Читать книгу Abel se lot - Chris Karsten - Страница 14

4. Sarajewo, Bosnië-Herzegowina, 1991 – 1993

Оглавление

Sy pa lig die boek van die tafel op.

“Ek’t dit geleen,” sê hy. “Om vir hulle te gaan wys.”

“Hoe gaan ’n geleende boek jou beskerm?” Sy ma klink radeloos.

“Dis ’n digbundel,” sê sy pa, asof gedigte ’n skans is teen die koeëls van ’n sluipskutter.

“Moenie gaan nie,” pleit sy ma, haar vingers vroetelend aan die krale van haar rosekrans. Sy noem die krale haar Gospasnoer.

“Dis ’n bundel van Aleksa Santic,” sê sy pa.

“Weet hulle van hom?” vra sy ma. “Weet daardie barbare wie Aleksa antic is?”

“Hy’s een van hulle. Serwiërs sing steeds sy ballades.”

“Sing hulle ballades oor die liefde in ’n stad van dood?”

“Miskien sal hulle die biblioteek spaar as hulle sien dit bevat ook digbundels van Aleksa antic.”

Sy pa blaai deur die boek. Milo sien hy gebruik ’n kwitansie as boekmerk, die kwitansie vir twee fietswiele.

Sy pa kyk op na sy ma toe sy sê: “Jy wil ’n gebou probeer red met ’n boek in jou hand? Waag jy jou lewe vir boeke?”

“By die Oosterse Instituut is net as en roet oor van meer as twee honderd duisend dokumente en manuskripte in vier alfabette, van hulle uit die elfde eeu.”

“Dis nie jou werk nie, Tomislav. Jy’s nie ’n redder van boeke en geboue nie. Jy’s my man, jy’s die pa van ons kinders. Óns het jou nodig.”

“Ek kan nie ’n man wees as ek my oë sluit nie, of ’n pa as ek my arms vou nie.”

“Ek’t jou lief, Tomislav, maar jy’s ’n bibliotekaris, g’n held nie.”

Sy pa sit met die boek in sy hand, die digbundel van Aleksa antic uit die biblioteek waar hy werk. Sy pa lýk soos iemand wat sy lewe tussen boeke slyt. Sy lang vingers is bedoel vir die omblaai van die bladsye van ou, delikate geskrifte. Sy vel is dun en geel soos perkament. Agter die lense van sy bril is sy pa se oë bleek soos water, asof die proses van lees alle kleur uit sy oë geabsorbeer het.

“Ek’s nie ’n held nie, en daar’s min risiko. Hulle het die boodskap gekry en gesê ek kan in Lukavica my saak vir die biblioteek kom stel. Met Aleksa antic se bundel wil ek wys dat die Nasionale Biblioteek ’n repositorium is van álle Balkanse geskrifte, ook van Serwiese skrywers.”

“En jy vertrou hulle?”

Die Gospa-snoer, so lank Milo kan onthou, is altyd binne bereik van sy ma se hande, al is sy hoe doenig.

“Nie álmal is barbare nie, Milka.”

“Nie? Hulle bomme en mortiere verwoes kerke en katedrale en moskeë, hulle skiet mense wat toustaan vir water en brood, hulle sluipskutters vermoor moeders met babas wat oor ’n straat stap, of familielede om ’n kind se graf. Wat gee sulke mense om vir boeke, Tomislav?”

“Ek moet probeer,” sê Milo se pa. “As ek nie slaag nie, as hulle my uitlag en wegjaag, het ek niks gewen en ook niks verloor nie. ’n Mortier het deur die glaskoepel van die biblioteek se sentrale atrium geval. Nie veel skade nie, maar dis ’n voorspel.”

“Ek sal saamgaan,” sê Milo meteens.

Sy pa kyk na sy ma. Op haar gesig sien Milo oorgawe. Sy het dieselfde uitdrukking gehad op die begrafnis van oupa Juro, wat dood is toe ’n bom die tou mense by die waterpomp in Bistrik getref het. Op die begrafnis van ouma Brana was sy verslaan. Dié is vermink toe twee 120 mm-mortiere die tou mense getref het wat in Vase Miskina-straat vir brood gewag het. Sy ma was dae lank in die bed ná Jasmina se dood. Dit was die heel ergste.

“Jy gaan nie saam nie, Milo,” sê sy ma.

“Net tot voor die brug, Ma.”

“Ek wil saamgaan! Kan ek ook saamgaan?” vra Kaja, nege jaar oud.

Ná Jasmina is net Milo en Kaja oor. En Kaja is soos ’n stertjie agter hom aan, kom lê selfs snags by hom in sy bed en slaap.

“Julle bly al twee hier,” sê sy pa. “Julle pas julle ma op.”

“Net tot voor die brug,” sê Milo. “Ek sal onder die brug vir Pa wag. Ek sal veilig wees.”

“As Milo gaan, wil ek ook,” karring Kaja.

“Kaja, jy bly net hier,” sê sy ma beslis.

Sy ma is fyn van gelaat, en skraal. In Sarajewo is almal skraal, behalwe die VN-soldate van UNPROFOR met hulle blou helms. En die uitgevrete Serwiese bevelvoerders met šajkaca op die kop.

“Ma …” teem Kaja.

“Hoe laat, Tomislav?” vra sy ma.

Sy het vertel Milo, net twee jaar oud, was saam toe hulle die bidsnoer gaan haal het. Hy kan dit nie onthou nie, maar hy ken die storie van sy ouers se pelgrimsreis na die dorpie Medjugorje in citluk in die weste van die land, naby die grens met Kroasië.

“Vyfuur,” sê sy pa.

“En julle kom dadelik terug,” sê sy ma.

“Dadelik,” sê sy pa.

“Dadelik,” sê Milo.

Sy pa het hom gehelp met sy sleepwa; sy waterkar, noem Milo dit. Eendag ná werk het sy pa met twee fietswiele by die woonstel in Strossmayer-straat aangekom. Die volgende dag het hy die as gebring, die dag daarna die plank. In die woonstel was nie plek vir die onderdele van ’n waterkar nie; toe was dit nog sy pa en sy ma, sy twee susters, hy, sy oupa en sy ouma.

Maar in die ketelkamer, in die kelder van die gebou, het hy en sy pa die waterkar aanmekaargesit. Dis ’n gawe kar, al het dit net ’n plankbak en twee wiele, en die stang waaraan Milo dit deur die strate trek. Sy oupa Juro het graag agterop gery. Hulle het die leë houers en plastiekbottels op die bak gelaai en sy oupa het agterop gaan sit, met sy bene wat swaaiend afhang, sy hande wat wuif en groet, almal wat hy ken op pad na die waterpomp.

Daardie dag het sy oupa in die oggend al in die watertou in Bistrik gaan staan, voor Milo van die skool af gekom het. Hulle het hom in die Lav-begraafplaas begrawe, daar tussen die Olimpiese stadion en die Kuševo-hospitaal.

Hy het sy ouma ook agterop sy waterkar gehelp sodat hy haar basaar toe kon trek om te gaan soek vir stukkies groente: beet, aartappels, rape. Dit was voordat die kos opgeraak het en die inwoners van Sarajewo gras begin eet het soos diere. Hy was in die skool toe sy naby die Planika-skoenwinkel in Vase Miskina in die broodtou gestaan het. Hulle het ouma Brana langs sy oupa in Lav begrawe.

Hy was op pad om Jasmina te gaan haal waar sy en skoolmaats met hulle sleë in die sneeu gespeel het toe die bom die sneeuhang tref. Hy het Jasmina op sy waterkar teruggebring. Haar graf is in Turbe.

Milo gaan nêrens sonder sy waterkar nie. Op die swartmark, as jy kontakte het en weet waar om te gaan soek, is daar altyd koffie en sigarette, meel en rys en drank. Selfs petrol, gesteel uit die store en depots van UNPROFOR.

Sy pa ry nie agterop Milo se waterkar nie. Hulle het ook nie meer die Yugo Sana nie; sy pa het dit verkoop. Al was dit ’n klein kar, net ’n 1300-enjin, was dit darem wiele. Nou stap hulle brug toe en het hulle nie meer petrol nodig nie.

As die trems nog gewerk het, kon hulle die Nr. 4-trem na Skenderija gevat het. Maar die trems werk nie meer nie, niks werk meer nie. Hulle stap al langs die rivier af, geselsende, in Milo se hand die stang van sy waterkar, verby die brûe oor die Miljacka.

“Die brûe van Sarajewo is brûe van verraad,” gesels sy pa. “By die Latinska-brug het Gavrilo Princip aartshertog Franz Ferdinand en sy vrou op 28 Junie 1914 doodgeskiet. Dit was die begin van die Eerste Wêreldoorlog.”

Dis somer en die rivier se water is vlak en bruin en stink.

“By die Vrbanja-brug is Suada Dilberovic en Olga Sucic doodgeskiet, die eerste slagoffers van die beleg van Sarajewo.”

Milo is ongerus. Hy dink aan sy ma se rosekrans. Dis gerusstellend, haar vingers wat so deur die kraletjies van die snoer vleg. Sy sê die Gospa-snoer bring ’n boodskap van vrede. Hulle gaan gereeld na die Katedraal van die Heilige Hart van Jesus, net ’n paar minute se stap uit die woonstel, aan die bopunt van Stross-mayer. Ook daar preek en bid Vader Trtic vir vrede terwyl sy ma met die snoer tussen haar vingers sit. Milo sien nie vrede om hom nie. Hy sien geweld en bloedvergieting.

“Pa,” sê hy, “vertel my weer van die gedaante wat julle gaan soek het.”

Hy het die storie al dikwels gehoor, kry nie genoeg daarvan nie.

“Jy bedoel die storie van jou ma se rosekrans?”

Milo knik. Dit sal goed wees om weer die storie van vrede te hoor, veral noudat hulle na ’n brug van verraad stap.

“Het julle haar gesien?” vra hy.

“Nee,” sê sy pa. “Sy verskyn net aan ses spesifieke kinders. Die eerste twee wat haar gesien het, is Mirjana Dragicevic en Ivanka Ivankovic. Dit was ongeveer sesuur die aand op 24 Junie 1981. Die twee meisies was net buite Medjugorje, by ’n klein heuwel met die naam Podbrdo. Ineens was daar ’n gedaante van ’n pragtige jong vrou met ’n baba in haar arms voor hulle. Op daardie eerste ontmoeting het sy niks gesê nie, hulle net nadergewink, asof sy wou seker maak dat die twee meisies haar sien. Daarna het sy aan nog vier kinders verskyn. Die ses kinders sê hulle sien haar sedertdien gereeld; sy dra boodskappe van vrede aan hulle oor wat hulle aan die wêreld moet versprei. Mense glo dis die gedaante van die Heilige Maagd Maria, daarom noem hulle haar Gospa.”

“Ek wens ék kan haar sien.”

“Miskien as hierdie oorlog verby is, sal ons weer na Medjugorje gaan …”

Hulle stap al langs die noordelike oewer van die rivier af tot die brug in sig kom. Sy pa steek vas, sy hand op Milo se skouer.

“Net tot hier, Milo. Wag agter die sandsakke by daardie muur, die een met die koeëlmerke.”

“Pa …”

“Ja, Milo?”

Sy pa haal sy bril af, poets dit met ’n wit sakdoek. Milo merk die sweetdruppels op sy pa se voorkop, op sy bolip, sien die trilling van ’n spiertjie in sy wang.

“Ek sal vir Pa wag.” Hy wou sê bid. Hy wens hy het sy ma se Gospa-snoer geleen.

“Dankie, Milo. Jy’s ’n dapper seun.”

“Pa …”

“Ja?”

“Pa sál terugkom?”

“Natuurlik kom ek terug. Moenie bekommerd wees nie, teen donker is ek terug.”

Milo kan sien sy pa doen sy bes om te glimlag. Hy druk sy skouers ’n oomblik styf vas.

“Miskien is Ma reg,” sê Milo. “Dat Pa nie op die brug moet gaan nie. Dat dit nie Pa se werk is nie.”

“Jou ma is reg dat ek geen held is nie, Milo,” troos sy pa. “Ek gaan nie heldedade probeer uithaal nie. Ek gaan net vra dat hulle mooi moet dink voordat hulle die Nasionale Biblioteek bombardeer. Dis al. Ek gaan die digbundel vir hulle wys en sê ons moenie mekaar se kulturele erfenis vernietig nie. As hulle nie wil luister nie, kom ek terug.”

Milo kyk op, sien oor sy pa se skouer die bord met koeëlgate en die waarskuwing teen sluipskutters: PAZITE, SNAJPER! Die borde is oral in die stad opgerig by plekke wat as gevaarsones beskou word.

“Hoe laat is dit?” vra Milo, sy oë op die fasades en vensters van die geboue oorkant die rivier.

“Dis tyd,” sê sy pa. “Dis vyfuur.”

In sy hand die wit sakdoek waarmee hy die sweet van sy voorkop afvee. Hy loer om die sandsakke in die brug se rigting.

Milo kyk weer na die geboue oorkant die rivier toe sy pa sy arms om hom sit en hom vasdruk. “Hier’s die boek,” sê hy.

“A, amper vergeet ek die belangrikste ding.”

“Die sakdoek is die belangrikste ding,” sê Milo.

“Bly agter die sandsakke, Milo. En voor sononder is ek terug.”

Sy oë volg sy pa agter die muur en sakke uit, die eerste, huiwerige treë brug toe. Geen ander lewende siel op straat nie, maar Milo weet: uit baie vensters word sy pa se bewegings deur vele oë gevolg.

Sy pa bereik die sypaadjie van die brug. Geen verkeer nie. Sy regterhand met die wit sakdoek is omhoog, die bundel in die ander hand langs sy sy. Hy loop stadig, kyk nie rond nie, sy blik gerig op die straatvlak voor sy voete.

Dan, ineens, die skerp gesuis van ’n koeël, die plof van die loodpunt wat die beton van die brug tref, ’n skerf uitruk. Milo ken daardie geluid van ’n sluipskietkoeël, al hoor hy nie die klap van die skoot nie. Hy sien hoe sy pa op die brug vassteek, die wit sakdoek wapperend in sy hand.

’n Tweede koeël.

Milo soek vir die flits van ontbrandingsgasse uit die loop van die sluipskietgeweer, al weet hy van die flitsdempers. Maar dan: is dit tog ’n rokie, daar hoog teen die muur van die Visoki Predstavnik-gebou?

Hy loer weer na sy pa op die brug. Dié staan asof versteen, nou met albei arms omhoog uitgestrek, in die een die digbundel, in die ander die sakdoek.

Hulle probeer hom net ontsenu, dink Milo. Hy kyk van sy pa af terug na die gebou waar hy meen hy ’n rookdamp gesien het. Weer ’n pof van rook. Nou is hy seker. Weer die suising, die dowwe slag van die koeëlpunt teen die brug.

Milo tel die vensters. Sewende verdieping, maar die rook is nie by ’n venster nie. Hy weet ook van die gleuwe vir die sluipskutters se lope. Dié sluipskutter skiet met ’n geweer sonder ’n flitsdemper.

Bly staan, Pa, bid Milo sag. Drie skote al. Iets is verkeerd; dis nie net waarskuwingskote nie. Dan sien hy in die laatmiddagson die skaduwee van die loop teen die muur van die gebou.

“Pa!” roep hy. “Kom terug!”

Sy pa kyk om na hom, begin retireer.

“Hardloop, Pa!”

Sy pa swaai om, struikel.

Zing!

Milo begin tel. Sy pa op ’n skuifeldraffie terug, boek en sakdoek in uitgestrekte hande.

Zing!

Agtien tellings tussen die skote.

Sy pa in ’n halwe tol, laat sak sy arms, gaan sit, kom orent, waggel ’n paar tree, gaan sit weer.

“Pa!” roep Milo. Noudat sy pa gaan sit het, kan hy hom nie meer op die brug sien van waar hy agter die sandsakke skuil nie.

“Kom, Pa! Nog net ’n entjie!”

Zing!

Milo begin weer tel; vyftien tellings om veilig te wees. Sy bene is dood, sy spiere verlam, in sy longe is geen suurstof nie, in sy skedel rammel sy brein.

Drie … vier …

Hy kom op.

Ses … sewe …

Agter die sandsakke uit, in die oopte vir die sluipskutter se geweer.

Nege … tien …

Hardloop teen die steilte uit na waar die brug begin. Sy pa sit nie, hy lê.

Twaalf … dertien …

Sy pa draai sy gesig na Milo toe, sy wang vol stof. “Terug, Milo … gaan terug.” Sy stem is anders, skor.

Vyftien … sestien …

Milo skarrel terug soos ’n kat, duik agter die sandsakke in.

Zing!

Dié een was vir hom bedoel. Die sluipskutter het nou ook sy posisie gekry.

Milo hoop sy pa bly net so lê. Hy weet sy pa is ’n duidelike teiken vir die sluipskutter op die sewende verdieping, maar die aandag is nou afgelei. As sy pa nie beweeg nie, sal die sluipskutter sy aandag aan Milo gee. Hy sal wag vir ’n kans, ’n beweging, ’n glimp van ’n liggaamsdeel.

Dit word ’n spel van geduld. En dis nog ure voor sononder, voor Milo en sy pa die beskutting van die nag kan probeer gebruik om weg te kom.

“Pa! Kan Pa my hoor?” roep hy brug toe.

Hy luister. Niks nie.

Harder: “Pa!”

Geen antwoord nie.

Milo voel die paniek in hom, dit smoor sy keel, laat jaag sy hart. Miskien is sy pa gewond. Miskien is hy besig om dood te bloei op die brug. Maar hy durf nie agter die sandsakke en muur uitkom nie. As hy uitkom, is hy dood, dit weet hy. Dan is daar géén hoop vir sy pa nie.

Milo is maer, dog taai soos ’n sening. Ál Sarajewo se kinders is maer. Maer en taai, en hulle weet hoe om te oorleef. Om sy pa te red, kan Milo nie ure wag tot dit donker is nie. Hy beur aan ’n sak vol sand, rol dit af op die bak van sy waterkar. Die plank kraak. Hy weet nie hoe sterk die as is nie, hoeveel sandsakke die plankbak kan dra voor dit meegee nie. Hy rol ’n tweede sak op die eerste een, hoor weer die gekraak, nou onheilspellender. Besluit om nie ’n kans te waag met ’n derde sak nie.

Hy stoot die waterkar agter die muur uit, sy blik op die sewende verdieping van die gebou. Sien die rookdamp, hoor die dowwe slag van die koeël in een van die sakke op sy waterkar.

Skuilend agter die twee sakke kruip en hyg en stoot Milo sy waterkar agteruit in die rigting van die brug. Tydsaam, want die wa met die sakke is swaar. Tussen die skote tel hy. Die tempo is nou vinniger, die koeëls minder akkuraat gegroepeer, asof die skut se ongeduld die oorhand kry.

By sy pa sien hy die bloed.

“Pa …”

Sy pa tuur met halfgeslote oë die lug in. Tussen sy lippe, effe van mekaar weggetrek, glim die nat wit van ’n tand. Sonder sy bril is sy pa se oë vreemd en bleek. Die bril lê onder sy kop, een van die lense in fyn glassplinters. ’n Hoek van die wit sakdoek is steeds tussen sy vingers; die boek het uit sy ander hand geglip. Die omslag het rooi smeersels op van sy lang vingers waarvan bloed drup en begin stol.

“Nee …” snik Milo, lig sy pa se kop tussen sy hande op.

Hy loer van onder die waterkar na die fasade van die gebou waar die onsigbare sluipskutter skuil. Gaan lê langs sy pa, die liggaam nog warm, asof hy net dut.

Milo lê lank so langs sy pa. Die koeëls wat steeds in die sandsakke doef, doef, doef is net vae geluide in ’n ander tyd, ’n ander wêreld.

Dan is dit stil, en dis die stilte wat hom uit sy beneweling wek. Hy stoot sy bolyf met ’n arm op, loer oor die sandsakke op na die gebou. Gaan sit dan kruisbeen langs sy pa, vou die bril se oorstukke toe, druk dit in sy pa se baadjiesak. Hy reik na die wit sakdoek en vee die bloed van sy pa se voorkop en hare af.

Hy draai sy gesig na die weste toe. In die laaste lig van die son is die voue van die berghange van Bjelašnica en Igman bedek met lang, diep skaduwees. Die miswolke verkleur soos bloed wat in water vloei.

Hy strek sy bene uit en gaan lê weer langs sy pa, ’n hand teen sy pa se wang sodat hy die baardstoppels teen sy palm kan voel. Hy lê en wag vir die son om weg te sak. Hy sluit nie sy oë nie, lê en kyk hoe die lig vervaag en die grysheid oor die brug en stad al donkerder raak. Tussen die newels van die wolke sien hy die eerste sterre flikker, en kyk hoe een in ’n lang vonkende boog in die hemel sterf.

Terwyl Milo vir die beskerming van die nag wag, begin ’n saadjie in die warboel van sy kop wortelskiet sonder dat hy daarvan bewus is. Sy ma was reg, dink hy, niemand kan vertrou word nie. En in die vuil straat op die brug waar sy pa se bloed in die sand en stof stol, weet hy dat alles verander het. Hulle lewe as gesin is nou onherroeplik anders: syne, en dié van sy ma en sy suster Kaja, net nege jaar oud.

Hulle was eens sewe in daardie beknopte woonstel in Stross-mayer, maar soos elke ander familie in Sarajewo is hulle uitgedun. Sy oupa in die watertou, sy ouma in die broodtou. Maar die ergste, tot vandag, was Jasmina in die laaste sneeu voor die somer, daar teen die hang van die Jahorina-berg waar die items vir vroueski in 1984 se Olimpiese Winterspele plaasgevind het.

Sy ma het stiller geword ná Jasmina se dood. Ook sy pa. Álmal het stiller geword. In hulle woonstel word nie meer gelag nie.

Hoe lank hy daar lê, weet hy nie. Toe hy sy oë oopmaak, lê die nag oor Sarajewo. Teen sy hand is sy pa se wang nou koud.

Milo kom stadig orent. Net hier en daar is nog ’n gloeilamp in ’n straatlig, ver uitmekaar. Hy steun sag terwyl hy die eerste sandsak van die waterkar kantel, en kreun harder met die tweede een. Sy pa se liggaam is, soos almal s’n, uitgeteer, maar Milo sukkel om hom op die wa te kry, op sy rug sodat sy voete en onderbene agter kan afhang. Met sy hand op die stang loer hy vir oulaas op na die gebou waaruit die skote gevuur is. Dan sleep hy die wa met sy pa van die brug af, om die skerp draai met die skermmuur en sandsakke en waarskuwingsbord, tot onder in die oewerstraat, terug na die ou dorp toe.

In Bašcaršija, in ’n steeg agter die Sebilj-fontein, nou opgedroog, is dokter Buzuk. Dokter Buzuk sal weet wat om te doen. Hy sal help om sy pa van die wa af te lig en in te dra. Dokter Buzuk sal sy pa versorg en dan, wanneer sy pa versorg is, sal Milo Strossmayer toe loop waar sy ma nou al angstig moet wag, sy en Kaja.

Hy dink aan die angs op sy ma se skraal gesig terwyl hy sy waterkar met sy pa se liggaam oor die keistene trek, verby die plein van die katedraal, met Ferhadija langs die ou buurt binne. Kop onderstebo is hy onbewus van die stom gesigte agter die kantgordyne van vensters. Hulle ken Milo en sy waterkar, en hulle het Tomislav Borić geken.

“Jy kan hier sit en wag, Milo. Wil jy tee hê?”

Milo skud sy kop. Dokter Buzuk het sy pa ondersoek en oor die burgerbandradio die lykswa van die Kuševo-hospitaal ontbied.

“Ek sal die boodskap vir jou ma vat.”

Milo skud weer sy kop. “Ék sal. Ek sal vir haar vertel.”

“Ek sal saamgaan.”

“Nee.”

“Wag tot ek klaar is.”

“Nee.”

“Vat twee slaappille vir haar. Die skok sal groot wees.”

“Sy’t dit verwag.”

“Gee vir haar die pille, een vir vanaand. Wil jy ook ’n pil hê?”

“Nee.”

“Jy moet huil, Milo. Dis al wat help. Jy moet huil, nie opkrop nie.”

“Ek moet sterk wees vir my ma. En vir my suster.”

“Ek kom woonstel toe wanneer hulle jou pa kom haal het. Wag daar vir my, sê vir jou ma ek’s op pad.”

Milo stap in die nag uit. Hy trek sy leë wa deur die ou buurt se smal steë, wonder hoe hy die nuus aan sy ma gaan oordra.

Maar sy sal sien, dink hy. Sy sal op sy gesig sien dat sy pa nie terugkom nie, aan die trane op sy wange, die bewerasie wat sy hele lyf laat ruk. Sy ma het dit vermoed, en wanneer hy die deur oopmaak, sal sy weet dat sy reg was.

Abel se lot

Подняться наверх