Читать книгу Christine le Roux Omnibus 2 - Christine le Roux - Страница 7
Hoofstuk vier
ОглавлениеOlivia se eerste prioriteit in daardie eerste weke is om die kinders se vertroue te wen. Sy kan dit nie verduur dat die twee so versigtig, op hulle hoede en bang lyk nie. Die kere dat sy hulle saam met hulle pa sien, is hulle vrolik genoeg, maar tog nog versigtig, asof hulle hom nie heeltemal vertrou nie. Die feit dat hulle meer soos klein kindertjies lyk en nie soos twee poppies nie, doen haar hart goed, maar sy vermoed sy is die enigste een wat so dink. Katie sê reguit vir haar Emma lyk nou soos ’n seuntjie en wat het van die mooi pienk rokkies geword? Meneer Steytler sê heeltemal niks nie en sy moet maar aanvaar hy keur dit nie sterk genoeg af om daaroor te baklei nie.
Die skole begin en haar dae word meer geroetineerd. Sy staan soggens vroeg op, trek die kinders aan, sorg dat hulle boektasse en toebroodjies het en neem hulle skool toe. Sy mis nie haar ou rammelkasmotortjie nie, dis vir haar baie lekker om in die mooi motor te ry. Eers het sy gedink dis meneer Steytler se oorlede vrou s’n, maar dis te nuut. Sy vra in elk geval nie vrae nie, sy geniet dit net.
Terwyl die kinders by die skool is, doen sy inkope, loop rond en gaan selfs nou en dan na die tienuurvertoning by die naaste winkelsentrum voor sy Nicky halfeen moet gaan kry. Haar hart trek elke dag saam as sy in die motor voor die kleuterskool sit en wag en hom sien aankom. Die ander kleuters storm uitgelate na hulle ma’s toe, Nicky kom altyd versigtig uit, sy skouertjies te krom vir so ’n kleintjie, sy gesiggie een groot gekwelde plooi, maar as hy haar sien, verhelder sy gesig en lyk hy tog bly.
Dikwels beskou sy dit as nie die moeite werd nie om hom eers huis toe te neem en gaan hulle na ’n inrykafee toe daar naby om ’n roomys of iets te drinke te kry terwyl hulle wag om Emma op te laai.
“Nicky,” sê sy eendag vir hom en vang sy oog in die truspieëltjie. Hy sit vasgemaak op die agterste sitplek, al sy aandag by sy roomys. “Hou jy van jou skool?”
“H’m,” sê hy afgetrokke.
“Het jy maatjies daar?”
“H’m.”
“Hou jy van jou juffrou?”
“Ja-a. Sy sing.”
“Is dit vir jou mooi?”
Hy knik gewigtig en lek gou sy ken af waar ’n druipsel roomys afloop. En meer as dit kry sy ook nie uit hom uit nie. Dis eers ’n paar dae later dat sy die antwoord op haar vrae kry. Hy kom soos gewoonlik by die deur uit met sy ernstige, bekommerde gesiggie, sy oë soekend deur die mense.
Sy klim uit en hou haar hand in die lug. “Nicky!” roep sy. “Hier is ek!”
Hy gee ’n laggie en kom aangehardloop en toe hy by haar kom, slaan hy sy armpies om haar bobene en druk sy wang styf teen haar.
Sy hurk by hom en sit haar hande op sy skouers. “Wat is dit, Nicky?”
“Jy’t gekom,” sê hy met ’n sidderende sug.
“Maar ek kom elke dag.”
Hy druk haar net stywer vas. “Elke dag,” herhaal hy.
“Dink jy die arme kind is so gewoond aan mense wat vir ’n ruk daar is en dan net verdwyn?” vra sy toe sy daardie naweek by Mart kuier. “Dis om mens se hart te breek.”
“Ongetwyfeld,” sê Mart saaklik. “Dis waarteen ek jou probeer waarsku het, onthou.”
“H’m,” mymer Olivia. “Jy is reg. Ek het nou lank genoeg gewag, dis tyd dat ek vir hulle ’n ma kry.”
“Ek dog jy sê hy het ’n meisie.”
“Yvonne,” sê Olivia. “Dis tyd dat ek haar ontmoet sodat ek kan sien of sy die regte een is.”
Haar kans kom gouer as wat sy verwag. Die volgende Woensdagmiddag bel meneer Steytler haar om te sê hy bring iemand huis toe vir ete.
“Wat moet ek doen?” vra Olivia. “Ek het jou gesê ek kan nie kook nie.”
“Dis ook nie wat ek gesê het nie. Yvonne ken die kinders al en sal hulle graag wil sien. Ons sal so sesuur daar wees, sal jy hulle ondertoe bring?”
Die kinders is teen sesuur klaar geëet en gebad, maar sy kyk tog dat hulle hare mooi geborsel is en hulle kamerjassies netjies geknoop. “Pappa en tannie Yvonne is hier,” sê sy vir hulle.
“Pappa,” sê albei bly, maar lewer nie kommentaar oor Yvonne nie.
Olivia weet nie of meneer Steytler wil hê sy moet saamkom nie, maar sy wil vir Yvonne sien en stap dus ondertoe met ’n kind aan elke hand.
Meneer Steytler staan in die middel van die sitkamer met ’n glas in sy hand en voor hom op die rusbank sit Yvonne. Sy het skelrooi hare wat in ’n baie elegante kapsel gesny is. Hierby dra sy ’n kort, syerige rooi rok wat, soos sy oor die rusbank gedrapeer is, teen haar bene opgeskuif het. Sy lyk soos ’n model, dink Olivia, sy is móói.
Die kinders hardloop na hulle pa toe en omhels hom, maar hy het goeie maniere en stel die twee meisies aan mekaar voor.
Yvonne laat gly haar amandelvormige bruin oë krities oor Olivia, steek ’n gemanikuurde hand uit om haar te groet, maar bepaal haar aandag by die kinders.
“En hier is Yvonne se klein poppies,” koer sy en hou haar hande met hulle lang wit naels uit. “Kom kyk wat het ek vir julle gebring!”
Die twee kinders staan net na haar en kyk, maar toe sy twee sjokoladestafies uit haar handsak haal en vir hulle gee, staan hulle tog nader en sê beleef dankie. Dan retireer hulle tot by Olivia en oorhandig woordeloos die sjokolade aan haar.
“Nee, dis vir júlle,” lag Yvonne. “Vonnie het dit vir júlle gebring!”
Emma skud haar kop. “Ons het klaar ons tande geborsel en Olivia sal nie dat ons nou sjokolade eet nie.”
Yvonne skiet ’n blik na Olivia wat ’n swakker mens sou laat struikel. “Ag nee wat,” koer sy. “Julle kan maar weer julle tande borsel.”
Nicky skud sy kop ernstig en vat ’n stuk van Olivia se trui in sy hand vas. “Livja,” sê hy.
“Wel,” sê Yvonne en haar stem word aansienlik skerper. “Eet dit dan wanneer julle toegelaat word.” Sy besef dat sy haar beeld moet verbeter en glimlag breed. “Kom sit dan hier by my en vertel my hoe dit by die skool gaan.”
Albei kinders kyk eers na Olivia, maar toe sy bemoedigend knik, loop hulle nader en gaan sit weerskante van Yvonne op die bank.
“Wil jy nie ook sit nie?” vra meneer Steytler vir haar en wys na ’n stoel. “Kan ek vir jou iets ingooi om te drink?”
“Ek is nog op diens,” sê sy vroom. “Maar ’n glas wyn sal lekker wees, dankie.”
Sy oë vernou ’n oomblik, maar sy gaan sit in die stoel, kruis haar bene en kyk hom onskuldig aan toe hy die glas wyn vir haar bring.
“Wil Vonnie se poppies nie ook ietsie drink nie?” vra die rooikopmeisie.
Olivia stik in haar wyn en kry ’n skerp blik van meneer Steytler. “Die poppies het klaar melk gedrink,” sê sy en byt die binnekant van haar wange vas om die onbedaarlike giggellaggie wat in haar opborrel onder beheer te hou.
“Maar hulle kan sap drink,” sê Yvonne in ’n harde stem.
“Sekerlik,” sê Olivia en knik.
Meneer Steytler skink vir hulle lemoensap in.
Tussendeur vra Yvonne die kinders uit. Sy wil weet van hulle maatjies in hulle klassies, sy vra uit na boekies en prentjies en kleurpotloodjies en speelgoedjies. Die kinders antwoord beleef, maar dis duidelik dat Nicky ongemaklik voel. Die oomblik toe sy glas leeg is, sit hy dit op die tafel neer en draf oor die mat tot by Olivia. Hy klouter op haar skoot, druk sy duim in sy mond en lê terug teen haar bors.
“Haai, suig so ’n groot mannetjie tog nie sy duimpie nie?” lag Yvonne.
Olivia is lus en klap die vrou dwarsoor die kamer. Sy is self nie gelukkig met die feit dat Nicky nog duim suig nie en sy het klaar ’n speletjie uitgedink om die kind dit af te leer. Wat sy nie nodig het nie, is die rooikop se ongevoelige opmerking. Sy skiet ’n vurige blik in meneer Steytler se rigting, sit haar leë glas neer en staan op met Nicky nog in haar arms.
“Dis slaaptyd,” sê sy in ’n toonlose stem. “Môre is skool.”
“Jy kan hom nie dra nie,” protesteer meneer Steytler, “hy is te swaar vir jou.”
“Nee, hy is nie,” sê sy koel.
Emma het ook opgespring en staan by haar. “Sê nag vir die mense,” gebied sy.
Meneer Steytler buk oor die kinders en soen hulle. Omdat Nicky se kop teen haar skouer rus, vee sy hare teen haar gesig en dit gee haar ’n vreemde krieweling. Yvonne wil nie uitgesluit word nie en ontvou haar lang bene, spring ook op en kom soen die kinders. Haar parfuum is so ryk en oorweldigend dat Olivia byna weer stik.
“Dankie vir die wyn,” sê sy en stap na die deur toe. “En dit was aangenaam om u te ontmoet,” sê sy vaagweg in Yvonne se rigting.
“Eet sy op haar eie?” hoor sy Yvonne se stem net voor sy met die trap opklim.
“Sy” eet liewers in die tuinskuur, dink sy grimmig toe sy die kinders in die bed sit en hulle besluit watter stories gelees moet word. Blykbaar het niemand nog ooit vir hulle stories gelees nie en dis nou elke aand se ritueel. Beurte word geneem wie die storie mag kies of in wie se kamer dit geskied. Dan klim al drie van hulle op die gekose bed en luister na die storie voordat die kinders gaan inkruip.
Olivia sit en briewe skryf met die televisie aan in die agtergrond toe daar so teen elfuur ’n klop aan haar deur is.
“Ja?” roep sy en kyk verbaas op toe meneer Steytler inkom. “Waar’s Yvonne?” vra sy en kyk verby hom.
“Sy’s huis toe.” Hy rem sy das los.
Sy sit haar pen neer, draai verder om en leun met een arm op die rug van die stoel. “Is daar ’n probleem?”
“Jy mag nie die kinders teen Yvonne opsteek nie.”
Sy lig haar wenkbroue. “Aangesien ek haar vanaand vir die eerste keer ontmoet het, was dit tog nie moontlik nie, meneer Steytler.”
“Waarom wou hulle nie haar sjokolade vat nie? Sy voel seergemaak daardeur.”
“Dan moet sy ander soort presente bring,” sê sy kalm. “Ek laat nie toe dat hulle hulle tande bederf nie.” Sy hou haar mond op ’n streng plooi. “Dis nooit te vroeg om goeie gewoontes aan te leer nie.”
“Juffrou Joubert,” sê hy. “Dis nie nodig dat jy –”
“Noem my tog maar Olivia,” val sy hom in die rede.
“Dan sal jy my op my naam moet noem.”
Sy haal haar skouers op. “Ek het nie ’n probleem daarmee nie.”
Hy staan ongemaklik rond, asof hy nog iets op die hart het, maar nie weet hoe om dit te sê nie. “Ek wil net sê dat die proeftydperk nou verby is en … Wel, dit lyk asof die kinders van jou hou en …”
“Ek is dus nou permanent aangestel,” help sy hom. “Dankie, ek is bly, want ek hou baie van jou kinders.” Sy is trots op haar waardigheid, maar kan dit ongelukkig nie volhou nie. Sy gee ’n hiklaggie. “Vonnie se poppies,” sê sy en begin lag, so onkeerbaar dat sy haar kop op haar arm moet laat rus tot sy uitgelag is. “Jammer,” sê sy en vee met haar vinger onder haar oë. “Ek moes dit uit my sisteem kry.”
“Ek is bly jy vind dit so snaaks,” sê hy in ’n stem wat direk van die Suidpool af kom.
“Luister, meneer … Nicolas.” Sy sluk die laaste laggie in. “Die kinders is nie speelgoed of troeteldiere nie. Ek het my dit ten doel gestel om vir jou ’n vrou te kry, maar ek moet jou sê Yvonne is nie die regte een nie.”
“Is dit so?” vra hy en sy stem word selfs kouer.
“Kyk,” sê sy redelik. “As jy nie kinders gehad het nie, staan dit jou vry om te trou met wie jy wil. Ek meen, dis jou saak.”
“Ek is bly om dit te hoor.” Sy stem is nou gevaarlik.
“Maar nou hét jy kinders,” gaan sy onverstoord voort. “Jy het twéé kinders; twee kléin kindertjies. Die prioriteit, soos ek dit sien, is nie in die eerste plek dat jy ’n vrou kry nie, maar dat die kinders ’n ma kry. ’n Goeie een. ’n Liefdevolle, warm een. As my vriendin Petronella nie klaar getroud was nie, het ek haar aan jou voorgestel. Sy verwag nou haar eerste baba en ek kan jou verseker sy gaan die wonderlikste ma wees. Sy ís net so ’n soort vrou. ’n Bietjie vet, ja, waarvan jy miskien nie sal hou nie, maar so moederlik. Sy omvou almal, sy straal liefde en warmte en simpatie uit.” Sy klik haar tong spytig.
“Maar ongelukkig is sy getroud.”
“Presies. Jy kan nie moontlik dink dat Yvonne ’n goeie stiefma gaan wees nie.” Sy gooi haar hande in die lug. “Sy praat dan die hele tyd in verkleinwoordjies!”
“Ek het natuurlik nie besef dis so ’n nadeel nie,” sê hy, sy gesig uitdrukkingloos.
“Nee, ek kan dit sien,” sê sy simpatiek. “Het jy nie ander meisies nie?”
“Nie op die oomblik nie, nee. Ek het natuurlik nie besef dat ons besig is met ’n uitdunningsparade nie.”
Sy kyk vinnig op na hom om te sien of hy lag, maar sy gesig wys niks nie. “Dan stel ek voor jy gooi jou net wyer.”
“My net,” herhaal hy.
“Ja, jy moet tog baie ander meisies ken. Spreek net die woord en ek sal my deel bydra. Soos ek nou die dag vir jou gesê het, het ek baie ongetroude vriendinne wat nie soos ek voel nie en wat almal in die mark is vir ’n goeie man.”
“Ek is gevlei,” sê hy. “Jy beskou my darem as ’n goeie man.”
Sy haal haar skouers op. “Op die oog af, ja, maar ek ken jou natuurlik nog nie goed nie.”
“Dis die eerste stukkie waarheid wat jy vanaand kwytgeraak het. Jy ken my glad nie.”
“Dis so, maar jy lyk nie na die soort man wat hom te buite gaan nie. Jy lyk vir my sober.” Sy frons effens. “Jy slaan seker ook nie aan vroue nie?”
“Ek hét nog nooit nie,” sê hy gelykmatig. “En ek moet erken ek kón ook nog nooit verstaan waarom sekere mans dit wel doen nie. Nou verstaan ek meteens.”
Sy gee ’n borrellaggie.
“Jy is ongelooflik … uitgesproke, juf- … Olivia,” sê hy. “Ek wil amper sê vermetel. Ja, dis tog die regte woord. Vermetel.”
“Voorbarig,” help sy hom.
Hy gee haar ’n giftige blik en draai na die deur toe. “Dit wys net weer hoe ondeurgrondelik kinders is. myne hou van jou.” Hy hoor haar lag toe hy in die gang aanstryk na sy kamer in die regtervleuel en hy druk sy gebalde vuiste hardhandig in sy sakke.