Читать книгу Klassiek reeks: Op soek na generaal Mannetjies Mentz - Christoffel Coetzee - Страница 12

Оглавление

“Ek hoop,” sê aunt Anne vir die Engelse verkenner toe sy seker is dat die burgers met hulle kommandant bergaf is, “jy verstaan hulle hou ons hier gyselaar. As jy probeer wegkom, ontgeld ons dit.”

Die Engelse verkenner sê: “Jy het heeltyd alles verstaan.”

Aunt Anne sê, en dis die enigste keer dat ek haar ooit hoor laster: “My heavenly Jesus! Ons is nie onnosel nie. Dié van ons wat nie Engels verstaan nie, het net nooit die geleentheid gehad om dit te leer nie. En my niggie Soph het net so goed soos ek verstaan. God, dalk verdien jy Niemann as jou voorland.”

“Dis nie wat ek bedoel nie. Ek is jammer.”

“Nee, dit aanvaar ek. Maar verstaan jy wat met ons gaan gebeur as jy ontsnap?”

“Ek het my woord aan die Boereoffisier gegee. Ek is nie van plan om julle hier te los voordat ek hulle toestemming het nie.”

“Dan is dit goed so.”

Aunt Anne is kwaad, só kwaad soos wat ons haar nog nie gesien het nie. Sy sis haar woorde sag uit in die rigting van die Engelse verkenner soos ’n kat wat spoeg. Al verstaan ons nie volkome nie, weet ons haar boodskap is duidelik. Haar woorde dra briesend uit die Skuilte buitentoe uit, al praat sy sag.

Die Engelse luitenant sit nog steeds met net ’n kombers om hom gevou. “Dit is ek wat nou gyselaar gehou word deur my naaktheid. Dink jy dat jy iewers dalk vir my klere in die hande kan kry, noudat ek jóú ook my woord gegee het?” vra hy.

Ma sê: “Haai, die arme kêrel sit nog steeds poedelnakend onder die kombers.” Sy kry van Pa en die broers se ou klere. Daarna gee sy ’n Witsie opdrag om ’n nuwe skuilte, “’n beskeie een, want hy’t nie meer nodig nie”, langs ons s’n toe te bou.

“Sê nou vir hom om tevrede te wees met wat ons het,” sê Ma.

“Hy moet aantrek wat ons het,” sê aunt Anne vir Ma sonder om vir die Engelsman te vertaal.

Al verstaan Ma nie, probeer sy ’n paar keer tussenbeide tree. “Dit is tog nie betaamlik vir ’n jong meisie om so in die geselskap van ’n halfnaakte vreemdeling te wees nie?”

Aunt Anne hoor Ma skaars. Sy hou aan om saggies te dreig, oor wat met luitenant White sal gebeur as hy dit sou durf waag om ons te verklik.

“Hoe meer ek my woord gee, hoe minder glo jy my,” sê die Engelsman.

Oplaas laat hulle hom alleen by die herd.

Vir weke sien ons aunt Anne en die Engelsman nie met mekaar praat nie. Dis net Good morning en Good evening.

Maar iewers kry hulle die geleentheid vir nadere kennismaking. Of is ’n verbond voor ons oë gesluit? Wanneer hulle blik ontmoet, verenig die kyk van samesweerders hulle teen ons nuuskierigheid.

Ons sien niks, totdat aunt Anne een aand gebukkend by die vuur staan. Die Engelse verkenner sit sy hand op haar skouer in ’n gebaar van besitlikheid. Sy verstyf net lank genoeg om rond te kyk of iemand iets bemerk. Dan gee haar liggaam oor en ontspan. Aunt Anne gaan sit op ’n klip, haar knieë styf teen haar liggaam opgetrek met haar arms daarom gevou. Haar ken rus op haar knieë toe sy opkyk na die Engelsman. Hulle praat te sag vir my om te hoor, maar dis duidelik dat hy haar vra of hy ook mag sit. Sy kyk weer rond, en sien my dié keer waar ek in laaste son staan. Sy skud haar kop “nee” vir Charlie White. “Snip,” sê sy toe sy sonder om links of regs te kyk by my verbyloop.

Aunt Anne en Charlie kan dit nie veel langer wegsteek nie, al is hulle kwalik bewus van die toevallige aanrakings. In die daaglikse kom en gaan tussen aunt Anne en Charlie is daar ’n vals beskeidenheid wat onder die tafel aan skerwe lê wanneer voete vreemde voete opsoek, vlugtig en “per abuis”. Loop hulle langs mekaar, buig die aardronding die gang van hul stap na mekaar toe.

Aunt Soph, wat ouer is, verstaan dit. Sy sê hulle dink met hulle lywe sonder dat hulle koppe daarvan weet. Dis daarom dat hulle, wanneer hulle opsigtelike voorwendsels bedink om alleen te wees, dit verspil deur mekaar oor nietighede in die hare te vlieg en dan dae lank nie met mekaar te praat nie. Intussen gaan die liggame onverstoord voort met ’n samestand waarvan hulle net halfbewus is.

Dit was ná een van dié stiltes oor niks, onderstreep deur die manier waarop die liggame dit bloot ignoreer, dat ek een nag wakker word en sien hoe aunt Anne haar hare kam en ’n karos oor haar skouers gooi. Ek staan saggies op en volg haar – nie omdat ek my neus in ander mense se sake wil steek nie, maar omdat hier voor my oë iets gebeur wat ek nie verstaan nie.

Laaste wat ek te siene kry, is hoe aunt Anne die rouvel voor Charlie se ingang oplig. Toe kry iemand my aan die kraag beet. “Agie,” snou Soph, “kom slaap.”

Ek kyk fyn na aunt Anne by brekfis. Sy lyk soos gewoonlik, ten spyte van … wat? Tog sien jy met een oogopslag skielik dinge in aunt Anne raak wat jy voorheen misgekyk het. Sy sit met haar hande op haar skoot saamgevou, maar aan die are wat blou bo-op die hande bult, sien ek hóé sy klem: die hande durf mekaar nie los nie, want sy weet sy het nie beheer oor die koers wat hulle op hulle eie sal inslaan nie. As sy ’n kosbak na Charlie aangee, dwing die hande na mekaar toe, so heeltemal sonder voorbedagte rade. Ons sien dit en giggel.

Hulle bloos bloedrooi. Sy slaan haar oë neer. Haar ooglede is dun deuraar. As jy boonop sien hoe die bloed teen haar nek klop, net onder die vel, dán vloek jy Charlie by voorbaat, want bloed is pyn. Jy vloek hom, al weet jy hy sal nie willens en wetens ’n instrument van pyn wees nie.

Terwyl ons dit raaksien, word aunt Anne ook ’n spieël vir ons waarin ons na onsself kyk. Ons sien hoe haar borste teen die rokmateriaal in opstand kom – dieselfde middag versit Ma die ry roksknope teen die rugkant “sodat aunt Anne makliker kan asemhaal”. Beur sy teen die wind, dan merk ons gevormde rondings van boud en blad, bobeen en kuit. Die hoekigheid waaraan ons gewoond is, is aan die verdwyn, so verbeel ons ons.

By die wasplek kyk ons met nuwe oë na ons eie knopknieë, uitsteekribbes en -heupe, stokkiesbene, en skouerblaaie soos uitgekookte hoendervlerke. Tog weet ons hiér is ook iets onverstaanbaars aan die gebeur, selfs al is dit onsigbaar. Al bly ons elke wasdag kyk, is ons steeds vir onsself herkenbaar. Ons skrop skurwe hakskene, bene en elmboë met mieliestronke.

Voor ons van die wasplek af huis toe gaan, kyk ons net weer in die weerkaatsing van die water of daar nie intussen die een of ander wonderwerk plaasgevind het nie. As dit byna oornag met aunt Anne kon gebeur, waarom dan nie ook met ons nie?

Net in ons drome is aunt Anne ’n getroue beeld van onsself – in ons drome is ons nie bang dat iemand ons borsies soos groenvye sal opmerk nie, want ons drome gaan met ons op loop en ons stap welgevorm en trots langs Charlie, sonder om ons skouers te laat hang.

Dit is teen dié tyd, so dink ek, dat ek die eerste keer die drome het wat my lewenslank sou agtervolg.

Die kommandolede het juis met Charlie terug Skuiltes toe gekom omdat beide hy en Mannetjies Mentz ewe onopsigtelik is. Dis juis dié onopsigtelikheid wat hoegenaamd ’n ooreenkoms tussen hulle moontlik maak.

Die “ooreenkoms” tussen Charlie en die kommandant, oppervlakkig soos dit is, is so treffend dat ek dikwels Charlie en die kommandant vir mekaar aansien, ’n verwarring wat veral in drome ontstellend is.

Dikwels, in die jare wat kom, sou ek die doen en late van die kommandant in my drome aan Charlie toeskryf. Dit is in my drome Charlie wat tussen ons maai soos die kommandant tussen ons sou maai. Was Charlie, wat so verskriklik sou ly voordat hy ’n vreesaanjaende dood sterf, dus op ’n onverstaanbare manier vir sy eie einde, benewens vir dié van aunt Anne, verantwoordelik?

Is dit moontlik dat ’n mens die kommandant se skuld verplaas na Charlie? Verkwalik jy vir Charlie, onbewustelik, omdat hy aunt Anne van ons weggeneem het, omdat ons haar teen die Skuiltes sou begrawe voor die einde van dié jaar?

Het ek Charlie dan nie reeds gevloek voordat ons aunt Anne sou begrawe nie, toe ek haar bloed só vlak onder die vel sien dat dit soos blou krake op fyn porselein deurbreek op haar ooglede en hande en in die waai van haar bene en arms, in die geheime plekke wat ons kinders vanuit ons uitkyk in die kloof kon sien, en in die verwondbare klop teen haar keel? Hoe naby lê die pyn nie juis tóé reeds nie! Is ek nie maar besig om Charlie steeds, al is dit jare daarna, te vervloek vir dié bloed wat selfs gedurende haar lewe so allersigbaars was nie?

Ná so ’n droom waarin ek Charlie met die kommandant verwar, is ek die hele dag swartgallig en huilerig. Dis presies asof jy ’n dierbare afgestorwene sonder bybedoeling beswadder het met ’n misplaaste uitdrukking, ’n slip of the tongue soos ons op Engels sê.

Ander kere droom ek die kommandant is Charlie, met Charlie se liefde vir ons kinders. Dit is die kommandant, en nie Charlie nie, wat saam met ons en die Witsiekinders by die meulklip speel. Dit is die kommandant, nie Charlie nie, wat oom Japie keer op keer laat wen by die meulklip, sodat hy van geluk kraai.

Dié droom lê my wrokkigheid teenoor Mannetjies Mentz aan bande. Ek gaan die dag met ’n ligte hart tegemoet. Dis bloot asof die kommandant homself deur dié lewenslange verwisseling met Charlie White vrykoop. Vrykoop van wat? Van die verwoesting wat hy en sy mense oor ons sou bring?

Nee, vrykoop sou die kommandant hom nooit in my oë nie. Is dit dalk net ’n ander manier om my wraak teenoor Charlie tot uiting te bring? ’n Mens is diep gekrenk omdat Charlie jou steeds as ’n kind sien. Jy weet jou jaloerse grief bevestig dat jy nog ’n kind is, maar dit maak die kwetsplek net seerder. Jy verbeel jou net hardkoppiger dat jou gevoel vir hom gelyk is aan aunt Anne se gevoel.

As kinders mag ons onskuldig gewees het. Dit beteken nie dat ons nie die slagoffers van ons eie emosionele wanorde was nie, terwyl Charlie en aunt Anne hulle in mekaar verloor daar teen die Skuiltes.

Maar nou is dit eers lamtyd, en ’n leeftyd van drome lê nog voor. Die uiteinde daarvan is dikwels onbegrip of selfregstelling. Vir sommiges duur die onbegrip ’n leeftyd, en is die regstelling ’n lewenslange proses. Dié lewe lê nog voor. Maar nou loop aunt Anne, vir wie ons middelsomer teen die Skuiltes sou begrawe, nog van vroeg tot laat tussen die ooie in die kloof rond en help met lammers wat skeef lê en probeer ooie red wat met dikkoppe aankom. Kort voor lank en sy maak ’n kospakkie vir haar en Charlie.

Hulle kom laat eers terug, nadat die ooie in die takkrale is waar ’n enkele wagter die bobbejane en jakkalse kan weghou.

Ons draal agter aunt Anne en Charlie aan deur die klowe totdat ’n kortgebonde Jan Witsie ons met sy sweep dreig. Maar ons hou hulle deeglik van ’n afstand dop. Teen etenstyd gaan Charlie teen ’n klip sit, en aunt Anne tussen sy bene. Hy knoop haar rok ver genoeg teen die rug oop. Hy soen haar in die nek. Hy kry sy hande onder haar oksels deur.

Dan leun sy vorentoe. Sy knoop self die rok tot teen haar middel oop. Dit val oor haar skouers. Charlie se hande is bak oor haar borste. Aunt Anne trek haar rok op, tot bokant haar wit, ronde knieë. Sy draai haar om na hom. Sy neem sy gesig in haar hande. Sy trek hom oor haar.

En ons is plaaskinders – ons weet van die sonde van dierlike wellustigheid. Ons voel skuldig om wat ons sien te vergelyk met dierlike wellustigheid, veral omdat ons oortuig is dat dit niks van dié aard is nie. Maar ons is plaaskinders en ons ken die maniere van diere.

Ons sien paartyd hoe die hek van die kamp vir ’n merrie oopgemaak word. Hoe die hings rondom haar draf, terwyl hulle velle aanmekaar senuagtig tril en hulle nekspiere span. Hoe hulle hul bolippe dreigend lig om geel tande, skerp soos ’n ry beitelpunte, te wys. Hulle proes diep uit hulle longe. Die hings nader die merrie, en sy sink haar tande in sy nek en lieste. Sy skeur flappe vel los, totdat die hings van pyn runnik. Die merrie skop hom sodat hy beneweld op sy agterpote steier. Keer op keer kom hy dronk regop om weer en weer te probeer om haar te bestyg, totdat hy haar met sy voorpote in ’n greep beetkry en sy tande teen hare meet. Aan sy wilde oë sien ons nou is hy benede pyn. Hy hou haar met sy tande in bedwang. As dit alles verby is, wei hulle saam asof niks gebeur het nie, al is hulle vol bloed. Die aand by die stal behandel ons die wonde met geneesolie. Pa roep aunt Anne om die stukke vel wat loshang met ’n seilnaald en -gare toe te werk. Uiteindelik genees die wonde, maar die littekens bly. As jy die langer hare lig wat ou wonde oorgroei, lê die wondmerk steeds daar – opgehewe en haarloos, al is dit hoeka al genees.

Soos die perde, dink ons terwyl ons asem ophou. Niks ontsnap ons aandag nie. Stoei en spook aunt Anne dan nie om onder Charlie uit te kom nie? Sien ons nie hoe worstel sy teen sy bors nie? Al kan ons nie hoor wat gesê word nie, sien ons hoe hulle lippe roer. Pleit aunt Anne dat Charlie sy houvas op haar skouers moet verslap? Wil sy wegvlug? Soos die perde, ja, byna tot op die runnik na: die gefluister word skril, maar Charlie demp dit met sy hand oor haar mond – en nou klink dit meer na ’n mandjie klein, honger katjies, of die kuikenkamp, as na die gerunnik. Hy is so gerig om haar stil te hou, dink ons, dat hy so diep uit sy longe snak, byna soos die perd proes, dat ons hom tot hier hoor.

Maar anders as die perde, ook. Waarom dan hou aunt Anne hom oor die rug vas? En haar bene, dié wat eers weerskante van sy lyf spartel vir ’n wegkomslag, waarom hou dié Charlie nou styf vas in die holte van haar heupe, met haar voete dig oor sy rug gesluit?

Dit is soos perde, maar ook nie soos perde nie – eerder soos karperde wat ongeduldig ingehou word vir die wegkomslag en met die voorpote kap en koppe beur, maar dan teuels kry en saam-saam draf, saam van gang verander en galop, trippel-trippel tot rus kom en hard oor die werf blaas. Hulle is tuig- en stanggeleerd, maar deur wie?

Onbegrip beklemtoon hulle naaktheid en ons is beskaamd oor ons eie nuuskierigheid. En ons verlange na wonderwerke? Wat is dít as dit nie naakte begeerte is nie? Ons hardloop huis toe, té bang om ons geheim te verklap deur aunt Soph te vra wat presies daar in die kloof gebeur het. Daardie nag bevestig drome, soos ons nuuskierigheid, weer eens ’n aandadigheid aan wellus en begeerte wanneer ek droom dis die kommandant by die meulklip wat Japie so laat lag.

Laat, ná sononder kom aunt Anne en Charlie hand aan hand Skuiltes toe. Ons weet hulle lywe is blou onder die klere en hulle elmboë en knieë is rou geskaaf. Soos die perde, ja: as hulle klaar is, dan wei hulle in vrede saam, bebloed, en ons is op die uitkyk vir die blywende letsels waaroor hare nie weer sal groei nie. Later, nadat Charlie en Anne nie meer met ons is nie, sou ons besef dié letsels bly ’n lewe lank, al is dit onsigbaar. Dán weet ons: nee, nie soos die perde nie.

Maar nou vertel ek ’n storie. Ek spring vorentoe, agtertoe, in plaas om te begin by eendag, deur te vertel na en toe tot by en dis die einde.

Ons onbegrip bly, veral toe ons dié nag aunt Anne weer sien uitsluip. Om weer van voor af deur dié beproewing te gaan?

Ons is plaaskinders. Daar is oorsaaklikheid. Vandat ons die knip van die kamphek lig totdat die merrie vat, maak Pa soveel kerwe op die staldeur. Ná nog soveel kerwe moet die merrie uit die veld op stal kom staan. As Pa sê nou’s dit tyd, dan staan ons vroeg op om eerste by die stalle te wees. Al gaan aunt Anne en Charlie soos perde aan, kom dit nie in ons gedagtes op om die ooreenkoms so ver te voer nie. Hulle is mense. By mense is ’n nageslag ’n gawe uit Gods Hand, so leer ons.

Klassiek reeks: Op soek na generaal Mannetjies Mentz

Подняться наверх