Читать книгу Frats - Chris Karsten - Страница 5

khoena

Оглавление

Sy voel die geeste in haar. Dis altyd ’n slegte teken.

Die pot is aangebrand en misvorm van langdurige rinnewasie op die warm plate van die swart houtstoof. Sy strooi die growwe, geel meel in die stoom en roer die meel en water. Maar haar gedagtes is nie by die houtlepel en die pap nie. Ook nie by die sout wat sy tussen duim en wysvinger byknip nie. Die geeste, wat so lank weg was, is ineens in haar kop.

Khoena klop die lepel teen die rand van die pot en sit die deksel op. Wanneer sy buk vir nog ’n stomp in die vuur sien sy deur die klein kombuisvenstertjie vir Goens aangestap kom. Hy het die hout, wat hy vir die stoof gesplits het, in sy arms.

Voel hy ook die geeste? wonder sy. Vanaand moet hulle praat. Dis tyd vir onthou, dink sy, van hul ander wêreld; dis Gamkamma-tyd.

Swygsaam stapel hy die hout in die hoek langs die stoof.

“Goens.” Haar stem is ’n fluistering vol ontsag. “Die hei noen is by my.”

Hy kom orent, onthuts. “Daar’s g’n hei noen nie. Dis verby, Khoena.”

“Ons moet praat, Goens. Dis al wat help,” pleit sy.

In die deur huiwer hy ’n oomblik, sy oë op haar. “Dis die wind wat jou pla, nie die geeste nie.”

“Die wind bring hulle. Die wind is die teken,” sê sy toe hy uitloop. “Ek hoor hul stemme op die wind.”

“Ons sal praat,” roep hy oor sy skouer. “Maar maak eers reg. Tiebout is op pad. Die gei gab is honger.”

Sy kyk weer na die wind agter die venster, na die wasige deining van die sandstof oor die duineveld. Sy lê die lepel op die pot se deksel neer en vryf haar handpalms aan haar voorskoot af.

Miskien bring die stilte én die wind die geeste. Miskien wyk hulle met Tiebout se koms. Tiebout kom uit die Kaap uit soos ’n lustige leeu, ’n gei gab met paringsreuk in die neus, sonder keer. En hy vat haar. Hy kry nie genoeg by die Kaapse vroue nie. Wanneer Tiebout haar vat, is daar nie stiltes nie. Sy is onmagtig teen sy besete drifte. Hy vat haar wanneer Bartol weg is. Met Bartol op die werf, is Tiebout stug, ongeërg. Maar Bartol weet. Van sy hanskinders weet Bartol álles, van hul herkoms en hul aankoms hier op Loutersvalleij, klein, vaalverwese van die stof van weke se trek op ver paaie.

Sy hang die voorskoot aan die spyker teen die muur. Die huis is skoon, die vensters oop om Bartol en Tiebout se slaapkamers lug te gee. Wanneer Bartol van die jag af gaan terugkom, dié weet sy nie, maar haar oë is op die verwaaide duine. Terwyl sy wag vir Tiebout se verskyning, pluk sy gespanne aan die rok wat styf span oor die rojale boude waaraan hy so ’n erg het.

Die pap het kans vir prut. Wanneer Tiebout met haar klaar is, sal hy wil eet.

Frats

Подняться наверх