Читать книгу Christine le Roux Omnibus 5 - Christine le Roux - Страница 8

Hoofstuk 5

Оглавление

As Nicoline gedink het Kurt gaan meteens regop sit in sy bed, vir haar glimlag en sy lewensverhaal vertel, het sy dit mis. Sommige dae roer hy geen vingerlit nie, lyk dit asof daar nooit vordering was nie. En as sy gedink het dokter Hofmeyr gaan meteens meer tegemoetkomend wees ná hulle middernagtelike koppie koffie, is sy ook verkeerd. Sy sien hom nooit nie, nie langs Kurt se bed nie, nie in die hospitaalgang of kafeteria nie. Toe Kurt een middag steun en sy kop effens beweeg, noem sy dit vir die suster en hardloop nie weer halsoorkop op soek na dokter Hofmeyr nie.

Hendrik Meyer is deurmekaar en vol pyn die dag na sy operasie en Nicoline gesels maar met sy vrou wat geduldig langs die bed sit. Ná twee dae is hy egter weer sy ou self en net so bly soos sy dat Kurt tog vordering maak.

“Wat hy nodig het, is vars lug,” sê hy vir haar.

Sy moet lag. “Hy moet eers wakker word, oom. Ons kan nie sy bed op die stoep uitstoot nie.”

Neil deel ook in haar vreugde oor Kurt alhoewel dit effe geforseerd is. “Jy moenie te betrokke raak nie,” waarsku hy.

“Hoekom nie?”

“Ek weet nie.” Hy skuif rond. “Dis net die idee dat jy so dag en nag langs ’n vreemde man se bed sit en . . . ”

“Jy is tog nie jaloers nie?”

“Nee,” verseker hy haar toe hy die kwaai lig in haar oë sien. “Wat gee my die reg om jaloers te wees?”

“Presies,” stem sy saam. “Moenie ons vriendskap bederf nie.”

Selfs op kantoor weet meneer York ook al van Kurt en Nicoline kom doen daagliks verslag oor sy vordering. Een oggend bel mevrou York haar. “Hartjie,” sê sy. “Ek wil ’n guns vra. Neem jy soms ’n aand vry?”

“Hoe bedoel mevrou?”

“Ek weet jy gaan elke aand hospitaal toe.”

“Nie altyd vir die hele aand nie,” verseker Nicoline haar. “Ek gaan dikwels uit.”

“Vanaand?” vra mevrou York. “Is jy vanaand beskikbaar?”

“Ek sou uitgegaan het, ja. Hoekom?”

Mevrou York sug. “Man, dis een van daardie liefdadigheidsdinees. Jy weet, om geld in te samel, en aangesien een van die instansies jou hospitaal is en ek regtig nie lus is om vanaand uit te gaan nie . . . ”

Nicoline kan hoor mevrou York se stem klink hees. “Is mevrou siek?”

“Ag, die ou wintergriep. Niks ernstigs nie. Ek hoef nie in die bed te bly nie, maar ek wil nie kanse waag nie en het gewonder of jy nie saam met my man sal gaan nie.”

“Natuurlik,” sê Nicoline dadelik. “Ek sal vir Neil sê ons kan ’n ander aand uitgaan.”

“Is Neil die nuutste applikant?”

As enigiemand anders so iets gesê het, sou Nicoline kwaad geword het, nou lag sy net. “Ek sou hom nie so beskryf nie. Hy is net ’n vriend. ’n Kollega eintlik.”

“Bel my terug,” sê mevrou York. “Ek sou jou nie gevra het nie, maar jy weet hoe’s Yorkie, hy haat dit om alleen na ’n funksie toe te gaan.”

Nicoline bel vir Neil, vertel hom wat gebeur het en kanselleer hulle afspraak.

“Ek mag seker nie protesteer nie,” sug hy. “Dis my baas.”

“En myne.”

“Juis. Hoe laat dink jy sal jy by die huis wees?”

“Ek het geen idee nie. Waarom?”

“Dis Vrydagaand,” sê hy. “Ek kan by jou kom koffie drink ná die tyd.”

“Sal ek jou bel as ek terugkom?” stel sy voor. Daarna bel sy mevrou York terug en hoor sommer ook wat sy moet aantrek. Daar word gedans, vertel sy, maar sy is seker haar man sal nie so lank wil bly nie.

“Ek sal my wat verbeel om met so ’n mooi jong meisie aan die arm op te daag,” sê meneer York toe sy bestuurder haar kom oplaai. Sy lag net, want sy voel mooi. Sy soek al lank na ’n geleentheid om haar nuwe rok te dra. Dis smaraggroen en kort; tegelyk eenvoudig en baie sensueel. Haar hare blink soos gepoleerde rooikoper, aan haar ore swaai oorbelle wat lyk soos trosse goud. “Haak by my in,” sê hy vir haar toe hulle die glansryk versierde saal binnestap. “Ek wil hê almal moet sien jy is by my.”

Daar is heelwat toesprake. Verskillende mense spreek hulle dank uit aan die onderskeie instansies vir groot donasies, en Nicoline sit maar en rondkyk omdat dit altyd vir haar lekker is om te sien hoe ander mense aantrek. Haar oë gaan rus op ’n geboë blonde kop, twee tafels van haar af. Sy beskou hom geïnteresseerd. Dit kan tog nie dokter Hofmeyr wees nie, hy is dan permanent by die hospitaal. Dan kyk die man op en hulle raak bewus van mekaar. Dit is hy, onberispelik geklee in ’n aandpak en spierwit hemp. Hy knik vir haar en sy knik terug. Aan sy sy is ’n baie mooi donkerkopmeisie, maar die kleur van haar uitrusting is ’n onvleiende skakering pienk. Sy vrou? wonder Nicoline. Die meisie lyk ewe verveeld met die verrigtinge.

Uiteindelik is al die toesprake verby en kan hulle voortgaan met die ete. Direk na die hoofgereg begin die orkes speel en beweeg die eerste pare na die dansvloer.

“Kom,” sê meneer York vir haar. “Ons gaan ook dans.”

Sy is nie vreeslik lus nie, maar stap gehoorsaam saam met hom. Net toe hy sy arms uitsteek en haar hand vat, merk sy dat een van die knope van sy aandhemp los is. “Regtig!” sug sy gemaak streng. “Moet ek u aantrek ook?” Sy buig haar kop en knoop die hemp toe terwyl hy goedig staan en wag. Toe sy opkyk, kyk sy vas in dokter Hofmeyr wat haar ’n paar treë van hulle af staan en beskou. Die sardoniese uitdrukking in sy oë maak haar oombliklik kwaad. Sy lig haar kop, vat meneer York se hand vas en begin dans, maar toe hulle klaar is en begin terugstap na hulle tafel toe, bots hulle byna teen dokter Hofmeyr en sy vriendin wat in dieselfde rigting beweeg.

“Goeienaand,” sê hy vir haar.

“Naand.” Sy wil direk aanstap, maar meneer York het bly staan en kyk dokter Hofmeyr so vriendelik aan dat sy gedwing word om hulle aan mekaar voor te stel. “Meneer York, dokter Hofmeyr,” sê sy kortaf.

Die mans groet mekaar met die hand en Hofmeyr stel die meisie voor as Jeanne Brink.

“Is u van die hospitaal?” vra meneer York hartlik.

“Dis waar ek dokter Hofmeyr ontmoet het,” verduidelik Nicoline. “Hy is Kurt Ollsen se arts.”

“A!” sê meneer York, dadelik die ene belangstelling. “Ons weet almal van hom. Hoe vorder hy?”

“Onder die omstandighede goed,” antwoord dokter Hofmeyr beleef.

Nicoline bestudeer die meisie terwyl die mans gesels. Sy lyk asof sy verskriklik verveeld is. Sy draai haar kop heen en weer, kyk na die ander vrouens, skud haar donker krulle en druk haar vingers teen haar lippe om ’n gaap te onderdruk.

“Kom ons gaan sit,” stel meneer York voor. “Daar was twee leë plekke by ons tafel.”

Nicoline hoop hulle sal weier, maar dokter Hofmeyr loop dadelik saam en die oomblik toe hulle sit, hervat hy sy ernstige gesprek met meneer York. Sy luister met ’n halwe oor. Meneer York, synde ’n belangrike skenker, stel natuurlik belang in die wel en wee van die hospitaal. Dit laat haar gedwonge voel om met die meisie te gesels.

“Waar werk jy?” soek sy ’n aanknopingspunt.

Die meisie kyk na Nicoline, kennelik teësinnig, asof dit belangriker is om die ander vrouens se klere te bestudeer. “Ek’s ’n haarkapster,” sê sy bot.

“O,” sê Nicoline. “Mens kan dit sien, jy het baie mooi hare.”

Jeanne bedank haar nie vir die kompliment nie, sy draai dadelik weer weg en kyk na die ander mense.

“Dis ’n lekker orkes,” probeer Nicoline weer.

“Baie outyds,” sê die meisie. “Ek hou van iets lewendigers.”

“Dis ’n outydse soort aand,” lag Nicoline. “As jy verstaan wat ek bedoel.”

“Nee.”

Nicoline sug, maar gee nie so maklik op nie. “Wel, hierdie is ’n fondsinsamelingsgeleentheid en mense met genoeg geld is gewoonlik nie meer bloedjonk nie, dus –”

“Jy kan dit weer sê,” onderbreek Jeanne haar. “Dis nét ou mense.”

Nicoline raak geïrriteerd. “Darem nie almal nie. Ek en jy is hier en kyk daar oorkant is –”

“Jy’s ouer as ek.”

Nicoline druk haar lippe opmekaar en kyk op. Sy en dokter Hofmeyr kyk mekaar ’n oomblik lank in die oë, maar wat hy van hierdie laaste opmerking dink, weet sy nie, want hy laat niks blyk nie. Gelukkig begin die orkes weer speel. Sy gaan nou met meneer York dans of hy wil of nie, dink sy desperaat. Enigiets is beter as om hier te bly sit met hierdie ongeskikte meisiekind. Sy sit haar hand op meneer York se arm en staan halfpad op, maar dokter Hofmeyr is vinniger en hou sy hand na haar toe uit.

“Sal ons omruil?” vra hy.

“Goeie plan,” sê meneer York en kyk na Jeanne. Dié haal net haar skouers op asof hierdie vervelige aand nie regtig erger kan word nie en hulle beweeg almal terug na die dansvloer toe.

Dokter Hofmeyr hou haar liggies vas. Hy is nie so ’n goeie danser soos meneer York nie, maar sy aanslag is beter. Die ouer man het haar te styf vasgehou, te verbete om die hoeke geswaai; dokter Hofmeyr is rustiger, besadiger. “Ek is jammer,” sê hy toe hy haar laat mistrap. “Ek dans baie selde.”

“H’m,” sê sy.

“Maar ek moet hierdie soort geleentheid bywoon,” gaan hy voort. “Ter wille van die hospitaal.”

“H’m,” sê sy weer. “Ek kan sien dis ’n straf.”

Hy vat haar hand fermer vas. “Dis nie wat ek gesê het nie.”

“Dis hoe Jeanne daaroor voel.”

“As die musiek rowwer word, sal sy dit meer geniet,” sê hy lojaal.

Sy knik. “Ek kan ongelukkig nie so lank bly nie.”

Hy lig sy wenkbrou, kyk dan tussen die dansende pare deur na meneer York wat al rooi in die gesig is so lekker dans hy met Jeanne. “Jou gesel word seker gouer moeg.”

“Nee,” antwoord sy koel. “Ek het ’n ander afspraak. My vriend kom by my koffie drink.”

“Natuurlik,” sê hy glimlaggend. “Jy kan onmoontlik hiér ophou.”

Sy vererg haar en is baie bly toe die musiek ophou. “Dankie,” sê sy kortaf en stap doelgerig terug na hulle tafel toe. Sy is nog blyer toe meneer York ook aandui dat dit ’n lang week was en dat hy nou huis toe wil gaan. Hulle gee dokter Hofmeyr en sy vriendin die hand, groet die ander mense en loop.

“Gawe man,” merk hy in die motor op. “Jou Kurt is in goeie hande as Hofmeyr sy dokter is.”

“Ek veronderstel so.”

Terug in haar woonstel voel sy eers lus om vir Neil te bel en te sê sy is moeg en wil liewer gaan slaap. Maar dis nie waar nie, sy is wawyd wakker en kwaad.

“Ek dog dit gaan ’n lekker aand wees,” sê Neil vir haar toe hy sien hoe sy lyk. “Hoekom is jy so vies?”

“Ag, dis niks nie.” Sy sit ’n bord koekies voor hom neer. “Net iemand wat ek raakgeloop het wat my altyd kwaad maak.”

“Kom sit hier by my,” nooi hy en tik die sitplek langs hom op die bank.

“Nee, ek is gemaklik hier, dankie.” Sy krul haar bene onder haar in op die groot ou leunstoel oorkant hom.

“Wat is dit?” vra hy. “Weet jy, ons gaan nou al weke lank uit en jy laat my nie eers toe om jou hand vas te hou nie.”

“Ek weet. Dis hoe ek daarvan hou.”

“Jy wil nie vasgehou word nie?”

“Nee,” sê sy kortaf.

“Hoekom nie? Hou jy nie van my nie?”

“Natuurlik hou ek van jou!” Sy roer haar koffie ergerlik. “Dit het niks daarmee te doen nie. As ek nie van jou gehou het nie, het ek nie saam met jou uitgegaan nie.”

“Jy wil net nie dat ek aan jou vat nie?”

“Presies,” sê sy verlig. “En kan ons dit daar laat? Ek is nie nou lus vir diep ontledings nie.”

“Was jy nog altyd so of is dit net ek?” vra hy belangstellend.

“Ek was nog altyd so.”

Hy lig sy hande. “Goed, goed, ek baklei nie met jou nie. Ek is tevrede soos dit is.”

Sy begin ontspan. Neil is so ’n gemaklike mens, dink sy dankbaar. Hy maak haar nooit kwaad nie.

“Jy lyk nietemin baie mooi vanaand,” merk hy op. “Jy was ongetwyfeld die mooiste meisie op die bal.”

“Dit was nie ’n bal nie en daar was baie ander, veel mooier vrouens.”

“Ek twyfel.”

“Luister, Neil,” sê sy en leun vorentoe, albei haar hande om haar beker koffie. “Belowe my een ding. Dis baie belangrik, ek wil hê jy moet my in die oë kyk en belowe.”

“Wat?” vra hy laggend. “Ek wil eers hoor wat dit is.”

“Belowe my jy sal nie verlief raak nie.”

“Op wie? Op jou? Dis klaar te laat om dit te belowe.”

Ontsteld sit sy terug. “Ag nee, jy terg net.”

“Ek spot nie,” sê hy ernstig. “Hoe kan jy my vra om so iets te belowe?”

Sy lyk ongemaklik. “Dit gaan net alles bederf. Kompliseer.”

“Nie noodwendig nie. Ek is ’n geduldige man. Maar sê my . . . ” Dis nou sy beurt om vorentoe te leun, haar intens aan te kyk. “Wat van jou? Raak jy nooit verlief nie?”

“Nee,” sê sy bot.

“Nooit nie?”

“Nee.”

Hy kyk haar deur skrefiesoë aan. “Ek glo dit nie.”

“Wel, dis waar. En kan ons nou oor iets anders praat?”

“Wat het gebeur?” vra hy. “Iets moet gebeur het om jou so te maak. Vertel my daarvan.”

Sy spring op, tel die fles met koffie op en skroef dit oop. “Hou op. Jy is ’n rekenmeester, nie ’n sielkundige nie.” Sy lyk gevaarlik, hy kan sien sy bedoel wat sy sê. Toe hy ’n ruk later vertrek, wend hy ook geen poging aan om haar te soen nie.

Die volgende oggend slaap sy laat, maak haar woonstel skoon, was wasgoed en gooi potplante nat. Teen die middag trek sy haar sweetpak en hardloopskoene aan, besluit om uit die stad te ry en baie ver te gaan draf, maar eers moet sy met Kurt gaan praat. Sy is teleurgesteld om te sien Hendrik se bed is leeg en sy skakel dadelik die radio aan en sit die oorfone reg.

“Ek is jammer, Kurt,” sê sy. “Jou kamermaat is al weer weg en niemand het vir jou musiek gespeel nie. Dis een rede waarom jy nou moet gesond word: jou kamermaats verlaat die hospitaal een vir een en jy bly elke keer agter.” Sy hou aan met praat en voel opgebeur toe hy keer op keer haar hand druk. Dit word egter laat en sy wil nog gaan hardloop, dus kyk sy die kassette deur, kies een om vir hom te speel en wil net die oorfone om sy kop sit, toe sy dokter Hofmeyr sien inkom.

“A,” sê hy en kyk haar op en af. “Waarheen en saam met wie is ons vandag op pad?”

“Ek gaan nou hardloop,” sê sy kortaf. “Ek hardloop elke dag.”

Teen sy sin lyk hy beïndruk. “Is dit so?”

“En ek hardloop alleen,” voeg sy katterig by.

“Ek ook,” verras hy haar. “Maar dis nie veilig vir ’n meisie om alleen te hardloop nie. Neem een van jou talle mansvriende saam.”

Sy byt op haar tande, maar bly kalm. “Hoeveel mansvriende ek het, het regtig niks met jou te doen nie.”

“Dis waar,” sê hy en buig oor Kurt. “Ek bewonder net jou kapasiteit.”

“Wat is dit veronderstel om te beteken?” vra sy kwaad.

“Niks nie, niks nie. Het Kurt weer vandag gereageer?”

“Ja,” sê sy stug. “Ek het nie besef oom Hendrik gaan so vinnig ontslaan word nie. Niemand het dus vanoggend vir hom musiek gespeel nie.”

“Oom Hendrik is nie ontslaan nie,” sê hy gelykmatig. “Hy is gisteraand oorlede, kort ná jy hier weg is.”

Sy staar na hom, haar mond gaan oop en toe. “Dis nie waar nie,” fluister sy. “Hy was nie ernstig siek of so iets nie. Hy was al op die been na die operasie en alles.”

“Ek weet. Dit was baie onverwags. Hartaanval.”

Sy kyk na die leë bed, die skoon bedkassie, alles net soos dit gelyk het nadat Dennis weg is. “Nee,” sê sy. “Hy was so . . . ” Sy druk haar hand teen haar mond terwyl trane oor haar wange loop.

“Ek is jammer,” sê hy simpatiek.

Verblind deur trane vroetel sy met die oorfone, skakel die radio aan en draai weg. “Ek gaan nou hardloop,” sê sy gesmoord.

Hy vat haar aan die skouer. “Wag vir my. Ek is nou klaar. Net agter my huis is ’n groot park waar ek altyd hardloop. Ons kan saam draf. Ek het dit ook nodig.”

“Nee,” sê sy verdwaas. “Hoekom moet ek . . . ”

“Omdat ek so sê.” Sy stem is ferm en hy stap reeds saam met haar by die deur uit. “Ry agter my aan.”

“Maar . . . ” Sy vee oor haar wange met die agterkant van haar hand. “Jy’s nie aangetrek nie.”

“Weet jy hoe vinnig kan ek aantrek?”

Sy moet erken hy is reg. Sy ry agter hom aan tot by ’n huis in ’n té digbegroeide tuin. Hy vra vir haar of sy wil inkom, maar sy wys dit van die hand en letterlik vyf minute later kom hy weer uit, geklee in ’n sweetpak en hardloopskoene nes hare.

“Kom,” sê hy beslis. “Sluit jou motor.”

Sy blaas haar neus, druk haar sleutels in haar sak en begin langs hom draf.

Die eerste tien minute is sy nie van veel bewus nie behalwe die geluid van hulle klappende skoensole en die gehyg van hulle asem. Hoe kon dit gebeur het? herhaal dit oor en oor in haar kop. Gister was hy nog gesond. Gister het hy nog grappe gemaak, vertel wat hy alles gaan doen as hy eers by die huis is, met Kurt gepraat, die verpleegsters geterg. Hoe kan soveel energie net ophou bestaan?

“Kom,” sê dokter Hofmeyr streng langs haar. “Moenie begin voete sleep nie. Hardloop!”

“Ek sleep nie my voete nie,” sê sy en versnel haar pas. Haar hare swiep oor haar gesig, in die hardloop soek sy in haar sak na die sweetband wat sy altyd om haar voorkop skuif en sit dit aan. Ten spyte van die koue, droë winterlug voel sy hoe sweet die trane op haar gesig vervang, hoe haar kop leeg word van troebel gedagtes.

Toe hulle ná byna ’n halfuur tot stilstand kom, sak die son amper. Sy sit op ’n houtbankie onder ’n kaal boom, hy staan voor haar, een been op die reling wat die gras van die paadjie afskort. Terwyl hy sy asem herwin, doen hy rek- en strekoefeninge.

“Voel jy nou beter?” vra hy.

Sy knik, nog te uitasem om te praat. Gewoonlik draf sy teen ’n veel stadiger pas, hy het haar gedruk en sy kan dit voel.

“Dit help altyd,” sê hy. “’n Mens kan nie ingee as jy iemand verloor nie. Ek hardloop soms selfs in die nag.”

“Jy is meer gesout,” sê sy.

“Nee, net fikser.”

“Ek praat nie van die hardloop nie,” sê sy en lek oor haar droë lippe. “Ek praat van jou vermoë om . . . die dood van iemand te verwerk.”

“Vanselfsprekend.” Hy haal ’n sakdoek uit sy sak en vee oor sy gesig. “Wat egter nie beteken ek voel dit nie meer nie.”

“Seker, ja,” gee sy toe omdat sy onthou hoe hy die aand gelyk het toe hulle gaan koffie drink het.

“Kom,” sê hy. “Ons gaan koud word.” Hulle stap in stilte terug na sy huis en haar motor. “Wil jy gou kom stort?” vra hy. “Iets drink?”

“Nee dankie,” sê sy formeel. “Ek het nie my klere hier nie en dit dien geen doel om te stort en weer dieselfde beswete klere aan te trek nie.”

“En iets om te drink?” vra hy. “As jy nie vanaand iets aan het nie, kan ek selfs aanbied om vir ons ’n lekker pasta te maak.”

“Dankie, maar ek moet huis toe gaan. Ek gaan vanaand uit.”

“Natuurlik,” sê hy. “Hoe kon ek so dom wees?” Hy sê dit nie met sy gewone sarkasme nie, maar sy kyk hom tog dadelik skerp en agterdogtig aan.

“Dankie in elk geval,” sê sy en haal haar motorsleutels uit. “Dit was lekker. Ek voel nou beter.”

“Enige tyd,” sê hy gemaklik. “As my werk dit toelaat, draf ek elke middag dié tyd.”

“H’m,” sê sy. “Dit is ’n lekker park vir hardloop.”

Terwyl sy terugry, probeer sy haarself ontleed. Waarom is sy meteens so langtand vir die aand wat voorlê? Die toneelstuk waarheen Neil haar gaan neem, is iets wat sy al weke lank wil sien. Hoekom wens sy dan nou sy het ’n vry aand gehad?

Christine le Roux Omnibus 5

Подняться наверх