Читать книгу Christine le Roux Omnibus 5 - Christine le Roux - Страница 6
Hoofstuk 3
ОглавлениеIn die volgende week dink Dennis dikwels aan die klipspringertjie. Hy en Nicoline was met vakansie op die plaas toe die beseerde bokkie daar aangebring is. Hulle pa het dadelik voorgestel dat die arme diertjie van kant gemaak word, dit sou die genadigste wees, maar Nicoline het absoluut geweier dat dit gebeur. Die bokkie se fyn beentjie is gespalk en sy wonde ontsmet en verbind. Nicoline het letterlik nie geëet of geslaap nie. Dag en nag het sy langs die diertjie gesit, kos en water in sy bekkie geforseer, druppel vir druppel. Niemand anders het gedink die bokkie gaan oorleef nie, maar sy het nooit hulle gevoel gedeel nie. Haar vasberadenheid moes wen en tot almal se verbasing het dit. Die bokkie het gesond geword, agter haar op die werf aangetrippel en is uiteindelik weer in die veld losgelaat.
Dit was nie die enigste geval nie. Daar was op ’n keer ’n halfdooie eendjie en ’n pasgebore babakatjie wie se ma dood is. Nicoline het hulle versorg. Wanneer dit by sulke gevalle kom, gee sy nie op nie.
Soos nou ook. Sy sit elke middag langs Kurt Ollsen se bed en praat met hom. Sy steek selfs vir hom, Dennis, aan. Aangesien hy nou op die been is en selde soggens besoekers kry, betrap hy homself dat hy nie die koerant in stilte lees soos sy gewoonte was nie, hy sit langs sy kamermaat se bed en lees al die belangrike berigte hardop voor.
“Ek gaan môreoggend huis toe,” sê hy die laaste middag vir Nicoline. “Wat gaan dan van hom word?”
“Ek sal nog kom,” sê sy verbaas. “Het jy gedink ek sal hom net los? Buitendien, my motor ry al vanself smiddae na werk hierheen. Ek kan nie meer onthou wat ek vantevore gedoen het nie.”
“Maar Nico,” sê hy nugter, “jy moet aanvaar dat dit dalk geen effek op hom het nie. Die verpleegster vertel my die prognose in gevalle soos syne is swak en selfs al sou hy sy bewussyn herwin, sal hy heel waarskynlik . . . wel, breinskade hê.”
“Bog,” sê sy kalm. “Mens moenie opgee nie. Hy kan nie vir homself baklei nie, iemand moet dit namens hom doen.”
“Ek stem saam en ek kan nie aan iemand beter as jy dink nie,” sê hy. “Dis net dat ek nie wil hê jy moet onrealisties wees nie.”
“Dennis,” sê sy, “kan jy onthou hoe jy daardie eerste paar dae na die ongeluk gevoel het?”
“Natuurlik. Ek was baie deurmekaar en alles was so seer en . . . ”
“Het jy geweet ons is by jou? Was jy bewus van Ma en Pa en my en Rosa?”
“Ja. En dit was baie belangrik vir my. Ek weet wat jy probeer sê, sus. Glo my. Ek wil net nie dat jy jou hart en siel in iets gooi wat geen . . . wat nie . . . ”
“Moenie jou oor my kwel nie,” glimlag sy. “As ek nie hier sit nie, loop ek tog net vir kwaadgeld rond.”
“Dis waar,” stem hy saam. Dan val sy oog weer op die blomme langs Kurt Ollsen se bed en hy glimlag.
Dokter Hofmeyr het nog nie weer tydens besoekure ’n draai kom maak nie, maar die vorige dag toe hy daar was om sy pasiënt te sien, het hy eers na die bos helderkleurige blomme langs die bed gekyk en toe na Dennis. “Jou suster?” het hy gevra.
Dennis het geknik.
“H’m,” het dokter Hofmeyr gesê en die gordyne om die bed toegetrek.
Dis vir Nicoline vreemd toe sy die kamer instap nadat haar broer weg is. Dit het so ’n bekende en gerusstellende ruimte geword. Sy het laas as kind so onbekommerd by haar broer gekuier soos hier. Nou is die bed leeg, netjies oorgetrek, onpersoonlik. Sy boeke en lêers, sy eet- en drinkgoed, die blomme, alles is weg. Die bedkassie blink leeg en funksioneel.
“Dis nou net ek en jy, Kurt,” sê sy en tel sy hand op. “Tot daar ’n nuwe pasiënt kom. Ek kla nie, jy het nooit vir Dennis gesien nie, maar glo my, hy is die beste broer wat ’n meisie kan hê. Ek het ’n duisend dode gesterf toe Rosa my daardie middag bel om te vertel wat gebeur het. Hy was so stukkend, en later die ene pype en goed.” Sy skud haar kop, kyk hom ondersoekend aan. “Ek het jou nooit in die eerste weke gesien nie. Jy het seker ook nie goed gelyk nie. Op die oomblik lyk jy nie sleg nie, net ’n bietjie bleek. Jy beter wakker word voor dit winter is anders gaan jy al jou sonbruin verloor.” Met haar vingertoppe raak sy aan sy slaap. “Die kneusplek is omtrent weg. Hulle skeer jou elke oggend, jy lyk glad nie sleg nie.” In haar hart dink sy dat hy, om die waarheid te sê, ’n besonder aantreklike man is. Sy speel met sy vingers. “Wat het jy gedoen, Kurt? Watse werk? Nie met jou hande nie, dis vir seker. Jou vingers is sag en fyn. Mooi hande.” Sy staan op. “Miskien staan dit op jou kaart.” Sy haak die pasiëntekaart af en begin lees en op daardie oomblik swiep dokter Hofmeyr se wit jas deur die deur.
“Dis persoonlike mediese gegewens,” sê hy, vat die kaart uit haar hand en kyk haar berispend aan. “Nie vir elke Jan Rap en sy maat om te lees nie.”
“Ek wou net sien wat hy doen,” sê sy seergemaak.
“Hy doen niks nie.”
Die gekwetste gevoel begin plek maak vir ergernis. Soos altyd. “Ek kan dit sien,” sê sy bitsig. “Ek bedoel watse werk hy gedoen het. Bloot te oordeel na sy hande . . . ”
“Behoede my,” sê hy. “’n Palmleser.”
Dis asof ’n wit lig voor haar oë flits so kwaad is sy. “Moet jou nie verspot hou nie,” sê sy. “Om ’n dokter te word, het jy ’n mate van intelligensie nodig. Jy weet wat ek bedoel.”
“Hy was ’n dosent,” sê hy sonder om op die belediging te reageer. “In fisika. Ek twyfel dus of jy wat vakgebied betref met hom kan kommunikeer.”
“Dit was ook nie my bedoeling nie,” antwoord sy kwaad, alhoewel dit wel was wat sy in gedagte gehad het.
“As jy my nou sal verskoon,” sê hy koud, ruk die gordyne om die bed toe en los haar langs die leë bed.
Sy gaan staan voor die venster, haar arms oor haar bors gevou, haar voet tikkend op die vloer. Buite word die bome kaler, die lug lyk stowwerig en rooi. Sy kyk op haar horlosie. Neil kom haar halfagt haal, hulle gaan fliek, maar sy het nog genoeg tyd. Sy moet net haar hare was en iets eet. Toe sy weer die geluid hoor van gordyne wat oopgeskuif word, draai sy terug.
“O, jy is nog hier,” sê dokter Hofmeyr vir haar. Hy lyk gekweld eerder as kwaad, asof hy van haar vergeet het, sy gedagtes besig met belangriker sake. “Jy kan maar oorneem.”
Sy bly staan waar sy is. “Ek het nie die minste begeerte om oor te neem nie. Kan jy nie verstaan dat dit nodig is dat iemand met hom praat nie?”
“Ek het natuurlik nie die tyd om geromantiseerde novelles te lees nie,” sê hy. “Of moet ek liewer sê, geromantiseerde verslae oor komas nie. Jy moet my vergeef.”
Sy byt op haar tande oor die sarkasme en reageer nie.
“Bly net weg van sy kaart,” waarsku hy. “Dis vertroulike inligting.”
“Ek is ook nie elke Jan Rap en sy maat nie,” kap sy terug. “As jy verby jou eie belangrikheid kan kyk, het jy dalk al opgemerk dat hier niemand anders is nie. Nie Jan Rap of een van sy maats nie. Dis net ek wat by hom sit. En jou handskrif is totaal onleesbaar. Jou inligting is veilig. Ek weet nie wat jy op laerskool geleer het nie, maar dit was beslis nie om mooi te skryf nie.”
Hy glimlag vir die eerste keer en dit, meer as sy vyandigheid, maak haar stil. Om sy oë en langs sy mond verskyn klein lagkreukeltjies, dit transformeer sy hele voorkoms. “Dit hang natuurlik alles af van hoe ’n mens oor sulke dinge voel,” sê hy. “Vir party mense is voorkoms belangriker as inhoud.” Toe swaai hy om en verdwyn in die gang af.
Sy gryp Kurt se hand vas en druk dit so hard dat hy sekerlik sou protesteer as hy wakker was. “Oe!” sê sy tussen geklemde kake deur. “As ek nie so vasbeslote was om jou te probeer help nie, Kurt, het ek nou geloop en nooit weer teruggekom nie. Jou dokter is . . . Wel, ek veronderstel hy het jou tot hier gehelp, maar glo my, as ek jy was, het ek ’n ander een gekry.” Sy swaai om toe sy voetstappe by die deur hoor, voorbereid om die rusie voort te sit. Maar dis nie weer dokter Hofmeyr nie, dis ’n jong man met vlasblonde hare wat haar vraend en verras aankyk.
“Aangename kennis,” sê hy. “Ek het nie besef . . . Is u ’n kennis van doktor Ollsen?”
“Soort van.” Sy staan op, steek haar hand uit. “Nicoline Kruger.”
“Helmut Aaken,” sê hy en haal ’n kaartjie uit sy binnesak.
Sy lees dit, frons effens omdat sy nie haar bril op het nie. “A, die konsul. Ja. Ek is baie bly om u te ontmoet, want daar is nogal baie wat ek u wil vra.”
Hy loop nader na die bed, kyk af na die lewelose man en lyk bekommerd. “Nog geen verbetering nie,” sê hy.
“Nee,” erken sy. “Maar dis nog te gou. Ek gee nog lank nie moed op nie.”
Hy kyk na haar asof hy nie verstaan wat sy bedoel nie. “Het u hom hier ontmoet? Ek is baie bly, want ons soek . . . ”
Sy wys na die bed. “Ek het hom letterlik hier ontmoet. Wel, jy kan nie sê ontmoet nie, want hy het my nog nooit gesien nie. My broer was in die ander bed, dis hoe ek van meneer . . . ek bedoel dóktor Ollsen bewus geword het. Ek het vir hom jammer gevoel omdat hy nooit besoekers kry nie en ek voel dis belangrik dat iets hom moet prikkel om wakker te word. Iemand moet met hom praat.”
“Ek sien,” sê hy. “Wel, dis ’n verligting om te weet hy is nie alleen nie.” Hy steek sy hand uit. “Totsiens, juffrou . . . e . . . Kruger.”
“Wag,” sê sy en gryp haar handsak van die rugleuning af. “Is u haastig?”
Hy kyk op sy horlosie. “Wel, nee . . . ”
Sy vat hom aan die arm. “Kom, ek sal vir jou . . . ek bedoel, ek sal vir u koffie in die kafeteria gaan koop. Ons moet gesels.”
Effens verdwaas stap hy saam met haar. “Noem my gerus Helmut,” sê hy toe hulle met hulle koffie gaan sit.
“En ek is Nicoline.” Sy glimlag vir hom, ’n stralende glimlag wat maak dat hy van sy koffie in die piering stort. “Om mee te begin: het jy enige idee van watse soort musiek hy hou?”
“Nee,” sê hy verward. “Ek ken hom glad nie. Ek bedoel, ook nie voor die tyd nie. Ons is in kennis gestel toe hy in die hospitaal opgeneem is.”
“Waar’s sy ouers?”
“Albei oorlede.”
“Susters, broers?”
“Geen.”
“Liewe aarde,” sug sy, “ek kan sien ons het ’n probleem. ’n Vrou? Kinders?”
“Nee. Hy is geskei, ons kan nie sy gewese vrou opspoor nie. Sy woon êrens in Europa. Hulle het nie kinders gehad nie.”
“Het hy werklik niemand nie?” vra sy verstom. “Is dit wat jy sê? Nie eens ’n goeie vriend nie? ’n Kollega?”
“Vanselfsprekend het hy kollegas,” sê hy. “Maar dis baie gevra om te verwag hulle moet al die pad hierheen vlieg net om langs die bed te sit van ’n man wat . . . wel, ’n man wat nie eers sal weet hulle is hier nie.”
“Ek verstaan,” sê sy nadenkend. “Hoekom het hy hierheen gekom?”
“Dit weet ons nie. Hy het drie weke lank deur die land getoer, die gewone plekke: Wildtuin toe, Kaap toe, Suidkus . . . ” Hy haal ’n pakkie sigarette uit en bied dit vir haar aan. “Rook jy?”
Sy vat een. “Net so af en toe.” Sy leun oor dat hy dit vir haar aansteek. Met haar een hand moet sy eers die blinkrooi gordyn hare uit haar pad stoot en dit maak hom so verbouereerd dat sy hand bewe. “Dankie.”
“Daar is iets . . . ” begin hy onseker. “Ek weet nie of ek dit behoort te noem nie.”
“Noem,” sê sy beslis. “Enigiets wat kan help.”
“Sy sake was alles in orde – onnatuurlik in orde. Sy vliegkaartjie was eers vir drie weke later, hy sou nog ’n week in die hotel bly en tog was al sy klere ingepak. Alles. Daar was nie eers ’n tandeborsel in die badkamer nie.”
“Hy het seker van plan verander,” sê sy redelik. “Hy was dalk op pad na ’n ander plek.”
“Sy bagasie was in sy kamer, nie in sy motor nie. Die hotel was betaal, sy sleutel by die toonbank ingehandig.”
“Ja?” sê sy. “Miskien sou hy eers later vertrek het.”
Hy skud sy kop. “Ek weet nie. Sy bagasie was netjies bymekaar en bo-op was ’n koevert met sy mediese versekering en . . . ”
Sy leun terug in haar stoel, die sigaret tussen haar vingers, ’n frons tussen haar oë. Voordat sy iets kan sê, hoes iemand oordrewe hard agter haar en sy kyk om. By die tafel agter haar sit twee dokters en die een naaste aan haar is dokter Hofmeyr. Hy waai die rook weg, kyk na haar met sy koue, donker oë en hoes weer.
“Ek is –” begin sy.
“Rook is sleg vir jou gesondheid,” sê hy. Hy kyk verby haar na Helmut en knik beleefd. “Meneer Aaken.”
Nicoline draai terug en druk die sigaret ergerlik dood. “Die man kan nie ophou om my te verpes nie,” sê sy.
“Dis dokter Hofmeyr,” sê Helmut in ’n fluisterstem. “Hy is regtig ’n uitstekende neurosjirurg, ons kon nie vir beter gewens het nie.”
“Almiskie,” sê sy koud, hoor hoe ’n stoel agter haar skraap en is bly om te sien die dokters loop uit. “Waar was ons? Jy sê, jy impliseer . . . Dit kan tog nie wees nie? Dink jy hy wou homself . . . ? Nee!” Sy druk albei hande beslis op die tafelblad. “Hy is dan beseer toe ysterstawe of iets op sy motor geval het. Hy kon dit tog nie voorsien het nie? Dit was ’n vreeslike ongeluk. ’n Frats.”
“Daar was ’n rewolwer in sy baadjiesak.”
Haar oë rek wyd. ’n Lang ruk sit sy net na hom en kyk. Dan skud sy haar kop. “Ons leef in gevaarlike tye. Die meeste mense het deesdae skietgoed by hulle. Dis geen bewys nie.”
“Ek weet,” gee hy toe. “Dis waarom ek aan die begin gesê het miskien behoort ek dit nie eers te noem nie. Dis net dat alles té netjies, té afgerond is. Daar is selfs ’n afskrif van sy testament in sy briewetas. Glo my, daar is nie een enkele los draad nie. Alles wat hy nagelaat het, dui op ’n man wat van plan was om . . . ”
Sy leun vorentoe. “Ek weet darem nie. Bestaan sulke toeval? Kom ons veronderstel jy is reg. Die man is te eensaam. Daar is niemand wat omgee nie, geen vrou of kind nie. Hy gaan hou vakansie in ’n land baie ver van sy eie af en hier word die eensaamheid te veel vir hom. Hy besluit om ’n einde aan sy lewe te maak. Hy koop ’n rewolwer, bring al sy sake in orde. Geen los drade nie, soos jy gesê het. Hy pak alles in en betaal die hotel. Klim in sy motor om . . . wat? Homself daar en dan te skiet of êrens anders heen te ry en dit daar te doen? En voor hy kan wegtrek, val ’n lading yster op sy motor en verpletter dit. Nee, dis te toevallig.”
“Ek weet. Ek gee toe dat dit vergesog is, maar jy moet erken dat vreemder dinge as dit al gebeur het. En ek kan verkeerd wees. Daar kan ’n ander rede wees vir sy optrede.”
Sy sit diep ingedagte en dink oor alles wat hy gesê het. “As dit so is,” sê sy dan, “en ek dink steeds dis nié, gaan dit nie help om hom te laat herstel nie.”
“Hoekom nie?”
“As hy wou dood wees, gaan hy hom nie haas om gesond te word nie.”
“Hy’s in ’n koma. Hy dink heeltemal niks nie.”
“Hoe weet ons dit? Die breinbloeding of drukking of wat ook al moet tog stadig beter word. Dis moontlik om gesond te word.”
“Ek weet nie,” erken hy. “Ek is nie ’n dokter nie.”
“Ek ook nie.” Sy kyk op haar horlosie. “Haai, ek kan nie heelmiddag hier sit nie, ek moet huis toe gaan. Sê my net tog iets: kon hy Engels praat?”
“Ek veronderstel so,” sê hy huiwerig.
“Afrikaans definitief nie,” sê sy beslis.
“Nee, seker nie. Miskien het hy ’n woord of twee opgetel, ons tale is tog nie so ver van mekaar verwyder nie.”
“H’m,” mymer sy. “Waar kan ek ’n woordeboek kry? Noorweegs en Engels.”
“Ek het een.”
“Mag ek dit by jou leen?” Sy gee hom haar skitterende glimlag. “Ek het mos jou kaartjie. Ek sal jou bel.”
“Natuurlik,” sê hy, weer uitgeboul deur haar voorkoms. “En ons waardeer dit regtig dat jy so . . . betrokke geraak het. Ek het my tog so oor hom bekommer.”
Sy staan op, glip haar handsak oor haar skouer en skud sy hand. “Dankie vir die inligting en die koffie. Ons sal mekaar seker weer sien.”
“Ek hoop so.”
Sy stap vinnig deur die gange na die uitgang. Dis al amper donker en sy skrik toe sy sien hoe laat dit is. Sy sal moet wikkel of sy gaan nie betyds klaar wees wanneer Neil haar kom oplaai nie. Maar wat sy nou uitgevind het, is belangriker, dink sy terwyl sy aanstryk oor die parkeerterrein na haar motor toe. Wat Helmut Aaken haar alles vertel het, het haar gehelp. Sy sal hard daaroor moet nadink. Terwyl sy loop, vroetel sy afwesig in haar handsak na haar motorsleutels. By die motor gekom, vat sy dit raak tussen die rommel en pluk dit uit. Ongelukkig het die sleutel verstrengel geraak in die koord wat aan haar donkerbril vas is en toe sy dit ongeduldig ruk, val die sleutel uit haar hand en onder die motor in.
“Deksels!” sê sy vies. Sy trek haar kort romp hoër op en kniel op die teer langs die motor. Dis so donker dat sy fyn moet kyk voordat sy die sleutels sien blink en kan nader trek. Die gruis druk in haar knieë en sy voel die kielierige gevoel soos haar kous skeur en begin leer. Net toe sy regop kom, haar bene uitgestrek soos ’n kameelperd wat water drink, kug iemand agter haar. Verskrik swaai sy om, haar hand nog op haar knie waar die fyn swart kous nou ’n pienk gaatjie het.
“Wat máák jy?” vra dokter Hofmeyr.
Sy herken hom eers nie sonder sy wit jas nie. In die donkerte smelt sy pak weg teen die agtergrond, dis net die lig van die straatlamp wat sy hare blond maak.
“My sleutels het geval,” sê sy stroef.
“En jou kous het geleer.”
“Soos jy kan sien, ja.”
Hy skud sy kop en maak klikgeluidjies met sy tong. “Die wêreld straf party mense regtig swaar,” sê hy, sluit die motor langs hare oop en ry weg.
Sy is so kwaad dat sy omtrent nie kan sien waar sy ry nie. Die vermetelheid van die man! Wie is hy om haar te oordeel? Om haar af te maak as ’n ydele vroumens vir wie ’n stukkende kous die enigste tragedie kan wees? Sy bly kwaad totdat sy onder die stort staan, maar toe sy daarna haastig haar hare droogblaas en besluit wat om aan te trek, probeer sy van hom vergeet. Hy is nie belangrik nie.
“Word tog gou wakker, Kurt,” sê sy terwyl sy haar gesig grimeer. “Hoe gouer jy gesond word, hoe gouer hoef ek daardie man nooit weer te sien nie.”