Читать книгу Christine le Roux Omnibus 2 - Christine le Roux - Страница 8
Hoofstuk vyf
ОглавлениеDie winter gaan verby en in die tuin bot die bome, blom die jasmyn en was ’n onverwagte vroeë reënbui die winterstof van alles af. Olivia en die kinders is nou meer dikwels buite en sy trek vir hulle praktiese kortbroeke en T-hempies aan – haar eie geliefkoosde drag vir die somer. Wanneer Nicolas in die middae by die huis kom, moet hy mooi kyk wie die donker poniestert het en wie die blonde een, want omdat Emma lank is vir haar ouderdom, is Olivia nie soveel groter as sy nie.
“Luister,” sê Olivia een middag vir hom. “Moet ek my elke naweek uit die voete maak of kan ek hier bly en my vriende nooi om hier te kom kuier? Ons sal uit jou pad uit bly.”
“Natuurlik hoef jy nie te voel jy moet weggaan nie,” sê hy verbaas. “Wat het jou so laat dink? En natuurlik mag jy jou vriende hierheen nooi.”
“Dankie,” sê sy en die volgende Sondag kuier Mart by haar.
Mart is verskriklik beïndruk met die huis en die hele opset en toe hulle in die middag deur die tuin loop, ontmoet sy vir Nicolas wat Franse krieket met die kinders speel.
“Julle is te min,” sê Olivia dadelik en minute later is sy en Mart deel van die spel.
Na die tyd sit hulle almal om die tuintafel en drink koeldrank en Nicolas is baie vriendelik en gasvry.
“Nou toe, wat dink jy van hom?” vra Olivia toe sy Mart by haar motor afsien. “Hou jy van hom?”
“Hy’s pragtig,” stem Mart in. “Maar nie my soort nie. Ek sal heeltyd bang wees ek sê die verkeerde ding of eet met die verkeerde lepel.”
Daardie aand loer Nicolas in om vir die kinders nag te sê toe hulle nog almal op Olivia se bed lê en stories lees. Sy beduie vir hom hy moet stilbly en hy gaan gedwee op ’n stoel sit tot sy klaar is. Daarna dra hy Nicky na sy bed toe, druk die komberse om Emma in en sluit weer by Olivia aan.
“Was dit die eerste kandidaat?” vra hy belangstellend.
Sy kyk hom uit die hoogte aan. “Mart is my beste vriendin.”
“Ek sien,” sê hy. “Dis ’n verligting.”
“Maar sy ís nog ongetroud,” sê sy vinnig. “’n Onderwyseres. Goeie mens.”
Hy lag net en loop. Die volgende Sondag nooi sy vir Joan, ’n ander vriendin, om by haar te kom tee drink. Die keer is Nicolas nie in die tuin nie; hy het die kinders uitgeneem en ontmoet Joan eers toe sy op vertrek staan. Joan is veel mooier as Mart, ’n natuurlike blondine met ’n sensuele figuur en toe sy Nicolas se hand skud, fladder sy haar ooglede en knoop ’n gesprek aan in haar heserige, dralende stem. Olivia sê niks nie en toe Nicky na haar roep, maak sy haar uit die voete om die twee ’n kans te gee.
“Dit het gelyk of jy en Joan goed klaarkom,” sê sy later vir hom toe hulle saam met die kinders op die stoep eet. Noudat dit warmer word en sy meer op haar gemak is by hom, eet hulle dikwels oor naweke saam.
“Sy is baie aantreklik,” sê hy.
Haar oë blink gretig. “Ja, is sy nie? Sy is assistent by ’n tandarts, ’n baie praktiese beroep. Dink net hoe kan sy raad gee met die kinders se tande en mondhigiëne en so.”
“Dis waar,” stem hy saam. “En as ek die dag vals tande het, kan sy dit vir my borsel en saans in ’n glas water laat lê. Langs my bed.”
“Jy spot.”
Hy lag weer. “Jy het dit begin, Olivia. Onthou.”
Sy kyk hom net uit die hoogte aan. “Jy is gans te kieskeurig. En jy kan nie verwag om iemand te leer ken deur net tien minute met hulle te praat nie. Hoekom het jy haar nie gevra om een aand saam met jou te gaan eet nie?”
“Ek hou meer van die kos by die huis.”
“Jy kon haar teater toe geneem het. Wel, nee,” begin sy. “Joan hou nie van hoge kultuur nie. Jy kan haar bioskoop toe neem. Sy hou nogal van aksieprente.”
“Ek haat aksieprente.”
“Ja, ek ook,” moet sy saamstem. “Maar toe maar, ek het nog baie vriendinne.”
“Lyk my so,” sê hy en kyk haar dan skerper aan. “Maar wat van jou? Is dit ’n wederkerige ding dié? Verwag jy van my om al my ongetroude mansvriende ook oor te nooi vir jou?”
“Nee, natuurlik nie.” Sy sug. “Ek het jou mos gesê ek gaan nie trou voor ek dertig is nie. As ek dan nie iemand kry nie, sal ek jou laat weet.”
Sy besluit om vir eers die meisies te los. Joan bel haar en skimp hard dat Olivia haar weer moet oornooi of iets moet organiseer saam met Nicolas en die kinders, en sy kom inderdaad ’n keer of wat onverwags na werk daar aan, maar alhoewel Nicolas altyd baie hoflik is, voer hy dit nie verder nie.
Buitendien is Olivia se aandag nou by ander dinge. Soos die groot akkerboom se blare voller word, bekyk sy die boom. “In die Bosveld,” vertel sy vir die kinders, “het ons ’n boomhuis gehad – ’n regte stewige een in net so ’n groot boom langs die rivier. Die mense kon daar gaan sit om te kyk na die diere as hulle kom drink. Dan skrik die diere nie, sien. Hulle weet nie van die mense nie.”
“Hier’s mos nie diere nie,” sê Emma, maar kyk tog verlangend na die breë takke bokant haar kop.
“Hier’s baie voëls,” sê Olivia beslis. Toe sy agterkom die kinders ken nie die verskil tussen ’n mossie en ’n rooiborshoutkapper nie, het sy ’n boek oor voëls gekoop en die kinders begin name leer.
“En ons kan daarin speel,” sê Emma met blink oë. “My poppe sal nie so vuil word nie.”
Dis nog ’n ding van Emma-hulle buite laat speel, dink Olivia. As die poppe nie meer op die rak sit nie, word hulle orals in die tuin saamgesleep. Toe die volgende biblioteekboek wat Olivia vir hulle lees, handel oor kinders se avonture in hulle boomhuis, is die saak beklink. Miskien sou Olivia nog gekeer het as dit nie was dat sy een middag met Josef gestaan en gesels het in die ver punt van die tuin langs die skuurtjie en ’n enorme stapel planke en balke daar sien lê het nie.
“Waarvoor is dit?” vra sy.
“Dit was die ou agterstoep se prieel,” sê hy. “Daa’s mos nou die nuwe dak.”
Sy loop nader en tel ’n paar planke op. Hulle is nog in ’n baie goeie toestand en haar oë blink opgewonde. “Kan ons ’n boomhuis hiermee bou?” vra sy.
“Boomhuis?”
Sy verduidelik vir hom wat sy wil hê en alhoewel hy ’n bietjie skepties lyk, soos sy gewoonte maar is, stap hy saam en bekyk die boom van onder af.
“Wag,” sê sy. “Ek sal gaan kyk.” Sy skop haar sandale uit en stap nader. Daar is nie eintlik ’n tak laag genoeg nie, maar sy is lig en rats. Deur vas te trap en haar aan ’n hoër tak op te trek, is sy gou in die breë vurk van die boom. “Ideaal,” roep sy af na hom toe.
Hy skud net sy kop.
“Toe maar, gaan maar aan met jou werk,” roep sy ondertoe. “Ek wil bietjie rondkyk. Ons sal later praat.” Dis vir haar lekker so verskuil tussen die digte blare, dit laat haar dink aan haar kleintyd toe sy en haar broers altyd in bome geboer het.
Sy laat rus haar rug teen ’n tak en bekyk die mik krities. Sy kan drie breë takke sien waarop die vloer van ’n boomhuis kan rus en met haar hande korrel sy na die hoër takke om te meet waar die mure geanker kan word. En sy sal ’n stewige leer moet bou, besef sy. Nicky is nog klein, dit kan nie ’n gevaarlike besigheid wees nie. Sy wonder ook of Nicolas die projek sal goedkeur, maar besluit wyslik om hom nie nou al te vertel nie. Vir die opgewonde kinders vertel sy ook niks nie; belowe net dat daar ’n groot verrassing wag en dat dit hulle geheim is.
Nou het sy iets wat haar soggens besig hou. Nes sy die kinders by die skool afgelaai het, trek sy haar oudste kortbroek aan en sit af na die skuurtjie toe. Josef verstaan gou wat sy wil hê en alhoewel hy weier om self in die boom te klim, is hy van groot praktiese waarde as dit kom by die meet en saag van die ondersteunende balke. Hy slaan ook vir haar sekere stukke aanmekaar, kry die leer en help haar om die swaar hout in die boom te kry.
Sy raak behendig met ’n hamer en dik spykers en al is haar kaal bene en arms gou vol skrape, neem die boomhuis vorm aan. Dit kan nie vir die kinders weggesteek word nie en hulle is so opgewonde dat hulle nie kan wag om smiddae by die huis te kom nie. Omdat Josef nog besig is om ’n ordentlike, stewige leer te bou, laat sy nie toe dat die kinders opklim nie. Sy kan haar al teen die stam optrek soos ’n ratse eekhorinkie.
Sy is een middag besig om die reling al om die platform vas te slaan toe sy ’n motor hoor. Die kinders staan vir ’n wonder nie ongeduldig onder die boom na haar en kyk nie omdat Josef wyslik besluit het om hulle elkeen ’n plankie en spykers te gee waarmee hulle kan timmer terwyl hy die finale afwerking aan die leer doen. Sy kyk nie af nie, want sy is byna klaar en baie trots op haar handewerk. Die sporte is so na aan mekaar dat selfs Nicky se dun lyfie nie eers per ongeluk daardeur sal kan glip nie. Sy hou tog op met kap toe sy die motordeur hoor toeslaan en toe stemme. Sy leun oor om te kyk wie dit is en laat die hamer val. Dit stort saam met ’n klomp blare ondertoe en val met ’n metaalagtige klank op ’n klip in die rotstuin.
“Deksels,” sê sy deur geperste lippe en haal die spyker uit haar mond.
Daar is ’n skielike stilte voor sy Nicolas se stem hoor.
“Wie is daar in die boom?” vra hy kwaai. “Emma? Ek hoop nie dis jy nie. Die boom is gans te hoog vir …”
Sy hou aan ’n tak vas en druk die ander weg sodat sy kan uitloer. “Nee, dis net ek,” sê sy gerusstellend. “Die kinders is by Josef.”
“Olivia?” vra Nicolas.
Sy kyk af. Hy het nader gekom en staan haar in stomme ongeloof en aankyk. Nog by die motor staan Yvonne, vandag geklee in ’n roomkleurige langbroek van onberispelike snit, ’n liggeel sybloes en elegante roomkleurige skoene en skouersak.
“Wat maak jy daar?” vra hy kwaad. “Klim op die daad af!”
“Nee, ek is nog besig,” sê sy. “Maar my hamer het geval. Kan jy dit vir my aangee?”
Hy kom nog nader, sien die hamer en tel dit op. “Olivia,” gebied hy. “Klim uit. Jy gaan jou nek breek.”
“Liewe aarde,” kom Yvonne se koel stem. “Sit sy vas?”
Olivia vererg haar gruwelik. “Natuurlik sit ek nie vas nie!”
Sy druk die orige spykers in haar kortbroek se sak, gaan sit op die platform en begin met haar kaal voete soek na vastrapplek sodat sy kan afklim.
“Moet ek jou help?” vra Nicolas en hou sy hande uit.
“Nee,” sê sy ergerlik. “Ek klim heeldag op my eie op en af, dankie.”
Yvonne se laggie is so koel soos ’n bergstroom. “Jy het vir my gesê sy was twee jaar in die bos, maar …”
Haar woorde maak Olivia so kwaad dat sy nie so versigtig is soos gewoonlik nie. Sy het haar omgedraai en net begin afklim toe sy mistrap, onelegant teen die boomstam afgly en met ’n hik op haar sitvlak op die gras te lande kom.
“Kyk nou wat het jy gedoen!” snou sy Nicolas toe en staan op met soveel waardigheid as wat sy onder die omstandighede bymekaar kan skraap.
“Dis nie my skuld nie,” sê hy. “Wat maak jy in die boom?”
Haar hare hang los oor haar skouers, die eerste keer dat hy haar so sien, en haar wange gloei van verontwaardiging. “Dit is my saak,” sê sy en die blou oë flits woedend.
Hy kyk op na die blaredak bokant sy kop en sien die platform. “’n Boomhuis,” sê hy. “Bou jy op jou eentjie ’n boomhuis? Wat makeer – hou jy nie meer van jou kamer nie?”
“Dis nie vir my nie, dis vir die kinders!”
“Dink jy ek gaan toelaat dat hulle daagliks uit die boom val soos jy nou net gedoen het?”
“Ek het nog nooit uitgeval nie! Dis net omdat jy …” Sy vee haar hare uit haar gesig. “En Josef is besig om ’n leer te maak. Dis alles baie stewig en sterk en veilig. Dink jy regtig ek sal iets doen wat die kinders …” Sy vat aan haar kaal bobeen wat brand. “Eina,” sê sy en kyk af. “Kyk wat het jy gedoen!” Haar hele linkerbobeen is nerfaf geskraap teen die growwe stam.
“Ék het dit nie gedoen nie, dis jou eie skuld. Liewe land, om soos ’n nagapie in die bome rond te klouter en uit die takke te val …”
“Nicolas,” kom Yvonne se koel stem. “Moet ek heelmiddag hier by die motor bly staan?”
Hy kyk effens geïrriteerd oor sy skouer na haar, maar herwin dan sy goeie maniere. “Ek kom,” sê hy gelykmatig en vat Olivia aan die arm. “En kom jy saam. Ons moet iets aansmeer.”
Sy is baie lus om los te ruk en weg te hardloop, maar sy besef ook dat sy genoeg verleentheid veroorsaak het. Hy sit die hamer neer en tel haar sandale op.
“Wil jy jou skoene aantrek?”
“Nee,” sê sy nors, vat dit by hom en stap agter hom aan. “Middag,” sê sy vir Yvonne wat meerderwaardig glimlag en kopskuddend saam met hulle in die huis inloop.
“Is die merkurochroom nog in die kombuis?” vra Nicolas oor sy skouer.
“Ja.”
“Ag, sy kan seker nou self regkom,” sê Yvonne vriendelik.
Hy hoor haar nie, stoot net vir Olivia voor hom uit na die kombuis toe. Asof sy Emma is, tel hy haar op en laat haar op die rand van die kombuistafel sit. Dan skeur hy ’n stuk kombuispapier af, maak dit nat en vee haar been skoon.
Sy sê niks nie, want sy is bang as sy begin praat, sê sy iets waaroor sy kan spyt kry.
Toe hy tevrede is, maak hy ’n kassie oop, haal die merkurochroom en bottel watte uit en begin haar been rooi verf. Terwyl hy werk, leun Yvonne teen die toonbank, ’n studie in elegansie, maar haar oë baie koud op Olivia gerig.
Die kinders kom ingehardloop net voor hy klaar is en bly geskok staan toe hulle die bloedrooi been sien.
“Olivia!” skree Emma en bly verstar staan. “Jou been is vol bloed!”
“Nee, nee,” sê sy gerusstellend. “Dis die medisyne. Kyk, dis die goed wat ek altyd aan julle skrape smeer.”
Emma lyk effens gerusgestel. “Wat het jy gedoen?”
“Sy’t uit die boom geval,” sê Nicolas.
“Middag, kinders,” herinner Yvonne hulle aan hulle maniere.
Hulle kyk vinnig na haar en mompel ’n groet. Nicky, wat die hele tyd nog niks gesê het nie, kom stadig nader en druk sy wang teen haar ongeskonde been. “Livja,” sê hy hartstogtelik.
Sy rus haar hand op sy koppie. “Livja was dom,” sê sy troostend. “Sien jy nou waarom ek gesê het julle mag nog nie saam met my opklim nie? Ons moet eers alles veilig maak en die sterk leer vasbou.”
“Ja,” sê Nicky, sy groot oë nog op haar. “Nie uitval nie.”
“Nee,” sê sy en glimlag om vir hom te wys dit was glad nie ernstig nie. “Niemand gaan uitval nie.”
Nicolas gooi die watte in die asblik en was sy hande. Sy vingerpunte is ook nou rooi, maar dit pla hom nie. Hy draai om en bly staan, sy oë op Nicky wat nog steeds aan Olivia se been vashou met haar hand koesterend op sy kop. Hy sê niks nie, maar in sy oë is ’n vreemde uitdrukking.
“Pappa het dit beter gemaak?” vra Nicky vir Olivia.
“Ja.”
Hy draai om na sy pa toe. “Pappa dit beter gesoen?”
Sy kry ’n kleurtjie. “Nee, nee, dis net vir klein kindertjies. Grootmense het dit nie nodig nie.”
“Jy’t gesê jy’s nie ’n grootmens nie,” herinner Emma haar.
Olivia wens hulle wil nie al haar sondes in een middag teen haar kop gooi nie en toe sy Yvonne hoor lag, voel sy moorddadig. “Dankie,” sê sy vir Nicolas sonder om na hom te kyk. “Dit was alles ’n groot gedoente oor niks nie.”
Yvonne hou haar hand uit na die kinders. “Kom, poppies, julle kan met Vonnie kom gesels terwyl Olivia haar gaan netjies maak. Ek is seker sy het ons nie langer nodig nie en Vonnie het haar poppies lanklaas gesien.”
Olivia kan dit nie help nie: ’n swanger oomblik lank vang sy Nicolas se oog en sien sy hoe sy lippe trek. Sy draai om, stap by die deur uit met ’n stywe houding en net een begeerte in haar kop: om so gou moontlik in die privaatheid van haar kamer te kom sodat sy haar vernedering kan vertroetel.