaarheid waarop hul volhardende dwaling uitloop: ’n inval, ’n verwoestende strooptog.
Kan God dan so wrokkig wees dat Hy nie sy mense, die “groen olyfboom” wat Hy self geplant het (v. 16-17), genade betoon nie? Kan Hy nie nóg ’n slag van plan verander nie?
So vra hulle, dalk. Só vra ons, gereeld. Hulle, ons, die dissipels van die goedkoop genade-evangelie.
En so kyk ons die Here se trane mis. So vermy ons die eintlike kwessie: ontrou. Verbondsverbreking. Die skaamteloosheid waarmee Godskinders agter al wat ’n afgod is aanhardloop.
____________________
Here, herinner my gereeld daaraan dat daar duur betaal is om my te verlos.