Читать книгу Frats - Chris Karsten - Страница 11

khoena

Оглавление

Goens druk die tak in die vlamme. Dit is van ou wingerde wat uitgekap is en wat hy en Tammerlaan met die wa aanry vir brandhout. Seur Bartol het al ’n slag losweg gepraat van wingerde aanplant op Loutersvalleij, maar wyndruif is nie net vir ’n stok in die grond steek en natlei uit ’n voor nie.

Toe die vlamme begin vreet aan die hout en vonke in die nag opskiet, sê Khoena: “Ek gaan weg.”

“Weg?” vra Goens verbaas.

“Ja,” sê Khoena met ’n beklemming in haar bors en keel.

“Daar is niks oor nie, Khoena!” Sy stem is ineens skerp, driftig oor haar hardkoppigheid. “Die Gamkamma is ’n wildernis, nie ’n plek vir ons wat mak geword het nie.”

“Ek gaan nie Gamkamma toe nie, ek gaan Londen toe.” Dit is uit. Sy draai na hom toe. Die gloed van die vlamme dans geel oor sy gesig.

Die els en die kraletjie in sy vingers is opeens stil. Daar is net die gekerm van ’n baba uit die buurpondok van Tammerlaan en sy houvrou. “Waar kom dít vandaan?” vra Goens. Die els begin weer boor in die skulpkraletjie.

“Dit kom van seur Bartol se besoeker, van die skeepchirurgyn van die skip wat in die hawe lê.”

“Weet jy miskien iets van Londen?” vra Goens, sy oë op die kraletjie en die vuur.

Khoena skud haar kop. “Nee. Maar ek hoor die vroue se gepraat op die mark, en ek hoor van konings en koetse …”

Goens se lag is skor. “Dis maande oor die see. Dis ’n plek wat jou insluk, dit is wat ék hoor. Hy sluk jou in en jy raak weg.”

“’n Mens kan baie geld verdien in Londen. Seur Bartol sê so. En dokter Woodcock weet waar die geld is om te verdien.”

“Hoekom, as daar so baie geld is, kom die mense hierheen op die skepe?” vra Goens. “Om in die Kaap te kom bly?”

Sy skud haar kop en haal haar skouers op. Haar vingers vroetel met die kralesnoere om haar enkels. “Miskien aard hulle nie daar nie?”

“En hoe sal jý daar aard? En was jý miskien al op ’n skip?”

Sy kyk op na die sterre. “Dis net vir ’n rukkie, my broer. Ek kom mos terug.”

“Terug? Daardie plek vreet jou op, sê hulle. Dis nie die Kaap nie, Khoena.”

“Wie sê dit? Wie weet dit?”

“Dis die praatjies in die Kaap. Tiebout sê dit ook. Tiebout sê dis ’n helse plek. Hy sê hy gaan nooit terug nie.”

“Tiebout is ’n hiëna.”

“Tiebout ken Londen.”

“Seur Bartol ook. Seur Bartol gaan saam.”

Goens se oë draai na haar toe, groot en blink in die wingerdstok se vlamme. “Gaan hy ook weg?”

Sy knik.

“En Loutersvalleij dan? En ons wat agterbly?”

“Ek sê mos ons kom terug. Dis net vir ’n rukkie.”

“En hoe miskien gaan jy al die geld verdien waarvan jy so praat?”

“Ek gaan doen wat ek hier doen, sorg vir seur Bartol en die dokter. Vir hul huis en kos en klere. En shows.”

“Shows? Watse shows? Wat weet jy miskien van shows?”

“Hulle gaan my baie betaal vir shows.”

“Om wat te doen?”

“Niks nie. Die dokter sê die shows is net vir staan sodat mense na jou kan kyk.”

“Net kan kyk? Hoekom wil mense betaal om net na jou te kyk?” Goens druk nog ’n stok in die kole.

“Jy het so baie vrae,” sê Khoena ongeduldig. “Kyk na al die sterre. Vertel my weer van die sterre. Van tsoab en gao gamiros en khanoes. Ja, vertel my van die mans wat weghardloop van die vroue af as khanoes in die lug kom.”

“Vir wat wil hulle na jou kyk, in die shows?” vra Goens.

“Die dokter sê ek is anders. Hy sê ons bruin vroue uit die Kaap is anders as die wit vroue van Londen. Hy sê die mense betaal om te kyk na vroue wat anders is.”

“Anders?” Goens brom en skud sy kop en boor met die els die gaatjie vir die dun riempie.

“As ek terugkom, met die geld wat ek verdien het, kan ons doen wat ons wil. Ons kan ons eie huis gaan koop, in die Kaap. Ons kan Gamkamma toe gaan. Ons kan ons mames se klipstapel gaan soek, en al die ander van daardie dag toe die dood gekom het.”

“Daardie helse plek, Londen, gaan jou insluk,” waarsku Goens.

“Niemand kan my insluk nie. Niemand kan my kop vat nie. As ek terugkom, sê seur Bartol, sal ons vry wees. Ek en jy, my gab geib, soos ons was in ons kleintyd, voor die andersmaak, voor die !nau van die dood. Vry. En buitendien …”

“Buitendien wat?” vra Goens bars toe sy aarsel.

“Buitendien sal jy mos altyd by my wees, waar ek ook al is, in daardie Londen. Jy sál mos? Jy sal my mos nooit alléén los nie?”

Frats

Подняться наверх