Читать книгу Christine le Roux Omnibus 2 - Christine le Roux - Страница 12
Hoofstuk nege
ОглавлениеYvonne moet spioene in vreemde plekke hê, want die Woensdagmiddag sit Olivia verskuil in die boomhuis toe Yvonne se motor onder haar in die rylaan stilhou. Die rede waarom sy in die boomhuis sit, is nie om af te luister nie; albei kinders is na ’n verjaardagpartytjie toe en tot sy hulle later moet gaan haal, het sy nie regtig iets om te doen nie. Buitendien vind sy die boomhuis ’n wonderlike plek om in te sit as ’n mens se gedagtes deurmekaar is.
Nou in die middel van die somer is die blare so dik dat die boomhuis heeltemal versteek is. Net mense wat weet dis daar, kan dit sien. Sy en die kinders het al diverse ou kussings en komberse soontoe gedra sodat sy haar baie gemaklik kan maak deur op die platform te sit met ’n kussing agter haar rug. Die suising van die blare en die gekwetter van voëls het verder ’n strelende uitwerking. Sy kan hoe omgekrap wees as sy daar gaan sit, maar binne minute begin sy ontspan, loop haar kop leeg en voel sy kalm.
Toe sy die geklap van ’n motordeur hoor, loer sy af en sien dis Nicolas. Sy bly doodstil sit, maar kyk weer af toe daar byna onmiddellik nog ’n motor stilhou en Yvonne uitklim
“Hallo,” sê Nicolas verras en stap nader.
Yvonne soen hom nie, waaroor Olivia bly is. Sy sou verplig gevoel het om ’n tak op Yvonne se kop te gooi as dit die geval was.
“Hallo, Nicolas,” sê Yvonne koel.
“Ek het jou nie verwag nie,” sê hy. Hy staan langs haar motor, sy aktetas nog in sy hand.
“Ek weet. Sedert verlede week het jy my nog nie eers gebel nie.”
“Ek was … e … nogal besig.”
Swak verskoning, dink Olivia. Meisies hou nie daarvan as mans so iets sê nie. Dit beteken hulle vind hulle werk belangriker as die meisie.
“En met die kinders wat nog siekerig gevoel het.”
Effens beter, dink Olivia, alhoewel nie heeltemal korrek nie. Die kinders is feitlik gesond, anders het sy hulle nie vandag na die partytjie toe laat gaan nie, ten spyte van die ma se versekering dat die klein gassies sorgvuldig gekies is. Almal het reeds pampoentjies gehad – trouens, die een wat verjaar, is die een wat oorspronklik almal aangesteek het.
“Is hulle nou beter?” vra Yvonne vals.
“Ja, dankie.” Nicolas wys na die voordeur. “Wil jy inkom?”
“Nee, ek is haastig. Ek het ’n afspraak.”
Olivia grinnik. Verwag Yvonne dat Nicolas hom in ’n vlaag van waansinnige jaloesie voor die motor moet werp? Maar dit lyk of hy sien in watse soort bui sy is, want hy begin uitvra na haar werk. Yvonne is die skakelbeampte van ’n groot multinasionale firma en soos sy praat, is dit duidelik dat sy net die belangrikste mense in die wêreld ontmoet en dat almal dink sy is wonderlik. Olivia kyk ongeduldig na haar horlosie en hoop Yvonne hou nie te lank aan nie, sy moet ry om die kinders te gaan haal. Maar Yvonne ken haar maniere en vra Nicolas uit na die saak waarmee hy tans besig is. Sy vertelling is aansienlik interessanter, maar Olivia begin kriewel, sy moet ry.
“Wel, ten spyte van die baie werk wat jy het en die kinders se olikheid, het jy darem ’n lekker naweek gehad,” kom Yvonne tot die punt.
Nicolas kyk haar vraend aan.
“Ek hoor jy het ’n nuwe meisie,” sê Yvonne bitsig. “Ook ’n rooikop.”
Nicolas lyk asof hy nie weet waarvan sy praat nie en Olivia is lus en gooi ’n tak op sy kop. Het hy so gou van Alet vergeet?
“O, Alet,” onthou hy meteens.
“Alet,” herhaal Yvonne. “Is dit haar naam?”
“’n Vriendin van Olivia,” verduidelik Nicolas asof dit alles sal duidelik maak. “Sy’t Saterdag oorgekom, maar Olivia het tandpyn gehad en moes tandarts toe gaan.”
“Ek kon dit gedink het,” sê Yvonne bitsig. “Sy sit agter alles. Regtig, julle mans kan so blind wees. Kyk teen ’n onskuldige gesiggie vas en sien niks meer nie.”
“Van wie praat jy, Yvonne?” vra hy bedaard, al is daar skerp kante aan sy stem.
“Olivia, natuurlik! Trippel soos ’n klein dogtertjie deur die huis, maar is so slinks soos ’n ratel.”
Olivia begin om haar rondkyk na ’n los tak en wens die boom het al akkers aangehad.
“Hierdie gesprek is sinloos, Yvonne,” sê Nicolas koud. “Ek en die kinders het ’n onskuldige middag saam met ’n vriendin –”
“Onskuldig. Ja, dis al wat jy wil hê. Jy kan nie besluit wat jy wil hê nie en intussen moet ek maar geduldig sit en wag terwyl jy liewers die kinders voorop stel of –”
“Ek móét die kinders voorop –”
“En intussen moet ek maar wag! Mense het my gewaarsku. ’n Wewenaar is ’n probleem, het hulle gesê, want jy sal altyd moet kompeteer met sy kinders, maar toe het ek jou ontmoet en jy was darem ’n advokaat en …” Sy bly vinnig stil asof sy besef wat sy gesê het en probeer dan red wat daar te redde is. “Nie dat jou beroep belangrik is nie, maar ek het van jou gehou en ons was … Ons het dieselfde sosiale belange gehad, maar van daardie klein snip hier aangekom het, het jy verander. Skielik was wat sy gesê het, belangriker.”
“Dis ’n belaglike aantyging,” sê hy kwaad. “Ek het van die begin af vir jou gesê sy is uitstekend met die kinders en dis al wat ek van haar vereis. Om nou te sê …”
Olivia kyk na haar horlosie, staan op en begin met die leer afklim. Toe sy tussen die blare verskyn, draai Nicolas en Yvonne hulle koppe en kyk haar sprakeloos aan, albei se monde nog halfpad oop. Sy buk aan die voet van die stam, tel haar sandale op en skud die motorsleutels uit die toon van die een voor sy haar voete inglip.
“Goeiemiddag,” sê sy beleef en stap tussen die twee motors deur na die garage toe. “Moet die kinders gaan haal.”
Haar woorde hang in die stil lug, asof selfs die voëls ’n minuut of twee lank ophou sing het.
“Olivia!” hoor sy Nicolas agter haar bulder, maar sy sluit die motor oop, skakel die enjin aan en ry met die laning af sonder om weer na hulle te kyk.
Teen die tyd dat sy terugkom, is die kinders soos te verwagte oormoeg, taai en so vol partytjiekos dat hulle nie wil eet nie. Nicolas is nêrens te sien nie en sy gaan bad die kinders en was Emma se hare, wat vol malvalekkers is.
“Waar’s Pappa?” vra Emma gapend terwyl Olivia haar nagklere vir haar aantrek.
“Ek weet nie, seker onder of uit saam met tannie Yvonne.”
Hulle is te moeg om om te gee en gaan lê albei op Emma se bed terwyl sy hulle storie lees. Net toe sy klaar is, verskyn Nicolas in die deur en sy gesig lyk soos ’n donderwolk. Hy kyk nie na Olivia nie, buk om die kinders te soen en dra Nicky, wat byna aan die slaap is, na sy eie kamer toe. Olivia skakel ligte af en gaan na haar eie kamer toe, maar sy het skaars die staanlamp aangeskakel of Nicolas kom staan in die deur.
“Ek wil met jou praat,” sê hy.
Sy wys na een van die leunstoele. “Sit gerus.”
“Ek wil nie sit nie, dankie. Wat het jy in die boomhuis gemaak? Van wanneer af sit jy in ’n boom en luister mense af?”
“Ek het nie daar gaan sit om julle af te luister nie. Ek het net daar gesit. Dis julle wat onder die boom kom staan het.”
“Jy kon ons dadelik gesê het jy is daar!”
“Ek veronderstel so,” gee sy toe. “Maar ek het gedink julle sal in die huis ingaan, dan kon ek ontsnap het. Dis julle eie skuld dat julle onder die boom wou staan en rusie maak.”
“Ons het nie rusie gemaak nie.”
Sy lig haar wenkbroue. “Wel, wat julle dit ook al noem.”
“Ek vind dit onvergeeflik,” tier hy voort. “As dit die kinders was, kon ’n mens dit nog verstaan, maar jy is vier en twintig jaar oud en tegnies ’n volwassene, al twyfel ek die meeste van die tyd sterk daaraan.”
Sy draai haar kop skuins, asof sy hard dink. “Trippel soos ’n klein dogtertjie deur die huis, maar so slinks soos ’n ratel. Is dit wat jy probeer sê?”
“Nee! Dis glad nie wat ek gesê het nie. Dis Yvonne wat –”
“Nicolas,” sê sy kalm. “Ek is jammer ek het julle afgeluister, maar soos ek sê, kon ek dit eintlik nie verhelp het nie. Ek was in die boom en julle het onder my gestaan. As julle net gouer geloop het, het julle nooit geweet ek was daar nie.”
“En dit sou dit beter gemaak het? Die feit dat ons nie geweet het jy is daar nie?”
“Natuurlik. En afgesien van die feit dat ek alles gehoor het, hoop ek jy het nou tot jou sinne gekom. Ek sê van die begin af vir jou Yvonne is nie die vrou vir jou nie. Ek hoop jy het dit nou gesien. Skille van jou oë af. Sy hou nie van wewenaars nie, maar sy hou wel van advokate en –”
“Hou op,” sê hy en lyk asof hy haar gaan bespring. “Ek het geen hulp nodig nie, dankie. Ek sal self besluit van wie ek hou en met wie ek wil trou.”
Sy druk haar hand teen haar mond asof sy gaap. “As jy klaar is, wil ek graag gaan bad. Sal ek vir Yvonne bel en om verskoning vra? Sal dit help? Of neem haar uit. Ek is hier, die kinders is veilig. Bel haar, neem haar na die duurste restaurant in die stad – hel, neem haar sommer na die duurste hotel ook. Jy hoef niemand se toestemming te vra as jy heelnag wil uitbly nie. Ja toe, vat ’n paar dae af en neem haar Sun City toe. Jy hoef jou nie oor ons te bekommer nie, ek is hier by die kinders. Ja, dis ’n uitstekende idee. ’n Paar dae in jou arms en omring van luukshede sal haar vinnig weer laat glimlag en –”
“Bly stil!” sis hy deur geklemde kake. “Bly tog net stil.”
“Loop dan,” sê sy en draai na haar badkamer toe. “Moenie hier vir my kom staan en uittrap omdat jou minnares jaloers is op jou kinderoppasser nie.”
“Sy is nie my minnares nie!”
Sy loop in die badkamer in en klap die deur so hard toe dat haar kamerjas van sy haak afval. Woedend skop sy dit eenkant toe en draai die krane oop sodat sy nie kan hoor as hy dalk nog iets wil sê nie.
Maar hy sê niks nie. Die volgende paar dae sê hy niks en sy ook nie. Hulle beweeg in beleefde stilte by mekaar verby in die huis en al wat Olivia kwel, is dat dit nie by die kinders verbygaan nie. Hulle voel die spanning aan en raak moeilik. Hulle hang aan hulle pa en is neulerig om Olivia. Die feit dat sy haar saans aan die slaap huil, maak ook nie dat sy vol krag en energie wakker word nie.
“Ek sal die hele naweek lank weg wees,” sê sy Donderdagaand vir Nicolas. “Ek hoop dis in orde.”
“Natuurlik,” sê hy ewe koel. “Jy het omtrent tien vry naweke wat jou toekom.”
Sy wil byvoeg dat hy maar sy wegbreeknaweek met Yvonne ’n week lank sal moet uitstel, maar hou wyslik haar mond en ry Vrydagmiddag die oomblik toe sy motor met die rylaan opry.
Nicolas is selfs meer ontsteld as sy, maar hy vind gou uit – wat sy reeds weet – dat jy nie veel tyd het vir tob as jy na twee jong kinders moet omsien nie.
Saterdag neem hy hulle dieretuin toe en kom moeg by die huis, bly toe hulle boontoe storm om met Leo en Boggom te gaan dieretuin speel. Hy loop na sy studeerkamer toe en voel gesteurd toe daar skaars ’n halfuur later ’n klop aan die voordeur is.
As dit nog ’n vriendin van Olivia is … dink hy boos en maak die deur oop.
Maar dit is nie. Dis ’n onbekende man van middeljarige leeftyd. Hy is korter as Nicolas en byna heeltemal bles, al is sy gesig bruingebrand en nie so oud nie. Hy is netjies geklee in ’n grys broek, oopnekhemp en sportbaadjie en hy glimlag warm toe hy Nicolas sien.
“Meneer Steytler?” vra hy en steek sy hand uit. “Ek is Andries Joubert.”
“Aangename kennis,” sê Nicolas, maar lyk verward. Iets omtrent die man se skerp blou oë wil bekend lyk.
“Olivia se pa,” sê die man en lag goedig. “Is sy hier?”
“Nee.” Nicolas skud sy kop asof hy nie behoorlik kan dink nie. Hoekom is hy verbaas dat sy ’n pa het? “Maar kom binne, asseblief. Olivia is weg vir die naweek.”
“Ag, ek wil nie pla nie,” sê meneer Joubert, maar stap tog agter hom aan. “Ek moes haar seker laat weet het dat ek in die stad sal wees.”
Nicolas gaan kry vir hulle elkeen ’n bier en hulle gaan sit op die stoep waar dit effens koeler is. Meneer Joubert vra hom uit oor Olivia en dis vir hom ’n verligting om haar met iemand te kan bespreek. Hy verseker meneer Joubert dat sy wonderlik is met die kinders, dat hy hom as besonder gelukkig beskou om haar te hê en dat die kinders ander mensies is sedert sy daar aangekom het.
Meneer Joubert gloei soos enige ouer as ander mense mooi dinge van hulle kinders vertel. “Sy het natuurlik jare se ondervinding,” merk hy dan op.
Nicolas kyk hom skerper aan. “Maar sy het géén ondervinding nie. Toe sy aansoek gedoen het, wou ek haar wegstuur juis omdat sy op ’n wildplaas gewerk het en –”
“Nee, nee,” val meneer Joubert hom in die rede. “Het sy jou nie vertel nie? Sy het haar twee broers grootgemaak.”
Nicolas sit terug in sy stoel, sy oë op die ander man. “Sy het nog nooit iets gesê nie.”
Meneer Joubert se oë kyk in die verte. “Sy was agt jaar oud toe haar moeder oorlede is. Dit was altyd net sy en ons … ons het gedink dit sal maar altyd net sy bly. En toe … toe is daar skielik nog een op pad – behalwe dat dit toe ’n tweeling is – en die geboorte was baie moeilik.” Hy vee met sy hand oor sy mond. “Komplikasies en my vrou was baie swak.” Hy swyg ’n ruk. “Sy is dood. My vrou se moeder het toe nog geleef en sy wou die tweeling vat, maar Olivia het vasgeskop. Sy het lank genoeg gewag vir hierdie twee boeties van haar en sy wou hulle hê. Gelukkig was daar ’n jong bruin vrou op die plaas – ’n juweel, ’n vrou deur die liewe Here vir ons gestuur – en tussen haar en Olivia het hulle vir Dries en Gerard grootgekry.” Hy gee ’n laggie. “Groot is die regte woord, jy moet hulle nou sien. Yslike knewels van sestien, en Olivia was altyd so ’n ou riempie.”
Nicolas byt sy lip. Hy sou haar nie so beskryf nie; fyn en delikaat miskien. Maar hy sê niks nie.
“Ek wou hê sy moet ballet neem,” gaan meneer Joubert voort. “Sy lyk mos sommer na ’n ballerina, maar sy het nooit regtig lus gehad nie. Was te veel van ’n rabbedoe.” Hy skud sy kop goedig. “Wat sy en daardie twee nie alles aangevang het nie. ’n Boomhuis gebou, ’n foefieslaaid langs die rivier. Glo my, ek het geweet van gebreekte arms en stukkende knieë, en dit was nie altyd die seuns nie.”
“Sy het vir my kinders ook ’n boomhuis gebou,” sê Nicolas. “Min of meer eiehandig.”
Meneer Joubert lag. “Ja, sy lyk so fyn, maar sy kan ’n trekker ook heelmaak.”
Nicolas is gefassineer. Dis asof stukke van ’n legkaart inmekaar begin pas.
“Maar sy is bang vir trou,” lag meneer Joubert. “Mens kan haar seker ook nie blameer nie, sy was so vroeg al verantwoordelik vir ander mense.” Hy lyk bietjie verleë. “Dis juis hoekom ek hier is. Om ring te koop. Ek gaan weer trou en ek wou haar kom vertel.”
“Dis goeie nuus,” sê Nicolas en wonder of dit waar is. As die nuwe vrou soos Yvonne is, wil hy nie Olivia se reaksie hoor nie. “Is dit iemand wat Olivia ken?”
“O ja. Ansie Neethling. Vrou uit die buurt, ook nou al ’n paar jaar weduwee. Die seuns is mal oor haar.”
“U moet my vergewe as ek so uitvra,” sê Nicolas. “Maar sy het nog nooit oor haarself gepraat nie. Het sy enige kontak met haar broers?”
“A ja a,” sê meneer Joubert verbaas. “Dis miskien dié dat ek so vrymoedig met jou sit en gesels. Dit voel vir my of ek julle almal so goed ken. Nee kyk, Olivia is ’n goeie briefskrywer, dis soos ’n dagboek, sommer pakke meer as briewe. En sy bel. Nog steeds soos ’n ma oor hulle bekommerd. Vat hulle vas ook. Het nou laas vir Dries goed die kop gewas omdat sy wiskundepunte so laag was. Nee, soos ek jou sê, jy moet jou nie deur daardie riempielyf laat bluf nie, Olivia kan raak vat en as sy dink iets is verkeerd of iemand is op die verkeerde spoor, is sy nie bang om hulle reg te sien nie.”
“Dit het ek al ondervind, ja,” sê Nicolas droog.
“Doen sy dit met jou ook?”
“O ja.”
Meneer Joubert sit sy glas neer. “Ek wil nie jou tyd langer mors nie. Ek moes natuurlik eers gebel het, maar dit het skielik gebeur, die planne van ons.” Hy kyk op na Nicolas, weer eens met ’n skugterheid gekombineer met ’n skerp blik, nes Olivia kan doen. “Sy klink gelukkig hier. Is sy?”
Nicolas sluk swaar. Nie op die oomblik nie, wil hy sê, maar hy knik net. Gelukkig hoef hy nie te antwoord nie, want die kinders, moeg vir hulle kamers, kom uitgestorm.