Читать книгу Frats - Chris Karsten - Страница 12

dolly

Оглавление

Sy het hóm ook geëien, die joernalis wat in Horace Beeby se tekstielfabriek ingekom en sy neus ingesteek het in sake wat hom nie raak nie. Selfvoldaan het hy daar ingestap, met sy baadjie van tweed en sy sagte hande wat nie harder werk ken as die vashou van ’n potlood nie. En met die woorde wat rond uit sy mond val wanneer hy uitvis oor slawearbeid. Dié modulasie van ’n ander stand ken sy van die Little Swan af, vanwaar sy hom eien. Maar sy het geswyg op die vrae wat hy met ’n glimlag oor sy skouer gevra het, toe hy wegstap saam met Horace Beeby. Oor die flesse heen het haar oë die rug van sy baadjie gevolg, ongerus oor sy besoek.

Die werk by Beeby was haar redding en uitkoms van die Little Swan. Vir haar en haar klas is daar min gawes en kanse. Tot hý daar aangekom het met sy vrae oor slawe. Sy het die agterdog in Horace Beeby se rotoë gesien.

In die hoek van haar kamertjie, beknop en bedompig, met die geskree en geskel van honger kinders en vroue en besope mans deur die mure, lê die bladsye van die Penny Chronicle waar sy dit geslinger het. Sy verwens die joernalis vir sy inmenging in die sake van haar werkgewer, die tekstielhandelaar. Die berig, oor die skandalige en onwettige misbruik van slawearbeid (só het Simon Pickering dit gestel), het Horace Beeby in blinde woede deur die fabriek laat storm, teen bale materiaal vas. Daarna het hy, met wange wat tril en hande wat bewe, Dolly daarvan beskuldig dat sy Pickering se bron vir infame en lasterlike leuens was. Hy het gesien, met sy eie oë, hoe hulle staan en konkel. Hy het haar soos ’n hond weggejaag uit sy fabriek uit. Sy is skaam om weer vir die Reverend Percival te gaan vertel sy is sonder werk. Sy het net ’n week se loon en ’n paar sjielings. Wat Pickering geskryf het, is nie háár skuld nie. En dat sy uit die Foundling uit kom, is óók nie haar skuld nie. Dit was net genade, dink sy.

* * *

Toe sy groot genoeg was, het hulle haar vertel hoe een van die ouer seuns, op die punt om as leerjonge uitgeplaas te word, die bondel in die bedding voor die linkerarkade van die Foundlinghospitaal gevind het. Dit was ’n koue oggend in die lente.

Die baba (van so vier maande, skat ’n goewernante) was toegedraai in linnelap, met ’n smeking in sukkelskrif daarop vasgespeld: “Sorg vir haar, Dolores Tooley.”

Dit is onseker of dit die ma se naam was, en of dit die ma se bedoeling was dat haar baba só genoem word. Dolly glo sy sou nooit oorleef het as haar ma, so vermoed sy, haar nie daardie Apriloggend by die Foundling in Coram Fields buite Londen gaan los het nie. Sy kan haar die stryd voorstel in die siel van ’n ma wat die besluit moet neem om haar baba af te gee. Sy kan net hoop dat die besluit geneem is vir die beswil van die kind.

Op vier word sy ingeënt teen pokke en op ses, in ’n bruin sergerokkie met stywe bostuk en kort, rooibruin hare, begin sy, saam met die ander weggooimeisies, in die hospitaal werk. Sy vee, stof af, was klere, hang beddegoed uit. Sy leer ook skryf en om die kategismus te lees. Ná werk en leer, saans voor donker, is daar tyd vir speel, saam met die seuns wat die hospitaal se blomme en groente versorg en die koeie melk. Hulle word geknie om as gesonde leerjongens uitgeplaas te word, die seuns na plase en die meisies na landhuise toe.

Die goewernante van die Foundling, met streng oë oor knypbril, kommandeer Dolly en die ander weeskinders elke Sondag op na die harde houtbanke van die kapel, vir dawerende liturgie, en die musiek van Handel, om hulle (en dit is soos ’n goewernante dit stel) geestelik te omgord vir die versoekings en uitdagings van ’n lewe buite die mure van die hospitaal.

In die kapel van die Foundling doop die Reverend Percival Paxton haar: Dolores Tooley. En saam met die kategismus leer sy ook die hospitaal se “Instruksies aan Leerjongens”. ’n Afskrif van dié Instruksies, wat aan elke vondeling by uitlating oorhandig word, is die lig op die pad. Met dié woorde van die goewernante klim Dolly op dertien in die landau, haar bondeltjie vasgeklem in haar bleek hande.

Met die gekrys van die klip onder die wiele en die pote van die perde, ry die koetsier haar weg na haar nuwe lewe toe, as jong binnemeisie in ’n deftige herewoning.

Toe hulle Mayfair uit Tyburn Road inry, is haar neus vasgedruk teen die venster van die landau, haar oë groot en wit, haar lippe oop, die klerebondeltjie op haar skoot. Hulle ry verby parke en tavernes en praal. Sy verwonder haar aan die huise, die tuine, die weelde, die mense in deftige klere. Uit Swallow draai die koetsier in Carrington af, stuur die perde agter om die hoë olms en trek hulle in. Sy word nie verwelkom nie. Sy sukkel uit die tuig uit en stap, op onsekere, dun beentjies agter die koetsier aan na die agterdeur van die somerswoning van Lord Willy, Vierde Burggraaf van Molesworth.

Frats

Подняться наверх