Читать книгу Christine le Roux Omnibus 5 - Christine le Roux - Страница 5

Hoofstuk 2

Оглавление

Neil Jooste blyk ’n aangename verrassing te wees. By die werk het hy vir Nicoline ernstig en vernaam gelyk, maar in werklikheid is hy spontaan en net so uitgesproke soos sy.

“My neef het my gewaarsku teen rooikoppe,” sê hy voordat hulle die hoofgereg bestel. “Hy sê hulle is onbetroubaar en opvlieënd.”

“En wie’s jou neef om sulke veralgemenings kwyt te raak?”

“Ons is goeie vriende, hy dra maar net my belange op die hart.”

“Is dit so?” vra sy. “Hoe weet hy van my? Stuur jy nuusbulletins uit voor jy ’n meisie uitneem?”

“Ons het mekaar toevallig gister gesien. Ons ouma het verjaar.”

“Wel,” sê sy terwyl sy haar broodjie smeer, “dis ’n teorie wat ongegrond is. My hare is van nature bruin. My persoonlikheid kan nie juis verander na gelang van die spoelmiddel wat ek op my hare gebruik nie.”

Hy lag. “Jy stel my teleur. Ek was oortuig jy is ’n natuurlike rooikop.” Hy kyk haar nietemin so bewonderend aan dat sy vasgekeer voel. Maar toe hy haar later voor haar woonstel aflaai, sê hy bloot dankie vir die plesierige aand en probeer nie inkom of haar soen nie. Dit tel in sy guns, sy voel weer meer optimisties toe sy haar deur toesluit en gereed maak om te gaan slaap.

Sy weet wat haar familie van haar dink en waarom. Hulle probeer ook nie hulle gevoelens wegsteek nie, hulle konfronteer haar kort-kort oor haar alleenloperbestaan. Wat hulle nie besef nie, dink sy toe sy in die bad lê en skuimbolle tussen haar hande blaas, is dat sy daarvan hou. Sy kan haar nie in haar wildste drome voorstel hoe dit moet wees om ’n huis met ’n man te deel nie. Iemand soos Rosa kan dit doen omdat sy ingestel is op ander mense se welsyn; sy wat Nicoline is, is te selfsugtig. Dis wat haar ma sê en dis waar. Sy verdien ’n groot salaris, sy word hoog aangeskryf by die werk. Sy besit haar eie woonstel en haar eie motor. Sy hoef niemand se toestemming te vra as sy geld op iets wil spandeer nie; hoeveel sy in haar spaarrekening het, is haar eie saak. Wanneer sy soggens vroeg haar hardloopskoene aantrek en gaan draf, hoef sy nie te wonder of sy iemand steur nie; sy hoef nie betyds terug te kom om ontbyt vir iemand anders te maak nie. Sy is haar eie baas en sy hou daarvan. Sy is versot op haar onafhanklikheid en het geen begeerte om dit prys te gee nie. Veral nie vir ’n man nie.

Op universiteit het sy verlief geraak. Régtig verlief. Die man was ’n senior. Wat sy nie besef het nie, was dat die ouer studente haar reeds raak gesien het: die mooi eerstejaartjie met die ongelooflike bene. Dit het sy eers later uitgevind. Te laat. Sy was jonk genoeg om nog onseker van haarself te wees ten spyte van wat die spieël haar vertel het. En sy was gevlei. Die man was op die studenteraad, het in die eerste rugbyspan gespeel, hy was een van die sterre op die kampus. Dit het haar nie lank geneem om hopeloos verlief te raak nie. So verlief dat sy kop verloor het. Hy het in sy eie woonstel gebly, nog iets wat hom meer volwasse, meer selfstandig laat voorkom het. Sy was aan sy sy met elke studentebyeenkoms, die ander meisies groen van jaloesie. En toe hy een aand voorstel dat sy uitteken vir die naweek en by hom in die woonstel kom bly, het sy dit gedoen.

Nicoline reik na die handdoek oor die reling bokant haar en staan op. Bibberend van die skielike koue gryp sy na haar badjas en draai haar styf toe. Ná al die jare krap die herinnering steeds. Sy frons terwyl sy room aan haar gesig smeer. Op sigself was dit nie ’n traumatiese ervaring nie, daarvoor was sy te lief vir die man. Sy het gewillig naweke by hom gebly terwyl haar gedagtes die vasgestelde paadjies geloop het. Hy sal voor haar klaarmaak en begin werk. Intussen kan hulle solank verloof raak totdat sy ook afgestudeer is. Hulle sal trou en huis opsit en kinders kry. Sy was jonk. Totdat sy eendag voor hom by die woonstel aangekom het en ’n briefie op die deur gekry het. Gedagtig daaraan dat dit van hom was, het sy dit afgehaal en gelees. Dit was van sy beste vriend.

Het jy hulle al gemeet? het daar gestaan. Onthou, jy het nie die weddenskap gewen tot jy hulle gemeet het nie.

“Wat op aarde beteken dit?” het sy vir hom gevra toe hy by die woonstel aankom. “Wat moet jy meet? Watse weddenskap?”

Hy het dit probeer wegpraat, gelag, die briefie opgeskeur. “Studente-onsin,” het hy gesê. Niks met haar te doen nie. Vergeet daarvan. Sy het probeer, dit wás op stuk van sake onsin. Studente was altyd betrokke by weddenskappe, alles was ’n grap. Totdat hulle eendag langs die swembad gelê het, skuldig omdat die eksamen nader kom en hulle nie lus was vir studeer nie. Sy was bruin gebrand, hy ook. Hy het regop gekom, haar lenige lyf bewonderend aangekyk.

“Jy behoort in te skryf vir skoonheidskompetisies,” het hy gesê en speels met sy gespande hand langs haar bene af beweeg. “Jy het die langste bene was ek nog gesien het.”

Sy het luiweg onder haar halfgeslote ooglede deur na hom gestaar. Hy het nie net aan haar bene geraak nie, hy was besig om dit te meet.

Sy het regop gesit. “Wat maak jy? Waarom meet jy my bene?”

“Sommer. Om te sien hoe lank hulle regtig is.”

Dit was soos ’n klap in die gesig. Meteens het die briefie sin gemaak. Hy het dit natuurlik ontken, maar sy was buite haarself van woede en vernedering. Stukkie vir stukkie moes hy alles erken. Die ou manne, die seniors, het ’n weddenskap aangegaan: wie gaan die mooi langbeen verower?

Nicoline kyk afgetrokke na haar gesig in die spieël sonder om regtig iets raak te sien. Nou, byna twaalf jaar later, is sy volwasse genoeg om alles in perspektief te sien. Die man was tog lief vir haar. Dit het miskien as ’n koelbloedige weddenskap begin, maar hy hét sy hart op haar verloor. Maande lank het hy by die koshuis aangekom, by haar gepleit, om vergiffenis gesmeek, verwese rondgeloop. Toe sy geweier het om met hom te praat, het hy briewe geskryf. Elke dag nog ’n dik een. Die eerstes het sy gelees, later het sy dit gewoon opgeskeur. Vir die res van die wêreld het sy haar kop hoog gehou, met ander mans uitgegaan, maar diep binne-in haar was ’n klipharde, yskoue kol. Niemand het weer aan haar geraak nie. Sy het nie weer haar hart verloor nie. En die res van haar universiteitsjare het sy langbroeke gedra. Dis eers die afgelope paar jaar dat sy nie meer omgee nie. Bene is funksionele ledemate, gemaak om mee te stap of te hardloop. Sy gee nie ’n duiwel om wat ander mense daarvan dink nie, sy sal aantrek wat sy wil en behoed die man wat aan haar vat.

Dit is een van die redes waarom sy vir meneer York begin werk het. In haar finale jaar het sy vir heelwat onderhoude gegaan, maar wanneer die mans op ’n sekere manier na haar gekyk het, het sy nie meer in die betrekking belanggestel nie. Vir meneer York het sy ontmoet by ’n ete waarheen sy haar destydse mansvriend vergesel het. Sy het dadelik van hom gehou. ’n Effens verstrooide middeljarige man, skerp en intelligent ten spyte van sy voorkoms. Tydens die ete het hy gesit en kla oor sy sekretaresses wat so hopeloos is – hoofsaaklik omdat hulle trou sodra hy hulle opgelei het.

“Ek gaan nie trou nie,” het sy vir hom gesê. “Maar ongelukkig weet ek nie ’n snars van ’n rekenaar of tikmasjien af nie en het ek geen benul hoe ’n liasseerstelsel werk nie.”

“Loop ’n kursus,” het hy gesê. “Ek sal jou aanstel nes jy klaar is.”

Hy het sy woord gehou en sy was nog nooit spyt nie. Die man beskou haar as sy dogter, sy twyfel of hy ooit raak sien hoe sy lyk, wat sy dra of watter kleur haar hare is. Die man is skatryk, maar Nicoline en mevrou York moet saamwerk om te sorg dat hy nie elke dag dieselfde pak dra nie, dat die das met die vetkolle by die droogskoonmaker kom, dat hy onthou om sy hare te laat sny. Sy kinders het voor haar grootgeword, sy is deel van die gesin.

“Jy gaan ook trou,” het hy eendag bedruk vir haar gesê.

“Nee,” het sy hom verseker. “Nie sommer nie. Glo my.”

Sy en sy gesin se ondersteuning was van enorme hulp in daardie eerste dae na Dennis se ongeluk. Haar ouers het gekom, en hulle drie was omtrent heeltyd by die hospitaal. Noudat Dennis so goed vorder, is haar ouers terug plaas toe en sy weer op kantoor, maar sy sal nooit die Yorks se vriendelikheid en liefde vergeet nie.

Die volgende middag ry sy, soos sy nou al gewoond is, om vir Dennis te gaan kuier. Die eerste ding wat sy opmerk toe sy die kamer inloop, is dat die gordyn om die ander pasiënt se bed oopgetrek is.

“Hallo,” sê sy en soen haar broer. “Hoe gaan dit?”

“Goed. Slegte nag gehad, maar ek het heeldag geslaap en voel nou beter. Ek gaan heeltemal verroes,” kla hy. “Jy moes my vandag gesien het met my daaglikse oefenlopie die gang af. Nes ’n ou man. Pa loop regopper as ek.”

“Moenie so ongeduldig wees nie,” maan sy. “Jy kon dood gewees het.”

Sy gesig verhelder. “Die dokter reken ek sal volgende week huis toe kan gaan.”

“Dis wonderlik. Een van die dae draf jy weer saam met my.”

Hy glimlag suur. “Een van die weke, sou ek sê. Máánde.”

Sy knik in die rigting van sy kamermaat. “Ek sien die gordyn is nou oop. Het hy al bygekom?”

“Nee.”

Sy staan op, stap nader aan die ander bed en kyk af na die man wat daar lê. Hy is nie onaantreklik nie, moet sy toegee. Hy het dieselfde donkerblonde hare as sy dokter, maar daar hou die ooreenkoms op, hoofsaaklik omdat sy gesig so leweloos is.

“Hy haal self asem,” merk sy op.

“Ja, hy is hierheen gebring eers ná hy van die respirator afgehaal is.”

“En iemand het hom geskeer.” Sy bekyk die man krities. “Nie baie goed nie, maar tog.” Sy loop na die onderpunt van die bed toe en kyk na sy pasiëntekaart. “Kurt Ollsen,” lees sy hardop. “Nie ’n tipiese Suid-Afrikaanse naam nie. Het hy al besoekers gehad ?”

“Nee. Hy is ’n toeris,” sê Dennis. “’n Noorweër as ek die verpleegster reg verstaan het. Nie deel van ’n toergroep nie, blykbaar op sy eie. Sy sê die konsul was al hier. Hulle probeer sy familie opspoor.”

“Foei tog.” Nicoline kyk af na die man se gesig. Daar is donker kringe onder sy geslote oë en teen die kant van sy gesig is ’n dowwe kneusplek. As dit nie was vir die geringe deining van sy bors onder die stywe wit laken nie, sou ’n mens gedink het hy is dood.

“Was dit ’n ongeluk?”

“Blykbaar.” Dennis kom orent en skink vir hom ’n glas lemoensap uit die beker langs sy bed. “Een van daardie fratsongelukke. Hy het voor die hotel in sy stilstaande motor gesit. ’n Vragwa was besig om boumateriaal af te laai – ysterstawe en goed. Die hyskraan het gegly of ’n kabel het gebreek, die verpleegster is ook nie doodseker nie. Dit het in elk geval op die dak van sy motor geval net toe hy wou wegtrek en hy was vasgepen met ernstige kopbeserings – soos jy kan sien.”

Sy staan nog steeds na die man en kyk. “Ek is nie ’n dokter nie,” sê sy nadenkend, “maar in die stories wat ’n mens altyd lees oor sulke gevalle . . . behoort hy nie gestimuleer te word nie?”

Dennis gee ’n laggie. “Wat bedoel jy daarmee, sus?”

Sy gee hom ’n streng kyk oor haar skouer. “Sy brein moet wakker gemaak word. Hulle speel mos vir sulke pasiënte musiek en praat onophoudelik met hulle om hulle te probeer wakker maak. Mens lees gereeld van ouers wat geweier het om hulle kind se toestand te aanvaar en maande met die kind bly praat het tot die kind meteens wakker geword het. “

“Ja,” stem hy saam, weer ernstig. “Die verpleegster het dit ook genoem, maar vanselfsprekend het niemand hier die tyd om so iets te doen nie. Jy weet self: almal is oorwerk en dit net om na ons fisieke welsyn om te sien.”

“En hy het geen familie hier nie,” mymer sy. Sy tel sy hand op. Dit voel koud en leweloos. Swaar. “Meneer Ollsen,” sê sy, “jy is nie alleen nie. Daar is mense by jou wat jou wil help.”

“En wat,” vra ’n droë stem by die deur, “laat jou dink ’n Noorweegse toeris verstaan Afrikaans?”

Sy swaai om. Dis die dokter van die vorige middag en sy donker oë kyk haar sardonies aan.

“Die taal maak nie saak nie,” sê sy net so koel. “Solank hy weet daar is iemand hier.”

“Ons is hier.”

“En julle stel net in sy fisieke toestand belang.”

Sy wenkbrou skiet op. Hy stap nader en sy los die koue hand en retireer. “Ek het nie besef jy is ook ’n dokter nie,” sê hy.

Sy raak verbouereerd, maar wys dit nie. “Ek is nie ’n dokter nie. Ek is net jammer vir die man omdat hy niemand hier het om hom te help nie. Sy eie mense is so ver en –”

“Glo my,” knip hy haar kort en begin die gordyne toetrek. “Ons doen ons bes.”

Sy gaan sit stomend langs haar broer se bed, ’n diep frons tussen haar wenkbroue. “Wat ’n onplesierige man,” sê sy in ’n fluisterstem vir Dennis. “Die arme Kurt gaan nooit sy bewussyn herwin met so ’n dokter nie.”

Dennis lyk hoogs geamuseer, maar druk sy vinger teen sy lippe om te wys die dokter kan haar hoor.

“Bog!” sê sy, nog steeds ontstoke. “Ek gee nie om of hy my hoor nie. Ek is vreeslik bly jy het nie jou kop seergemaak nie, Den, anders was jy ook seker een van sy pasiënte. Hy is ’n voorbeeld van die soort dokter van wie ons in sielkunde geleer het. Die soort wat dink die liggaam is belangriker as die psige.”

Dokter Hofmeyr kom agter die gordyn uit en trek dit weer oop. “A,” sê hy met sy rug na haar. “Jy het dus sielkunde bestudeer. Ek staan terug voor soveel kennis.”

Sy wil stik van woede, maar kan nie ’n woord uitkry nie.

Net voordat hy teen sy gewone spoed by die deur uitloop, knik hy in die rigting van sy pasiënt. “Daar is jou pasiënt, juffrou,” sê hy met ’n stem wat kookwater sou kon laat vries. “Leer vir hom Afrikaans.”

Sy staar na die deur, haar mond halfoop. “Die vermetele . . .” begin sy.

Dennis druk sy hand teen sy maag, maar kan nie ophou lag nie. “O aarde!” hyg hy. “Dis ’n goeie ding my wonde het byna alles geheg anders moes ek nou van voor af steke kry. Jy het daarvoor gesoek, Nico. Dokter Hofmeyr is een van die mees vooraanstaande neurosjirurge wat ons het en jy het hom pas vertel hy weet nie wat hy doen nie. Wat verwag jy?”

Sy staan op, loop doelgerig terug na die lewelose figuur en tel sy hand op. “Meneer Ollsen,” sê sy ferm, “moet jou nie steur aan jou onsimpatieke dokter nie. Ek is hier en ek sal met jou praat.”

Dennis kyk nadenkend na haar. “Ek dink nie dit kan kwaad doen nie,” merk hy op. “Maar ek moet met dokter Hofmeyr saamstem: jy gaan wraggies nie tot hom deurdring as jy met hom praat in ’n taal wat hy nie verstaan nie.”

Sy draai haar kop en kyk hom streng aan. “Ek ken nie Noorweegs nie, watse keuse het ek? Solank hy net iemand se stem hoor, iemand se aanraking voel.”

Op daardie oomblik kom Rosa in. Sy kyk verbaas na Nicoline terwyl sy oor Dennis buk en hom soen. “Wat maak sy?” vra sy vir hom.

Hoogs geamuseer vertel hy haar wat pas gebeur het. “En moenie dink Nico voel skuldig of beskaamd nie,” eindig hy. “Die dokter was skaars uit toe hou sy weer die man se hand vas.”

Rosa staan skigtig nader, kyk af na die man. “Sies tog, die arme mens! Besoek niemand hom dan nie?”

Dennis bring haar vinnig op die hoogte van alles wat hy die vorige aand by die verpleegster gehoor het.

“Dis vreeslik,” sê Rosa. Sy is dadelik die ene simpatie. “Dit moet swaar wees om in so ’n toestand in die vreemde te lê met niemand om by jou te wees nie.”

“Ék is nou hier,” sê Nicoline. Sy buig laer af sodat haar mond by sy oor is. “Hoor jy my, Kurt? Ek is nou hier.”

Die ander twee bekyk haar in stilte. Dennis spot nie meer nie, hy loer deur nougetrekte oë na haar. Dan is dit asof hy tot verhaal kom, sy gesigsuitdrukking verander en sy oë word weer tergend. “Jy sal Noorweegs móét leer, Nico.”

“Moenie met haar spot nie,” kom Rosa tot haar hulp. “Kyk, as hy deur die land getoer het, soos die verpleegster sê, moet hy ten minste Engels kan praat. Hoe anders het hy reggekom?”

Nicoline trek die stoel nader, haar rug word seer om so ongemaklik gebuig oor die bed te staan. Sy gaan sit sonder om Kurt se hand te los en slaan met die grootste gemak oor in Engels. Sy werk nie verniet al byna agt jaar by meneer York nie.

“Ek sal jou vertel hoe dit hier lyk,” sê sy. “Dis ’n regte Transvaalse herfsmiddag. Jy sal natuurlik nie weet of dit tipies is of nie, aangesien jy net ’n besoeker is. Die son skyn, dis droog, maar daar is ’n byt in die lug. In jou land het dit seker al begin sneeu. Nee, natuurlik nie. By julle word dit nou lente. Jy lê in ’n kamer wat maar doodgewoon is.” Sy kyk krities om haar rond. “Liggroen mure, witterige gordyne. My broer lê op die bed langs jou. Hy’s ’n prokureur en so ’n toegewyde een dat hy nie kon ophou lees toe hy by sy kantoorgebou uitgeloop het nie. Hy is omgery.” Sy kyk vinnig na Dennis, haar oë vol lagduiweltjies. “Ja, ek weet dit was dom. Ons het almal so gedink. Hy is nietemin ’n gawe man en ek is seker as jy nie bewusteloos was nie, het julle lekker gesels, want hy is al baie verveeld met sy bestaan hier. Maar jy sal moet opskud, hy gaan volgende week huis toe. As jy ’n gesels wil inkry, moet jy vinnig wakker word.”

Die verpleegster wat dokter Hofmeyr die vorige middag vergesel het, kom binne om iets aan Kurt Ollsen se drup te verstel. Sy kyk Nicoline verstom aan, maar sê niks nie.

“Ek kuier bietjie by hom,” sê Nicoline vir haar. “My broer het sy verloofde en meneer Ollsen het niemand nie.”

“Ek sien,” is al wat die verpleegster sê voordat sy weer loop.

“Die hele hospitaal gaan van my suster weet,” sug Dennis.

“Wat is daar om te weet?” vra Rosa lojaal. “Sy doen hom nie kwaad nie en miskien registreer dit êrens in sy brein dat hy nie meer alleen is nie.”

Nicoline ignoreer hulle albei en ná ’n ruk gaan hulle voort met hulle eie gesprek en laat haar met haar eensydige dialoog. “As jy my kan hoor,” sê sy ernstig, “druk my hand.”

Die lewelose, bleek hand bly roerloos en swaar in hare.

“Dit maak nie saak nie,” sê sy. “Solank jy net luister.” Sy gaan voort met haar beskrywing van die kamer, die tuin buite, die blou lug, die droë blare wat rondwaai. “Snags word dit al goed koud buite,” sê sy. “Dis natuurlik nie vir jou vreemd nie. Jy kom uit ’n noordelike land, jy is gesout. Ons kry nie eintlik sneeu nie, behalwe op die hoë berge. Is dit waarom jy hierheen gekom het? Om die son te soek? Ek kan dit verstaan, ek hou self van die son. Ek het rooi hare,” voeg sy by, “maar nie die vel wat daarmee saamgaan nie. Ek word maklik en vinnig bruin.” Sy bestudeer sy lewelose gesig. Ten spyte van die ongesonde kleur kan ’n mens tog sien dat hy in die son was. Sy draai om en kyk na die ander twee. “Hoe oud skat julle is hy?”

“Dis moeilik om te sê,” huiwer Rosa. “Sy gesig is bewegingloos, mens kan nie sien of hy al plooie het nie. Ek dink hy lyk jonger as wat hy in werklikheid is.”

Nicoline staan op en bestudeer ongesteurd weer die pasiëntekaart aan die voet van die bed. Bykans alles wat daarop gekrap is, is onleesbaar en sy is seker dat selfs al sou sy kon uitmaak wat daar staan, sy niks daarvan sal verstaan nie. Sy naam en geboortedatum is egter in duidelike drukskrif geskryf. Sy kyk op, haar lippe beweeg soos sy somme maak. “Drie en veertig,” sê sy dan en gaan sit weer. “Hulle het dit seker in sy paspoort gekry.”

Dennis kyk haar tergend aan. “Hoekom kry ek die gevoel my suster het ’n doel in haar lewe gekry?” vra hy vir niemand in die besonder nie. “Dis weer van voor af die storie van die klipspringertjie.”

“Wat daarvan?” vra sy en staan op omdat die klokkie lui wat die einde van die besoektyd aankondig. “Hy’t bly leef, het hy nie?”

Hy knik. “Ja, my liefste suster, hy het. Ek terg jou net. Gaan voort.”

Christine le Roux Omnibus 5

Подняться наверх