Читать книгу Christine le Roux Omnibus 2 - Christine le Roux - Страница 14

Hoofstuk elf

Оглавление

Die somerhitte neem toe en alhoewel Olivia die kinders soms na die openbare swembad toe neem, hou niemand eintlik daarvan nie omdat dit so oorvol is. Josef onthou van die kinders se ou opblaasswembadjie in die garage en was die opgefrommelde stuk plastiek. Almal begin entoesiasties opblaas – maar sonder veel vrug.

“Hy’s vol gate,” sê Josef en gaan haal sy eie gereedskap uit sy fietssakkie.

Nadat al die gate toegeplak is, lyk die swembadjie nie aansienlik nie, maar dit bly ten minste opgeblaas en hulle kan dit vol tap. Olivia kry die blink gedagte om ’n omgekeerde emmer uit die waskamer te kry, dit in die middel te sit en die tuinslangsproeier bo-op – geanker met ’n ronde klip omdat die ding aanhou dreig om af te val nes dit begin swaai en sprinkel. Nou is die kinders in die wolke.

“Ons eie fontein,” sê Emma trots.

Aanvanklik sit Olivia onder die boom of vroetel in die tuin sodat sy darem ’n oog oor die kinders kan hou terwyl hulle in die water plas, maar sy word self warm en taai en dis nie lank voor sy ook elke middag in haar swemklere onder die sproeier sit nie. Dis waar hulle een middag is toe ’n motor met die rylaan opry en voor die deur stilhou.

Olivia kyk op en sien ’n lang, maer man met blonde hare en ’n bles uitklim. Hy is geklee in tennisdrag en staan hulle belangstellend en bekyk.

“Middag, kinders,” groet hy.

“Middag” sê Olivia beleef en stroop haar nat hare uit haar gesig.

“Ek soek na Nicolas.”

A, dink Olivia. Sy het gewonder hoekom sy motor so vroeg by die huis was. Hy gaan natuurlik tennis speel. “Hy is in die huis,” sê sy vriendelik. “Stap maar deur.”

Die man knik en stap met die stoeptrap op. Hy lig net sy hand om die klokkie te lui toe die deur oopgaan en Nicolas verskyn.

“Kenneth,” sê hy en skud sy hand. “Kom binne, ek kry net my raket.”

Kenneth wys na die watertoneel buite op die grasperk. “Jou kinders weet wat om op ’n warm agtermiddag te doen.”

Nicolas kyk ook en skud gelate sy kop. Dan tree hy terug, tel sy raket en sportsak op en trek die deur agter hom toe. “Behalwe vir eet en slaap, is hulle nou heeldag in daardie verspotte ding. Ek is natuurlik verwyt omdat ek nie ’n regte swembad het nie, maar die kinders was nog altyd te klein en met my heeldag op kantoor het ek nog altyd gedink dis te gevaarlik.”

Kenneth het omgedraai en staar oor die grsperk waar al drie besig is om emmertjies en bakkies water oor mekaar te gooi. “Ek het hulle lanklaas gesien,” sê hy peinsend. “Hulle is nie meer so klein nie. Is die donker enetjie die oudste?” Hy draai na Nicolas. “Hoekom was ek onder die indruk dat jy net twee het?”

Nicolas gee ’n laggie. “Ek hét net twee. Die donker enetjie, soos jy haar noem, is hulle oppasser.”

Kenneth se blik verskerp en hy bestudeer Olivia met groter belangstelling. Sy dra ’n eenvoudige swart swemkostuum, maar noudat hy goed kyk, sien hy ’n baie mooi en onteenseglik volwasse figuur. “Sowaar,” sê hy bewonderend en fluit saggies deur sy tande. “Mooi meisiekind. Iemand uit die buurt wat kom babasit?”

“Nee,” sê Nicolas droog. “Sy woon in.”

Kenneth swaai om en staar na sy vriend. “Jou ou doring. Wat maak jy met ’n skoolkind in die huis?”

“Olivia is nie ’n skoolkind nie, sy is vier en twintig.”

“Dit word net beter en beter,” sê Kenneth. “En is jy en sy …?”

Nicolas se gesig verstrak en toe hy antwoord is sy stem koel. “Moenie laf wees nie. Dit sou immoreel wees. Sy is bloot die kinders se voltydse oppasser. Sy neem hulle skool toe, versorg hulle en …” Hy kyk gesteurd om toe hy die geluid van nog ’n motor hoor en albei mans kyk swyend hoe Yvonne se motor tot stilstand kom en sy uitklim.

“Haai,” sê sy vrolik en spring die trap ligweg op. “Is julle op pad om tennis te speel of kom julle nou net terug?” Sy leun oor en soen Nicolas besitlik op sy wang voor sy Kenneth se hand skud.

“Ons ry nou,” sê Nicolas vir haar.

“Ag,” sê sy en klik haar tong. “En ek wou jou spesifiek gesien het,” sê sy vir Nicolas. Sy knipoog vir Kenneth. “Ons het ’n ernstige saak om te bespreek.”

“Het ons?” vra Nicolas.

“Natuurlik.” Sy lyk speels. “Maar toe maar, gaan speel julle ou tennis, dan verwag ek jou vir ete by my.” Sy kyk Nicolas gebiedend aan, haar stem nie meer heeltemal so lig nie.

“Ek weet nie,” begin hy. “Ek het nie …”

“Natuurlik kom jy.” Sy druk haar wang teen sy arm. “Ek het die heerlikste koue gazpacho in die yskas – nes jy daarvan hou.”

Kenneth kyk weer in die rigting van die swembadjie waar Olivia na hulle gestaan en kyk het, maar nou vinnig weggedraai het. “Ek verkyk my aan die waternimfies op die grasperk,” sê hy vir Yvonne.

Sy kyk vinnig soontoe en net so vinnig weer weg. “Ja, die kinders geniet die geplas tog so.”

“Nie net die kinders nie,” sê hy. “Ek het my oog op die oudste nimf.”

Nicolas se gesig is strak, maar hy sê niks nie.

“Ja, Nic was regtig gelukkig om haar te kry,” sê Yvonne soet. “Hy verseker my sy is vier en twintig, maar ek het nog nie haar geboortesertifikaat gesien nie. Glo my, in die gees is sy net so kinderagtig … ek bedoel kinderlik, soos die ou twee kleintjies.”

Nicolas tel sy sportsak op en begin met die trap afstap.

“Ons is laat,” sê hy kortaf. “Ons moet nou ry, anders verloor ons ons baan.”

Yvonne stap terug na haar motor toe en die twee mans klim in Kenneth s’n en ry agter haar aan met die rylaan af.

“So jy en Yvonne is nog ’n item,” sê Kenneth vir sy vriend.

“Ek weet nie wat jy daarmee bedoel nie. Ons is bloot ou vriende, niks meer nie.”

“Dis nie soos sy die saak sien nie.”

“Wel, ek het dit vir haar probeer duidelik maak,” sê Nicolas styf. Hy voel ongedurig en skryf dit toe aan die hitte.

“Dis jou lewe,” sê Kenneth filosofies. “Dis hoog tyd dat jy weer trou. Maar,” gaan hy voort met ’n lewendiger stem, “ek moet erken ek is te selfsugtig om my te kwel oor jou liefdeslewe. Ek stel meer belang in my eie. Het daardie mooi meisiekind ’n ander helfte?”

“Van wie praat jy?”

“Jou oppasser. Die Olivia-kind.”

“Ek weet nie wat jy bedoel met so ’n simpel frase nie. Wat is ’n ander helfte?”

Kenneth lag goedig. “Moenie jou dom hou nie. Het sy ’n kêrel?”

“Nee, sy stel nie belang in trou nie.”

Kenneth draai sy kop en kyk sy vriend vinnig aan. “Ek hoef ook nie met haar te trou nie. Na die laaste fiasko stel ek self nie langer belang in trou nie. Ek dink as ons terugkom, stel jy my mooi formeel aan haar voor, dan kan ek haar mos bel en vra of sy nie saam met my wil uitgaan nie.”

Nicolas se nek kriewel so dat hy wonder of ’n muskiet hom nie gebyt het toe hulle daar op die stoep gestaan het nie. “Ek sal niks van die aard doen nie,” sê hy geïrriteerd en krap aan sy nek.

“Maar jy sê dan jy het geen belang daar nie.”

“Natuurlik nie! Dit beteken nie ek gaan haar aan al my mansvriende voorstel nie. Veral nie aan so ’n wolf soos jy nie.”

Kenneth lag, glad nie beledig nie. “Ek kan dit nie help as ek ’n oog het vir ’n mooi meisie nie.”

“Dit het jou al twee huwelike gekos,” sê Nicolas suur.

“Dis waar, maar dit beteken nie daar is nie ’n nommer drie wat êrens sit en wag dat ek haar moet leer wat liefde is nie.”

Nicolas pluk sy donkerbril uit en sit dit op, want dis of die hele landskap om hom, huise en tuine en lamppale, uitgedoof word in ’n woedende wit lig. “Jy hou jou hande van haar af,” sê hy deur geklemde kake. “Sy is nie ’n produk in ’n supermark nie en jy het haar hoegenaamd niks te leer nie. Sy kom uit ’n baie ordentlike huis, ek het al haar pa ontmoet. Hy … hy vertrou dat ek ’n oog oor sy dogter sal hou.”

“Goed, goed,” sê Kenneth paaiend. “Genade, ek het nie geweet vaderskap maak ’n mens so streng nie. Goeie ding ek het nooit kinders gehad nie. Maar as ek mooi belowe om my hande tuis te hou, kan jy tog nie kapsie maak as ek haar net uitneem om byvoorbeeld lekker te gaan eet nie?”

“Ek sou dit allermins aanbeveel. Kelners val oor hulle voete en smyt die kos oor haar kop. Sy was self in haar studentedae ’n kelnerin,” verduidelik hy. “Ek dink sy straal haar kritiese benadering uit, dis waarom alles verkeerd gaan.”

“Ag, as hulle dit doen, neem ek haar na my huis toe en trek haar besmeerde rokkie vir haar uit en …”

Nicolas is baie bly toe hulle by die tennisklub indraai en hy val omtrent uit die motor uit. Hy ken Kenneth al van hulle saam in die koshuis was op universiteit en alhoewel sy vriend se lewenstyl altyd vir hom bietjie immoreel en uitspattig was, kom hulle nog altyd baie goed klaar. Waarom hy nou voel asof hy sy vriend se gesig wil pap slaan, weet hy glad nie.

Met sy eerste afslaanhou slaan hy die bal so wreedaardig hard dat hy ’n snaar breek en ’n raket by een van die ander spelers moet leen. Dit maak hom net kwater en waar hy Kenneth gewoonlik maklik wen, speel hy so woes en plaas hy die balle so onoordeelkundig dat hy verloor. Dit verbeter nie sy bui nie.

Olivia het gesien hoe staan die twee mans na hulle en kyk en sy het gewonder waaroor hulle praat. Sedert die aand toe Nicolas haar bemorste rok so sonder seremonie afgepluk het, is sy skaam vir hom. Sy is doodseker hy het nie twee keer daaroor gedink nie, want dis vir haar baie duidelik dat hy haar as ’n kind beskou. Dit het sy daardie eerste middag gesien toe hy haar op die toonbank neergesit het en merkurochroom op haar knie gesmeer het. Daar is geen verskil vir hom tussen haar en Emma nie, behalwe dat hy miskien meer verdraagsaam is teenoor Emma.

Sy is selfs ongelukkiger toe sy Yvonne se motor sien en veral moet kyk hoe sy vir Nicolas soen en aan sy arm hang. Dis dan verby, het hy vir haar gesê. Dit lyk nie eintlik so nie.

“Kom speel, Livja,” kla Nicky toe hy sien hoe sy in die verte staar.

“Ek kry koud,” sê sy afgetrokke. “Ek dink ons moet nou gaan aantrek, dis byna tyd vir julle aandete.”

“Ja, ek kry ook koud,” stem Emma saam en hardloop om die tuinslang toe te draai.

Olivia vou handdoeke om die twee lyfies en stuur hulle binnetoe om te gaan bad terwyl sy al die speelgoed bymekaarmaak. Sy kyk verbaas op toe Yvonne se motor weer voor die voordeur stilhou en Yvonne doelgerig oor die grasperk aankom na haar toe.

“Hallo,” sê sy formeel. “Die mans is weg.”

“Ek weet, dis hoekom ek teruggekom het,” sê Yvonne sonder om te groet. Sy kyk vies af na haar elegante sandale wat wegsak in die deurweekte grasperk. “Ek wil met jou praat. Alleen.”

Olivia kyk haar uitdrukkingloos aan. Sy kry regtig koud en buk af om haar hemp op te tel en aan te trek. “Waaroor?” vra sy.

“Ek dink dis tyd dat ek jou bietjie reghelp,” sê Yvonne vriendelik genoeg. “Jy is maar ’n paar maande hier en ek dink nie jy weet watse soort mens Nicolas is nie.”

“Dis ook nie nodig nie. My werk is met die kinders.”

“Presies. Dis waarvoor jy aangestel is.” Yvonne druk haar hande deur haar hare. “Kan ons miskien op die stoep gaan sit?”

“Nee. Ek kry koud en ek moet die kinders gaan bad.”

“Jy sien,” sê Yvonne, “ek dink jy dink hierdie kinderlike gedrag bekoor vir Nic en jy is verkeerd. Hy hou van ’n volwasse vrou. Hy het reeds twee kinders, hy soek nie nog een nie.”

“Dis alles irrelevant,” sê Olivia. “Hy kan hou van meisies met twee koppe vir al wat ek omgee. Ek is die kinders se oppasser, ek het niks met hulle pa te maak nie.”

“Ek weet, ek weet. Ek kan nie meer met jou saamstem nie. Jy het jou gebied en dis waarby jy jou moet hou. Dis hoekom ek nie kan verstaan waarom jy goed doen soos om op die bank aan die slaap te raak as jy goed weet ons kom later daar in nie.”

“Ek het by Nicky gelê!” sê Olivia ontstoke. “Dit was nie ’n doelbewuste optrede nie. Die kind was nog siek en hy was bang en … Buitendien, hoe moes ek weet dat jy saam met hom sou huis toe kom?”

Yvonne gee ’n wyse en veelbetekenende glimlag. Haar rooi lippe trek stadig weg van haar perfekte tande en haar amandelvormige oë kyk dralend in die verte asof sy iets heerliks in haar gedagte oproep. “Ons is volwassenes,” sê sy sag. “Dis dan juis wat ek vir jou sê. Ons verhouding gaan veel dieper as uiteet. Jy dink tog nie ’n man soos Nicolas – ’n man vol passie, ’n man soos hy met die vuur van ’n …”

Olivia hou haar hand in die lug. “Ek weet wat jy bedoel,” sê sy en word bewus van krampe in haar binneste. Sy druk haar hand teen haar maag, want sy voel skielik naar. “Dan is ek jammer ek het julle … passie daardie aand gesteur. Dit was nie doelbewus nie.”

“Dis in orde,” sê Yvonne gemaklik. “Ek voel net dis belangrik dat jy weet nie almal gaan so onskuldig kinderlik deur die lewe nie. Jy sien, elke keer kom ons maar terug na die kwessie van volwassenheid toe. Ek en Nic het ’n lang verhouding. Ons het albei sekere … sekere normale, maar baie sterk drange en ons …”

“Die kinders wag vir my,” sê Olivia vinnig. Sy voel nou so siek dat sy bang is sy word daar voor die beterweterige vrou naar.

“Waarom het jy en hy dan eergisteraand gaan uiteet?” vra Yvonne met ’n blitsigheid van ’n slang wat pik. “Een van my vriende het julle gesien.”

“Dit was net … dit was sommer …”

“Ek en Nic het ’n klein misverstand gehad,” stoom Yvonne voort. “Ek besef hy was ontsteld, hy het iets nodig gehad om sy aandag af te lei en jy is altyd so beskikbaar.”

“Katie kon by die kinders bly,”sê Olivia flou.

“Presies.” Sy gee Olivia ’n kameraadskaplike glimlag. “Ons weet hoe mans is, weet ons nie? Hulle kan mos nie drama hanteer nie, moet altyd getroos word.”

Olivia rittel van die koue. “Ek het hom nie getroos nie. Ons het net gaan eet en dit was buitendien nie ’n sukses nie.”

“Wel,” sê Yvonne, nou baie vriendelik, alhoewel haar bui effens versuur toe sy haar sandaal met ’n gesuig uit die gras lostrek en saam met Olivia na die voordeur toe loop. “Ek het net gedink ek moet met jou kom gesels. Ons is nooit alleen nie en ek kon sien jy verstaan nie die situasie nie. Het jy baie ondervinding van mans?”

“Nee,” sê Olivia bot.

Yvonne, dankbaar dat sy nou weer op die vaste grond van die rylaan is, bly staan en kyk Olivia ondersoekend aan. “Ek wed jy is nog ’n maagd.”

“E …” sê Olivia verbouereerd. “Ja.”

Yvonne lag, gee Olivia se arm ’n drukkie en draai weg na haar motor toe. “Dan was alles wat ek nou gesê het vir jou natuurlik onverstaanbaar. Maar ek is bly ons kon gesels. Bepaal jou aandag by die kinders, dis waarmee jy goed is, dis waarvan jy kennis het.” Sy klim in haar motor, waai vrolik en ry weg.

Olivia loop in die huis in, bad die kinders, help speelgoed wegpak, sit by terwyl hulle eet, hoor later vir Nicolas inkom en sluit haar deur ingeval hy wil kom gesels. Nie lank na sy sy stort hoor loop het nie, hoor sy sy motor in die rylaan en weet hy gaan uit. Haar gedagtes is ’n totale warboel. Sy sit voor haar televisiestel na sy alleen geëet het, maar sy sien niks nie. Sy het nog nooit gedink dis lagwekkend om nog ’n maagd te wees op haar ouderdom nie. Sy is deel van ’n nuwe geslag, meisies wat versigtig is, wat nie sommer ja sê nie, wat wag vir die regte man en die regte tyd. Sy het gedink dis ’n goeie ding en al sê sy vir almal sy gaan nie trou voor sy dertig is nie, het sy tog gedroom van die regte man.

Sy het altyd gedink sy gaan eendag ’n man ontmoet wat haar sal wakker maak. Presies wat sy daarmee bedoel het, sou sy nie in soveel woorde kon sê nie. Iemand wat op ’n sekere manier vir haar glimlag, iemand met dik hare wat oor sy oë val en sagte hande wat weet wat hulle doen, met oë wat so warm kan word dat dit voel of iets diep binne haar losraak sodat sy vorentoe sal tree en haar arms om hom sal slaan en …

Sy skud haar kop om van die lastige gedagtes ontslae te raak. Terwyl sy hierdie ontstellende drome gedroom het, terwyl sy haar verbeel het sy het hierdie man al ontmoet, het hy en Yvonne in hierdie huis, onder dieselfde dak as die een waaronder sy so vreedsaam gelê en slaap het … Sy druk dit dood. Sy het gedroom van hoe dit sou wees, die eerste keer. Nicolas sou nie vir haar gelag het nie, hy sou nie gedink het dis iets om mee te spot nie. Hy sou teer en liefdevol wees, versigtig en …

Sy druk haar hand teen haar oë. Terwyl sy hierdie ongeoorloofde gedagtes gedink het, het hy en Yvonne hulle – hoe het die vrou dit genoem? – hulle sterk drange uitgeleef.

Sy voel so siek dat sy in die bed kruip en bibber ten spyte van die soel nag buite.

Christine le Roux Omnibus 2

Подняться наверх