Читать книгу Christine le Roux Omnibus 5 - Christine le Roux - Страница 9

Hoofstuk 6

Оглавление

Sondagoggend voel Nicoline se spiere seer. Dit verbaas haar, want sy is fiks. Sy skryf dit toe aan die laat nag, die feit dat sy moeg is, en aan die koue, bewolkte dag buite. Sy drink ’n hand vol vitamiene en woel in die woonstel rond sonder veel entoesiasme. Sy voel skuldig omdat sy nie by die hospitaal is nie, maar die eerste keer in weke is sy nie lus om langs Kurt se bed te sit nie. As die son geskyn het, het sy haarself moontlik gedwing om weer te gaan draf, maar sy het regtig nie krag nie en teen die aand voel sy slegter. Sy kry om die beurt warm en koud en haar keel brand. Omtrent almal by die werk het dié winter al griep gehad, maar omdat sy haarself as ’n uitsonderlik gesonde mens beskou, het sy haar nie veel daaraan gesteur nie. Sy kan nie onthou wanneer sy laas siek was nie, sy het nie eers ’n huisdokter nie.

“Dis seker ’n verkoue wat broei,” sê sy die aand vir Rosa toe sy bel om te gesels. “Almal het al verkoue gehad by die werk, dis seker onrealisties om te verwag ek moet vryspring.”

“En jy’s daagliks by die hospitaal,” voeg Rosa by. “Daar is tog ook allerhande virusse in die omtrek.”

Hulle gesels ’n ruk lank oor Kurt, en Rosa vertel hoe dit met Dennis gaan. Hy is terug by die werk en feitlik heeltemal gesond.

“En hy kyk nou waar hy loop,” lag Rosa. “Hoekom kom jy nie een aand hierdie week oor vir ete nie?”

“Dankie, maar laat ek eers sien hoe die verkoue ontwikkel. Ek wil julle nie aansteek nie.”

“Pas jouself op,” sluit Rosa af.

“Ek dink ek sal vroeg gaan slaap. Dis ongetwyfeld al wat dit is.” Nicoline lui af en gaan maak ’n blikkie sop oop. Sy is nie regtig honger nie, maar sy voel sy behoort te eet. Toe trek sy haar nagklere aan en gaan lê op die bank voor die televisie.

Sy slaap sleg en word ’n hele paar keer wakker. Dit voel asof haar keel toegeswel is, maar sy drink glase vol water en ’n pynpilletjie wat haar so laat slaap dat sy laat is vir werk die volgende oggend.

“Jy lyk kroeserig,” sê meneer York vir haar.

Sy blaas haar neus. “Dis net ’n verkoue. U weet ek glo nie aan siek word nie.”

“Dis winter,” sê hy. “Of ’n mens nou daaraan glo of nie, dis die seisoen van griep en verkoues.”

“Ek weet,” sug sy. “En ek het gedink ek spring dit vry.”

Sy kom moeilik deur die dag se werk. Haar kop voel dik en haar keel selfs seerder. Toe sy vir meneer York totsiens sê, gee hy haar een kyk en beveel haar om in die bed te bly vir die volgende paar dae.

“Ek kan nie,” protesteer sy. “Daar is baie werk en –”

“Iemand anders kan dit doen,” sê hy ferm. “Ek dink nie jy was in agt jaar al ’n week weg as gevolg van siekte nie.”

“Ek was baie weg ná Dennis se ongeluk.”

“Dis ’n ander saak. Toe, gaan klim in die bed. Nee, gaan sien eers jou dokter.”

“Ek het nie een nie,” lag sy. “Buitendien hardloop mens nie dokter toe met ’n verkoue nie.”

By die woonstel gekom, het sy nie eens lus om kos te maak nie. Sy rittel van kouekoors en klim in die bed nadat sy ’n koppie tee gedrink het. Sy voel half gegrief. Om siek te voel, is simpel. Sy skeep vir Kurt af, sy wil niks doen wat sy eintlik behoort te doen nie. Daar is klere wat by die droogskoonmaker afgehaal moet word, haar yskas is leeg, briewe lê onbeantwoord op haar lessenaar. Gelukkig het sy en Neil afgespreek om mekaar eers die volgende naweek weer te sien. Sy raak aan die slaap op die bank en droom vreemde, deurmekaar drome waarin sy en Kurt teen ’n sneeuhelling probeer uitklim terwyl Neil hulle van agter af aanhits.

“Kan jy nie sien ek is moeg nie?” vra sy gebelg en word wakker, haar nagklere deurdrenk van sweet. Sy strompel badkamer toe, drink ’n aspirien en klim terug in die bed. Haar keel voel egter baie dik en seer en sy staan weer op, drink nog vitamiene en slaap weer.

Teen Dinsdagoggend is sy baie bly meneer York het gesê sy moet in die bed bly, want alhoewel sy beter voel, is sy nie in staat om werk toe te gaan nie. Sy gaan bad, was haar hare en voel daarna weer so pap dat sy dadelik terugklim in die bed. By tye probeer sy lees, maar haar oë is seer en branderig. Sy trek later selfs aan en loop koulik na die apteek toe, wat gelukkig nie ver is nie.

“Ek het ’n nare verkoue,” sê sy vir die apteker en hy gee vir haar pille wat hy sê haar slymvliese sal opdroog.

Terug in die woonstel slaap sy soos ’n dooie en word teen die laatmiddag wakker. Sy voel asof sy aan die brand is van die koors en sy kan omtrent nie sluk nie so seer is haar keel. Sy drink lemoensap en water en gaan lê opgekrul onder haar duvet. Om die beurt kry sy so warm dat sy alles afskop, dan voel dit weer asof geen warmwaterbottel of kombers haar ooit weer warm gaan kry nie. Haar tande klap opmekaar en sy besluit om die volgende oggend ’n dokter te gaan soek. Dit moet meer wees as net ’n verkoue, haar keel is te seer en haar koors te hoog. Sy raak weer aan die slaap en is verwikkel in nog ’n vreemde, chaotiese droom toe sy die deurklokkie hoor lui. Eers dink sy dis deel van die droom, maar die hinderlike geluid raak nie stil nie en sy val struikelend uit die omgewoelde bed. Rosa, dink sy onsamehangend, dit moet Rosa wees wat kom kyk hoe dit gaan. Sy is verlig: Rosa sal weet waar om ’n dokter te kry, sy weet altyd alles wat ander mense kan help. Nicoline trek nie eers haar kamerjas aan nie, loop net so op haar kaal voete deur toe, haar hare woes om haar kop.

Maar dis dokter Hofmeyr. “Juffrou Kruger,” sê hy. “Goeienaand.”

Sy staar hom verdwaas aan. “Ek dog jy’s Rosa.”

“Nee,” antwoord hy kalm. “Ek is nie. Wie is Rosa?”

“Dennis se verloofde. My broer.” Sy begin bibber van die koue lug wat uit die gang kom. “Ek kry koud. Wat maak jy hier?”

Hy kom binne, druk die voordeur agter hom toe. “Jy was so opgewonde destyds toe Ollsen jou hand gedruk het dat ek gedink het jy sal wil weet . . . ”

Voordat hy sy sin kan voltooi, druk sy haar hand teen haar slaap en draai terug kamer toe. “Ek moet gaan lê,” mompel sy.

Hy loop agter haar aan, staan en kyk hoe sy onder die hoop komberse – bo-op die duvet gestapel – inkruip. “Jy is siek,” merk hy op.

“Net ’n verkoue,” mompel sy. “Wat wou jy vertel van Kurt?”

“Hy het vanoggend sy oë oopgemaak. Ek het verwag om jou vanmiddag langs sy bed te sien, maar die suster vertel my jy was Saterdag laas daar.”

“Ek is jammer,” sê sy tussen haar klapperende tande deur. “Onder die omstandighede het ek gedink dis dalk nie ’n goeie plan om my verkouekieme oor hom te blaas nie.”

“Kry jy koud?” vra hy en kyk krities af na die verwarmer. “Dis soos ’n hoogoond hierbinne.”

“Een oomblik kry ek koud, dan weer warm.”

Hy staan nader, bekyk die botteltjie pille langs die bed. “Is dit al wat jou dokter voorgeskryf het?”

“Ek het nie ’n dokter nie. Die apteker het dit gegee.”

Hy lyk ontevrede. “Wat bedoel jy jy het nie ’n dokter nie?”

“Ek word nooit siek nie, wat moet ek met ’n dokter maak?” Sy begin weer warm kry en stoot die beddegoed effens weg. “Vertel my van Kurt. Dis mos ’n goeie teken, is dit nie?”

“Baie goed. Ek is tevrede.” Hy buk oor haar en hou sy hand vlugtig teen haar voorkop. “Jy brand van die koors. Dis nie net ’n verkoue nie.”

Sy knik. “Ek het self so begin dink, ja. Ek sal maar môre ’n dokter soek.”

“Ek is nou hier.”

Sy lek oor haar droë lippe en steek haar hand uit na die glas water op die bedkassie. “Jy’s nie ’n huisdokter nie en ook nie myne nie.”

Hy antwoord nie dadelik nie; dis asof hy nadink oor wat sy pas gesê het. “Al het ek in ’n ander rigting gespesialiseer, het ek dieselfde basiese mediese kennis,” sê hy dan. “Glo my, ek weet wat ek doen.”

“Ek wil net slaap,” sug sy.

Hy buk weer af en met sy vingers betas hy die kliere agter haar ore en in haar nek. “H’m,” sê hy. “My tassie is nog in die motor. Ek het nie besef dit gaan ’n professionele besoek wees nie. Ek is nou weer terug.”

“Los my,” kla sy. “Ek sal môre dokter toe gaan.”

“Die Hippokratiese eed wat ek afgelê het, verhoed my om sommer weg te loop van ’n siek persoon,” sê hy koel.

Terwyl hy weg is, sluimer sy in. Sy is te koorsig en deurmekaar om regtig te weet wat sy voel en sy kan nie stry dat sy dankbaar is nie. Die man het haar al baie kwaad gemaak, maar wat sy op die oomblik nodig het, is ’n dokter en dis wat hy is.

Toe hy terugkom, is hy baie professioneel. “Lê soontoe,” gebied hy haar, “dat ek op die rand van die bed kan sit. Dis nie ’n hospitaalbed nie, my rug sal ingee as ek so gebukkend moet staan.”

“Dis my huis,” sê sy gebelg, maar skuif nietemin dieper in. “Jy kan my nie hier hiet en gebied nie.”

“Hou op praat.” Hy druk ’n koorspen onder haar tong in en tel haar pols tussen sy vingers op.

Sy moet noodgedwonge stilbly en sy moet erken: sy mooi, koel vingers op haar pols is ’n vertroosting. Hy frons toe hy die koorspen uithaal en lees.

“Dis gevaarlik om ’n hoë koors sommer net sy gang te laat gaan,” sê hy berispend. “Jy moes lankal by ’n dokter gewees het.”

“Hoe moes ek weet hoe hoog dit is? Ek besit nie ’n koorspen nie.”

“Een van jou vriende?” vra hy. “Een van jou talle vriende het sekerlik so iets.”

Sy vererg haar op die plek weer. “Sal jy ophou om te impliseer dat ek –”

“Maak jou mond wyd oop,” sê hy koel. “Ek wil in jou keel kyk.” Hy lig met sy flitsie in haar keel en klik sy tong. “Baie onverantwoordelik,” sê hy streng. “En dit van iemand wat altyd so beterweterig is. Was jou keel nie seer nie?”

“Natuurlik,” sê sy en druk haar hand teen haar keel. “En ek weet nie wie jy is om my te beskuldig van beterweterigheid nie. Jy is die onplesierigste dokter wat ek nog ooit geken het.”

“Ek dog jy ken geen dokters nie.”

“Oe!” Sy kners op haar tande en ruk die komberse weer tot onder haar ken. “Jy het nou jou diagnose gemaak, jy kan maar loop.”

“Ek is nog nie klaar nie.”

Dis meteens te veel vir haar. Dit grief haar diep dat sy so swak is, maar sy voel so miserabel dat al haar parmantigheid daarmee heen is. Sonder dat sy dit kan keer, rol warm trane oor haar gesig. “Loop!” sê sy gesmoord.

“Ek is jammer,” sê hy meteens op ’n heel ander stemtoon. “Ek is regtig jammer. Ons sal verder baklei wanneer jy weer gesond is.” Hy haal sy stetoskoop uit en begin haar nagklere voor oopknoop.

“Wat doen jy nou?” vra sy ontsteld en klou die voorpante vas.

“Ek moet na jou hart en longe luister,” sê hy redelik.

“Nee! Jy kan nie.”

Hy sit terug. “Hoekom nie?”

“Jy is nie . . . dis nie asof jy my dokter . . . ”

“Ja?” moedig hy haar aan. “As ek nie jou dokter is nie, wat is ek dan?”

Sy bly stil, want sy weet regtig nie wat om daarop te antwoord nie.

“Kom, juffrou Kruger,” sê hy. “Jy is nie ’n blosende tiener nie en jy was seer sekerlik al in jou lewe by ’n dokter.”

Sy gee die stryd gewonne, knyp net haar oë styf toe, maar toe die koue metaal van die stetoskoop teen haar bors raak, gil sy.

“Wat is dit nou?” vra hy. “Ek maak jou tog nie seer nie?”

“Dis koud!”

Hy lig die stetoskoop op en vryf die metaalskyf tussen sy hande warm. “Jammer. Is dit beter so?” Die volgende paar minute praat hy nie, vra haar net om diep asem te haal, op haar maag te draai, te hoes. “Ek is klaar,” sê hy dan. “Knoop maar toe.”

Sy doen dit, so oorhaastig dat sy sukkel met die knope. Hy is oor sy tassie gebuig en toe sy weer sien, hou hy ’n inspuitingnaald in sy hand. “Wat nou?” vra sy ontsteld.

“Nou gaan ek jou ’n inspuiting gee. Draai op jou sy en laat ons asseblief nie dit ook in ’n driebedryfdrama verander nie.”

Sy is te oorstelp om te protesteer, sy gil net weer toe sy die naald voel.

“Ek het kleuters wat makliker pasiënte is as jy,” merk hy op toe dit verby is. Hy haal ’n boekie uit sy binnesak, kyk daarin en tel die telefoon se handstuk langs haar bed op. Hy rammel iets af wat vir haar onverstaanbaar is en sit weer die handstuk neer. “Die apteek sal die antibiotika stuur,” sê hy. “Ek sal hier wag tot dit kom.”

“Dis nie nodig nie, ek kan loop tot by die voordeur.”

“Ek het niks beters om nou te doen nie,” sê hy kalm. “Dink jy ek kan vir ons gaan tee maak?”

“Gaan jou gang. Alles is in die kombuis.” Nadat hy weg is, lê sy en wroeg aan haar onstuimige gedagtes. Daar moet iets verkeerd wees, dink sy verward. Sy moet sieker wees as wat sy dink, want hoe anders kan sy verklaar hoe sy voel? Warm elektriese strome wat tot in haar tone skiet wanneer ’n dokter aan haar bors raak, is totaal onaanvaarbaar. Dit moet die koors wees. Sy ken nie sulke gevoelens nie, dis emosies wat sy twaalf jaar gelede diep begrawe het. Dis ou sensasies van jare gelede wat begin wakker word en sy sal dit nie toelaat nie. Onder geen omstandighede nie!

Hy kom terug met twee koppies tee en sit hare langs die bed neer. “Hoekom lyk jy so beangs?” vra hy. “Die antibiotika sal die mangelontsteking vinnig hokslaan. Jou longe is skoon.”

“Ek is nie beangs nie.” Sy sit regop en vat die koppie. Dit rinkel gevaarlik op die piering.

Hy gaan sit in die enigste stoel in die kamer. “Hoekom is jou mangels nooit uitgehaal nie?”

“Hoe moet ek weet? Ek was selde siek as kind. Ons dokter het dit seker nie nodig geag nie.”

“O, jy hét dus op ’n tydstip wel ’n huisdokter gehad?”

“Ja,” sê sy. “En hy was ’n baie liewe man wat altyd gewillig was om uit te kom plaas toe. Hy is nog steeds my ouers se dokter.” Sy kyk hom streng in die oë. “’n Liewe man,” herhaal sy. “Die soort dokter by wie ’n mens veilig voel. Vaderlik en simpatiek.”

Hy glimlag, iets wat haar so van stryk bring dat sy wens hy wil dit nie doen nie. Hy het nog nie sy tee gedrink nie, sit dit net afgetrokke en roer. “Ek aanvaar die berisping,” sê hy. “Maar ek is bereid om te wed jy was ’n veel inskikliker pasiënt in sy teenwoordigheid. Nie so deksels koppig nie.”

“Hy is die soort dokter wat ’n mens inskiklik laat voel,” kap sy terug. Om haarself te keer voordat sy meer sê, lig sy haar koppie en drink ’n groot sluk, maar die oomblik toe sy dit doen, stik sy, word rooi, druk haar hand voor haar mond en vlieg uit die bed uit teen so ’n spoed dat hy nie tyd het om te reageer nie. Die volgende oomblik hoor hy dat sy naar is en hy sit sy koppie haastig neer en hardloop agter haar aan.

Sy staan voor die wasbak en spoel haar mond met koue water uit. “Wat is dit?” vra hy, sit sy hand onder haar ken en lig haar kop op. “Jy het gesê jy is nie allergies . . . ”

“Die tee,” sê sy hygend en tap ’n vars glas water wat sy gulsig drink. Die hele voorkant van haar pajamabaadjie is papnat en klou aan haar lyf vas.

“Wat bedoel jy: die tee? Wat is verkeerd met die tee?”

Sy klappertand. “Wat het jy ingegooi?”

“Suiker en melk.”

Sy staan bibberend op die koue teëlvloer, haar arms om haar bolyf geklem. “In die blou potjie?”

Hy knik, ’n diep frons tussen sy oë. “’n Suikerpotjie,” sê hy beslis. “Met ’n suikerlepel in.”

“Dis sout,” klappertand sy. “Die pienk potjie is suiker.”

Hy gooi sy hande in die lug. “Waarom hou jy sout in ’n suikerpot? Hoe moes ek weet? Ek dog dis net baie fyn . . . ”

Sy begin bewerig terugstap. “Ek wil lê.”

Hy volg haar terug, sien dan die nat nagklere en keer haar voordat sy so in die bed klim. “Waar is droë nagklere?”

“Middelste laai.” Sy wens hy wil loop, die hele aand is besig om te veel te word, haar kop draai.

Hy trek die laai oop, haal skoon nagklere uit en kom terug. Sonder om te praat of toestemming te vra, trek hy die nat baadjie uit en die droë een aan. “Klim in,” gebied hy. Behendig lig hy die beddegoed op, skud dit reg, gooi dit oor haar en druk dit netjies onder die matras in. “Ek sal vars tee gaan inskink,” sê hy dan.

Sy skud haar kop. “Net water. Nie tee nie.”

Hy loop badkamer toe, kry nog water en bring dit vir haar. “Ek is regtig jammer,” sê hy. “Dit lyk my ek kan vanaand niks reg doen nie.”

Sy antwoord nie, krul haarself net in ’n bondeltjie op, haar knieë opgetrek tot onder haar bors.

“Is jy nou baie kwaad vir my?” vra hy.

“Nee.” Sy hoor hoe hy terugloop kombuis toe, hoe goed rondgeskuif word en toe hy terugkom, het hy vir homself vars tee geskink. Hy kyk op sy horlosie. “Die apteek moet nou opskud.”

“Ry,” sê sy vaak. “Ek wil jou nie ophou nie.”

“Dis die minste wat ek kan doen.”

Op daardie oomblik lui die deurklokkie en hy staan op. Sy hoor hom by die deur praat, maar dis asof die stemme baie ver weg is. Sy gee nie meer om wie inkom of wie praat nie. Sy voel net hoe sy weggly in ’n wonderlike rustigheid, ’n droomwêreld waarin sy nie meer verantwoordelik is vir haarself nie, ’n plek waarin iemand anders oorgeneem het.

“Hier is dit,” hoor sy sy stem weer. “Die instruksies is duidelik daarop geskryf. Elke ses uur. En drink baie water.”

“H’m,” sê sy sonder om haar oë oop te maak.

“En vergewe my, juffrou Kruger. Die tee was –”

“Jy kan nie,” sê sy deur dom lippe. “Nie ná . . . ”

Hy buig oor haar. “Ek kan nie wát nie?”

“Juffrou Kruger sê nie. Nie ná vanaand . . . ” Sy lek oor haar lippe. “Nicoline.”

“Nicoline,” herhaal hy. “En ek is Peter.”

Sy knik, want sy is al weer terug op die sneeubedekte hange waar Kurt nou met wyd oop oë na haar kyk. Sy is so bly dat hy so na haar kyk dat sy omdraai om te sien of Neil nog daar is sodat sy dit vir hom ook kan wys. Maar hy is nêrens nie, agter en om haar is net die spierwit ruimtes. “Neil,” fluister sy.

“Nee, Peter.”

Sy frons effens. “Hy moet sien dat Kurt . . . ” Sy gee die stryd gewonne, dis nou te moeilik om te verduidelik. Sy slaap liewer.

Christine le Roux Omnibus 5

Подняться наверх