Читать книгу Christine le Roux Omnibus 5 - Christine le Roux - Страница 10

Hoofstuk 7

Оглавление

Neil en sy neef sit in die agterplaas van Freek se huis. Die winterson is verrassend warm, rook trek luiweg uit die braaivleiskole en twee skywe biefstuk lê op ’n bord en wag. Daar is nie eintlik bykosse nie, net ’n bord gesnyde tamaties en ’n paar broodrolletjies.

“Ek wens jy kan my raad gee omtrent daardie meisiekind van my,” sê Neil. “Sy laat my nie eers toe om haar hand vas te hou nie!”

Sy neef lag. “En jy wil by my raad hê?”

“Jy’s darem ’n paar jaar ouer as ek,” sê Neil. “Jy het meer ondervinding.”

“Nie noodwendig nie. Jy weet hoe voel ek oor hulle. Hoekom dink jy is ek nog nie getroud nie?”

“Jy is tog nie steeds gegrief oor daardie vroumens wat jou so gekul het nie?”

“Nee. Ek het lankal van haar vergeet. Ek het net nie tyd vir vrouens in die algemeen nie.”

“Maar as jy dié een kan sien,” sug Neil. “’n Mens kan jouself nie keer nie, jy is verlief voor jy weet wat gebeur het.”

“Verliefdheid waai wel oor.”

“Nee, Freek, man, dit kan jy nie sê nie.”

“Natuurlik kan ek. Komaan, Cor, gee die vleis aan. Ek dink ons kole is reg.”

Neil staan op en hulle staan albei en afkyk op die sissende vleis. Alhoewel hulle neefs is, is hulle meer soos broers. Hulle huislike agtergrond verskil, maar vandat hulle kinders was, is hulle beste maats. Albei dra familiename, maar om hulle van hulle pa’s en oupas te onderskei, noem die familie hulle op ander name as dié wat hulle vriende en kollegas ken. Neil, wie se eerste naam Cornelius is, word in familieverband sommer kortweg as “Cor” aangespreek.

“Ek het haar ’n week laas gesien,” gaan Neil voort. “Ek het gedog sy het my dalk ook gemis, maar aikôna. En dit in hierdie tye waarin ons leef. Om ’n meisie te soen, is outyds.”

“Is dit?” vra sy neef verbaas.

“Jy weet wat ek bedoel. En ek kan nie eers my arm om haar skouer sit nie of sy word stokstyf.”

“Los haar dan. Kry iemand anders.”

Neil lyk geskok. “Sy’s nie die soort meisiekind wat ’n mens sommer los nie.” Hy tel sy bier op en staan eenkant, die rook irriteer sy oë. “Miskien moet ek haar jaloers maak. ’n Slag met iemand anders uitgaan. Miskien is sy te seker van my.”

“Probeer dit.”

“Daar is ’n nuwe tikster,” mymer Neil. “Skaam ou dingetjie. Miskien . . . ”

“Ek dog jy is juis moeg vir die skames?”

“Nee, nee, sy is nie skaam nie, sy wil net nie hê ek moet aan haar vat nie. As jy haar kon sien!”

Sy neef lag. “Jy het die skoot hoog deur, maar jy kan nie simpatie van my verwag nie. Ek het nie tyd vir sulke onsin nie.”

Neil kyk hom ondersoekend aan. “Hoe kry jy dit reg?” vra hy. “Hoe leef jy so sonder vrouens?”

“Om mee te begin, is ek te besig, en in die tweede plek het ek eenvoudig nie die regte aanslag nie. Ek dink ’n mens moet ’n spesiale talent daarvoor hê. Wat ek ook al probeer, misluk. Dis so eenvoudig soos dit is. Ek is nie die soort wat blomme kan aandra en flikflooi in die hoop dat sy eendag van my gaan hou nie. Ek het myself dus totaal gedistansieer van die hele gedoente.”

“Ek weet nie of jy dit so maklik sou kon sê as jy haar gesien het nie,” sê Neil somber. “Sy’s die soort wat jou uitboul by die eerste aanblik.”

“Cor, jy is soos ’n verliefde tiener. Gee ons borde aan, ek dink die vleis is reg. En gaan vra raad by iemand anders. Ek sit nie langs dieselfde vuur as vrouens nie. Met die beste wil in die wêreld kan ek niks reg doen as ek in hulle teenwoordigheid is nie. Skoenmaker, hou jou by jou lees, sê die spreekwoord. Dis wat ek doen.”

Nicoline sit langs Kurt se bed, eintlik te verstom om te praat. Sy oë is oop, hy kyk na haar met ’n paar grys oë wat haar verleë maak.

“Ek weet jy het geen benul wie ek is nie,” sê sy. “Miskien herken jy my stem. Ek is die een wat weke lank al met jou praat. Jy is moontlik al moeg vir my stem. En ek is jammer ek was so lanklaas hier. Ek was siek en wou jou nie aansteek nie.” Sy glimlag, vat skamerig aan sy hand. “Nou is ek perdfris en sal ek weer elke dag kom. Wil jy hê ek moet elke dag kom?”

Hy druk haar hand effens.

“Dis goed. Jy wonder seker waar ek in die prentjie pas? Wel, jy sien, my broer het langs jou gelê, dis hoe ek jou leer ken het. Jy is so ver weg van jou eie mense, ek wou nie hê jy moet voel niemand gee om nie. Daar is baie mense wat omgee en ons wil almal sien dat jy gesond word.” Sy gaan voort met gesels, vertel hom van haar werk, van meneer York, van Dennis en Rosa wat gereeld na sy welsyn verneem. Hy lê net na haar en kyk, sy oë by tye nog uit fokus asof hy haar nie regtig duidelik kan sien nie. Sy draai om toe sy iemand agter haar hoor en kyk op in Peter Hofmeyr se gesig.

“Terug op jou pos,” sê hy. “Goeiemiddag, doktor Ollsen. Hoe gaan dit vanmiddag?”

Nicoline staan op en gaan staan by die venster totdat Peter Hofmeyr klaar is met sy pasiënt. Hendrik Meyer se bed is nog altyd leeg, sy voel steeds hartseer wanneer sy daarna kyk.

“Ek is klaar,” sê Peter vir haar. Toe sy weer gaan sit, kyk hy haar krities aan. “Is jy nou weer gesond?”

Onwillekeurig vat sy met haar hand aan haar nek en hou die kraag van haar baadjie vas. “Ja dankie.”

“Het jy die briefie langs jou bed gekry?” vra hy.

“Ja.” Sy ontwyk sy oë. “Ek het egter geen benul wat daarop gestaan het nie. Jou handskrif is onleesbaar, soos ek al by ’n vorige geleentheid genoem het.”

“Dis nie so erg nie,” protesteer hy. “Kon jy dit regtig nie lees nie of is jy net wederstrewig?”

“Ek kon dit nie lees nie.”

“Dit was instruksies omtrent die medisyne. En ’n vermaning om ’n dokter te gaan sien as jou keel nie beter word nie.”

“A!” sê sy. “In daardie geval was dit nie nodig nie. Ek het vinnig beter geword.”

“Danksy my tydige intrede.”

Sy haal haar skouers op. “Jy moet maar jou rekening stuur.”

“O, ek sal,” verseker hy haar. “Huisbesoeke is natuurlik teen ’n spesiale tarief.”

Kurt Ollsen lê na hulle en kyk. Hy sukkel nog om sy oë te beweeg, soms maak hy hulle toe asof hulle eers weer moet rus.

“Het jy al uitgevind wie jou naaste dokter is?” vra hy. “Dis beter om dit te doen voor jy weer siek word.”

“Ek beplan nie om weer siek te word nie,” sê sy koel. “Maar ja, ek het gesien waar die spreekkamer is. ’n Dokter de Beer.”

“Dis goed.”

“Rosa weet van hom,” kan sy nie help om te sê nie. “Hy is glo ’n liewe, simpatieke –”

“Natuurlik,” val hy haar in die rede. “Vaderlik en inskiklik. Jy het genoem wat jou voorkeure is.”

Sy druk haar lippe opmekaar. “Ten minste sal hy nie vir ’n siek mens so ’n aaklige soutbrousel gee nie.”

Hy glimlag. “Dit was ’n vergissing. As jy nie sout in ’n suikerpot gegooi het nie sou dit nooit gebeur het nie. Ek het nog nooit gehoor van iemand wat dit doen nie.” Hy kyk op sy horlosie, skrik en draai weg. Sy sien net die pante van sy wit jas voor hy in die gang af verdwyn.

“Ons kom nie eintlik goed klaar nie,” sê sy vir Kurt. “Ek en jou dokter. Al wat ons gemeen het, is jou welsyn.” Sy bly nog ’n halfuur by hom en staan toe op om te loop omdat dit Vrydagaand is en Neil haar kom oplaai. “Ek sien jou môre weer.” Sy buk af, soos sy altyd doen, en soen hom op die voorkop. Sy oë flikker effens en dit lyk asof sy mond beweeg, asof hy iets wil sê, maar dit nog nie regkry nie.

In die parkeerterrein haal sy haar sleutels uit haar handsak en wil net oopsluit toe sy ’n man by die motor langs hare sien staan. Sy motordeur is oop, hy staan na haar en kyk. Hy praat oor ’n sellulêre telefoon en sy gedagtes is kennelik by die gesprek. Sy bly staan en staar na hom asof die feit dat hy met iets anders besig is, ’n skerm tussen hulle geplaas het en hy haar nie kan sien nie. Dis ’n ouerige man, nog goed gebou ten spyte van ’n effense verdikking om die middellyf. Sy dik, silwergrys hare is netjies weggekam en hy het ’n snor, maar hy lyk vir haar so bekend dat sy nie kan ophou staar nie.

Hy sit die telefoon in die motor neer, sluit die deur en kyk haar geamuseer aan. “’n Vuil kol op my gesig?” vra hy en vat aan sy klere. “Het ek my das vergeet? Dra ek onpaar skoene?”

Sy bloos bloedrooi. “Ek is jammer,” mompel sy en klingel haar sleutels. “Dit moet baie onbeskof voorkom. Dis net dat u so . . . ”

Hy kom nader gestap. “Dat ek so wat?”

“U lyk so bekend en tog ken ek u nie.”

Hy steek sy hand uit. “Hofmeyr,” sê hy.

“Natuurlik.” Sy voel asof sy in die grond kan insink. “U is seker familie van dokter Hofmeyr, dis waarom u so bekend voorkom.” Sy skud sy hand. “Ek is Nicoline Kruger.” Die oomblik toe sy haar naam sê, hoop sy hy gaan nie sy seun vertel nie.

“Ek is Peter se vader,” sê hy hartlik. “Ons is in dieselfde professie.”

Hy is so tegemoetkomend dat sy nie kan help om van hom te hou nie. “Is u ook ’n neurosjirurg?”

“Nee, patoloog. Vanwaar ken u vir Peter?”

“Ek ken hom nie eintlik nie,” sê sy vinnig. “En dis ’n baie lang storie.”

Hy lag. “Ek het tyd. Ek moet hom hier ontmoet. Pa en seun gaan vanaand uiteet.”

Teen haar sin is sy gefassineer. Die arrogante man het dus familie – en nie net familie nie, maar ’n besonder liewe vader. Sy vertel hom kortliks hoe sy by Kurt Ollsen en dus by Peter betrokke geraak het.

“Ja,” sê hy belangstellend. “Hy het my van die geval vertel.” Hy knipoog guitig. “Maar nie van die mooi rooikop nie.”

Sy wil in die motor spring en wegry. “Hy sou nie,” sê sy. “Ons kom nie . . . ons is geneig om van mekaar te verskil.”

“Peter verskil altyd van almal,” sê hy. “Jy kan dit nie ernstig opneem nie. Gelukkig is hy die totaal teenoorgestelde met sy pasiënte. Die sagtheid vanself.”

“O, ek weet nie daarvan nie,” sê sy voordat sy haarself kan keer. “Hy het my redelik hardhandig behandel en toe boonop ordentlik siek gemaak deur sout in my tee te gooi.”

Hieroor lag hy so uitbundig dat hy sy sakdoek uithaal en sy oë afvee en aandring om die hele storie te hoor. “Maar dan ken julle mekaar beter as wat jy voorgee,” sê hy. “Waarom anders het hy by jou woonstel opgedaag?”

“O nee,” sê sy vinnig. “Dit was in verband met Kurt Ollsen. Hy, u seun, het nie geweet ek is siek nie.” Sy hoor voetstappe knars op die teer en swaai om. Peter kom na hulle toe aangestap met ’n vreemde uitdrukking op sy gesig. Sy retireer vinnig terug na haar motor toe.

“Middag, Pa,” sê hy en skud sy pa se hand. “Ek is jammer ek het jou so laat wag.” Maar terwyl hy praat, gly sy oë skerp van Nicoline na die ouer man.

“Jy kon langer weggebly het,” verseker sy pa hom. “Ek en juffrou Kruger het baie lekker gesels.”

“Julle het mekaar ontmoet?”

Sy sluit haar motor oop, gooi haar handsak in en tree vorentoe om die ouer man se hand te skud. “Tot siens,” sê sy vinnig voordat nog vrae gevra kan word. “Geniet u aand.” Sy skuif agter die stuurwiel in en wens hulle wil nie vir haar kyk nie, want om haar lang bene in te vou, is ’n kuns.

“Dis die mooiste meisiekind wat ek in baie jare gesien het,” sê die ouer dokter Hofmeyr en kyk sy seun ondersoekend aan. “Sy laat selfs ’n ou wewenaar soos ek goed voel.”

Peter maak vir sy pa die motordeur oop. “Sy het ten minste ’n dosyn mansvriende,” sê hy kortaf. “As dit besonder druk gaan oor ’n naweek moet sy hulle skeduleer sodat sy twee per aand kan inpas. Kom, ons moet ry.”

Nicoline ry huis toe en besluit dat sy haar lippe moet toewerk en haar gedrag verander. Sy praat te veel, sy vertel te veel, sy maak te gou vriende. Peter Hofmeyr se dunk van haar is klaar so laag, sy moes dadelik gery het toe sy uitgevind het dat die ouer man sy pa is. Dan haal sy haar skouers op. “Wat maak dit saak?” sê sy hardop. Hy is nie belangrik nie en sy is laat. Sy sal moet wikkel om reg te wees wanneer Neil kom.

Sy trek ’n nuwe uitrusting aan. ’n Liggeel gebreide pakkie, die rompie kort, die bostuk lank. Sy dink sy lyk mooi en toe sy Neil se gesig sien, weet sy hy dink ook so.

“Hoe gaan dit?” vra hy. “Jy lyk pragtig.”

“Dankie.”

Hy neem haar na ’n restaurant waar hulle lank en lekker eet. Sy geniet dit, soos sy altyd alles saam met hom geniet.

Dis nog betreklik vroeg toe hy haar terugneem huis toe en sy nooi hom in vir koffie en skakel die verwarmer aan. Toe die sitkamer warm word, trek hy sy baadjie uit en nooi haar om langs hom op die bank te kom sit. Sy weifel eers, besluit dan dat sy dit sal doen. Sedert die aand toe sy so siek was, het sy baie gedink. Sy voel steeds skaam oor die onbeheerste sensasies waarvan sy daardie aand bewus geword het, sensasies wat sy vir altyd dood gewaan het, maar dit het iets wakker gemaak. ’n Rusteloosheid, ’n vergete verlange na aanraking.

“Moenie so ver weg sit nie,” sê hy.

Sy skuif effens nader, nog op haar hoede. “Is jou koffie reg?”

“Soos altyd.” Hy steek sy hand uit, speel met die glansende hare in haar nek. “Is jy nou weer heeltemal gesond?”

“O ja,” verseker sy hom. “Ek is jammer ek het ons afspraak verlede naweek gekanselleer, maar ek het nog bietjie pap gevoel. Ek sou nie goeie geselskap gewees het nie.”

“Dit maak nie saak nie. Ek het saam met my neef gekuier.” Hy noem nie dat hy tog seergemaak was omdat sy hom so summier weggewys het nie. Hy wou kom kuier, al was sy siek. Juis omdat sy siek was. Hy sit sy arm om haar skouer en trek haar effens nader, versigtig om nie te vinnig te beweeg nie. Hy kan nie help om soos ’n skoolseun te voel nie. ’n Skoolseun wat vir die eerste keer sy meisie bioskoop toe neem en met hart en siel hoop sy gaan hom toelaat om haar hand vas te hou.

Nicoline bly sit. Haar eerste reaksie was om sy hand weg te stoot, maar aangesien sy besluit het om haar verharde emosies ’n kans te gee, byt sy op haar tande en bied geen weerstand nie. Sy tel nietemin haar koppie op en drink eers ’n slukkie.

“Nicoline,” sê hy intens. “Sit jou koppie neer en kyk na my.”

Sy gehoorsaam, draai haar kop en kyk hom vraend aan.

“Mag ek jou soen?”

Sy knik gelate. Hy trek haar nog nader, laat sak sy kop en soen haar. Sy wag dat iets moet gebeur, sy wil weer die warm, skokkende strome in haar lyf voel, maar niks gebeur nie, haar lippe bly onbeweeglik onder syne.

“Wil jy my nie terugsoen nie?” vra hy gekrenk.

Sy onderdruk ’n klein suggie en probeer weer, maar sy kan dit eenvoudig nie doen nie. Sy kan nie passie opwek waar daar niks is nie. As sy egter gehoop het hy sal daarin berus, het sy dit mis. Hy trek haar ru nader en begin haar soen met ’n hartstog wat haar verskrik. Sy probeer loskom, maar hy hou haar styf vas, sy soekende hande nou orals oor haar lyf.

“Nee!” hyg sy en ruk los. “Moenie dit doen nie!” Sy spring van die bank af op en bly in die middel van die kamer staan.

Hy leun terug op die bank en met sy een hand vee hy sy hare van sy voorkop weg. “Hoekom nie, Nicoline? Jy weet mos ek is lief vir jou.”

“Nee,” sê sy weer. “Ek het jou gewaarsku. Moenie dit doen nie. Moenie vir my lief word nie.”

“Wat is verkeerd met jou?” vra hy heftig, nie meer die broederlike man by wie sy so veilig voel nie. “Liewe aarde, hoe oud is jy? Byna dertig. Ons is volwassenes, Nicoline! Ons is nie twee lomp tieners op die agterste sitplek by die inry nie.”

“Niks is verkeerd met my nie,” sê sy koud. “Ek dink jy moet miskien nou huis toe gaan.”

“Nie voor ons hierdie ding uitgepraat het nie.”

“Wat is jou idee van uitpraat?” vra sy. “Om my teen my wil vas te trek?”

“Nee!” kreun hy en vee oor sy gesig. “Ek is jammer, maar jy is besonder naïef vir iemand van jou ouderdom.”

“Hou op om van my ouderdom te praat. Daar bestaan geen reëls wat sê wat ’n mens op ’n sekere ouderdom moet doen nie!”

“Hoe kan jy dan so naïef wees?” vra hy hard. “Ek is lief vir jou, ek wil jou hê. Ons is volwasse, ons weet wat ons doen.”

“Ek is nie so seker daarvan nie,” sê sy en haar stem bly koud.

Sy is nie net vir hom kwaad nie, sy is ook teleurgesteld in haar eie reaksies. Sy het gehoop hy gaan iets in haar wakker maak en dit het nie gebeur nie.

Hy tel sy koudgeworde koffie op en drink dit in een teug op. Sy kyk na hom, gaan dan versigtig oorkant hom sit. “Ek is jammer, Neil,” sê sy dan sagter. “Ek wou nie ons verhouding bederf nie.”

“En om my te soen, sal dit bederf?”

Sy knik. “Ja.”

“En jy beskou dit nie as onnatuurlik nie?”

Sy haal haar skouers op. “Ek kan dit nie help nie. Ek kan nie help as ek so reageer nie of so voel nie. Jy moet dit net verstaan.”

“Ek probeer,” sug hy. “Die hemel weet, ek probeer al baie lank.”

“Wat verwag jy dan?” vra sy. “Wil jy hê ek moet op my tande byt en toelaat dat jy doen wat jy wil?”

“Nee. Ek sou dit haat.”

“Gee my meer tyd. Gee my nog ’n kans. Ek hou van jou en ek geniet jou geselskap. Ons kan . . . ”

“Wat het gebeur, Nicoline?” vra hy sag. “Wat het gebeur om jou so te maak?”

Sy staan op, maak die koppies bymekaar en antwoord nie. “Dis laat,” sê sy. “Ek sal bly wees as jy nou ry. Dankie vir die lekker ete.” Sy bly staan totdat die deur agter hom toegeklik het. Toe druk sy haar hande oor haar oë en begin huil.

Dis nog skaars lig die volgende oggend toe is sy al wakker en trek haar sweetpak en hardloopskoene aan. Sy gryp haar motorsleutels en ry na die park toe naby Peter se huis. Dis nog baie koud en daar is bykans niemand in die park nie. Sy begin dadelik hardloop en teen die tyd dat sy die roete die derde keer omgaan, is dit asof haar kop begin ooptrek. Die swaar, dowwe gevoel van mislukking en tekortkoming begin lig, sy konsentreer op haar asemhaling, sy kyk na die voëls op die gras, sy voel hoe die bloed deur haar are bruis. Sy is nie eers regtig verbaas toe sy voetstappe agter haar hoor nader kom nie en ’n oomblik later draf Peter se lang gestalte langs haar.

“Jy’s vroeg op,” sê hy sonder om sy pas te vertraag.

“Jy ook,” sê sy en voel hoe sy moet uithaal om by te hou.

“Maar ek hardloop elke oggend so vroeg, tensy ek besig is en dit laatmiddag moet doen.”

Sy voel sy word moeg en begin stadiger hardloop. “Dis al my vierde rondte,” hyg sy.

Hy draf stadiger. “Rus hier, ek het nog maar pas begin.”

Sy bly staan en kyk hoe hy in die kronkel van die paadjie verdwyn. Sy buig vooroor, swaai haar arms en begin stadiger asemhaal. Daar is ’n houtbank teen die reling en sy sak daarop neer. Die son begin warmer skyn en sy gaan lankuit op die bank lê, haar gesig na die son gedraai, haar oë toe. Ná tien minute hoor sy hom weer verbykom. “Nog een,” hyg hy en sy luister hoe sy klappende voetstappe in die verte verdof. Sy voel vreedsaam en gelukkig. Al haar spiere voel moeg maar gesond, haar gesig is in die son, haar kop leeg.

“Jy lyk soos ’n boemelaar,” sê hy toe hy uiteindelik by haar aansluit. Sy asem hyg nog, hy doen weer sy rek- en strekoefeninge teen die reling. “Uitgestrek in die son op ’n parkbank.”

Sy lag en sit teësinnig regop. “Dit het my goed gedoen,” sê sy tevrede. “Ek sien nou kans vir die lewe.”

“Jy het dus nie vroeër so gevoel nie?”

Sy skud haar kop.

“Waarvoor het jy vandag weggehardloop?” vra hy belangstellend. Sy hare hang natgesweet oor sy voorkop.

“Mislukking,” sê sy kortaf.

Hy kyk haar aan met ’n onpeilbare uitdrukking in sy oë, maar lewer nie dadelik kommentaar nie.

“So vroeg op ’n Saterdagoggend?” vra hy dan. “Wat laat ’n mens dan al ’n mislukking voel?”

Sy maak net ’n beweging met haar hand. “Ek het my redes.”

“Natuurlik.” Hy vra nie verder uit nie.

Sy staan op, rek haar uit dat sy ril van die lekkerte en skud haar hare uit haar gesig. Dan begin hulle aanstap.

“Wil jy by my kom koffie drink?” vra hy onverwags.

“Nee dankie,” sê sy vinnig. “Ek wil gaan stort.”

“Ek het ’n stort. Twee, om die waarheid te sê. Ek het dit al vantevore aangebied.”

Sy glimlag. “Ek dink nie so nie.”

Hy bly staan. “Koffie dan. Ek skuld jou ’n soutlose koppie iets om te drink.”

Sy lag, die episode van die vorige aand vir die oomblik op die agtergrond geskuif. “Goed, ’n vinnige koppie koffie.”

Christine le Roux Omnibus 5

Подняться наверх