Читать книгу Christine le Roux Omnibus 5 - Christine le Roux - Страница 4

Hoofstuk 1

Оглавление

Nicoline Kruger se hakke klik in die lang gang af. So ver as wat sy stap, draai mense se koppe, kyk hulle haar agterna, afgunstig of bewonderend. Sy dra ’n kort, bruin romp en mosterdkleurige leerbaadjie; haar lang, welgevormde bene eindig in hoëhakskoene wat haar dun enkels beklemtoon. ’n Paar jong dokters staar haar agterna, hulle pligte net ’n oomblik lank vergete, totdat sy by ’n deur inswaai en buite sig verdwyn.

“Haai,” sê sy vrolik toe sy langs haar broer, Dennis, se bed tot stilstand kom. Met ’n ongeërgde gebaar swaai sy haar skouersak van haar skouer af, glip dit oor die agterkant van die stoel en gaan sit, haar mooi bene gemaklik oor mekaar gevou. “Hoe gaan dit vandag?”

Haar broer grom. “Hoe dínk jy gaan dit? Ek voel oes.”

Sy leun oor, soen hom op sy voorkop en vee sy hare uit sy gesig uit. “Julle mans is so pieperig.”

“Wat weet jy?” vra hy onvergenoeg. “Was jý al ooit aan ’n hospitaalbed vasgekluister?”

“Ek kyk waar ek loop,” sê sy tergend. “Ek loop nie met my neus in die een of ander hofverslag onder ’n aankomende motorfiets in nie.”

“Skink vir my iets om te drink,” knor hy, trek homself regop en kyk haar op en af. Soos altyd beur dit hom op. Sy suster, van nature ’n brunet, het op die oomblik donkerrooi hare, uiters chic regaf onder haar ore geknip. Die blink, rooi hare val vorentoe, syerig en glansend. Aan haar ore blink groot goue ringe. “Jy lyk mooi,” sê hy teësinnig. “Maar is dit nodig om so ’n kort rok te dra? Jy sal die pasiënte ontstig.”

Sy gooi haar kop agteroor en lag uitbundig. “Ek het –”

“Sjuut,” waarsku hy, sy vinger voor sy mond. Met sy kop beduie hy in die rigting van die toegetrekte gordyn langs hom.

Sy draai haar kop, kyk na die gordyn en snap dat daar iemand op die bed agter die gordyn moet lê. “Het jy ’n kamermaat gekry? Nou kan ek nie langer op die leë bed lê nie.”

“Hy’s gisteraand uit intensiewe sorg hierheen oorgeplaas.”

“Wat makeer hom?” fluister sy nuuskierig.

“Ek weet nie. Ook ’n ongeluk, lei ek af. Hy’s in ’n koma.”

“Foei tog.” Sy klingel die goue armbande om haar pols en draai terug na haar broer toe. “Ek was gisteraand in ’n diskoteek. Kan jy nie sien hoe moeg lyk ek nie?”

“Nee,” sê hy suur, “jy lyk nooit moeg nie. Saam met wie was jy daar?”

Sy druk ’n lang rooi nael teen haar lippe. “Wat is sy naam nou weer? Richard. Ja, ek is seker dit was Richard. Of is Richard die een saam met wie ek Saterdagoggend gaan eet het?” Sy skud haar kop. “Ek weet tog nie. Hy kon in elk geval goed dans.”

Dennis skud sy kop. “Ma-hulle is reg. Hulle het jou vir die verderf grootgemaak. Wanneer gaan jy die lewe ernstig begin opneem?”

Sy grinnik. “As ek eendag oud is. Kan ek dit help as die mans my wil uitneem? Wie is ek om nee te sê? Dit het niks met die verderf te make nie, dis alles baie onskuldig. Ma-hulle weet dit, so jy hoef jou nie so heilig te hou nie.” Sy leun vorentoe, trek die ander stoel – eintlik bedoel vir die ander pasiënt se besoekers – nader en laat rus haar bene daarop. “Sjoe, hierdie hoë hakke kou ’n mens se voete. Terloops, Ma stuur soos altyd baie liefde en wil weet of sy nie iets kan stuur nie. Biltong, beskuit, waatlemoenkonfyt?”

“Ons kry darem kos hier.”

“Dis wat ek vir haar gesê het. Ek het haar ook verseker ek is elke dag by jou. Sy’s bang ek skeep jou af.”

“Dit is ’n wonderwerk dat jy tyd kry om elke dag te kom kuier,” stem hy saam. “Dis nou as mens in ag neem hoe sosiaal jy is. Ek voel geëerd dat jy die tyd kan afknyp.”

Sy steek haar hand uit, tik hom op die been. “Sarkasme gaan jou nie gouer gesond maak nie.” Sy kyk weer na die toegetrekte gordyn. “Waar is die man se besoekers?”

Dennis frons. “Daar was nog niemand by hom nie. Ek wonder waarom?”

“Ag,” sê sy lig, “ek sal sommer sy besoeker ook wees. Sê vir hom so wanneer hy weer kan praat. Wat is sy naam?” Sy leun agteroor, so ver dat die stoel amper omkantel. “Dink jy ek kan my hand deur die gordyn steek en gou op sy kaart lees?”

“Nico,” begin Dennis. “Moenie . . . ”

Op daardie oomblik flits ’n wit jas by die deur in, so vinnig dat hy eers tot stilstand kom toe hy byna oor Nicoline se uitgestrekte bene val.

“Oeps,” sê sy.

“Verskoon my,” sê hy koel en kyk betekenisvol af na haar bene wat sy pad versper.

“Jammer.” Sy swaai haar bene af, trek die stoel uit sy pad uit en kyk op. Dit moet ’n dokter wees, besluit sy. Hy is lank, skraal en dra ’n bril. Sy donkerblonde hare is dik en streng van sy voorkop weggekam. Meer kan sy nie inneem nie, want hy verdwyn agter die toe gordyn en ’n sekonde later sluit ’n verpleegster by hom aan. Nicoline kyk haar broer met groot oë aan. “Hy lyk wreedaardig,” fluister sy.

Hy glimlag en druk sy vinger teen sy mond om te wys sy moet stilbly.

“Jou blomme lyk treurig,” merk sy op en staan op om die snippermandjie by die deur te kry. Met flink vingers trek sy die dooie blomme uit en gooi hulle weg. “Dis tyd dat ek vir jou vars blomme bring,” sê sy op haar normale stemtoon. “Wat anders kan ek bring?” Sy kyk na die mandjie vrugte op die bedkassie. “Eetgoed het jy genoeg.”

“Ja,” sê hy. “Rosa het gisteraand ’n sjokoladeroomtert hier aangebring en die verpleegsters het dit saam met hulle tee verorber. Te ryk vir my, sê die suster.”

Nicoline se oë versag. Sy gaan sit weer en voel aan sy voorkop. “Maar gaan dit goed? Is alles besig om te heg wat moet heg?”

“O ja,” sê hy. “Moet nou nie moederlik raak nie. Dit pas jou nie.”

“Gemene ding,” lag sy en wens die dokter wil loop sodat sy nie so geïnhibeer hoef te voel nie.

Sy en Dennis verskil net agtien maande. Toe hy gebore is, het sy vas geglo haar ouers het hom gekry om geen ander rede nie as om haar van ’n lewenslange speelmaat te voorsien. Hulle is so na aan mekaar soos ’n tweeling. Sy het hom geleer driewiel ry, hy het haar leer motor bestuur. Hy het saam met haar pop gespeel toe hy klein was en sy het saam met hom krieket gespeel toe hulle ouer was. Wanneer sy haar knie nerfaf geval het, het hy saam met haar gehuil; toe hy sy arm gebreek het, was sy in sak en as en het haar eie arm ook in ’n verband laat hang sodat sy nie ’n onregverdige voorsprong moes hê in hulle speletjies nie. Hy het nie een van haar kêrels goedgekeur nie behalwe wanneer hulle ook sy maats was, en sy was op haar beurt hiperkrities oor sy meisies. Rosa is glad nie wat sy in gedagte gehad het vir haar broer nie, maar sy moes haar aanvaar omdat Dennis voel in Rosa het hy ’n lewensmaat gekry.

Daar is ’n ligte kloppie aan die deur en Rosa kom binne. “Praat van die duiwel,” sê Nicoline en trek die ander stoel nader. “Ek het nou net aan jou gesit en dink.”

Rosa soen Nicoline op die wang, soos sy altyd maak al het sy haar ’n dag laas gesien, en leun oor Dennis om hom op sy mond te soen. Sy kyk na die gordyn om die ander bed, hoor die stemme wat daar agter uitkom en kyk vraend na Dennis.

“Nuwe pasiënt,” sê hy in ’n fluisterstem. “Sy dokter is nou by hom ná Nico die man amper gepootjie het.”

“Ek sien.” Sy gaan sit langs die bed, tel sy hand op en kyk met ’n liefdevolle blik eers na hom en dan na sy suster.

Nicoline sug effens. Al Dennis se vorige meisies was meer soos syself: avontuurlik, modern, modieus, sportief. Toe hy met Rosa begin uitgaan het, was sy sprakeloos. Rosa is klein en fyn en vaal. Sy is ’n liewe mens, maar sy is vaal. Sy het vaal, kort haartjies wat Nicoline altyd laat jeuk om haar saam te sleep haarkapper toe sodat Jean-Paul iets wonderliks daarmee kan doen.

“Jy het eintlik ’n goeie figuur,” sê sy altyd vir Rosa. Sy weet, sy het Rosa al in swemklere gesien. “Laat ek jou saamneem winkels toe, jy sal jouself nie herken as jy daar uitkom nie.”

“Los haar,” sê Dennis dan altyd. “Ek is lief vir haar nes sy is.”

Nicoline moes maar daarby berus, al pynig dit haar om te sien hoe Rosa aantrek. Kleurloos, geen benul van wat haar pas of wat die huidige mode is nie. Sy trek aan om haar lyf te bedek, sy dra baadjies of truie omdat sy koud kry en sy gee glad nie om hoe dit lyk nie. Niks hoef by enigiets anders te pas nie, solank sy ordentlik geklee is. Nicoline weet dis nie belangrik nie; die feit dat Rosa sonder bedrog is, altyd positief en simpatiek, eerlik en ingestel op ander mense se gerief, is veel belangriker. Dis net dat haar hande soms jeuk . . .

Rosa is besig om Dennis uit te vra. Sy wil alles hoor: hoe hy geslaap het, wat hy geëet het, wat die dokter sê, wat sy vir hom kan bring of doen. Sy het sy pos saamgebring, want sy gaan elke middag na sy woonstel toe, gee sy plante water, stof af, kyk dat alles in orde is en haal sy pos uit. Om hulle meer privaatheid te gee, skuif Nicoline haar stoel agteruit en kyk by die venster uit. Dis herfs, maar die son skyn warm buite. Sy wonder wat sy vanaand sal aantrek, want die nuwe rekenmeester op kantoor het haar uitgenooi vir ete. Miskien die donkerpers baadjie met die . . .

Die volgende oomblik word sy van agter gestamp sodat sy amper van haar stoel af vlieg.

“Oeps,” sê die dokter wat met sy klaarblyklik gewone spoed agter die gordyn uitgehaas kom. Hy gryp na die rugkant van die stoel. “Ek is jammer.”

Nicoline kyk hom suur aan en stryk haar hare glad. “Nou’s ons kiets,” sê sy, maar hy is klaar by die deur uit en weg in die gang. Die suster wat agter hom aan stap, kyk haar streng aan, maar sê niks nie. “Mens is jou lewe nie meer seker in ’n voorstedelike hospitaalkamer nie,” sê sy vir Dennis.

Hy lag. “Jy’t begin.”

Nicoline staan op. “Ek gaan julle twee tortelduifies alleen laat. Ek moet my gaan regmaak vir vanaand se jolyt.”

“Wie’s dit vanaand?” vra haar broer. “Of kan jy ook nie sy naam onthou nie?”

“’n Nuwe een,” sê sy ongeërg. “Neil Jooste. ’n Mooi man en nie getroud nie.”

Rosa skud haar kop en glimlag. “Ek hoop julle geniet dit.”

“O, ons sal.”

Dennis bestudeer haar vanuit sy liggende posisie. Dat sy suster buitengewoon aantreklik is, sal niemand betwyfel nie. Te mooi om waar te wees, het een van sy vriende jare gelede gesê. Terwyl ander tienermeisies deur ’n onaantreklike stadium gegaan het – puisies, oorgewig, drade om die tande – het Nicoline net mooier geword. Van ’n klein dogtertjie met bruin hare en oë, het sy verander in ’n slanke langbeentiener met ’n vel soos ’n vroeë-appelkoos. Haar tande was egalig, haar hare was dik en blink, haar bene het net langer en mooier geword, en geen oortollige gram gewig het ooit om haar heupe of bobene saamgepak nie. Sy was in die skool se swemspan, het hokkie en tennis gespeel en akademies presteer. Seuns en later mans het voor haar geswig.

“Dis nie gesond nie,” het sy ma laas gekla toe hulle almal op die plaas was vir Kersfees. Hy het vir Rosa saamgeneem en Nicoline haar nuutste kêrel, ’n man wie se naam hy nie eers meer kan onthou nie omdat die flirtasie te kort geduur het. “Die kind neem die lewe te lig op.”

“Ag, tannie,” het Rosa op haar sagte manier gesê, “dit lyk maar so. Nico het net nog nie besluit wat sy van die lewe wil hê nie.”

“Dis wat ek bedoel,” het sy ma swaarmoedig gesug.

Want Nicoline is universiteit toe, het ’n graad in sielkunde behaal, toe net so van rigting verander, ’n sekretariële kursus gevolg en begin werk as die sekretaresse van ’n vooraanstaande nyweraar. Die feit dat sy hiervan ’n onmiddellike sukses gemaak het, het haar ouers nie getroos nie.

“Alles verniet,” het haar pa gebrom al was sy die appel van sy oog. “Drie jaar op universiteit en nou tik sy briewe.”

“Darem nie heeltemal nie,” het Rosa weer gesê. “Sy is omtrent in beheer van die firma as mens na haar baas luister. Die man is totaal versot op haar.”

“Dis die ergste van alles,” het sy ma gesê.

“Nee, tannie. Sy vrou is ewe erg oor Nico. En sy kinders. Sy het sy dogter gehelp met die keuse van haar matriekafskeidsrok, het haar hare en grimering gedoen en die kind was glo die mooiste meisie op die dans. Noudat die meisie op kollege is, help Nico haar met vakkeuses en sulke goed.”

“Maar wanneer gaan sy trou?”

Dit, dink Dennis, is wat hulle almal wonder. Hy is nou agt en twintig en hy en Rosa wil volgende jaar trou. Nicoline is amper dertig en sy hou geen kêrel langer as ’n paar weke nie.

“Hulle verveel my, Den,” het sy teenoor hom erken toe hulle twee een middag, soos in hulle kinderdae, afgestap het spruit toe. Sy ma het hom op die hart gedruk om tog ernstig met Nicoline te praat. Rosa het hulle taktvol alleen gelaat en Nicoline se nuutste kêrel – die arme man – het saam met hulle pa in die bakkie rondgery. Hy en Nicoline het langs die byna droë spruit op ’n bank plat klippe gaan sit. Hier het hulle as kinders klei gespeel, die plat klippe hulle werkstafel. “Weet jy hoe dit is?” het sy voortgegaan. “Die mans kyk met sulke skaapoë na my en ek verloor op die plek alle lus vir hulle.”

“Wat wil jy dan hê?” het hy gevra.

“Ek weet nie, maar ek kan jou verseker: ek sal weet as ek dit kry.” Sy haat dit om haarself te bespreek en neem gewoonlik haar toevlug tot lighartige, tergende opmerkings, maar daardie middag was sy ernstig. “Hulle raak nie verlief op my nie, Den. Hulle weet nie wie ek is nie. Hulle sien net my lyf raak of my bene. Hulle wil saam met my gesien word. Nie een van hulle weet wat in my kop aangaan nie en niemand stel belang om uit te vind nie. Hulle dink ek is ’n mooi vlinder en dis al wat hulle wil hê. Dis goed, hulle gebruik my en ek gebruik hulle.”

Die laaste opmerking het hom geskok. “Dit klink vreeslik, sus.”

Sy het haar skouers opgehaal. “Miskien.” Sy het haar kop gedraai, na hom gekyk onder die gordyn donkerrooi hare. “Ek slaap nie rond nie, boet. Sê dit maar vir Ma as sy jou vra. Ek weet wat ek wil hê en ek sal daarvoor wag. As ek sê gebruik, bedoel ek bloot ek gebruik hulle om my na al die restaurante en konserte en toneelstukke toe te neem. En as jy nog dink dit klink harteloos: wat van hulle? Hulle gebruik my ook net om ’n mooi meisie aan hulle sy te hê. Moenie dink ek val vir die vurige liefdesverklarings nie. Hulle bedoel dit nie.”

“Hoe seker is jy daarvan?” Die arme man wat so sonder ontsag op hulle pa afgeskuif was, het vir hom baie verlief en bedremmeld gelyk.

Sy het net haar skouers opgehaal en rondgesoek na plat klippies wat sy een vir een in die waterpoel laat plons het. “Ek is nie ondankbaar nie,” het sy voortgegaan. “Maar om baie mooi te wees, is dieselfde as om baie ryk te wees. Jy gaan nooit weet wie regtig van jou hou nie.”

Ná hierdie gesprek het hy sy ma probeer gerusstel sonder om alles te herhaal wat Nicoline vertroulik aan hom gesê het. Of dit sy ma getroos het, weet hy nie. Wat sy ma wil hê, is ’n getroude dogter, ’n rustige skoonseun wat by die gesin sal inpas en ’n paar kleinkinders wie se foto’s sy vir haar vriendinne kan wys. Of Nicoline ooit in so ’n patroon gaan pas, betwyfel hy.

“Sy’s ’n eksotiese voël,” het Rosa eenkeer vir hom gesê. “’n Paradysvoël en ek ’n vaal mossie, en weet jy wat die vreemdste is? In haar teenwoordigheid voel ek nie soos ’n vaal mossie nie, sy laat my eerder ook soos ’n paradysvoël voel.”

Dit is waar, moes hy tot sy verbasing toegee. Nicoline het baie vriendinne en almal is baie lief vir haar. ’n Mens sou verwag dat ander meisies haar as ’n bedreiging vir hulle sou beskou. Maar dit is nie die geval nie.

“Het ek ’n vuil kol op my voorkop?” onderbreek Nicoline sy gedagtes. “Jy staar na my asof ek ’n spook is. Het die haastige dokter my bloedneus geslaan?”

“Nee, nee,” sê hy vinnig.

“Is my hare te rooi?”

Hy lag, maar hou dadelik op toe hy voel hoe die steke saamtrek. “Moenie my laat lag nie, dit voel of alles in my losskeur.”

“Ek het net ’n vraag gevra.”

“Ek hou van jou rooi hare,” sê Rosa kalm. “Ek het dit vir jou ma ook gesê. Dit pas jou uitstekend.”

Nicoline swaai haar kop sodat haar hare heen en weer swiep. “Ek dink ook so. In my hart was ek nog altyd ’n rooikop.”

“Dis waar,” stem Dennis saam. “Veral as ek dink hoe jy baklei het toe ons klein was.” Hy kyk na Rosa. “Ek dink nie ek het dit al vir jou vertel nie – seker omdat ek nog steeds skaam is daaroor. In elk geval, ek was in standerd twee of drie en die klasboelie het my sonder ophou getreiter. Altyd my potlode of uitveërs gesteel, my toebroodjie uit my hand geklap – daardie soort ding. Hy was groter as ek en ek was bang vir hom, maar ek het nie besef my groot sussie weet van sy manewales nie.” Hy glimlag. “Tot hy weer een pouse my kosblik op die grond uitgegooi en my suster onverwags soos ’n arend met uitgestrekte kloue op hom neergedaal het.” Hy skud sy kop. “Glo my vry: hy het nooit weer geboelie nie. Wat hy vir sy ouers gesê het, sal ek nie weet nie. Dit het in elk geval gelyk asof ’n tierkat uit die bosse hom bespring het.”

“Jy was seker verlig,” sê Rosa besorg.

“Vanselfsprekend ja, maar ook baie skaam. Watse seun hou daarvan dat sy suster namens hom baklei?”

Nicoline lag, leun oor en soen hom. “Toe maar, op hoërskool het jy dieselfde vir my gedoen. Toe was jy die groot broer wat my opgepas het.” Sy soen vir Rosa ook. “Kuier lekker saam, ek sien julle weer môremiddag.” Sy knik in die rigting van die ander bed. “En as jou kamermaat wakker word, sê solank vir hom groete. As hy nog steeds geen besoekers het nie, sal ek sy besoeker word. Onthou jy hoe lekker het ek en jy altyd dokter en verpleegster gespeel? Jy wou al my poppe se lywe oopsny en ek het Ma se stryklaken om my kop gebind om soos ’n verpleegster te lyk. Gee my net kans.” Haar oë blink ondeund. “Ek dink ek sal nogal mooi lyk in ’n wit uniform. Wit kappie op my rooi hare. Hy sal sommer beter word.”

“Moenie my laat lag nie,” waarsku Dennis met ’n gepynigde grimas. “My steke . . . ”

Nicoline waai met haar hand en stap uit. Besoekers begin drupsgewyse uit die ander kamers en sale beweeg, want besoektyd is byna verby. By die glashokkie waar die suster altyd sit, bly sy staan om net gou te groet, want in die twee weke wat Dennis in die hospitaal is, het sy omtrent al die personeel leer ken. Die suster kyk egter nie op nie, sy is besig om iets te bespreek met die streng dokter wat vroeër agter die gordyn was. Op daardie oomblik kraak die interkom. “Dokter Peter Hofmeyr na Neurosjirurgie, dokter Peter Hofmeyr na . . . ” en teen dieselfde spoed as vroeër skiet die wit figuur by haar verby.

“Storm hy ’n mens altyd onderstebo?” vra Nicoline vir suster Verwey.

Die suster glimlag. “Was jy by jou broer?”

“H’m. Julle kyk mooi na hom, hy kan al amper lag.” Sy leun vooroor op die toonbank. “Hy het nou ’n kamermaat.”

Die suster se gesig verstrak. “Tragiese geval,” sug sy.

“Die wit gevaarte was nou-nou daar,” sê Nicoline. “Saam met ’n ander suster. My broer sê die man is in ’n koma.”

“Ja. Dis eintlik ’n . . . ” Voordat sy verder kan vertel, sien sy dat ’n rooi liggie voor haar begin flits. “Later,” sê sy en draf haastig met die gang af.

Nicoline stap na haar motor toe en klim in. Terwyl sy stadig in die middagverkeer aankruie, wonder sy: die pers baadjie met die pers-en-swart romp of die swart fluweellangbroek en wit bloes . . .

Christine le Roux Omnibus 5

Подняться наверх