Читать книгу Christine le Roux Omnibus 2 - Christine le Roux - Страница 6

Hoofstuk drie

Оглавление

Meneer Steytler moes na die huis gebel het, want toe Olivia die deurklokkie lui, maak Katie vir haar oop sonder om verbaas te lyk. ’n Bietjie skepties miskien, maar nie onkant gevang nie. Olivia self het van haar selfvertroue verloor, hoofsaaklik omdat Mart reg was; die huis lê heel bo teen die rant en die swaar gelaaide karretjie het halfpad teen die rif op begin klink asof hy dit nie gaan maak nie. Daarby is die huis intimiderend, om die minste te sê.

Dis ’n groot dubbelverdiepinghuis met ’n grys leidak en dit staan in ’n groot ou tuin met sulke hoë bome dat ’n mens die huis eers ordentlik kan sien wanneer jy met die rylaan opgery het en voor die voordeur staan. Die rylaan vorm ’n sirkel en in die middel van die hoefyster staan ’n enorme eikeboom met dik takke, nou teen die einde van die winter heeltemal kaal. Die res van die tuin is goed versorg, netjies gesnoeide roosbome, velde oranje madeliefies, ronde beddings vol winterblomme soos ranonkels, anemone en primulas; verfrissende spatsels kleur in die andersins vaal tuin. Aan die punt van die grasperk sien Olivia ’n tuinier besig om blare te hark en hy leun op die steel en staar haar belangstellend aan.

“Middag,” sê sy vir Katie en steek haar hand uit. “Ek is Olivia, die kinders se nuwe oppasser.”

Katie glimlag en wys sy moet binnekom.

“Moet ek nie maar begin aflaai nie?” vra Olivia en wys na haar motor. “Ek het nogal baie goed.”

“Josef kan dit bring,” sê Katie. “Ek kan eers vir mevrou die kamer gaan wys.”

Olivia loop agter haar aan en struikel byna oor die trappe soos sy rondkyk. Die binnekant van die huis is selfs meer imponerend as die buitekant. Glimmende houtvloere met dik Persiese matte, kleurryke skilderye van bekende kunstenaars, antieke meubels wat gloei en ’n trapleuning wat smeek om mee afgegly te word.

Op die eerste verdieping draai Katie links en stap in die lang, breë gang af. Die huis buig na agter, merk Olivia op; dit vorm ’n hele aparte vleuel. Sy wonder waar die kinders is, want daar kom nie ’n geluid van êrens af nie, nie eers ’n radio wat speel nie.

“Hier’s waar die kinders bly,” sê Katie en wys na twee toe deure. Sy stap verby tot waar die gang doodloop en maak ’n deur oop. “En hier’s joune.”

Olivia is aangenaam verras en voel sommer beter. Dis nie ’n donker solderkamertjie met ’n ysterkatel en harde stoel nie, dis ’n enorme kamer. Behalwe die ingeboude kaste teen die een muur is daar ’n driekwartbed bedek met ’n geblomde en kennelik duur deken. Aan weerskante van die bed is tafeltjies met lampe en in een hoek van die kamer staan drie leunstoele gerangskik om ’n koffietafeltjie. Teen die muur oorkant die stoele is ’n televisiestel en langs die deur ’n klein skryftafeltjie met ’n stoel.

“Hier’s die badkamer,” sê Katie en maak ’n deur tussen die ingeboude kaste oop.

Die badkamer is liggeel en ewe luuks. Olivia kan dit nie help nie, sy tree vorentoe en vat aan die dik, sagte handdoeke. Dis ’n groot verbetering op haar rondawel in die bos.

“Dis pragtig,” sê Olivia en glimlag breed. “Dis alles baie mooi, dankie.” Sy hoor ’n geluid in die kamer en draai om, maar dis nie die kinders nie, dis Josef, die tuinier, sy hande vol tasse. Hy lyk ook skepties, maar groet vriendelik genoeg en die volgende tien minute dra hy al haar bagasie vir haar boontoe.

Toe hy klaar is, hou hy sy hand na haar uit. “As ek die sleutel kry, kan ek die kar wegvat,” sê hy vir haar. Hy lyk of dit hom plesier kan verskaf om haar motor te verwyder.

“O, kan jy bestuur?” vra sy.

Hy knik lakoniek en vat die sleutel by haar. Katie staan steeds woordeloos na die hoop tasse en bokse en kyk.

“Waar is die kinders?” vra Olivia.

“In hulle kamers. Kan ek vir mevrou tee bring?”

“Ja dankie. Ek dink ek sal nou eers uitpak dat die kamer netjieser kan lyk.”

Katie beskou dit as ’n baie goeie plan en verdwyn in die gang af.

Olivia knip die eerste tas oop en maak die kaste ook oop. Salig, dink sy ekstaties. Kilometers leë kasruimte, en sy haal ’n hanger uit en begin ophang. Sy is besig met die tweede tas toe Katie geruisloos inkom met die skinkbord en net so stil weer verdwyn. Olivia skink vir haar tee en begin haar boeke uitpak op die rak onder die televisiestel. Sy neurie ’n deuntjie en kyk meteens oor haar skouer, nie omdat sy iets gehoor het nie, meer omdat sy van ’n teenwoordigheid bewus geword het.

In die deur staan twee kindertjies, hulle gesiggies somber en strak. Emma is geklee asof sy na ’n partytjie toe gaan. Van haar blinkleerskoentjies en wit sokkies – voetjies netjies bymekaar – tot die pienk valletjiesrok met sy wit kragie en die donkerblonde hare in ’n foutlose poniestert gebind, is daar nie ’n kreukel of ’n haar uit sy plek nie. Langs haar staan klein Nicky, sy steil blonde haartjies nat en plat gekam, sy handjies voor hom gevou. Hy dra ’n ferweellangbroekie, ’n bypassende trui en blinkgepoleerde bruin skoentjies. Nie een van die twee sê ’n woord nie, hulle staan net na haar en kyk, hulle gesiggies uitdrukkingloos en hulle oë angstig.

Olivia gaan sit plat op die mat en kyk na hulle. “Haai,” sê sy. “Ek is Olivia.”

“Ek is Emma en hy’s Nicky,” sê Emma in ’n toonlose stem en vat haar boetie se hand. “Ons mag nie grootmense op hulle name noem nie.”

Olivia glimlag breed. “Ek is nie ’n grootmens nie,” sê sy gemaklik en hou haar hand uit om te wys hulle moet nader kom. “So julle kan my maar Olivia noem.”

Emma se oë flikker effens en sy kom ’n tree nader, maar sy sê niks nie.

“Livja,” sê Nicky.

“Dis reg.” Olivia kyk na die boeke in die boks voor haar. “Wil julle my nie help om die boeke op die rak te pak nie? Ek wil graag klaarmaak met my tasse, dan kan ek hulle wegsit sodat die kamer nie so slordig lyk nie.”

“Dit ís deurmekaar,” stem Emma saam en kom nog nader. Sy kniel en haal ’n boek uit die boks, maar sy bly op haar hoede asof sy gaan weghardloop as Olivia te hard praat.

Olivia staan op en maak haar laaste tas oop. Die twee kinders pak die boeke in die rak, maar hulle oë bly wantrouig op haar en verskerp eers toe sy onder in die tas die wollerige diere uithaal wat haar kollegas van die wildsplaas as afskeidgeskenk vir haar gegee het. Die een is ’n baie lewensgetroue leeutjie en die ander een ’n apie met ’n lang stert.

“Wat is dit?” vra Nicky.

“Dis Leo en Boggom.” Sy sit die diere op een van die leunstoele neer en die kinders vergeet van die boeke, hulle oë nou gefassineer op die speelgoed.

“Wie s’n is dit?” vra Emma.

“Myne,” antwoord Olivia. “Ek het dit present gekry.”

Emma lyk ongelowig. “Speel jy nog?”

“O ja.”

Emma kyk na haar boetie en weer na Olivia. “Hy’t ’n teddie,” sê sy.

“Bring hom, dan kan hy mos met Leo en Boggom speel,” stel Olivia voor.

Nicky spring op en hardloop uit die kamer uit. Toe hy terugkom, het hy ’n groot en effens verweerde bruin beer in sy arms en hy sit die teddie langs die ander diere neer. Vir die eerste keer is daar lewe in sy gesiggie, hy lyk asof hy wil lag. Wat hy ook van sy kamer af saamgebring het, is twee stukke sjokolade en die een gee hy woordeloos vir sy sussie.

“Waar kom die sjokolade vandaan?” vra Olivia. Sy kyk op haar horlosie en sien dat dit byna vieruur is.

“Tannie Yvonne gee dit vir ons,” sê Emma.

Olivia hou haar hand uit. “Nee, ek is jammer, maar ’n mens eet nie dié tyd van die dag sjokolade nie. Na aandete kan julle ’n stukkie kry.” Sy wys na die tafel. “Sit dit hier neer.”

Die kinders gehoorsaam sonder slag of stoot, op hulle gesiggies ’n volwasse soort aanvaarding, asof hulle lankal reeds geleer het dat dit die beste is om nie moeilikheid te veroorsaak nie.

“Hoe laat eet julle aandete?” vra Olivia vriendelik om te wys sy is nie kwaad vir hulle nie.

“Later,” sê Emma vaag.

“Dié tyd van die middag drink ’n mens ’n glas melk en eet ’n koekie,” gaan Olivia voort. “Of ’n appel. Anders eet jy nie jou aandete nie en word jou tande sleg.”

Die kinders staar net na haar, hulle gesigte bot.

“Ek dink dis wat tannie Yvonne bedoel het,” sê Olivia. “Wie is tannie Yvonne?”

“Sy’s Pappa se …” Emma swyg eers. “Sy kom saam met Pappa.”

“A,” sê Olivia wys en beduie na die boeke. “Nou toe, kom ons pak klaar uit, dan kan julle vir my julle kamers wys.”

Maar dis duidelik dat die kinders nou weer verskrik is. Hulle pak al die boeke uit, kyk net kort-kort na haar met onleesbare uitdrukkings op hulle reeds te ernstige gesiggies. Sy sit haar leë tasse inmekaar en pak hulle bo in een van die kaste weg. Die kartondose trap sy sommer plat en forseer hulle in die snippermandjie in.

Die kinders se kamers lyk soos die kinders self: te netjies, te perfek saamgestel. Emma se kamer is pienk en dis duidelik dat alles deur ’n binnenshuise versierder gedoen is. Wit bed, wit kaste en stoele en boekrakke, pienk-en-liggroen gordyne, ’n pienk mat. Bo-op die boekrak ’n ry poppe wat lyk of niemand nog ooit met hulle gespeel het nie, hulle sit so presies in ’n ry met hulle popoë dood.

Nicky se kamer is gelukkig nie alles blou nie, is sy bly om te sien. Sy gordyne is bont, die ontwerp: kronkelende treintjies en vet vliegtuie. Sy mat is wel blou en die groot speelgoedkis ook. Tussen die twee slaapkamers is daar ’n badkamer waar blou en pienk handdoeke, blou en pienk sponse en blou en pienk naelborseltjies in gelid gepak is.

“Waar speel julle?” vra sy

Hulle wys na hulle kamers.

“En waar eet julle?”

Hulle wys vaagweg na onder en meer kry sy ook nie uit hulle uit nie. Maar as sy bang was dat sy nie van hulle gaan hou nie, is sy dadelik gerusgestel. Haar hart bloei vir die twee swygende kinders. Sy wil hulle opraap en kielie tot hulle skater van die lag, sy wil hulle hare deurmekaar vryf en hulle uitnooi om te lag en te raas, maar sy weet ook dat sy versigtig te werk sal moet gaan.

Dis wat sy die eerste week doen. Sy loop letterlik en figuurlik op haar tone. Halfses die eerste aand kom roep Katie die kinders vir aandete en Olivia neem haar eerste besliste standpunt in. Sy sal saam met die kinders eet. Sy weet nie of meneer Steytler verwag dat sy alleen saam met hom moet eet nie, maar sy sien nie daarvoor kans nie. Om die waarheid te sê, sy bly uit sy pad uit. Katie het hom vermoedelik gesê dat sy saam met die kinders geëet het en toe sy na aandete gaan bad, kom hy by die huis en gaan die kinders ondertoe om met hom te praat.

Die derde dag bel sy sekretaresse haar die oggend om vriendelik en saaklik oor haar salaris te praat. Dis inderdaad baie goed en Olivia kan nie kla nie. Die vrou gee ook meer inligting oor die werksvoorwaardes en lig haar in dat sy besig is om ’n kontrak op te stel wat Olivia na twee weke sal moet onderteken.

“Dis goed so,” stem Olivia in en wonder wrang of meneer Steytler sy drankkabinet onder oë hou en elke aand die bottels meet om te sien of sy haarself help.

“U sal ook sien,” sê die bekwame vrou, “dat daar onder op die kas in die portaal ’n kredietkaart en boek lê. Meneer Steytler het my gevra om u mee te deel dat dit vir u gebruik is. Hy sal bly wees as u die aankope kan doen en verder is die kaart vir enigiets wat die kinders mag benodig.”

“Soos wat?” vra Olivia.

“Klere. Skoolbenodigdhede. Hy verwag van u dat alle aankope in die boek geskryf word.”

“Dankie,” sê Olivia en gaan ondertoe, waar die kaart inderdaad lê. Sy staan nog geamuseerd daarna en kyk toe die telefoon weer lui en dié keer is dit meneer Steytler self.

“Het jy die kaart gekry?” vra hy sonder omhaal.

“Ja dankie.”

“Teken dit asseblief dadelik.”

“Ek ken kredietkaarte,” sê sy saaklik. “Ek kom nie letterlik uit die bos uit nie.”

Hy ignoreer hierdie opmerking. “Die skool begin Dinsdag. Ek weet nie of jy dit weet nie. Vind uit of Emma iets nodig het en indien wel, koop dit, asseblief.”

“Ek sal, ja.”

“Gebruik die motor in die garage. Ek wil nie hê jy moet die kinders in jou kar rondry nie.”

Sy wip haar. “Nie deftig genoeg nie, nè?”

“Nie padwaardig nie,” sê hy koel.

Sy moet lag.

“En skryf alles neer.”

Sy klik haar tong. “Dis jammer dat jy dit vereis. Ek wou vir my ’n pelsjas koop op die kaart.”

“Ekskuus?”

“Niks nie,” sê sy kopskuddend en hy lui af.

Die kinders hou van winkels toe gaan. Sy wonder of hulle dit al dikwels gedoen het, want dis vir hulle ’n hele avontuur. Na sy die kos gekoop het, gaan hulle na die boekwinkel toe om kleurpotlode en ’n nuwe liniaal te kry en toe hulle daar klaar is, drentel hulle verby ’n klerewinkel op pad na die restaurant toe waar sy belowe het om roomys te koop. Sy sien hoe Emma na die klere kyk en bly skielik staan.

“Hou jy van valletjiesrokke?” vra sy vir Emma wat weer aangetrek is asof sy na ’n partytjie toe gaan, al is haar dun beentjies die meeste van die tyd blou van die koue.

Emma kyk vinnig na haar en weer weg. “Die ander kinders dra jeans,” fluister sy. “En van daai skoene …” Sy maak ’n vae gebaar.

“Jeans is lekker,” sê Olivia en swaai by die winkel in. “Kyk net, ek dra dit heeldag.”

Sy geniet haar gate uit en koop vir Emma alles wat nou in die mode is: los hemde om oor die jeans te dra, bont sokkies en ’n bonkige paar hardloopskoene. Die kind het vir die eerste keer lewe in haar oë en lyk so bedremmeld toe sy weer die klere moet uittrek dat Olivia kan betaal dat Olivia alles aan haar lyf los en die assistent vra om net die pryskaartjies af te knip. En toe sy sien Nicky kyk ook na die klere, rus sy hom ook uit, kompleet met ’n bofbalpet wat die kleintjie se hare deurmekaar woel en hom uitgelate laat giggel.

Die kinders weier volstrek om die klere uit te trek en toe hulle by die huis kom, hardloop hulle met byna normale uitgelatenheid om vir Katie te gaan wys. Sy is baie moederlik met hulle en verseker hulle hulle lyk baie mooi.

Olivia skryf al die uitgawes in die boek neer en voel net effens skuldig toe sy sien hoeveel sy spandeer het. Sy was van plan om te sorg dat sy in haar kamer is wanneer meneer Steytler by die huis kom, maar omdat dit Vrydagmiddag is, kom hy vroeër tuis en is sy nog saam met die kinders in die tuin waar hulle met ’n bal speel toe sy motor voor die huis stilhou en hy uitklim.

“Pappa!” gil die twee, los die bal net so en hardloop na hom toe.

Olivia tel die bal op, maar bly staan waar sy is. Sy is verras om te sien hoe normaal die kinders met hulle pa is, sy het gedink hulle is vir hom ook bang, maar hulle storm op hom af en Nicky slaan sy arms om sy pa se bene.

“Ek het julle byna nie herken nie,” sê hy vir hulle en kyk oor hulle koppe na Olivia. “Middag, juffrou Joubert.”

“Haai,” sê sy en gooi die bal van een hand na die ander.

“Pappa, Pappa, kyk!” sê Emma en draai al in die rondte. Sy rem aan die groot, los trui wat oor haar jeans hang en lig een voet om die skoene te wys.

“Nou toe nou,” sê haar pa en kyk weer verby haar na Olivia.

“Myne ook,” sê Nicky en druk sy pet in sy pa se hande.

“Waar kry hulle dit?” vra hy.

Die seuntjie swaai om en wys na Olivia. “Livja,” sê hy tevrede. “Roomys ôk.”

“Ek het alles mooi neergeskryf,” sê Olivia.

“Ons lyk nou nes ander kinders,” sê Emma tevrede.

“Inderdaad, ja.”

Katie verskyn in die voordeur. “Die kinders moet kom eet,” sê sy.

Nicky kyk na Olivia. “Kom, Livja.”

Sy glimlag vir hom. “Gaan was solank julle hande, ek kom.” Sy wag tot hulle in die huis is voor sy nader stap na waar Nicolas haar swyend staan en aankyk. “Mag ek dit nie gedoen het nie?” vra sy ligweg. “Dit was nogal duur op die ou end, maar hulle wou dit so graag hê.”

Hy antwoord nie direk nie. “Ek het gesê jy moet koop wat hulle nodig het.”

“En hulle hét dit nodig gehad,” sê sy ferm. “Hulle lyk vir die eerste keer …” Sy bly stil.

“Vir die eerste keer wat?” vra hy.

“Niks nie.” Sy begin stap in die rigting van die oop deur. “O, gaan jy vanaand uit? Jou sekretaresse het gesê oor naweke moet ons maar ooreenkom en ek is geregtig op –”

“Ja, ek gaan uit,” val hy haar in die rede. “En Katie is ook nie hier nie, so ek sal dit op prys stel as jy kan bly. Het jy ’n afspraak?”

“Ek wou gaan fliek.”

“Die res van die naweek is ek hier en is jy van diens af.”

Sy haal haar skouers op. “Dan gaan ek môreaand. Dis nie ’n probleem nie. Verskoon my nou, die kos word koud.”

“Gaan jy elke aand saam met die kinders eet?” vra hy.

“O ja,” antwoord sy en stap binnetoe.

Christine le Roux Omnibus 2

Подняться наверх