Читать книгу Klassiek reeks: Op soek na generaal Mannetjies Mentz - Christoffel Coetzee - Страница 5

Voorwoord

Оглавление

Die tydskrif De Kat se romanwedstryd, met ’n besonder groot getal inskrywings, word in 1997 gewen deur die debuut van ’n skrywer van wie niemand nog gehoor het nie: Christoffel Coetzee. Daarna wen dié boek, Op soek na generaal Mannetjies Mentz, die M-Net-prys; dit word ook verwerk tot Afrikaanse toneelstuk wat groot sukses inoes. En toe sterf die skrywer, pas vyftig, plotseling. Sekerlik die verstommendste verskietende ster tot nog toe aan die Afrikaanse literêre horison.

Coetzee se roman speel af in die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902, maar dit bied veel meer as ’n historiese weergawe van die oorlog. Die roman is ’n pakkende uitbeelding van boosheid en geweld, van die donker “tweede natuur” van die mens wat altyd aanwesig is en in tye van oorlog sterk na bo kom. Die sentrale elemente van die “tweede natuur” wat in Mannetjies Mentz uitgebeeld word, is wrede geweld en ongetemde seksualiteit. Die twee vertrouelinge van Mentz, Voss en Niemann, is (soos wat hul name suggereer) nie meer mense nie, maar diere – simbole van gewetenlose gewelddadigheid. Hierdie twee is die mees skrikwekkende verteenwoordigers van die bose, maar geen karakter ontsnap aan hierdie “laere natuur” van die mens nie. Mentz se naam suggereer dat hy ’n simbool van die mens is, ’n Elckerlijc-figuur – veral van die donker kant van mens-wees, in besonder van die “mannetjies-mens”.

Die roman beeld intens gekwelde karakters uit, magteloos om hul drifte in toom te hou en afgerem deur die las van hul gewete. Nogtans, hoewel die boosheid soos ’n aansteeklike siekte versprei en ’n onontkombare skuldgevoel meebring, is daar ook tekens van hoop. Dit word onder andere bewerkstellig deur die Engelse soldaat Charlie White, ’n uitsonderlik eerbare man. White word onskuldig gemartel en vermoor deur Niemann. Dit is betekenisvol dat, net voor die vertelling van White se dood, ’n vlekkelose lam deur Jan Witsie se grootmoeder geslag word ter beskerming teen die bose. Charlie White en die lam word sodoende op die simboliese vlak met mekaar verbind. Dit is veelseggend dat, kort na die dood van Charlie White, Jan Witsie en sy helpers daarin slaag om die kommando van Mentz te verdryf; die dood van die “slagoffer” White het die verlossing moontlik gemaak. Witsie en White, “wit” simbole van goedheid en die stryd teen kwaad, oorwin uiteindelik Mentz se kommando.

Nog ’n teken van hoop is die moontlikheid van bieg oor jou kwellinge teenoor ’n simpatieke luisteraar. In die derde deel van die roman vertel Blink Frans aan sy welwillende suster Ounooi van sy duister verlede om daardeur helderheid en vrede te vind. Die leser moet homself aan die een kant identifiseer met die Elckerlijc-figuur Mentz en sy trawante in die boosheid; aan die ander kant met Ounooi om die belydenis van boosheid simpatiek aan te hoor. In sekere sin word die leser daartoe gebring om hom oop te stel vir sy eie verhaal.

Die roman het ’n tydlose relevansie vir die mens, steeds op soek na homself, na vrede en versoening.

Chris van der Merwe

Kaapstad, 2008

Klassiek reeks: Op soek na generaal Mannetjies Mentz

Подняться наверх