Читать книгу Frats - Chris Karsten - Страница 9

khoena

Оглавление

Op die stil werf gooi die oggendson ’n sipres se lang skaduwee oor die enkele grafsteen. ’n Stukkie grond om die kalksteen, lank terug ingeplant, word skoongehou van die indringers, kakiebos, oliebolle en graspolle. Die naam, krom uitgebeitel, kan hy net oor die glase van sy bril lees toe hy hurk en vooroor leun: Rijckloff Boelens 1799. Hy staan op. Hy sien die stalle en perde, gekniehalter en met hul koppe laag in die wintergras, die groot gestalte van Bartol, gebukkend by die leivoor, twee werkers wat die leë balies van die wa aflaai. Dit was al donker toe hulle gisteraand tuisgekom het. Hulle het net die perde afgesaal en die osse uitgespan. Die broer, Tiebout, het hy nog nie ontmoet nie en hy sien hom ook nie nou nie. Uit die skoorsteen van die opstal krul ’n lui rokie. Hy het wakker geword onder die warm karos op die dagbed in die kombuis toe Bartol die vuur in die swart stoof begin stook het vir die warm, soet koffie in ’n blikbeker.

Verder, teen die duine by die wit pondokkies, vang sy oog die figuur wat aangestap kom na die opstal toe. Sy het ’n los rok aan en ’n helder doek om haar kop. Sy oë volg haar tot sy by die stoep kom en in die donker huis verdwyn. Hy bly kyk na die deur. Sy kom uit met ’n grasbesem, vee die stoep en skud die kussings van die drie stoepstoele uit. Hy staar na haar. Só ’n figuur het hy nog nooit gesien nie, op al sy reise na ver plekke oor al die seë nie.

Dokter Peniston Woodcock geniet die oggendlug en slenter om die stalle. Hy sien die volstruise en besef ’n volstruis met geplukte stertvere, vulgêr gestroop van sy waardigheid, sal nie ’n groot attraksie wees nie. Klante sal nie drie pennies se kykgeld vir ’n volstruis betaal nie. Die groot eiers, dink hy, sal ’n groter attraksie wees as die volstruis. Hy stap na Bartol toe by die leivoor. Uit die opstal kom die reuk van spek wat braai. Hy is honger en sien uit na die brekfis wat die vrou voorberei.

Hy en Bartol spoel hul hande af in die vars, helder water van die leivoor. Dis ’n mooi oggend met geen reën en wind nie. Hulle gaan sit op die skoon stoep en wag. Die vet spek sis neffens die growwe brood met diepgeel botter in die blikborde waarvan die emalje van groen en wit stuk-stuk aferd.

Hy vat die bord en kyk op na haar, vir die eerste keer van naby. Die gesig is fyn en jonk en vol. Die vel van haar gesig en arms en van die hande wat die borde uithou, is die gladde vel van ’n jong meisie, gloeiend, die kleur van ligte heuning. Sy draai om, terug in die huis in. Sy oë verstar op haar figuur, op haar boude wat wieg onder die rok terwyl sy wegstap. So massief, so rojaal, kon hy hom dáárdie deel van die vroulike anatomie nooit voorstel nie.

Hy begin eet, maar toe sy uitkom met die blikbekers vol stomende koffie, kan hy nie wegkyk nie. Hy voel die klopping teen sy nek en teen sy slape. Hy besef dat hy iets besonders aanskou. Hy kyk na Bartol, maar Bartol kyk nie op nie. Die vet van die spek blink om sy mond. Hy sluk die kos met die koffie af en vee die laaste brood deur die vetterigheid in die bord. Die jong vrou wat die huis skoonmaak, die wasgoed was en die kos maak, is vir Bartol nie iets snaaks nie. Sy is maar net een van die werkers op die werf.

Maar Woodcock staar haar steeds agterna. Hy kan nie ophou kyk na haar skommelende boude nie. Hulle is volmaak gevorm, sensueel rond, ferm, maar enorm, heeltemal buite verhouding tot haar kort liggaam. Die res van haar liggaam – die skraal nek, skouers, arms, borste los onder dun materiaal, die kuite en skraal enkels en die klein voete – pas by die kort postuur.

By die deur kyk sy om. Hy laat sak sy gesig na sy bord toe.

“Is sy vir jou snaaks?” vra Bartol oplaas en slurp aan die koffie.

Woodcock knik. “Ja, sy is … anders.”

“Tiebout glo sy behoort aan hom, glo sy is sy eiendom. Hy hou van die slaafse Kaapse vroue.”

“Kan ek met haar gesels?”

“Haar Engels is min, maar sy verstaan dit. Ons praat Hollands, meestal. Ons het haar geleer, van kleins af, vir haar en Goens, die stalkneg.”

“Wat is dan haar eie taal?”

“Sy is hautitou, uit die Gamkamma. My pa het dit so opgeteken, in sy opgaaf van haar en Goens se koop by die slawesmous. Die papiere bewaar ek. Eendag, as sy wil loop, kan sy haar opgaaf kry, om te sê wie sy is en waar sy vandaan kom. Sy is mos ook mens, nes ek en jy.”

Woodcock knik. Mens, maar raar, met sulke boude, en nié soos ons nie. Hy wag dat Bartol terugkom met haar papiere. “Ongelooflik,” mymer hy.

“Ongelooflik?” vra Bartol. Hy gaan sit langs Woodcock op die stoep en vou die dokumente oop. “Hier is dit.”

“Sý is ongelooflik,” sê Woodcock.

Bartol blaai deur die papiere. “Gari-Karib, dis haar regte naam, van die stam Gomarib geib.”

“Waar het jou pa die inligting gekry?”

“Die Hottentotte van die slawesmous het kennis gehad. Hulle het haar Khoena genoem. Dis soos ons haar ken. Khoena. Goens het ook gehelp, haar ouer broer. Hy kon meer onthou. My pa was stip met hulle inboek, vir wettige verblyfreg sodat niemand kan sê sy is ’n rondloper nie, en dat sy domisilium het.” Hy lees wat Rijckloff Boelens neergeskryf het: “Loutersvalleij, op de vlack tussen ’t geberghte van ’t land van Africa en de Caep.”

“Sy lyk jonk.”

“Pas agtien, soos my pa haar geboorte geskat het.”

“Jou pa het baie moeite gedoen.”

“My pa was ’n goeie mens. Hy het goed gedoen vir my en Tiebout en vir sy slawe, veral vir Khoena en Goens, oor hulle net kinders was.”

“Sy is potsierlik,” sê Woodcock. “In Engeland sal mense baie betaal om na haar te kom kyk. Só iets het niemand nog ooit gesien nie. En die geleerdes sal haar wil bestudeer.”

“Dis hoe hulle lyk, Khoena en haar mense. Dis g’n ánders of potsierlik nie.”

“In Europa word oor hulle gepraat. Daar is groot diskussies oor vroue se anatomie. Almal bespiegel oor die vroue van Afrika, die Hottentotte. Geen wetenskaplike het nog die kans gehad om een van hulle van naby te bestudeer nie.”

Bartol kyk verbaas na Woodcock. “Gesprekke oor vroue, oor hoe hulle lyk?”

Verveling is die vloek van lang seevaarte, en dié saaiheid verwyl Woodcock met sy boeke en geskrifte. In hierdie tyd, wat die Franse l’âge de raison noem, word elke onderwerp, hoe gering en onbenullig ook al, ’n dispuut wat opgeklaar moet word. Al hierdie twiste vermaak Woodcock in die ledigheid van weke en maande met net die deining van die oneindige see om die skip. Die nuwe, en vurige, redekaweling van die anatomiste, naturaliste en antropoloë van Europa gaan oor die vorm, die bou, van die vrou se liggaam.

“Daar is deftige modes in Engeland en Europa. Vroue, dié wat die geld het, is pronkers. Maar hoe lyk hulle regtig?” vra Woodcock. “Dít is die vraag waaroor nou geredeneer word: hoe lyk hul liggame as daardie materiale, jaartse en jaartse en in die mooiste kleure, van hulle gestroop word?”

“Ek kan jou sê,” reken Bartol, “maar Tiebout is ’n groter kenner. Hy weet presiés hoe vroue lyk, sonder klere.”

“Ja, maar is jou broer ’n wetenskaplike wat sy bevindinge van kaal vroue aanteken? Kan hy verklaar dat Khoena se skedel doligokefaal is, of dalk ortokefaal, of dat haar gesig prognaties is? Is haar borste klein en konies, met groot tepels? Het hy aangeteken dat haar boude steatopigies is? Wat is sy bevinding van haar labia minora?”

Bartol skud sy kop oor die geleerde woorde. Hy weet Tiebout het nie tyd vir haarklowery wanneer hy die snolle van die Keisergracht, of Khoena, laat uittrek nie.

Die boude van hierdie jong vrou met die heuningvel, sê Woodcock, sal nuwe opwinding verskaf aan die heersende debat, oor die studies waarin die liggaamsbou van vroue in Europa vergelyk word met dié in Afrika. Oor hoe die Afrikavrou afwyk van die anatomiese norm van die Europese vrou. Khoena, so glo hy, sal ’n groot geskarrel afgee in hierdie era van die rede. Want hier, voor sy eie oë, is die antwoord, die bewys, waarna die intellektuele redenaars op soek is, die bepalende gevallestudie. Dit sal ’n vergryp wees, ’n growwe mistasting selfs, ja, inderdaad ’n onvergeeflike sonde, as hy nie die kans aangryp om haar liggaam beskikbaar te stel vir die wetenskap nie.

Boonop, meen hy in die stilligheid, sal hy besonder mildelik vergoed word vir hierdie seldsame en unieke spesimen. “Sy sal ongetwyfeld ’n groter attraksie wees as ’n kaalgeplukte volstruis of die afgeslagte vel van ’n kameelperd,” sê hy. “Mense sal betáál om haar te sien.”

Bartol sit sy beker neer, sy oë op skrefies ver oor die duine, doer in die rigting van die see agter die sandvelde. “Hoekom sal die mense geld betaal om haar te sien?”

“Omdat sy so anders is. Geen vrou in die ganse Engeland, die ganse Europa, lyk só nie. Hulle sal dink sy is … ’n frats.”

“Frats! Daar’s niks met Khoena verkeerd nie. Sy’s normaal en slim, sy leer vinnig.”

“Is jy nie bang sy loop weg nie?”

“Waarheen sal sy wegloop? Bosse toe? Kaap toe? Terug Gamkamma toe? Hier bly sy goed, by haar mense. Sy het werk, sy word goed versorg. Dis net Tiebout …”

Woodcock draai skuins na Bartol toe. “Ek het ’n kontak in Londen. Ons kan Khoena Londen toe vat. Ons kan haar uithuur vir vertonings, aan wetenskaplikes vir hul studies. Ons kan baie geld maak.”

Bartol staar in die verte.

“Jy het tog gesê jy wil teruggaan, Londen toe. Hier is jou kans.”

Bartol sê niks nie.

“Julle kan saamkom op die Guinevere, jy en Khoena. Ek sal met die kaptein praat.”

’n Nuwe lewe, vir hom en Khoena, weg van hierdie wetterse plek af.

“Niks hou julle hier nie. Dáár is die léwe, en jy hoef nie by Billingsgate vis te werk nie, of in ’n weeffabriek in Spitalfields nie. Jy kan in die West End bly, jy en Khoena, en jy sal nie hoef te werk nie. Die geld sal net kom, van Khoena se vertonings af.”

“Hoe weet jy? Hoe is jy so seker daarvan?” Hy draai nie sy kop nie, sy oë bly staar doer ver.

“Ek ken Londen en ek ken die vertonings, want ek het ’n kontak en ek weet hoeveel geld hy maak.”

“Watse vertonings?”

“Met fratse.”

“Khoena is g’n frats nie,” sê Bartol weer.

“In Londen staan mense tou en betaal goeie geld om te gaan kyk na mense wat ánders lyk.”

“Lyk Khoena regtig so anders?”

“Ja, Khoena lyk anders. Die vroue in Engeland lyk nie soos sy nie, ook nie dié van Oos-Indië nie, of van Wes-Indië of die nuwe wêreld of enige ánder plek nie. Dis hoekom Khoena ánders is.”

“Ek sal Goewerneur Lord Cradock se permissie en seël moet kry om haar uit te vat,” peins Bartol. Hy draai na dokter Woodcock toe. Hy sien hoe die oë agter die lense blink, hoe die goud in die tand skitter en hoe die rooi tong oor die dun, klam lippe flits.

“Daar is vyf dae voor die Guinevere vertrek. Sal sy saamkom?”

“Ons moet haar vra.”

“Sy weet tog sy het geen ordentlike lewe hier nie. Ek sal ’n brief van die kaptein kry, vir die Goewerneur se verlof aan sy onderdane om die Kolonie te mag verlaat. Daar is ’n nuwe wet in Engeland oor slawe, en dit geld vir al die kolonies.”

Bartol knik. “Self kan ek óók nie gaan sonder die Goewerneur se permissie nie. Dis die orders; ek het al daaroor uitgevra in die Kaap. Die orders kom direk uit Londen, van die minister van kolonies, direk van Lord Liverpool af, is vir my gesê.”

“Ek sal die toestemming by my kaptein kry, vir passasie op die Guinevere.”

“Goens sal ’n perd vir jou opsaal en saamry Kaap toe.”

“Wat van jou broer, Tiebout?”

“Ek sal ’n akkoord met Tiebout aangaan,” sê Bartol. Tiebout kan sý, Bartol se, deel van Loutersvalleij kry in ruil vir Khoena. En Tiebout sal gou weer ’n ander vrou in Khoena se bed lêplek gee.

Woodcock, met William Wilberforce se nuwe slawewet in sy kop, sê: “Ons sal ook met háár ’n kontrak aangaan, dat sy vrywillig saam met ons is, dat sy vir ons werk, en dat ons haar betaal. Ons sê nie hoeveel nie en ons sê nie watse werk nie.”

Bartol frons en bly ’n oomblik stil. Toe sug hy en knik. “Goed, ek sal dit so vir die Goewerneur stel, van die kontrak met haar.”

“Sê vir hom hy kan so skryf in sy permit: ons het ’n kontrak met haar vir vyf jaar in Engeland, dan bring ons haar terug Kaap toe. Roep haar sodat ons met haar kan gesels. Hoor wat sy dink van die plan, voor ek ry om die brief by die kaptein te kry.”

Oor sy skouer roep Bartol die huis in: “Khoena!”

Hy beduie sy moet sit. Sy hurk en stryk haar rok oor haar boude voor sy op die vloer van die stoep neersak. Sy is nuuskierig oor wat seur Bartol en die vreemde man met die bleek vel vir haar te sê het.

“Khoena, ek is moeg vir die vlakte. Ons sukkel en dis nie ’n lewe hier nie. Ek wil weg, terug Londen toe.”

“Weg?” vra sy verras en met kommer in haar stem. “Wat dan van ons?”

“Ek wil jou saamvat, na ’n nuwe wêreld en ’n nuwe lewe toe, sonder al die swarigheid.”

“Maar al ons mense is hier.”

“Ek weet, en jy sal terugkom. Dis nie vir altyd nie. Jy verdien ook ’n beter lewe. Dokter Woodcock kom van Londen af en hy ken baie mense daar. Hy sal ons help. Hy sal sorg dat ons beter kan lewe.”

In die Kaap het sy al gehoor van Londen. Dis ’n towernaam. Dis waar al die skepe vandaan kom en waarheen al die skepe teruggaan wat hier vasmeer. In die Kaap, wanneer sy saam met Goens mark toe gaan, praat die ander vroue met ’n blink kyk in hul oë van hoe hulle ook eendag op ’n skip gaan klim Londen toe, om weg te kom. En hulle praat van konings en koetse en mooi klere. Hulle sê Londen is die hart van die wêreld, ver oor die see. Maar sy is nie seker wat konings is nie en sy ken net ’n perdekar en ’n ossewa, en het nie erg aan verspotte klere nie. “Ek sal nie daar aard nie, seur Bartol. My plek is hier. En eendag, wanneer ek wil weg, sal ek Gamkamma toe gaan, na my mense toe. Ek en Goens het gepraat daaroor om hulle te gaan soek.”

“Khoena,” en Bartol leun na haar toe oor, “die Guinevere lê in die baai en oor vyf dae vaar sy weg, Londen toe. Dis dokter Woodcock se skip en ons kan saamgaan. Hy wil hê ons moet saamgaan en hy gee vir ons die kans om saam te gaan. Ons sal jou beskerm en jou betaal, en met die geld wat ons jou in Londen betaal, kan jy doen wat jy wil. Jy kan terugkom en met die geld sal jy ’n huisie kan koop, vir jou en Goens. Julle sal vry wees om na die Gamkamma toe te gaan, en jy sal jou mense daar kan help.”

“Hoekom ék? Hoekom sal julle my betaal, daar in Londen?”

Sy merk die vlugtige ontmoeting van die oë voor dokter Woodcock sê: “Jy sorg hier in die huis vir Bartol en Tiebout. Jy was hulle klere, jy maak die huis skoon, jy maak die kos. Sonder jou kan hulle nie so leef nie. In Londen sal jy ons help, ook in die huis en met ons klere en kos. Daarvoor sal ons jou betaal. Maar daar is baie ander werk waarvoor hulle goed betaal. Daar is shows, en almal wil in shows werk, want dan kry jy nóg meer. Londen is ’n groot plek, baie groter as die Kaap, met derduisende mense, en die mense daar is baie ryk.”

Khoena kyk stip na Woodcock terwyl hy praat, dan na Bartol, en vra weer: “Maar hoekom ék? Daar is tog ander vroue daar, in Londen, wat in die huis vir julle kan sorg, met klere en kos en skoonmaak?”

Woodcock kug en verskuif op sy stoel. Hy laat Bartol praat. “Die shows is spesiaal. Die mense in die shows kom van oral oor die ganse wêreld. Hulle kom met skepe uit die Ooste en die Weste. Maar uit die Kaap is daar niemand nie. Hulle sal baie betaal om iemand uit die Kaap te sien in hul shows, iemand soos jy, want jy is ook spesiaal. En ek is daar en ek sal altyd daar wees om vir jou te sorg, en die dokter ook. Wil jy nie ook hier padgee nie, Khoena? Is jy nie ook moeg vir die plek nie? Net vir ’n paar jaar, dan kom jy terug en jy hoef nie meer vir enigeen te werk nie.”

Die groot besluit is of hy die troef nóú moet speel, of wag daarmee. Hy besluit op die troef, terwyl sy nadink: “En Tiebout kom nie saam nie. Tiebout sal jou nooit weer seermaak of enigiets met jou kan doen nie.”

Dit was ’n goeie besluit oor die troef. Hy sien dit in haar oë en hy sien dit aan haar kop wat net so effens, so amper ongemerk, een keer knik. Woodcock staan uit sy stoel op, stap die huis binne, en toe hy uitkom, hurk hy by Khoena op die stoep. Hy hou ’n doekie na haar toe uit, van geel satyn, met ’n motief van fyn fleur de lis daarop geborduur, omsoom met delikate wit kant. Bartol herken die doekie wat in die dokter se bosak was toe hulle mekaar die eerste keer ontmoet het.

“Vat dit, Khoena, dis vir jou,” sê Woodcock. Met albei sy hande vou hy haar hand om die doekie. “Dít is van die pragtige goed wat in Londen wag. Dink net aan die mooi klere. Jy sal soos ’n prinses voel.”

Toe die dokter sy hande wegvat, is die satyndoekie in haar hand. Dis lig soos ’n donsveertjie in haar palm. Haar vingers sluit stadig en sag om die doekie asof sy bang is dit breek of verdwyn. Sy bring dit na haar gesig toe. Die satyn streel oor die vel van haar gladde heuningwang. Van ’n prinses weet sy niks nie, maar sy hou van die doekie. In haar lewe het sy nog nooit iets so sag, so delikaat, besit nie.

Bartol staan op en stap na die stalle toe. Goens moet die perd vir dokter Woodcock opsaal sodat hy die brief van permissie by die kaptein van die Guinevere kan gaan kry.

Frats

Подняться наверх