Читать книгу Klassiek reeks: Op soek na generaal Mannetjies Mentz - Christoffel Coetzee - Страница 10

Оглавление

Ons kom oplaas by die Skuiltes uit – maar dit neem ons nie net twee dae nie. Ons rol die klippe weg en kap die bosse uit, om die pad uit die Nek al met die kloof langs oop te kry. Maar ons leef al te lank in veiligheid vir dié pad om nog ’n pad te wees. Ons dink nog daaraan as ’n geheime roete na veiligheid, maar jare se onbruik het dit in ’n donga verander.

“Dis ons eie skuld,” sê Jan Witsie. “’n Slim man kyk beter na sy wegsteekgoed as sy oopgoed. Ons moes dié skuilpad in stand gehou het, gereed vir vandag. Maar toe dink ons dat ons deur die swartste nag kon sien.”

Ons pak die waens af. Die meeste goed kom met pakosse, of op sleë by die Skuiltes aan – die res dra ons met ons kaal hande kloofop. Onder die Skuiltes sou Ma nie langer net vir haar huisgesin verantwoordelik wees nie – en iewers diep onder verkwalik ons haar hieroor sonder om dit eens self te weet. Sy sien besorg om na dertig, vyftig, sestig, ’n stam wat kom en gaan. Sy sien om na die kos, party dae minder as ander dae, maar sy kry almal gevoed. Sy organiseer groot en klein. Die halfgeletterde leer die ongeletterde lees, skryf en reken, en dit is meer as wat Ma voor die oorlog vermag het.

En die Skuiltes word die gevreesde siektes nie gespaar nie. Waar sy voorheen die enkeles kon afsonder om die siektes te isoleer, neem masels, kinkhoes en pampoentjies hier van Skuilte tot Skuilte oor.

Teen kinkhoes kook Ma seeppotte vol kattekruid, mak dagga, oondbossie en willeals, met naeltjies en heuning. Sy meng dit met Hofmannsdruppels en ander tweede, diep gelowe uit Dr Lennon se Huis Apotheek. Teen die masels meng sy swael en suiker en dikmelk en dassiesweet. Vir die asma … Nou ja, ’n ou mens vergeet dié dinge. Maar dit alles gooi sy in kalbasse. Sy stuur dit van Skuilte tot Skuilte langs, vir gebruik deur grootmens en kind.

As niks help nie, sê Ma: “Nou bid ons hom aan die lewe.” Dikwels deur die nag hoor ons hoe sy die lewendes roep met Prijs den Heer om die sterwendes te red. Eers is daar net ’n bromneurie uit die ander Skuiltes. Dán word dit duideliker as ’n sagte Prijs den Heer soos redders nader kom, totdat hulle uit volle bors sing voor die Skuilte waar die dood dreig om as Ma se ongenooide gas na binne te kom.

Dit help ons niks om ons koppe onder die komberse te druk nie of om styf teen aunt Anne se ongemaklike lyf te lê nie. Dit weergalm bergop en bergaf: Prijs den Heer.

Die eggo, bergaf en -op in die donker klowe en van Skuilte tot Skuilte, laat ons selde toe om alleen te wees in die teenwoordigheid van haar Heer (al was ons dikwels eensaam en bang). As Ma besluit dat die tyd nog nie ryp is om te gaan nie, dan is daar ’n luidrugtige stryd voor die aardse skuiltes van dié wat ons sonder haar toestemming wil verlaat.

Al sou ons aunt Anne teen die Skuiltes begrawe teen die middelsomer, sorg Ma dat die kerkhof klein bly. Ons sou later uitreken dat meer siele teen die Skuiltes gebore is as wat daar gesterwe het.

Ook die diere word siek en vrek. Die bees kry galsiek. Die skaap vrek aan bloednier. Hulle vergiftig hulle aan wilde tulp. Bitou betrek die klowe. En die ongediertes: Jakkals en wildekat vang die lammers en pasgebore kalf. Vanuit die Brandwaterkom kom honde wat agtergelaat is op plase. Nou sien hulle na hulleself om, in troppe groot genoeg om ’n jong tollie plat te trek en daar op die plek op te vreet. Die vloek van die honde …

Die eerste lamseisoen het die lammers dikkop en ons sny ooie by dosyne keelaf, en dit ten spyte van aunt Anne se vaardigheid. Maar die tweede seisoen lê die lammers verkeerd – agterpote, kop of rug eerste, in plaas om met die kop eerste netjies op die uitgestrekte voorpootjies te rus. Jan Witsie se gewrigte is te dik, en nou dat ons aunt Anne nodig het, is sy reeds maande gelede teen die Skuiltes begrawe.

As die kop eerste is, druk ek dit terug in die slymerige duister in. Ek voel-voel neklangs, voorpote toe. ’n Stewige haal bring voorpote verby beide kante van die kop tot die kop bo-op die pote lê. Uiteindelik lê dit op die grond, ’n pap ding waar ’n bevange ooi blêrend om en om draf.

As dit steeds nie wil uit nie, maak Jan Witsie ’n sagte riempievel, wat hy lamtyd aan sy belt dra, aan die pote vas, net bokant die sagte kloutjies. Hy trek die lam uit. Dan hou jy skielik lewe in jou hand – as jy vinnig genoeg die moersak oor die neus breek en jy jou vinger onder sy tong druk om dit uit sy keel te kry. Jy druk die lam onder die ooi se neus in, dat sy jou en Jan Witsie se reuk wegruik. Jy kry hom aan ’n speen. Jy hou die vinger in die bek, sodat die tiet in die bek bly.

Ek probeer my bes, maar aunt Anne se aanleg het ek net nie. Lam ná lam vrek as dit rug- of agterkant na vore lê. Nee, anders as aunt Anne, had ek nie dié vermoë nie, al weet ek ook presies hoe: My hand bly gladderig en onnosel oor die slym binne-in die baarmoer gly – en as iets na die morsige gewoel uitsteek, dan is dit meer dikwels die verkeerde deel. Soms is dit vir beide ooi en lam te laat en gly Jan Witsie se Joseph Roggies oor sy skoensool, heen en weer, voordat hy keel afsny.

“Tsk, tsk, nog een,” sê Jan Witsie dikwels met dié lamtyd. Soms red ons die ooi; soms, wonder bo wonder, ook die lam. So sny ons dan tog minder ooie keelaf gedurende die tweede seisoen.

As die ooi die lam nog wil hê, ná al dié pyn: goed so. Ons weet daar is moeilikheid as ’n sterk lam tot uitkeertyd agter sy moer aanloop met ’n sak wat aan sy lyf droog word. Die weggooi-ooie word in sulke rye vasgemaak aan wawiele en nog wat.

Oom Japie loop ál agter Jan Witsie aan. “Voel,” sê hy as hy die ooi hard oor die neus slaan, iedere keer dat sy haar lam wegskop. Ons kry elke swakker weggooilam, waar die ooi hom ook al los, agter bos of klip, en maak hom hans groot langs ons eie of ’n Witsie se vuurherd.

Ons bly vir drie plant- en oesseisoene teen die Skuiltes. Selfs die bobbejane betoon hulle respekte. Ander wit mense praat dikwels van uintjies eet in die berge. Maar aan dié raak g’n Uitkyk- of Hoekmens uit hongerte nie. Uintjies los ons vir die bobbejane. Mens en bobbejaan gaan elk sy eie pad, behalwe af en toe as ’n ou mannetjie verlei word om van die kranse af te kom en ’n lam oopskeur om by die melkpensie uit te kom.

Ons plant, skoffel en oes. Mielies, koring, kafferkoring. Ons kweek veral die groentes wat ’n groeiseisoen kan oorlê na die winter toe. Soetpampoen, butter squash, ertappels en patats, witwortels en beesraap. Elke gelyk stukkie grond in die klowe word gebruik vir boerbone, botterbone en suikerbone. Die droë groenertjies loop deur my vingers, en ai Eliza se gesig word in elke ertjiepit vermenigvuldig.

Nie dat Eliza oud is nie. Sy is eerder ons maat as dié van ander Witsievroue en Ma. Dit is die Boesmanbloed, sê aunt Anne, of dalk Griekwabloed, dat ai Eliza al die rimpels soos ’n ertjie het. Dit sou haar nie verbaas as die Witsies haar as kleinding uit hierdie selfde Skuiltes weggevoer het nie – Boesmanvroue was van groot waarde, sê aunt Anne, nie ’n lui haar op daardie halwe bleskoppe van hulle nie. En oorlams, kyk nou maar net na Eliza, nie ’n ding waarmee ons Ma haar nie vertrou nie, en sy is maar nog so half kind, sê aunt Anne. Griekwa is beter as Boesman, en vir haarself én ons was ai Eliza ’n Griekwa.

Jan se eerste vrou is dood in ’n veldbrand wat handuit geruk het. Dan sê Jan Witsie Eliza is die vrou “van my kindsheid”. Sy is, sê Jan Witsie, na hom gestuur soos Abisa na Dawid, om die koue uit sy lendene te weer. En as Jan Witsie so sê, dan lag Eliza: “Kier, kier, kier. Hy sal hom wat verbeel, eerder Batseba as Abisa.” Dit weergalm ál met die Skuiltes langs, op en af deur die klowe tot dit teen rotshange vasslaan: “Kier, kier, kier.”

Ná meer as drie jaar, toe ons in 1903 teruggaan Uitkyk toe, moes die waens meer as een keer omdraai Skuiltes toe om die oeste uit die oorlog in te bring. En ons had almal skoene aan ons voete – wat meer is as toe ons in 1900 kaalpoot in die skimmelsneeu teen die Skuiltes aangekom het.

Nee, dit is moeilik om die vinger presies te lê op hoe Ma verander te midde van ons welvaart.

Boonop het Ma nog met die mans ook te make: Pa en oom Giep daag die eerste week van Julie by die Skuiltes op. Vanuit die staanspoor is dit duidelik hulle is moeg van die oorlog, want hulle kla net steen en been. Aunt Anne sê: In for a penny in for a pound, sonder dat ons weet wat sy presies bedoel.

Die oormag, sê Pa en oom Giepie, en wat van ploegtyd? En dan is daar Hunter se vyfduimkanonne teenoor die halfgewapende burgers. Waar’s julle Vrystaatse Mausers, mompel aunt Anne, waarmee julle voor die oorlog op wapenskoue so geloop en spog het?

Toe maar, sê Ma, ons hou hulle onder ons oë. Laat hulle maar ’n dag of twee rus, hoor ons Ma vir aunt Anne sê, dan kry ek hulle hier weg, terug Kommando toe waar hulle hoort.

Tussentyd ry oom Japie perd op Pa se knie. Oom Giepie vertel oorlogstories en stop nou soos ’n danige grootmens sy pyp voor Ma.

Aunt Anne knipoog en sê: “Onse dapper helde!”

Hulle het hulle kwalik tuis gemaak teen die Skuiltes, of Ma keer hulle een oggend om die koffievuur vas. Hulle is gevlei deur haar skielike belangstelling in mansake.

Sy tel ’n lang tak op en teken ’n groot perdehoef in die as. “Dis nou die Kom?”

“Ja.”

“Al met die hoef langs is dit sowat honderd myl, of verder?”

“Ja.”

“Ons is hiér. Slabbertsnek lê dáár onder, die middelste van die Poorte, en agter Slabbertsnek kry ons Retiefsnek, geskei deur die Brandwaterrivier se boloop? Behalwe vir ’n Kakieverkenner, so nou en dan, lê Slabbertsnek onbewaak? En in die noordooste, oor die Roodebergen, lê Noupoort? En Golden Gate is hier, in die ooste waar die Klein-Caledon ontspring? Golden Gate lê oop, en is in die regte rigting.”

Pa sê: “Ja, maar wat is tog nou ‘die regte rigting’?”

Ma sê: “ ‘Die regte rigting’ is die rigting om uit die Kom te breek voordat Hunter julle daar vastrap. Om by Golden Gate te kom, moet julle oor Slaapkransnek.” Pa en oom Giep het nou minder rede om gevlei te voel. Hulle praat aansienlik minder, behalwe om te beaam.

“En in die weste, hiér, hier lê Witnek,” teken Ma in die as. “En hier byna by Ficksburg en teenaan die Basothogrens, lê Kommandonek? Hier kan julle nie oor nie, want Rundle se mag is hier buite die Kom saamgetrek,” gee Ma vir hulle ’n uitkomkans.

“Ja, daar sal ons nooit kan oor nie.”

“Maar dit gee ons vier oop Poorte wat wyd oop lê, gereed vir julle om uit die Kom te ontsnap? En dis nie al nie; reg wes van Fouriesburg, reg binne die Kom, lê Generaalsnek, hiér …

“… en as dit moet, dan kan julle Nelspoort na die oostekant probeer, al kan die waens nie daardeur nie. Wat soek ’n wa met vrouens en kinders in ieder geval op ’n gevegsfront?”

Uit die berge, met hul sneeuspikkels in die klowe, wys sy na onder. Dan teken sy stokkiesmannetjies in die koue as wat mekaar in die Brandwaterkom oorswerm en verdruk, met party wat diekant toe loop en ander deuskant toe. “Dis nou julle,” sê Ma, “wat nou hier lê.”

“Ja,” sê Pa, “hier het ons ons ingegrawe.” Hy kom nie agter dat Ma “lê” sê soos ons dit in “lê en sleg word” sê nie.

“Hier, by Fouriesburg, het julle julle ‘ingegrawe’? Reg?”

“Reg,” sê Pa.

“Reg,” sê oom Giepie.

“Fouriesburg is binne-in die Kom, tussen die Wittebergen en die Roodebergen. Hier is president Steyn en generaal De Wet, met die Republiek se regering? Hier, buite die Kom, is Bethlehem …”

Waar Fouriesburg en Bethlehem is, sit sy klippies neer.

“… en die voorhoede van generaal Hunter se kolonne is op pad hierheen, net buite die Kom vanuit Bethlehem? Reg?”

“Reg,” sê Pa.

“Reg,” sê oom Giepie.

Uit die Bethlehem-klip marsjeer Hunter se stokkiesmannetjies in enkelgelid, netjies vir stokkiesmannetjies.

Ons ander het reeds agtergekom wat aangaan, waar ons in ’n sirkel rondom die koue as gehurk sit. Maar Pa en oom Giepie is nou stuurs en raak al meer onwennig om Ma te beaam as sy met die stokkie in die as teken. Hulle hou nie daarvan dat Ma kinders en Witsies as getuies teen hulle roep nie. Aunt Anne knipoog. “Onse dappere Boerehelde.”

“En julle moet uitbreek. Julle het hoeveel Poorte om uit te kies. Wat se ge-‘huis toe’ is dit met julle? Lyk dié vir julle na ‘huis’? Daar is geen huis meer nie, net ’n murasie op Uitkyk. As julle na dié ‘huis’ toe wil gaan, gaan julle alleen.”

Later die dag vat die twee hulle voorbereide vars proviand en saal hulle skaam-skaam die perde op.

Dit is ’n week daarna, en die datum sal ek nie vergeet nie: Die nag van 15 Julie. Aunt Soph maak ons wakker. Ons staan en bibber onder kombers en karos, Naudés en Witsies, by vure in die mis wat soos ’n dik bulsak oor die Nek kom. Geluide uit die Nek is baie ver en dof. Af en toe kom daar ’n ysluggie en waai die mis in slierte hier weg, asof daar nou ’n skielike skeur in die bulsak is. Dan hoor jy iewers daar onder sweepslae en gedempte stemme wat die osse aanmoedig. Jy hoor waens wat oor die Nek kraak. Nou en dan hoor jy ’n perd wat struikel of proes. Nee, dit is nie die voorhoede van die Engelse nie. Dis die Boere, want hulle trek uit die Kom, die Poort oor.

Die volgende oggend gaan Jan af Nek toe. Teen die aand is hy terug. “Dit was De Wet en sy burgers,” sê Jan Witsie. “Hulle is oor die Nek, die wye wêreld in.”

“Mag Pa en die seuns onder hulle wees,” sê Ma. Sy praat nie weer daaroor nie.

Later vind ons uit Pa en oom Giepie hét dié nag saam met generaal De Wet uit die Brandwaterkom ontsnap. Die Engelse sou Pa later in die oorlog vang en na Indië stuur, maar oom Giepie was in die veld tot die einde.

Oom Frans was nie saam met hulle nie.

Dis dan juis waaroor dié storie gaan – dat oom Frans nie dié nag saam met Pa en oom Giepie uitgebreek het nie, en hoe dit ons lewens sou raak – nie net teen die Skuiltes nie, maar ook vir ’n lang tyd daarna, lank nadat ons weer bergaf is.

Die meeste van ons kom net ’n enkele keer van aangesig tot aangesig met die generaal. Die uitsondering is oom Frans wat nege jaar aan generaal Mannetjies Mentz se sy bly en aunt Soph wat miskien meer as twee keer in lewende lywe met hom te doene kry.

Maar deur al die lang jare daarna, toe ek en Soph as vrou tot vrou praat oor ons eerste halfjaar in die berge, toe ons aunt Anne hoogsomer sou begrawe, bly Soph steeds ontwykend en onseker oor die ander ontmoetings met hom. Onsekerhede het haar lewe lank moeilik tot Soph gekom, maar het sy tog haar kort oomblikke van twyfel te midde van vastighede geken?

Al sien die meeste hom net ’n enkele keer en Soph dalk net dié twee maal waarvan ek met redelike sekerheid kan getuig, dié is tog ook die generaal se storie.

Maar dit was alles nog die toekoms, dié nag toe Pa en oom Giepie saam met De Wet uit die Kom sou breek. Tóé het ons nog nie eens die naam Mannetjies Mentz gehoor nie.

Voordat ons dié naam die eerste keer hoor, kom die Kakies uit die teenoorgestelde rigting oor die Nek. “Dis nou enige dag,” sê Jan Witsie, “dan sien ons die eerste Engelse. Ons moet die waens onder in die kloof teen die Nek gaan haal en die wapad versteek, want soos dit nou oop en bloot daar lê, is dit so goed asof ons reguit vir die Engelse sê: Ons is teen die Skuiltes en drop in for tea and scones when you feel like it.” Jan is danig met sy Engels wat hy gedurende die Zoeloe-oorloë en by sy runners uit Kimberley geleer het.

Jan Witsie haal die wiele en disselbome af om te verhoed dat die waens uitmekaar breek. Ons rol die waens op skoongekapte boomstamme vorentoe. Sodra die een stam agter uitrol, dan skuif ons dit weer voor in. Agter uit en voor in, agter uit en voor in, daglank, totdat ’n stam teen ’n blou ysterklip stuit.

Jy kan aan so ’n ysterklip grawe soos jy wil. Dis tyd mors, want dié klip het sy wortels in China aan die ander kant van die aarde, sê Jan. Oplaas haal Jan die waens uitmekaar. Ons sleep en dra dit stuk-stuk boontoe, met die hulp van pakosse en donkies. Dit neem Jan maande, die eerste maande nadat die Engelse hoofmag weer terug is oor die Poorte. Teen die Skuiltes sou dit nóg weke neem om die waens te lap en om te bou tot skotskarre, om teen gladde, skuins ysterklip bruikbaar te wees. Maar nou is dit nodig om waens buite sig van die pad af tot diep in die kloof te kry.

Op 22 Julie waarsku ’n Basotho Jan dat Clements en Paget op pad is Nek toe met twee brigades. Twee dae lank en ’n nag, die koudste van ons lewens, pak ons die kloofpad toe, totdat dit maar net nog ’n stuk berg is. Van ver af hoor ons die gedreun van die kolonne, man op man op man op man stamp op die maat van doedelsakmusiek.

Nee, sê Jan Witsie, geen vure nie. Ons wil nie aandag trek nie. Naglank, en vir die volgende dae, hoor ons hulle oor die Nek tot in die Kom stroom, die diep geroggel van ’n naderende aardbewing of ver donder, en ek sien my eerste dooie mens, ’n Skotse soldaat wat te naby aan die kampplek kom.

Ek dink eers hy is ’n vreemde kind wat verdwaal het, so jonk lyk hy. Ek probeer Jan Witsie keer toe hy die geweer aan die loop beetkry om agter die soldaat op te sluip, tot waar hy broek om die enkels sit. Die Remington se kolf klap teen sy kop soos teen ’n karkoer. Hy sterf alleen, sonder eer of waardigheid en woordeloos soos ’n dier, terwyl die res van sy blaas en maag ingee. Teen ’n agterwiel hou ek my hand voor my mond, maar die braaksel stroom deur my neus tussen my vingers deur.

En Jan Witsie wat verduidelik: “Ounooientjie, ek had nie ’n keuse nie. Vir my was dit die dood as ’n spioen. Vir julle die refugee-laer.” Want daar was nog nie kampe nie; pleks daarvan het die Engelse die vroue en kinders in refugee-laers versamel, hel op wiele. Dié refugee-laers dwing hulle al op die spore van die Boerekommando’s in, om hulle beweeglikheid in die wiele te ry.

Daar is nie ’n ander keuse as om hom net daar te los nie, vir die aasvoëls en die jakkalse, toegemaak onder net ’n paar doringtakke en ysterklippe. Soms wonder ek wat hulle vir sy mense in Skotland laat weet het: Missing in action? Absconded?

Toe generaal Marthinus Prinsloo op 29 Julie aan generaal sir Archibald Hunter in die Kom oorgee, is ons en ons mense teen die Skuiltes. Ma skel, dreig, beveel, raas op haar nuwe stil manier om alles in orde te kry, en daar is niks so erg soos so ’n stil lawaai nie. Jy verwyt jou sonder om te weet waarom. Ná ’n kort wyle het elkeen sy dagtaak.

Ons raak tuis teen die Skuiltes.

Eers bou ons die takkrale. Party takkrale kom teen die noutes voor die Skuiltes; ander in die klowe waar die klongens snags met die trop slaap.

Ma kyk vir waterlope. Dié lyk na ’n erosiesloot, maar ’n plant groei nie in ’n donga nie. Sy laat Witsies met hulle grawe kom en sê: “Grawe hier.” So grawe sy ou, ou fonteine oop. Fonteine, sê Jan Witsie, wat dalk nooit oop was nie, nie eens in die Boesman se tyd nie. En sy sê: “Grawe dáár.” Daar, ál op die klipspoor, loop die wateraar, asof die aarde ’n liggaam is waarvan sy die vinger op die pols het. En die Witsies grawe die nuwe waters oop en bou nuwe putse vir mens en dier om uit te drink. Met die seën kom onheil, sê Ma, want party fonteine is brak. Dié laat sy toegooi.

Laer af bou ons van doringtakke heinings om groentetuine; die heinings skiet wortel en in seisoen staan die heining groen as beskerming selfs teen ’n bokkapater.

Die Skuiltes: Oorhangende rotse wat so diep is dat ons die kleinvee gedurende haelstorms daar skuiling gee; nie grot nie en ook nie heeltemal spelonk nie. Dit strek verder as ’n myl teen die hoogste sandsteenhange langs, met openinge na bo vir skoorstene. As die openinge te veel of te groot is, vul sy dit van bo met rotse op. Sy help aan berge ook bou, ons ma.

Die enigste ingang, breed genoeg vir ’n skotskar of een van Jan se smal waens, is waar die pad uit die kloof voor ons Naudés se Skuilte doodloop. Dis ’n íngang en nie ’n úitgang nie, sê Ma. Ma sê: “Hier kom hulle in, as hulle kan. Hier gaan niemand uit as ek dit nie weet nie.” Dis daar waar ’n vuur twee jaar lank onafgebroke brand, al is dit net om die wag met sy Remington in ’n voorraad koffie te hou. Niemand kom ongenooid binne nie, op enkele uitsonderinge na, soos Voss en Niemann.

Die kinders dra ysterklip aan van ou skanse af. Met die klip uit wie weet wie se skanse messel Witsies waar nodig die voorkante van die kranse toe, met deure en soms ’n venster of twee.

Ons vra vir Jan Witsie wie dan daardie skanse gebou het, want hy vertel ons self die Boesmans is nie mense nie omdat hulle niks anders as ’n skerm kon bou nie. Met die dood is hulle vergete, sê Jan Witsie, vir mens en vir God. Wié het dan in daardie skanse kom skuil?

Selfs dalk die Witsies, sê Jan Witsie. Wanneer? Jan Witsie is onwillig om te praat. Julle vra te veel vrae, sê Jan. Hy sê hy kan nie met sekerheid sê wanneer dit was nie, maar dalk was dit gedurende ’n bes vergete tyd, toe die Witsies verkeerd gekies het. Verkeerd gekies het? Ja, toe hulle saam met Basotho’s bergop is om hier te kom skuil, maar saam met Boere bergaf is as nuwe bondgenote. Dalk was dit verraad teen die Basotho’s, hulle bloedbroers. Dit mag verkeerd gewees het op die lange duur, sê Jan Witsie, maar dit los hy vir die nageslag om te besleg.

Ons hang matte wat die Witsies van gras vleg voor die deure en vensters op en skort binne af met verdere messelwerk of die bokseile van die waens. Agter in ons Skuilte is ’n gat na bo, sodat ons die blou winterlug daardeur kan sien. Daar laat Ma ’n skoorsteen na bowe bou, en maak sy ’n herd. En buite messel hulle ’n broodoond en die oop herd waar ons vir die duur van die oorlog Witsievroue om die stampblokke hoor, en waar Ma en die Witsievroue almal teen die Skuiltes uit seeppotte sou voed en voor spijs en drank zeggen wij Uw lof en dank …

Ten spyte van Jan Witsie se storie dat die Boesmans met hulle dood vir mens en God vergete is, dans klein geel boepgat-mensies saans in die flikkerlig van vure teen rotswande weer hulle vergete danse, en gaan op jag teen die eland met pyl en boog. Toe die elandbiltong opgeëet is, stel hulle teen die rotswand lokvalle vir waens met seile en spanne osse; waens nes ons s’n. Hulle lê die bees voor wat die Witsies van ons steel.

Al het Jan se voorvaders die Boesmans ’n geslag gelede met byneste uit die Skuiltes verdryf, terwyl mý voorvaders se swartkruit en lood daar buite die Skuiltes finaal met hulle afgereken het, is hulle elke aand aanwesig voor Boer én Witsie.

As ek aan dié winter dink, dan ruik ek beesmisvure teen die Skuiltes, soos op die plaas in die voorwinter. Ek kyk na die wasige Kom onder ons deur blou beesmisrook wat my oë laat traan.

’n Storie vat sy eie pad, nadat hy voel-voel hier vat en daar los, om later daar iewers anders weer stewiger vas te vat. ’n Storie is terugvat en baie misvat. Van die mis gepraat …

Soggens, ná die ergste ryp gesmelt het, vat ons meisiekinders en meide elkeen haar enemmelskottel, na gelang van ons grootte. In die klowe, waar die bees wei, tel ons die nat mis op tot die skottels vol is. Ons loop in ’n ry terug Skuiltes toe, skottel op die kop, behalwe dat die Witsies vroeg geleer het om die skottel daar te balanseer sonder om dit met hul hande vas te hou. Hulle loop só huis toe met wikkelheupe; ons meisiekinders kan dit net vir ’n tree of drie so hou. Dan gryp ons kop toe om te keer dat die skottel afval.

“Dit is die wikkelheupe,” sê aunt Anne wat ons teen middelsomer teen die Skuiltes sou begrawe. “Ek en julle het nie dié Witsies se wikkelheupe nie.”

Ons smeer die nat mis so vier duim dik oor ’n gelyk plek. Later, as dit halfdroog is, maak die Witsievroue beurt om die mis in vierkante te spit en nat kant na bo te keer. As dit droog is, pak hulle dit in ’n netjiese hoop, soos ’n steenoond, met luggate vir die verdere droog word.

Ma hou toesig wanneer elk sy rantsoen mis kom haal, want die meeste bloedvetes onder die Witsies, die lang vyandskappe “van geslag tot geslag”, so sê aunt Soph, het by die misstapels begin. Ons kan maar aanneem, so sê aunt Soph, dat daar tussen die Witsies nie iets soos Die Boom van Goed en Kwaad is nie. Dit het hulle by die wit mense kom leer. Maar so seker as padda manel dra, en so aan, so seker weet sy daar was onder die Witsies ’n Mishoop van Goed en Kwaad, sê aunt Soph, waar hulle hul kennis van Kwaad eerstehands kon opdoen.

En daar is ek weer aan ’t misvat, ’n vieserige gevat-vat …

Jy het my gevra om die storie te vertel, vanaf ’n begin en deur na die einde toe en fluit-fluit, my storie is uit soos Jakkals en Wolf. Maar waar kom die tyd dan vandaan vir die petunias uitplant of vir die bietjie fyn naaldwerk voor die oë finaal ingee, as ek die storie so sou vertel soos jy wou?

Laat ek nou die knoop in my sakdoek styf vasvat, al sal ek dit later weer verloor en dan voel-voel terugvat. Nou gaan ek die storie (vir ’n rukkie, altans) vertel soos jy wil hê ek dit moet vertel.

Jy wil hê ek moet jou vertel van die oorgawe onder in die Brandwaterkom, van waar ons dit kon sien. En van generaal Mannetjies Mentz, hoewel ek my nie kan herinner dat hulle hom toe “generaal” genoem het nie; dit was toe nog net ja, kommandant, nee, kommandant. Dit was eers later, tydens en ná die oorlog, dat ek burgers en oudstryders hoor praat het van generaal Mentz sus en so.

En nou moet ek ook vir jou sê dat nie een van ons generaal Mentz weer sien nie, uitgesonder natuurlik oom Blink Frans wat baie jare by die generaal bly en aunt Soph se tweede, kort kennismaking en al haar ander kennismakings waarvoor ek (en sy?) nie kan instaan nie. Oor dié Mannetjies Mentz wat ons ander teëkom, kan ek jou maar skraps vertel uit eie sien en hoor, al voel ons ons ken hom uit ons drome soos die palm van ons hand …

Maar laat ek jou vertel wat ek weet.

Klassiek reeks: Op soek na generaal Mannetjies Mentz

Подняться наверх