Читать книгу Frats - Chris Karsten - Страница 13

khoena

Оглавление

Die kneukels van haar vingers om die reling is wit. Sy draai nie haar kop weg van die wind wat die seesproei in haar gesig waai nie. Sy proe die sout op haar lippe en sluit nie haar oë teen die brand nie. Ná elke deining sink die Tafelberg en die vorms en lyne van die Kasteel en ander geboue van die Kaap al hoe dieper weg in die blou dynserigheid, totdat dit uiteindelik wegsmelt en daar op die horison net die blouwit mislaag oorbly.

Sy sluk, maar die knop in haar keel wil nie weg nie. Sy vee oor haar wange, maar die trane bly. Sy hou aan met kyk, totdat daar net die see is. Eers dán verslap sy haar greep op die reling. Wanneer sy terugkom Kaap toe, sal sy weer by die reling staan en na die see en die einder staar. Agter die deining en die misbank sal alles weer stadig lyne kry: eers die berg, dan die Kasteel, dan die ander geboue en die mense van die dorp. Net vyf jaar, het Bartol belowe.

Dán, dink sy, sal sy en Goens teruggaan, oor die berge en die vlaktes, ál verder, tot doer in die vallei van die Gamkamma. Hulle sal vry wees en hulle sal hul mense gaan soek, die Gomarib geib, en hul plek. Sy sal haar pa, haar tatab, vra: “Eip, dis ek, Gari-Karib, jou dogter, en hier is Goens, my gab geib, my ouer broer. Ons was lank weg. Gaan wys ons waar lê ons mames.” By die klipstapels, waar hulle lê met die opkomende son op hul gesigte, sal hulle kniel en troos bring oor daardie verskriklike, sondige oggend.

In die nag is dit die ergste, die hulpkrete wat sy nie kon hoor nie. Sy kon net sien en weet dat die dood gekom het. “Torab ui ha, o ge ni!” Sy skrik steeds wakker, nat van die sweet. Dit is ’n nagmerrie sonder einde. Dit is die slegte geeste, die hei noen, wat terug is en haar nie wil los nie.

* * *

Op die perd wat haar tenger liggaam ruk, met haar hande wat klou aan die maanhare, soek die kind deur die rook van kruit na haar mames. Sy sien die stil vrou in die as, die rooi teen haar bors, soos ’n blom wat oopvou, die oë wat opstaar na die blou lug. Die kind wonder hoekom haar mames so stil lê in die as van die vuur. Teen haar ore slaan die knalle dof en meedoënloos vas, doef, doef, doef. Sy voel die perd wat onder haar spring en galop, vassteek en swenk. Deur die kruitwolke sien sy haar mense wat vlug en steier en val. Sy sien die wonde en die monde vol angskrete, maar sy hoor nie hul vergeefse gepleit op hul knieë nie. Haar oë bly terugsoek na die vuur toe en na die stil figuur met die rooi blom teen die sagte bors.

Die agterryers soek die jong opgeskote kinders uit om saam te neem as buit. Die heel kleintjies, die heel oues en die vroue word nie bymekaargemaak nie. Hul dood is die straf vir die mans wat weg is. Wanneer hulle terugkom, sal hulle eers die aasvoëls in die lug bo die kloof sien sirkel en hulle sal weet dat die straf gekom het.

Wanneer dit te veel tyd neem om die roers te laai, en om ammunisie te spaar, word die kolwe gebruik. Daar is geen genade nie. Toe die slagting verby is, sleep die ruiters die takke van die kraal weg en jaag die beeste en die skape teen die hang af. Die bokke is reeds weg, dieper die kloof in. Hulle word gelos, met hul vol uiers en vet spene wat vergeefs gaan wag om gemelk te word.

Die ruiters, nou op ’n stap af teen die hang na die bome en rivier toe, kyk nie om nie. Hulle hang die roers terug oor hul skouers. Net die kind bly omkyk. Sy soek na die vrou in die as van die vuur.

Die leier is gehard teen trane. Onder by die rivier lig hy haar van die saal af. ’n Agterryer por haar met ’n stok aan na die groepie kinders toe. Sy strompel saam met die kinders en beeste en skape oor die klam grond langs die rivier, tussen die tierhout en spekbome, op deur die poort en uit die vallei uit. Die kalbas waarin die kind die water moes dra, lê vasgespoel teen die opdrifsels.

In die kamp op die vlakte word die kinders opgehelp in die waens, by die ander kinders van ’n vroeëre ekspedisie. Hulle is almal verwese en stil. ’n Seun, bietjie ouer as sy, vat die kind se hand toe die rooi osse met die lang swepe aan die loop gekry word. Die getalle van die beeste en skape het aangegroei. Die leier reken hy het goeie werk gedoen. Sy ekspedisie was ’n groot sukses. Sy beloning vir die vee sal goed wees en die kinders sal goeie pryse haal. In die Kaap is daar nie genoeg mense om die werk te doen op die plase en in die huise van nuwe grondeienaars nie.

Agter in die wa bly die kind na die berge toe tuur. Sy sien ’n arend sweef, hoog bo die kranse van die vallei van haar Gamkamma waaruit sy weggevat is. Die berge word algaande kleiner en verdwyn uiteindelik.

* * *

Onder in die skip, uit die wind en sproei van die see uit, bespreek Bartol Boelens en dokter Peniston Woodcock die kontrak wat hulle met mekaar wil aangaan. Woodcock glo Khoena gaan Londen verower. Sy is hul kans vir groot rykdom.

“Vir die vertonings moet ons haar verhuur,” sê Bartol.

“Verkóóp haar,” sê Woodcock. “Ons verkoop haar, vir ’n groot som, aan die eienaar van ’n vertoning. Ek ken een in die East End.”

“Nee!” Bartol se stem is skerp en beslis. “G’n verkoop nie. Sy’s nie ’n vel of ’n bondel vere wat verkoop word nie. Sy’s ’n mens.”

“Siektes en ellendes is ’n pes in Londen. Ons kan ons geld kry. As sy dán iets oorkom, is haar versorging nie ons saak nie.”

“Nee,” sê Bartol weer. “Ek het ’n plig en ’n eer. Wie haar wil hê, kan haar huur. Sy bly by ons.”

Woodcock slaan ’n ander koers in. “Ons kan by Varley’s Very Fabulous Freak Show begin.”

“Sy’s g’n frats nie!”

“Met sulke boude …” Woodcock grinnik. “In Londen sal sy wel ’n frats wees.”

“Khoena is nie ’n frats nie. Sy is in my sorg,” sê Bartol.

“Dit was mý plan, mý moeite om julle op die skip te kry, en ék het die kontakte. My aandeel in haar is vyftig persent.”

“Ek het die helfte van ’n plaas weggegee om haar te kry. Jy kan twintig persent van haar verdienste kry.”

“Sonder my is julle verlore. Ek ken Londen, ek weet wat die mense soek. Vyftig persent.”

Hulle onderhandel en kibbel oor haar soos oor die vel van ’n kameelperd. Bartol beskuldig Woodcock: “Jy is gulsig. Khoena is mý pand. Dit is my laaste sê, so nie vat ons passasie terug Kaap toe.”

Woodcock oorweeg die opsie. “Goed, goed,” skerm hy.

“En jy behandel haar as sy siek word. ’n Siek Khoena sal ons niks help nie.”

Dokter Woodcock reken dít is nie onbillik nie. “Ek sal haar gereeld ondersoek en behandel en haar gesond hou, sodat sy kan optree en geld verdien.”

Hy is sat vir die see en die siek matrose. Dis tyd dat hy gevestig raak. Khoena kan vir hom ’n goeie inkomste verseker en hy sal, eendag, gou, vir sy ryk familie wys dat hulle hom verniet geban het, die swartskaap, ná die ding met die vrou. Dit was net ’n ongeluk, met die jong, swanger vrou. Enige dokter kan so ’n fout maak. Haar dood, ná sy behandeling, was nie sy skuld nie. Die dood van die ongebore baba ook nie. Maar hulle, sy ryk familie, het anders geglo. Hulle het geglo die gin het sy oordeel aangetas, én sy vingers met die skalpel. Sy pa het die skandaal van die swanger vrou se dood, en dié van haar baba, met ’n groot som afgekoop en in ruil daarvoor was daar net een opdrag: gee pad uit Engeland uit, klim op ’n skip na die verste kolonies toe. Ons wil jou nie weer hier sien nie. Op die eerste skip is hy weg. Hy het nie die kans gekry om sy onskuld in die Old Bailey te bewys nie. Sy verblyf, tussen reise, is altyd kortstondig, in ’n krot in Whitechapel. Vir sy familie is hy dood.

“Dan stel ons die kontrak só op?” vra Woodcock. Bartol knik en Woodcock begin skryf.

“Wat is haar vergoeding?” vra Bartol, sy oë verwonderd op die vlytige pen in Woodcock se vingers. Skryf kan hy ook wel, maar tydsaam en net met diepe bepeinsing voor elke woord.

“Oor haar betaling vermeld ons niks nie. Laat ons eers sien hoeveel sy kan verdien.”

“Ons het vir haar gesê ons sal haar betaal. Dis hoekom sy saamkom. Vir die geld, vir haar vryheid.”

“Ons sál haar betaal. Maar ons verswyg die som. Sy het nog nooit geld gekry nie. Sy weet van geld niks nie. Ons kan haar enigiets gee en sy sal tevrede wees, só het jy tog self gesê. Dat jy slawe ken en dat hulle gelukkig is met kos en onderdak.”

“Ons moet haar betaal, ons het dit belowe. Dit is my eer.”

“Dit sal ons doen, maar ons meld dit nie in die akkoord nie.”

“En sy is g’n slaaf nie,” sê Bartol stuurs.

Die aand, aan boord die Guinevere op pad Engeland toe, teken die skeepskaptein as getuie die kontrak tussen Bartol Boelens en dokter Peniston Woodcock, mede-impressario’s van Khoena tydens haar verblyf in Londen, wat nie vyf jaar mag oorskry nie.

Frats

Подняться наверх