Читать книгу Frats - Chris Karsten - Страница 10

simon

Оглавление

Hulle betaal om na die fratse te kom kyk. Hulle kry nie genoeg van die fratse nie. Hulle kom verwonder hulle aan die groot aap wat soos ’n mens kan loop. Die Pan Troglodyte, so word aan hulle vertel, is in die ekwatoriale woude van Donker Afrika gevang, vyf voet hoog en honderd en vyftig pond op die skaal, met arms wat nege voet weerskante toe uitstrek. Hy is so sterk soos vyf mans en sluk ’n pint bier in een teug weg. Wat verswyg word, is dat die Pan Troglodyte agt en veertig jaar oud is, met skaars genoeg krag in sy bene vir elke aand se vertoning.

Hulle kom verwonder hulle aan die wit laskaar, die albinofrats van die kus van Malabar, met sy hare die kleur van ryk, geel botter en sag soos sy. Sy vel is pienkwit, amper deurskynend, vol sere. Hulle snak na hul asems wanneer hy homself beseer om hulle te vermaak. Sy bleekblou oë is skeel en byna blind.

Hulle kom kyk, veral, na die Amazon Warrior, wat, só lui die reklame, sonder tong in die reënwoude van Sentraal-Amerika aan die voet van die Andes gevang en getem is.

Die ou kleremaker in die voorste ry is een van die fratse se gereelde toeskouers. Hy en sy vrou is gelukkiger as baie van die ander. Hulle verdien vaste geld met hulle kontrak om warm jasse vir die polisie te maak. Hy sny die patrone, sy naai die pante aanmekaar, hy pers dit met warm ysters op die koolstoof, sy werk die knope aan. Dit neem hulle twee dae, van soggens sesuur tot saans nege-uur om een jas te maak. Hulle kry twee sjielings vir ’n jas, en moet die gare self koop, én die swaar wolmateriaal, ten duurste, by Horace Beeby, tekstielhandelaar van Somerstown. Twee aande elke week, wanneer sy siek ou vrou in die koue bed klim met haar moeë oë en stywe vingers van die jig en van die werk met die growwe jasse, trek die kleremaker sy eie, verslete jas aan en klim met die trap af, skuifel uit in die straat, om na die fratse te kom kyk. Hy sit die hele aand met een bier in die hand en maak net kort-kort sy lippe nat. Die fratse help hom om ’n wyle sy eie lot te ontvlug. Wanneer hy na die fratse kyk, besef hy daar is ander menslike wesens wat minder gelukkig is as hy.

Die stemme, vrolik en welluidend vol bier en rum en gin, dra uit tot in die donker straat, saam met die lig van die olielampe en die waskerse wat flou en verwronge deur die ruite na buite kaats. Buite, op ’n venster smetterig van roet en stof, skaars leesbaar in die vuil lig, kondig sierlike Gotiese letters Simon Pickering se bestemming aan: The Coal Whippers’ Arms.

Simon het die fratse, die mense én diere, in die argiewe van die Penny Chronicle en The Gentleman’s Magazine gaan navors en aangeteken, vóór sy besluit om na Varley’s Very Fabulous Freak Show in die Coal Whippers’ Arms toe te kom.

Fratse is nie nuut nie, het hy gelees. Vyftig jaar gelede al het nuuskieriges in die Tower of London tougestaan, teen ses pennies ’n kop, om die rariteite te kom besigtig. Eers ná die besoek aan die wilde diere in die hokke, het die besoekers na die kroonjuwele gaan kyk, dof en donker en vervelig. Dié ou diamante is in kerslig sonder sprankel. Die kroonjuwele steek sleg af teen die leeu wie se brul jy oor die Teems kon hoor, teen die volstruis wat met klippers gevoer word, teen die olifant wat appels met sy slurp in sy bek druk.

Daar was ook, het Simon gelees, in Covent Garden en die Haymarket die Amazing Dromedary uit die Arabiese woestyn naby die ruïnes van Palmyra, en die Surprising Satyr en die Noble Porcupine.

Maar Simon Pickering stel meer belang in die menslike fratse as in die diere. Hy het ook gelees van die jaarlikse Saint Bartholomew Fair waar eienaars toe al, vyftig jaar gelede, hul menslike fratse kom koop, verkoop en vertoon het. In die tavernes, herberge en biersale het die toeskouers mekaar verdruk om die jong Terrible Cannibal uit Mongolië te aanskou, sy tande vlymskerp gevyl, die Pincushion Father & Son, wat lag terwyl hulle dosyne ystervarkpenne in mekaar se velle druk (voor ’n advertensiebord wat aankondig dat die pa en sy seun, agt jaar oud, te koop is vir ’n winskopie van net vyfhonderd ghienies). Die Wonderful Elephantiasis Man se hele liggaam was bedek met skubbe, soos dié van ’n groot vis, en die Rubber Lady se gewrigte kon uithaak sodat sy haar liggaam in vreemde kontorsies kon buig en knoop. Mister Sleeves se armpies was net vier duim lank.

In vergelyking met dié van die ou kleremaker en ander klante, is Simon se belangstelling in die fratse van Varley’s Very Fabulous Freak Show minder pervers. Sý belangstelling is aangewakker deur die hulpelose kreet van die Reverend Percival Paxton: “This terrible flood of sin and misery is gaining upon us!”

In die Coal Whippers’ Arms stuit die bedompige mengsel hom soos ’n muur: rookwalms, suur bier, kakofonie van besope sang en luide stemme, stank van swetende, ongewaste liggame. Bokant hom, op ’n aangelapte verdieping, hoor hy die geklap van hande en gestamp van voete op die houtvloer, saam met die klanke van blikkerige musiek. Aan die voet van die houttrap, by ’n plakkaat wat hom nooi na Varley’s Very Fabulous Freak Show, eis die kaalvuisbokser drie pennies vir toegang tot die boonste vertrek.

Die lang vertrek, gevul met dieselfde soort klante, geure en walms as onder, bied ’n bykomende afwagting wat drie pennies meer kos as wat die onderste klante kan bekostig. Van die verhoog af, van agter ’n fluweelgordyn, stowwerig en motgevreet, sonder die weelde van kamferpommades, strek ’n smaller stuk plank deur die middel van die vertrek na die agterste muur toe.

Simon druk ’n staanplek oop langs rye nerfaf stewels wat ritmies op die houtvloer stamp. Skurwe werkershande kap bierbekers op die houtblad van die growwe, gevlekte en taai aangepakte loopplank. Geen moeite word gedoen om dit behoorlik skoon te maak nie. Archibald Varley se inkomste lê nie in skoonmaak nie, maar in die verkoop van bier en rum en sy klante se voorreg om vir drie pennies vlugtig los te rafel uit die vloed van sonde, armoede en mismoed daarbuite. Die gordyn skuif oop en die hurdy-gurdy-musiek bereik blêrend ’n crescendo met die verskyning van die fratsmeester. Onder die keil hang Archibald Varley se swart hare slierterig langs vet, blink wange af, tot op sy skouers. Die lapelle van die swart driekwartbaadjie is versier met karmosyn-insetsels van satyn. ’n Wit hemp, met ’n borsstuk van kant, is verkreukel. Die baadjie se moue is te lank. Vir Simon lyk dit of sy kort, vet vingers uit die mousome groei. Die swart broekspype lê opgestapel op uitgetrapte skoene.

Die ou kleremaker, met sy maer hand om die bitter, warm bier, het nog nooit die voorreg gehad om só ’n spoggerige klant te kon aantrek nie. Hy wag, soos Simon Pickering, op die eerste frats.

“Bring hulle!” eis bulderende stemme.

“Ons wil die freaks sien!” roep een.

“Die freaks! Die freaks!” groei die koor.

“Waar’s die bloomin’ freaks!” gil ’n mond vol bierskuim.

In die rumoer is die fratsmeester se aankondiging stemloos, net dik, klam lippe wat tuit en tril, en vet vingers wat die keil afhaal en swaai, met die blikmusiek wat selfs harder uitstyg bokant die toejuiging en die gestamp van bottels en stewels. Eers dan merk Simon die skaduwee agter die gordyn. In die lig van olielampe en waskerse, wat rook en roet teen die mure en plafon laat aanpak, word die skaduwee ’n sjimpansee, met ’n ketting om sy nek. Die ander punt van die ketting is om die hand gedraai van ’n tweede skaduwee wat van agter die gordyn verskyn. Simon skat haar sewe voet. Die klante snak na hul asems, die kakofonie bedaar, en die kleremaker vergeet om die bier na sy lippe toe te bring.

Die sjimpansee waggel op sy agterbene, soos ’n mens, oor die verhoog, heen en weer, en dan op die loopplank in die middel van die vertrek tussen starende oë deur tot naby die agterste muur. Maar Simon se oë volg die reus, met ’n linnekleed om die heupe en ’n linnedoek om die klein uitstulpings van die bolyf, agter die breë rug geknoop. Die vel van haar gesig en nek en skouers, elke sigbare duim van haar vel, is bedek met ’n tapisserie van tatoeëermerke, in bont hiëroglifiese beelde. Haar treë is afgemete op die loopplank, met die ketting om haar hand, agter die sjimpansee aan. Vuil hande strek skuimende bekers bier na die sjimpansee toe uit. Hy sluk ’n beker in een teug leeg.

“Kyk hoe suip so ’n Troglodyte!” Die sjimpansee word luid toegejuig.

“Ek suip liewer aan háár!” Growwe hande reik na die vrou se gespierde bene, na die getatoeëerde vel. Die gesig van die groot vrou is donker, broeiend en sonder uitdrukking. Sy laat Simon dink aan ’n houtmasker waarop die foltergesigte van die gedoemdes van Tartarus uitgebrand is. Om hom en aan die oorkant van die loopvlak, tussen die bene van die vrou en die sjimpansee deur, sien hy laggende oop monde, met geel tande, swart tande en rooi tandvleise sonder tande. Hy sien die gesig van die ou kleremaker met ingevalle wange waarop die grys stoppels al ’n paar dae groei. Hy sien ’n man met ’n groot kop, blinkkaal, met ’n hand wat oor dik lippe vee, oë stip op die liggaam van die groot vrou. Op elke gesig lees hy die swaarkry van koue, honger en oorgawe. Almal kyk na die slingerende aap en die reus van ’n vrou. Sý sien niemand nie.

“Dis g’n vrou nie,” meen een.

“Dis ’n donnerse man,” beaam ’n ander.

“Sy’t tiete, dis ’n vrou.”

“Maar het sy ’n doos?” wonder nog een.

“Dis ’n trassie.”

“’n Moerse trassie.”

Die Amazon Warrior moet gewoond wees daaraan om aangestaar te word en dit lyk of dit haar nie raak nie. Al sou sy omgee, kan sy niks aan haar lot doen nie. Hy sien die gevroetel van koue, swetende hande aan die vel van haar bene, haar dye en heupe. ’n Man spring op die loopplank, knyp met skurwe vingers deur die linnedoek aan haar borste om te voel of sy werklik ’n vrou is. Hy word deur die kaalvuisbokser afgepluk.

Die vrou trek die tam Pan Troglodyte, oud en vol jig en bier, agter die gordyn in. Die toeskouers fluit en stamp hul bekers toe die laskaar met sy albinovel vol sere en sy geel albinohare en sy lui albino-oë op die verhoog stap. Die bloed vlek sy vel uit die priemwonde aan sy gesig en liggaam waar hy homself pynig.

Die toeskouers, dronk deur die skouspel van menslike en dierlike afwykings en bloed en drank, jou Archibald uit toe sy hoë stem uitroep: “Wishin’ ye’re all sat’sfied and ’ll rec’mend Varley’s Very Fabulous Freak Show to ye’r friends. I bid ye g’night!” Hulle stamp en stoot en wieg onseker op hul voete. Hulle sukkel om by die deur uit te kom. Die kleremaker, bysiende van al die fyn werk in halfskemertes, beur sy pad oop tussen die massa deur. Almal voel goed, want hulle was ’n paar uur lank verlos van hul ellendes.

Agter hulle klap die deur van die Coal Whippers’ Arms toe en die sleutel draai in die slot. Archibald Varley voel ook goed, want hy het groot planne. Hy klim met die trap terug na die boonste vertrek toe waar sy fratsvertonings gehou word.

“Die show is oor. Dis laat. Dis toemaaktyd.” Hy blus die kerse en olielampe teen die vuil mure. Hy staan op die punte van sy tone om met die blusser aan die lang stok die vlamme te smoor. “Kom môreaand terug, ons’t weer ’n show.” Hy kyk nie om na die enigste klant wat agtergebly het nie.

“Ek is van die Penny Chronicle.”

Eers dan draai hy om, sak af op die hakke van sy skoene, vee met die agterkant van sy hand oor sy gesig en laat rus die blusstok teen sy maag waar die baadjie aan die knope rem. “Het jy die show geniet? Gaan jy daaroor skryf? Dis die beste in Londen.” Hy doof die laaste vlam teen die agterste muur en kom na die verhoog toe waar Simon Pickering wag.

“Ek wil oor jou fratse praat, oor die vrou veral.”

Archibald Varley se tande is gevlek en sy asem jaag amegtig uit sy bors van die inspanning om die lampe te blus. Hy vee weer oor sy gesig. “Ek’t nie publisiteit nodig nie.” Sy ogies is donker rosyntjies. “Jy was hier vanaand. Jy’t gesien hoe pak die arme moere die plek vol.”

“Kan ek met die vrou praat, die …”

“Die Amazon Warrior. Wat ’n donnerse vonds, nè? Kom uit Suid-Amerika, in die Andes gevang.”

“Kan ek met haar praat?”

Archibald kyk na die jong man met die welige krulhare. Sy klere is nie van die East End nie en die naels van sy lang vingers wat die sketsboek vashou, is skoon en versorg. “Wat het jy gesê is jou naam?”

“Simon Pickering.”

“Van die Penny Chronicle, ja.” Archibald se ogies loer agterdogtig na die sketsboek in Simon se hand. “Hoekom wil jy met die vrou praat?”

“Hoor of sy dit ook geniet, soos jou klante.”

“Dis mos jý wat geskryf het die freak shows moet stopgesit word?”

“As die mense mishandel word, ja. Hier’s genoeg ellende.”

“Ek mishandel nie my freaks nie. Jy moenie kak skryf nie.”

“Dan hoef jy nie bang te wees nie.” Die stem is uitdagend.

“Ek’s nie bang nie. Ek’s vir niemand bang nie.”

“Dan sal jy instem dat ek met haar praat?”

“Sy verstaan niks nie,” sê Archibald. “Doofstom moer.”

“Hoe praat jý met haar? Hoe verstaan sy jóú?”

“Sy’s al lank by my. Ons verstaan mekaar.”

“En die laskaar? Hý kan seker praat?”

“As jy ’n tolk het. Hy kom van Malabar, patetiese donner.”

“Wat van jou? Kan ek met jóú praat? Oor jou en die fratse van Varley’s Very Fabulous Freak Show?”

Hulle meet mekaar. Archibald se ogies flikker, die tong flits oor die lippe wat in ’n gryns plooi. Hy raak gemoedelik aan Simon se skouer: “Ja, natuurlik. Wat wil jy weet? Kom na my kantoor toe.”

Hulle stap oor die verhoog, agter die vuil fluweelgordyn in. In die skadu’s van die lantern se lig agter die verhoog sien Simon die sjimpansee se vingers om die hok se tralies en deur die tralies, die wit van sy oë. Hy sit op die strooi in die hok. Sy oë volg Simon en Archibald in die donker gang af.

Archibald stoot ’n deur oop en val in die stoel agter die skryftafel. Hy vee papiere uit die pad en leun agteroor om uit die vat skuins agter hom twee aleyards vol bier te tap. Hy skuif ’n lang glas bier na Simon toe. “Op Varley’s Very Fabulous Freak Show!” Archibald sluk diep en dors en vee die skuim van sy lippe af.

“Jy lyk na ’n suksesvolle man, Mister Varley.” Simon teug self diep teen die Little Swan se nadors en newelflitse van Fanny Spankie se gulsige tong van vroeër die aand. Sy oë knip in fokus op Archibald.

Archibald lê agteroor in die stoel, sy linkerhand op die groot buik, regterhand besitlik om die glas met skuimende bier. Goue ringe blink aan die kort, vet vingers en op die stene in die ringe is die lantern se lig glinsterende spikkels en spatsels van rooi, groen en blou. Van naby is die baadjie se karmosyn-lapelle blink geslyt.

“Noem my Archibald. Ja, ek hét al slegter tye beleef. Baie slegter, was al in die slote. Maar die Coal Whippers’ Arms is gewild. Ek laat die mense ’n paar ure vergeet van hul swaarkry. Ek dink ek doen goed om dit vir hulle te gee, om hulle te help vergeet.”

“Waarvan hou jou klante die meeste in jou show, Archibald? Van die mensfratse, of van die diere?”

“Die diere is gewild. Voor die sjimpansee het ek ’n beer gehad, uit Siberië. Hy kon op sy een been staan, wanneer hy nugter was. Hulle het baie van die beer gehou wat op sy een been kon staan. Ek dink hulle hou van diere, veral as die diere soos mense optree. Daarom hou hulle van die sjimpansee. Hy’s nes ’n mens.”

Archibald se buik skud. “Die beer was baie lief vir bier. As ons nie vir hom bier gegee het nie, het hy die vate gebreek om bier te kry. Die gepeupel het veral daarvan gehou wanneer die beer dronk was. Hulle wou sien hoeveel bier hy kon drink en of hy dan nóg op een been kon staan.”

“Wat het van die beer geword?”

Archibald se wenkbroue sak oor die donker oë. “Dood. Die vervloekste ding slaan net een aand morsdood neer, hier op die verhoog. Almal dog hy’s net dronk.”

“Toe kry jy die sjimpansee?”

“Die Pan Troglodyte, nog nader aan ’n mens. Hóm het ek óók leer bier drink. Die toeskouers geniet die gesuipte sjimpansee.”

“As hulle so van die diere hou, hoekom dan die vrou en die albino?”

“Die vrou en die albino is mense, maar ook nie mense nie.”

“En jou klante soek na iets abnormaals. Hulle soek na diere wat ondierlik optree en na mense wat onmenslik optree?”

Archibald krap tussen sy hare. “Jy kan dit seker so noem, as jy slim wil wees. Maar ek dink nie hulle het siele nie. Dink jy freaks het siele?” Hy vat Simon Pickering se glas, leun agteroor en tap nog bier uit die vat.

Simon ignoreer die vraag, “Waar kry jy al die abnormale diere en mense?”

“Kontakte.”

“Kontakte?”

“Matrose, seekapteins, ontdekkingsreisigers, handelaars. Sulke soort kontakte. Ek het ook ’n goeie kontak in Parys. Ons ruil ons freaks uit. Ek het die Amazon Warrior by hom geruil. Ek het groot planne met my show. Jy kan dáároor skryf, oor die groot planne, pleks van die ander stront.”

“Watse groot planne?”

Archibald teug diep. “Piccadilly. Ek wil uitkom hier uit die East End, ek wil Varley’s Very Fabulous Freak Show Piccadilly toe vat. Weet jy wat die rykes dáár betaal vir so ’n show, daar in die West End? Maar jy sal weet, jy kom mos van daai kant van die dorp af.”

Ja, Archibald is reg, in Piccadilly sal hy meer geld maak as onder die armes van Whitechapel en Spitalfields. Soos die armes en die middelklas vind die rykes en adellikes, miskien minder blatant, die menslike fratse ewe bisar.

“Wanneer is jou plan om daarheen uit te brei, Piccadilly toe?”

Archibald gryns. “Gou. Ek kom op baie plekke. Mense ken my. Ek wag net vir die regte een, die regte spesimen, dan trek ek permanent Piccadilly toe, West End toe. Nie dat ek neerkyk op die goeie mense hier nie,” voeg hy haastig by, verskonend. “Dis mý mense hierdie. Ek’s hier gebore, om die hoek, in Wentworth Street. Ken jy Wentworth?”

Simon skud sy kop.

“Net hier, ’n paar blokke uit Whitechapel Road. Het in die strate grootgeword, en kyk nou! Jy’t gesê jy wil van my weet?”

Simon knik.

“Maar jy skryf niks neer nie,” beskuldig hy.

“Ek het ’n goeie geheue.”

Archibald aarsel. Dan hervat hy. “Pokke het my pa gevat, kleintyd. En die strate my ma. Vyf klein kindertjies was skielik alleen. Net so.” Sy duim en middelvinger klap. “Ons het gebedel en gesteel. Ek is nie skaam om dit te sê nie. In die winter het ons saam met wegloophonde in steë geslaap om nie te verkluim nie. Dis die beste ding wat met my kon gebeur het, die strate. Beter as om in die Foundling opgepiep te word. Ek’t niemand se hulp gekry nie, niemand nodig gehad nie, en nou noem hulle my Míster Varley. Die hele Londen sal my nog ken, as ek eers in die West End is, in Piccadilly.”

Simon staan op, vat sy potlood en sketsboek. “Wanneer kan ek met haar praat?”

“Ek’t nie gesê jy kan met haar praat nie.”

“Kan ek met haar praat?” Simon druk sy hande op die tafel, skouers en kop vooroor, oë stip in Archibald s’n.

“Ek sal dit reël. Sy bly nie hier nie. Sy en die laskaar bly op ’n ander plek, ordentlik. Net die sjimpansee bly hier. Ek sal dit reël, maar sy kan nie praat nie.”

“Ek kom oor twee dae, dan kan jy my na haar toe vat.”

Archibald stap, lantern in die hand, saam met Simon in die gang af, verby die stank van die ou sjimpansee met die jig, sy oë geel in die lantern se vlam. Hulle stap om die stowwerige fluweelgordyn, oor die verhoog, af na die onderste kroeg toe.

By die deur sê Archibald: “As ek ’n nuwe spesimen kry, sal ek jou laat weet. Ek’t boodskappers. Ek’t baie mense wat vir my werk. Van hulle laai vragte af van die steenkoolskepe uit Newcastle, van hulle is boksers in die gevegte by Marelybone Fields, sterk donners. Hulle breek bene en sny kele af sonder om ’n oog te knip. Sal ’n lem vat vir my. As iemand my te na kom, klap ek net my vingers.”

Frats

Подняться наверх