Читать книгу Christine le Roux Omnibus 5 - Christine le Roux - Страница 7

Hoofstuk 4

Оглавление

“Jy is vreeslik ingedagte,” verwyt Neil haar toe hulle ná die fliek sit en koffie drink. “Ek het nie gedink die fliek is besonder goed nie. Wat is dit daaromtrent wat jou so diep laat dink?”

“Dis nie die fliek nie, dis iets anders.” Sy glimlag, probeer haar aandag by hom bepaal.

“Vertel,” nooi hy. “Ek is altyd bereid om te luister en raad te gee as ek kan.”

“Dis die man wat langs my broer in die hospitaal gelê het. Hy is nog daar, dis my broer wat weg is.” Sy vertel kortliks wat met Kurt gebeur het en hoe sy betrokke geraak het.

Hy luister aandagtig. “Dis nie eintlik my terrein nie, soos jy weet. Ek werk met syfers, nie met mense nie, maar ek onthou tog dat . . . ” Dit lyk asof hy hard probeer om iets te onthou. “Wat was die mense se naam nou weer? In elk geval, dit was hulle kind. Dokters het ook hoop opgegee, maar die ouers het volhard. Hulle het aanhoudend met hom gekommunikeer al het hy nie gereageer nie. Vandag hardloop daardie kind rond asof daar nooit iets met hom verkeerd was nie. Ek sal vir jou uitvind. Miskien kan jy met hulle gaan gesels.”

Sy lyk verleë, ’n ongewone toestand vir haar. “Ek matig my seker aan,” erken sy. “Ek is nie familie van hom nie. Dis net dat iemand . . . iemand moet help. Die personeel kan onmoontlik heeldag langs sy bed sit en met hom praat.”

“Dit moet frustrerend wees vir hulle,” sê hy. “’n Mens weet tog hoe ’n dokter oor sy pasiënt voel.”

Sy verbaas haar oor sy insig. “Jy klink asof jy weet waarvan jy praat. Ek dog jy sê jy werk net met syfers?”

“Ek het familie in ander beroepe.”

“Ek begryp.” Nadat hy haar afgelaai het en sy gereed maak om te gaan slaap, erken sy dat Neil ’n baie gawe man is. Daar is iets gerusstellends omtrent hom, hy laat haar dink aan Dennis.

Die volgende oggend bel Neil haar en gee haar die naam en telefoonnommer van die mense na wie hy die vorige aand verwys het. “Ek het dit by Freek se meisiekind gekry,” sê hy. “Gaan gesels met die mense.”

“Wie’s Freek?”

“My neef.”

“Die een wat rooikoppe pes?”

“Einste,” lag hy.

Sy bel dadelik die mense, ’n vrou antwoord en toe sy verduidelik waarom sy bel, is die vrou meer as gewillig om haar te help. “Wanneer wil u kom?” vra sy.

Nicoline dink hard. “Ek werk bedags en direk na werk gaan ek hospitaal toe om met Kurt – die pasiënt – te gesels. Kan ek in my etensuur kom? Waar woon u?”

Die vrou gee haar adres en dis nie te ver nie. Op pad eet Nicoline sommer ’n toebroodjie in haar motor, maar toe sy daar kom, het die vrou ook broodjies en tee reggesit.

“U moes nie moeite gedoen het nie,” protesteer sy. Terwyl die tee geskink word, vertel sy baie kortliks hoe dit gebeur het dat sy van Kurt bewus geword het.

“Dis sleg,” sê die vrou dadelik. “Hy moet nooit alleen wees nie. As jy nie met hom praat nie, moet jy musiek speel.” Sy het ’n skraal, intense gesig; wanneer sy praat, brand daar ’n lig in haar oë en trek haar kakebeen saam van vasberadenheid.

“Vertel my alles,” sê Nicoline.

Die vrou sit terug in haar stoel en begin vertel. Nicoline luister aandagtig, verwonderd oor wat uitgerig kan word as ’n mens weier om op te gee. Hulle het beurte geneem, die vrou, haar man en ’n ouer suster. Wanneer die een die siek kind se bed verlaat het, het die ander een oorgeneem. Hulle het vir hom sy geliefkoosde stories vertel, musiek gespeel, liedjies gesing. Hulle het bandopnames gemaak van sy maats wat praat en dit vir hom teruggespeel. Hulle het volstrek geweier om te aanvaar dat hy nie gesond gaan word nie.

“Maande lank het ek gelyk soos iets wat uit die wasgoedmandjie gekruip het,” lag die vrou. “Ek het myself nie die tyd gegun om my hare te was nie.”

“Ek kan dit nie doen nie,” erken Nicoline. “Ek werk, ek kan net in die middae gaan.”

“Maak bandopnames,” stel die vrou voor. “Speel dit vir hom wanneer hy alleen is.” Sy gaan voort, vertel van die oomblik toe die kind die eerste keer gereageer het, van die lang pad na volkome genesing. “Dis nie so dat hy wakker word en meteens sy ou self is nie. Dit het maande van terapie gekos voor hy weer kon praat, loop, alles doen wat hy vantevore gedoen het.”

Die gesprek met die vrou bedruk Nicoline. Sy is gevul met bewondering vir die mense wat so hard gewerk het, maar terselfdertyd ook met ’n gevoel van ontoereikendheid en dit laat haar moedeloos voel. Die kind het sy ouers se stemme gehoor, dit was sy geliefdes wat die hele tyd by hom was. Bekende klanke en stemme het mettertyd tot sy bewussyn deurgedring. Dis nie die geval met Kurt nie. Hy ken haar van geen kant af nie. Haar stem is vir hom onbekend en die vreemde taal waarin sy praat, irriteer hom moontlik net.

Tog hou sy nie op om te gaan nie. Elke middag sit sy langs sy bed, hou sy hand vas, praat met hom. Saans, as sy nie uitgaan nie, begin sy bandopnames maak en ’n week later neem sy haar draagbare radio en oorfone saam hospitaal toe.

“Of jy hiervan gaan hou, weet ek nie,” sê sy vir Kurt toe sy alles op die bedkassie neersit. “Ek het geen idee waarvan jy hou nie. Klassieke musiek? Rockmusiek? Ek weet nie. Ek het vir jou stukkies van alles opgeneem. As iets jou irriteer, moet jy wakker word en so sê. Dan weet ek.” Sy het selfs ’n redelik ingewikkelde wetenskaplike bespreking oor die radio opgeneem. Vir haar klink dit soos Grieks, maar miskien weet hy waaroor dit gaan. Sy leun oor hom nadat sy die radio agter die bed ingeprop het en skuif die oorfone oor sy kop. Terwyl sy die sponsagtige oorfone mooi oor sy ore skuif, word sy bewus van ’n beweging agter haar.

Dis dokter Hofmeyr, die eerste keer in meer as ’n week dat sy hom sien. “En nou?” vra hy, sy stemtoon neutraal.

“Nou gaan ek vir hom musiek speel.” Sy kyk nie na dokter Hofmeyr nie, sy hou haar besig met die aanskakel van die band. “Ek wonder hoe hard moet ek dit stel.”

“Nie te hard nie.”

Sy gaan sit op die stoel langs die bed en tel Kurt se hand op. “As ek ’n stuk musiek opgeneem het wat jy nie kan uitstaan nie, moet jy my hand druk,” sê sy.

“Hy kan jou nie hoor nie. Hy het dan oorfone oor sy ore,” sê dokter Hofmeyr.

“Dit maak nie saak nie,” sê sy koppig.

Hy loop na die venster toe, leun met sy rug teen die ruit en vou sy arms. “Waarom doen jy dit?” vra hy, nie aanvallend nie, eerder geïnteresseerd.

“Omdat daar niemand anders is om dit te doen nie.”

“Is dit die enigste rede?”

Sy haal haar skouers op. “Dis voldoende.”

“’n Meisie soos jý . . . ” Hy laat die woord in die lug hang. “Jy het tog seker beter goed om te doen?”

Teen haar beste voornemens in word sy weer kwaad. “Wat bedoel jy met ’n meisie soos ek? Jy ken my nie, jy weet heeltemal niks omtrent my nie.”

“Dis waar,” erken hy.

Sy is verbaas dat hy so maklik toegee. “As ek hom skade aandoen, sê so. Jy is sy dokter. As jy dink dis verkeerd wat ek doen, sê so.”

“Nee, nee.”

Sy sit tevrede terug, nog steeds sonder om na hom te kyk.

“Watse musiek het jy vir hom opgeneem?” vra hy.

“Letterlik van alles, maar hoofsaaklik klassieke musiek. Hy lyk nie na die soort man wat sal hou van harde moderne musiek nie.”

“Sibelius,” merk hy op. “Finlandia. Dis ten minste uit sy geweste. Grieg.”

Sy draai haar kop. “Ek weet. Ek het dit ingesluit.”

“Ek sou dit wou doen, weet jy,” sê hy meteens terwyl hy deur toe loop. “Maar ek kan nie. Ek het my eie praktyk, my pasiënte hier . . . dis onmoontlik.”

Sy kyk op, verras deur die menslikheid van die opmerking. Maar hy is reeds by die deur uit.

Toe sy die volgende middag daar kom, is Dennis se bed weer gevul. Daar lê ’n ouerige man wat haar aan haar pa laat dink. Waarom hy daar is, wil sy nie vra nie. Hy lyk nie siek nie, om die waarheid te sê, is hy baie vrolik en joviaal. Hy stel belang in alles, wil Kurt se hele storie hoor en belowe op die plek om bedags die bande om te ruil sodat Kurt kan luister al is sy nie daar nie.

“Ek sal vir alles sorg, kinta,” sê hy. “Die man gaan nooit eers agterkom jy is nie hier nie.”

“Dankie, oom.”

Haar middagbesoeke is nou pure pret. Hendrik Meyer, die oom in Dennis se bed, kry nie veel besoekers nie. “Hulle bly almal te ver,” sê hy vir haar. “En dis ook nie asof ek siek is nie. Net toetse en nogmaals toetse.” Hy knipoog vir haar. “Jy kan nie glo wat hulle al alles met my gedoen het nie. ’n Kind soos jy sal jou doodskrik as ek jou moet vertel.”

“Ek is amper dertig,” vertel sy hom laggend. “Ek skrik nie maklik nie.”

“Nooit,” sê hy vleiend. “Jy lyk dan agtien.” Hy kyk op, sien dokter Hofmeyr nader kom en wend hom tot die hoër gesag van ’n dokter. “Is dit nie so nie, seunie? Sy lyk nie ’n dag ouer as agtien nie.”

Nicoline glimlag by die aanhoor van die “seunie”, maar voel verleë oor die ligsinnigheid van die gesprek. Dokter Hofmeyr antwoord ook nie, dis duidelik benede hom om so verspot te wees. Hy buig oor Kurt, lig sy ooglede en lyk gekweld soos altyd.

“Nog geen reaksie nie?” vra hy vir haar.

Sy skud haar kop.

“Maar ons peper hom nou,” sê Hendrik. “Ek het Nicoline belowe ek sal help. Wanneer die nursies bedags klaar is met sy oefeninge en dinge, vat ek hom. Ek speel sommer vir hom alles. Boeremusiek ook. Hy moet nou wakker word.”

“Dis al ses weke,” sê dokter Hofmeyr, meer tot homself. Hy knik vir haar en Hendrik en loop uit.

Meteens is al haar vrolikheid daarmee heen. Dis nie ’n grap nie, besef sy opnuut. Dis nie ’n speletjie nie, dis ’n baie ernstige saak. Sy bly daaraan dink toe sy later by die huis is en vir haarself ’n stukkie vleis gaarmaak. Die musiek alleen help nie. Sy moet iets doen, iets anders, iets drasties. Alhoewel sy reeds haar werksklere uitgetrek het en in haar kamerjas sit, staan sy skielik op, gaan trek ’n langbroek en trui aan, gooi haar jas oor haar arm en ry terug hospitaal toe.

Dis al bitter koud. Die aandlug sny oor haar gesig toe sy van haar motor af na die ingang van die hospitaal toe hardloop. Die personeel, wat haar al as deel van hulle beskou, lyk verbaas om haar so gou weer te sien.

“En nou?” vra die suster.

“Ek wil met Kurt – met doktor Ollsen – praat,” sê sy.

“Oom Hendrik slaap al,” sê die suster. “Hy word môre geopereer.”

Sy knik en loop met die gang af. Dis baie stil in die kamer. Hendrik Meyer lê op sy sy, weggedraai van haar. Hy snork liggies en sy trek die stoel versigtig tot teen Kurt se bed voordat sy gaan sit. Eers verwyder sy die oorfone, want die band het tog lankal afgeloop, dan tel sy sy hand op en hou dit styf vas. Sy buig oor hom sodat haar mond naby sy oor is en sy praat. Wat sy sê, weet sy nie. Sy pleit by hom, sy raas met hom. “Jou spiere is besig om in jellie te verander,” sê sy streng. “En jy lyk na ’n mooigeboude man, jy mag dit nie toelaat nie. Jy moet wakker word, Kurt! Druk my hand, Kurt! Wys vir my jy hoor wat ek sê!”

Daar is geen beweging nie, sy hand lê soos altyd stil in hare. Sy gee nie op nie, sy hou aan en aan totdat haar kop klop. Dit voel vir haar asof sy vir die eerste keer werklik met hom praat, asof die stilte en vreedsaamheid van die hospitaal in die nag meewerk. Niemand steur haar nie, niemand anders praat nie. Maar sy word moeg, haar stem word tam. Sy kyk op haar horlosie en sien dis byna elfuur. Sy sal moet huis toe gaan.

“Kurt,” sê sy, totaal moedeloos. “Hoekom wou jy jouself doodmaak? Was daar regtig niemand meer wat omgegee het nie? Hoekom het jy die rewolwer by jou gehad?”

Sy hand klem saam in hare, ’n krampagtige gebaar, die skraal vingers druk hare pynlik saam. Totaal oorstelp duur dit ’n sekonde voordat dit tot haar moeë brein deurdring en teen die tyd dat sy afkyk, lê sy hand weer slap in hare. “Kurt!” sê sy, haar stem ’n yl fluistering. “Jy het my gehoor! Jy het my gehoor! Druk weer my hand.” Dit voel asof haar oë aan die brand is soos sy na sy vingers kyk, maar die tweede keer is daar net ’n effense spiertrekking, nie die harde greep van vroeër nie. Sy spring op, gooi amper die stoel om en hardloop die gang af. Gelukkig dra sy haar drafskoene, die sagte sole maak bykans geen geluid nie.

“Suster!” hyg sy toe sy by die glashokkie kom. “Gee vir my dokter Hofmeyr se telefoonnommer! Gou! Ek moet hom bel.”

“Wat het gebeur?”

“Doktor Ollsen het my hand gedruk. Hy’t gehoor wat ek sê!”

Die suster lyk skepties, maar probeer dit wegsteek. “Dokter Hofmeyr is nog hier,” sê sy dan. “’n Noodgeval. Hy het geopereer. Ek het hom na die kafeteria sien stap.”

Sy hardloop met die gang af, haar sole piepend op die gepoleerde vloer. Die helfte van die kafeteria is donker. Net die tafels vir die personeel is verlig en behalwe twee verpleegsters wat in ’n hoek sit en fluister, is dit net dokter Hofmeyr wat vooroorgebuig by ’n tafeltjie sit. Sy storm na hom toe en hy kyk gesteurd op, kringe van uitputting onder sy oë.

“Hy het my hand gedruk!” sê sy. “Regtig! Hard, so hard dat dit seergemaak het!”

Hy lyk asof hy sukkel om te fokus. Hy knip sy oë, vee oor sy gesig en kyk weer na haar. “Wie? Ollsen?”

Sy dans omtrent op en af so opgewonde is sy. “Ja! Ek het teruggekom, ek sit al heelaand by hom en meteens . . . ” Sy vat aan sy arm, te bly om te besef wat sy doen. “Kom kyk.”

Hy loop agter haar aan, woordeloos. Hy vra nie uit nie en toe hulle in die kamer kom, loop hy na die wasbak toe, draai die koue kraan oop en skiet hande vol water in sy gesig. Eers nadat hy hom afgedroog het, sluit hy by haar aan. Sy het weer Kurt se hand in hare, sy praat met hom.

“Druk my hand, Kurt,” pleit sy. “Jou dokter is nou hier. Hy wil ook sien dat jy ons hoor.” Maar die hand bly leweloos in hare lê en trane van teleurstelling vul haar oë. “Hy hét,” sê sy, “jy moet my glo.”

Hy is besig om sy pasiënt te ondersoek, dit lyk nie asof hy haar eers hoor nie.

“Kurt,” sê sy hard. “Dit maak nie saak dat jy jouself wou doodmaak nie. Jy het nie daarin geslaag nie en ek is bly. Ons is almal bly.”

Dokter Hofmeyr staan stil langs haar, swyend kyk hulle hoe Kurt se hand om hare saamklem, net ’n kort oomblik lank, die vingers lomp, asof die spiere nie ordentlik wil werk nie.

“Sien jy?” vra sy in ’n fluisterstem, die trane nog op haar wange, maar haar bruin oë soos twee lampe in die skemer vertrek.

Hy vat aan Ollsen se hand, beweeg die vingers wat effens vertrek tot stilstand gekom het. “Ek sien.”

Sy is so bly dat sy nie weet wat om met haar hande te doen nie. Sy beweeg hulle in die lug, vou dan haar arms om haar bors omdat sy bewerig voel. “Hy het my gehoor.”

“Hy het,” stem hy saam. “Kom, ons kan buite praat. Hy is seker ook al moeg.”

Sy leun impulsief vorentoe en druk haar lippe teen Kurt se koel voorkop. “Lekker slaap,” sê sy. “Ek kom môre weer.”

Dokter Hofmeyr kyk haar aan met ’n onleesbare uitdrukking op sy gesig. Toe hulle buite in die gang is, voel sy asof sy wil dans en skree en jubel. “Is dit nie wonderlik nie?” vra sy. “Nou wil ek koffie hê.”

“Die kafeteria is nou toe.” Hy trek sy wit jas uit terwyl hulle loop. “As jy wil, kan jy agter my aanry, daar is ’n plekkie wat heelnag oopbly. Hier naby. Spesiaal vir ons klomp naguile.”

Sy doen dit, te bly oor Kurt om verbaas te wees oor dokter Hofmeyr se menslikheid.

“Ek moet jou gelukwens,” sê hy toe hulle oorkant mekaar sit. Hy vee oor sy oë, hy lyk vir haar te moeg om suiker in sy koffie te gooi.

“Ag,” sê sy, “ek het eintlik ook al begin moed verloor.”

“Maar waarom dít?” vra hy meteens. “Waarom vir hom sê jy weet dat hy homself wou doodmaak? Waar op aarde kom jy daaraan? Dit was ’n ongeluk. Het niemand jou vertel nie?”

Sy voel weer seergemaak deur hierdie aanval. “Ek weet wat gebeur het, maar Helmut het ’n ander teorie.”

“Helmut?”

“Meneer Aaken. Die konsul.” Sy vertel hom kortliks wat Helmut Aaken gesê het. “Ek het dit ook nie geglo nie, dis te vergesog, maar nou-nou . . . ek was so moedeloos omdat hy nie wou reageer nie. Ek het skielik gevoel soos my ma altyd gesê het.” Sy glimlag onseker. “Jy weet, ma’s sê altyd: nou het ek genoeg mooigepraat, nou straf ek.”

Hy sê niks nie.

“Weet jy waarvan ek praat?” vra sy. “Het jou ma dit nooit gesê nie? Wel, dis hoe ek vanaand gevoel het. Ek was moeg mooigepraat, ek het begin kwaai raak en soos jy sien, het dit die gewenste uitwerking gehad.”

“Inderdaad, ja. En juis daarom wil dit lyk asof Aaken nie ver verkeerd was nie, anders het Ollsen nie so hewig gereageer nie.”

Sy bestudeer haar perfek geverfde naels. “Maar daarmee kan ek nie help nie. Dis buite my ervaringsveld.”

“Vanselfsprekend. Wanneer hy eers regkom en begin praat, sal hy terapie ontvang.” Hy drink sy koffie, maar dit kikker hom nie op nie. Sy hare, gewoonlik so streng agteroor gekam, val oor sy voorkop. Hy lyk jonger, maar baie, baie moeg.

“Ek het gedink jy sal meer opgewonde wees,” sê sy.

“Ek is te moeg. Jy moet my vergeef. Ek ís bly, glo my.”

“Dan moet jy nou huis toe gaan,” sê sy ferm. “Gaan slaap.”

Hy gee ’n skewe glimlag. “Boelie jy mý ook nou?”

“Drink jou koffie klaar,” sê sy ongemaklik.

Hy stut sy kop op sy hand, vryf sy voor- en middelvinger heen en weer oor sy voorkop. “Mens is nie altyd suksesvol nie. Die pasiënt op wie ek vanaand geopereer het, het dit nie gemaak nie.”

“Ek is jammer,” sê sy opreg. “Ek het nie geweet nie.”

Hy haal sy skouers op. “Jong vrou. Motorongeluk. Sy was reeds . . . dit was eintlik verby voor ek . . . Maar ’n mens probeer tog.”

“Natuurlik,” sê sy simpatiek. “Nou moet jy gaan slaap.”

Hy haal geld uit sy binnesak en betaal. Sy das is half losgetrek, sy kan nie help om vir hom jammer te voel nie. Hy help haar om haar jas weer aan te trek en hulle loop terug na die motors wat agter mekaar geparkeer is.

“Het jy ver om te ry?” vra sy besorg.

“Nee.” Hy maak ’n vae beweging. “Dis hier naby.” Hy wag totdat sy haar motor oopgesluit het. “En jy?”

“Nie te ver nie.” Sy bly staan, half binne die oop deur van haar motor. “Ons het nog nooit ontmoet nie. Ek is Nicoline Kruger.”

“Ek weet,” sê hy. “Ek is Hofmeyr. Peter.”

“Ek weet,” sê sy. “Dankie vir die koffie. Goeienag.”

Hy klim in sy motor, skakel die enjin aan en ry stadig weg. Sy draai en ry in die teenoorgestelde rigting. Miskien was dit nie so ’n goeie idee om nou koffie te drink nie, dink sy terwyl sy ry. Sy voel wawyd wakker, al haar senu-eindpunte tintel asof sy onder ’n koue stort uit kom. Maar sy voel diep tevrede. Kurt moet haar hoor, al die weke se gepraat was nie verniet nie.

Christine le Roux Omnibus 5

Подняться наверх