Читать книгу Klassiek reeks: Op soek na generaal Mannetjies Mentz - Christoffel Coetzee - Страница 7

Оглавление

Ons geslag (gebore 1940-1950) is die laaste wat eerstehands die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899-1902) kon aanhoor: Ons hoor dit van grootouers, en van ooms en tantes. In uitsonderlike gevalle hoor ons dit van ’n ouer.

Hierdie grootouers, ooms of tantes was meestal self kinders gedurende die oorlog. Die verhale is dus merendeels (met die uitsondering van dié van penkoppe) verhale uit die mond van dié wat verwyder van die frontlinies was. Dit was mondelinge oorlewering vanuit die perspektief van een geslag kinders aan ’n ander geslag kinders.

Maar asof oornag sterwe die oudstryders uit. Kommandant Chris van Niekerk (1874-1966),1 die laaste oudstryder wat ’n belangrike openbare amp beklee het, tree in 1960 uit as die president van die senaat, en ’n dekade later is dit klaarpraat met die oudstryders.

Ons kan die gebrek aan ’n skriftelike nalatenskap van die “oorlogsgeslag” verskoon. Die waarde van die geskrewe woord was by hulle nog nie gevestig nie. Dit was ’n mondelinge gemeenskap. Eers met ons eie geslag vestig die geskrewe woord sigself (en twee geslagte later is ons nou weer opgesaal met ’n oordrewe klem op mondelinge oorlewering).

Dit is die konteks waarbinne ek my ondersoek na generaal Mannetjies Mentz begin het.

Ek het grootgeword in die omgewing van waar generaal Mentz die eerste keer geopereer het: die Oos-Vrystaat. Hier, ten minste wat die eerste fase van die oorlog betref, verrig (of pleeg?) hy sy grootste heldedade (sou ons verkies om dit so te noem). Dit is dus vanselfsprekend dat ek en my maters grootgeword het met generaal Mentz as die held van menige vertellings uit die oorlog.

Dieselfde sentimente vind ek later onder my tydgenote, in die wye boog wat strek vanaf Lichtenburg tot oos van Pietersburg. Hier bring generaal Mentz die laaste fase van die oorlog deur, voordat hy soos ’n groot speld verdwyn.

In ieder geval, daar was dele van die Vrystaat en Transvaal waar die roem van generaal Mannetjies Mentz gelykstaande was aan dié van De Wet of De la Rey.

Ons weet Mentz het sy rang van veggeneraal ontvang van generaal De Wet, gedurende die sogenaamde heropbou van die Vrystaatse magte ná generaal Martiens Prinsloo se oorgawe in die Brandwaterkom. Terselfdertyd weet ons egter dat generaal De Wet se aanvanklike heropbou, in die woorde van president Steyn, “impulsief” was – wie vandag bevorder word, is môre vergete. Verder weet ons nie wie die “hulle” was wat vir generaal Mentz na die Kom gestuur het met die opdrag om saam met generaal Prinsloo gevange geneem te word nie. Dit is nie eens ’n uitgemaakte saak of daar hoegenaamd so ’n opdrag was nie, in welke geval generaal Mentz op eie inisiatief opgetree het.

Maar selfs al het hy op eie inisiatief gehandel, beteken dit nie dat sy handelswyse nie steun “van bo” geniet het nie. Is sy bevordering tot generaal nie juis tekenend van goedkeuring van ’n opperbevelstruktuur nie?

Kan ons dit uit die hand verwerp dat Mentz en sy kommando opereer as ’n soort vrykorps, onafhanklik van ’n offisiële bevelstruktuur? Kan ons dit uit die hand verwerp dat die rang van “kommandant” (soos Mentz bekend staan voor sy bevordering langs “amptelike” maar ongedokumenteerde kanale tot “veggeneraal”) ’n selfopgelegde rang was, op die kenmerkende manier van vrykorpse?

En wat van veldkornet Voss? Watse soort “veldkornet” was hy? In die latere fases van die oorlog (en daarna, in Duits-Oos) staan oom Blink Frans Naudé as “die adjudant” bekend, al was dit nie ’n tradisioneel erkende rang in die Boeremagte nie. Is dieselfde nie moontlik die geval met “veldkornet” Voss en “kommandant” Mentz nie?

Getuienis dui op die bestaan van onafhanklike groepe gedurende die Suid-Afrikaanse Oorlog, of ons dit met die titel “vrykorps” wil vereer of nie.

In die loop van ’n paar dae kom Deneys Reitz [1927 (1983, inleiding deur Thomas Pakenham): Commando (Southern Book Publishers, Halfway House)] in die Vrystaat op drie sulke groepe af.

At length, we came to Hoopstad town. The place was deserted […] That same afternoon a solitary German trader rode in from the south-east where he was serving with a small Boer commando […] This consisted of twenty men under an officer of the now defunct O.F.S. Artillery […] We spent a week with our friends. They were a ragged crew carrying a queer assortment of weapons, and what little ammunition they had they reserved for shooting game, which abounded, and they seemed quite happy so long as they could keep out of the hands of the British.

Ten spyte van al die sorgvryheid van hulle bestaan lyk hierdie groep eerder na gemoedelike pligontduikers as na ’n “vrykorps”.

So we had shot enough springbok and blesbok for biltong.We rode through this unpeopled waste until, some days later, we fell in with a party of Freestaters near the Sand River railway-bridge. There were nine of them under a Field-Cornet named Botha. They had been trying to derail a bridge, but the English were building block-houses along here and their attempt had failed, so Botha and his men were returning to their haunts in the mountain ranges […] near Wonder Kop. From here they made periodic raids down to the plains, and they must have given a good account of themselves […] Botha told me that he had at one time commanded over three hundred men […] He clung to his title of Field-Cornet, two of his men called themselves Corporals, the rank and file of his army consisted of six men […]

Ten spyte daarvan dat omstandighede vir dié trotse negetal skeefgeloop het, lyk dit of ons te doen het met ’n gevegseenheid wat onafhanklik van ’n sentrale bevelstruktuur geopereer het – die tipiese kenmerk van ’n vrykorps. Hulle mislukking kan ons nie verhinder om hulle as sodanig te beskou nie.

For two days we rode on […], reaching the next village, Fauresmith, by sunset. This place had also been abandoned by its original inhabitants, but we found it occupied by men little better than bandits. As we went up the main street a number of unkempt individuals rushed at us, rifle in hand, and ordered us halt. They crowded round threateningly, with shouts of “Maak dood die verdomde spioene” (“Kill the cursed spies”), although they must have known that we were nothing of the sort, and only wanted a pretext to rob us.

Ook vrybuiters, benewens pligontduikers en “vrykorpse” het die jong Reitz teen dié laat stadium van die oorlog in die Suid-Vrystaat aangetref.

Veral in die laaste fase van die oorlog is dit waarskynlik dat generaal Mentz se kommando as ’n “vrykorps” geopereer het – sien Blink Frans Naudé se opmerking dat hulle verkieslik op die grense van De la Rey se bevel optree. Die stand van sake gedurende die vroeëre fase is meer twyfelagtig. Hoewel daar nie aanduidings was dat kommandant Mannetjies Mentz in die Brandwaterkom deur die Britse magte aan die Boerebevel verkla is nie, is die vraag eerder: aan wie sou hulle hom kon verkla? Die Vrystaatse opperbevelhebber of hoofkommandant, generaal Martiens Prinsloo, was in die Kom onder Britse bewaking. De Wet was aan die vlug, en al sou hy opgespoor kon word, sou ’n klagte aan hom die offisiële status as nuwe hoofkommandant gee.

In die laaste fase van die oorlog is daar na bewering lasbriewe deur beide die Boere en die Engelse magte vir Mentz se inhegtenisname uitgereik – ’n aanduiding dat hy hom aan die gesag van niemand onderwerp het nie.

Volgens oorlewering het Mannetjies Mentz voortgeveg, ten spyte van die beweerde lasbriewe, tot vrede onafwendbaar was en hy sy kommando ontbind het. Maar dis tóé dat De la Rey vir Mentz en sy kommando in die bresse getree het. Dui dit daarop dat die Boerelasbriewe nie té ernstig opgeneem moet word nie? Met ’n paar getroue volgelinge – en De la Rey se hulp – glip hy oor die grens na Portugees-Oos-Afrika en verdwyn in Duits-Oos-Afrika.

Ek groei op tot ’n amateurgeskiedkundige, en is in staat om die vertellinge uit my jeug met dié van die opgetekende geskiedenis te vergelyk. Dit tref my vroeg dat die figuur van Mentz nooit in geskrewe geskiedskrywing voorkom nie.

’n Populêre bron, van die chauvinistiese soort wat kom met kits-oordele van “held” of “lafaard”, is dr. Jacques Malan se Die Boereoffisiere, 1899-1902 [1990: J. P. van der Walt, Pretoria].

Onder “Mentz” verwys ’n alfabetiese register en fotobronne ons na:

Mentz, kmdt. Frans Egebertus (1849-1933): kommandant, Heilbron-kommando. Hy breek in 1901 saam met De Wet deur die blokhuislinie tussen Kroonstad en Lindley. Van die Mentze wat diens doen as Boereoffisiere word kommandant F. E. die meeste in die literatuur vermeld. Volgens prof. S. B. Spies se Methods of barbarism [1977: Human & Rousseau, Kaapstad] verklaar hy op ’n vergadering van offisiere te Vereeniging op 15 Mei 1902 dat daar ongeveer 200 gesinne onder sy beskerming is, en dat hy nie meer oor genoeg proviand beskik om die oorlog onbepaald voort te sit nie. Volgens dr. A. M. Grundlingh, in Die “Hendsoppers” en die “Joiners” [1979: HAUM, Kaapstad], waarsku kommandant F. E. by dié geleentheid dat die Boere die wapen sou neerlê indien die stryd voortgesit word.

Mentz, kmdt. H.: Hy veg as luitenant onder generaal Beyers. 1910-1924: LV vir Soutpansberg. Kolonel in Wêreldoorlog I. 1919-1921: Minister van Lande, in die Smuts-regering.

Mentz, veldk. N. J. (1845-Jan. 1900, † Acton Homes) van die Ermelo-kommando – sy graf in Natal gee sy geboortedatum aan as 1847 en identifiseer hom as van die distrik Heilbron.

Nie een van dié persone pas die patroon van generaal Mannetjies nie.

Deel 3 van Die Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, onder die hoofredaksie van drs. D. W. Kruger en C. J. Beyers [1977: Tafelberg, Kaapstad] bevat die volgende inskrywings onder “Mentz”:

Mentz, Hendrik (1877-1938). Die latere minister. Die inskrywing verskaf inligting wat, met die eerste oogopslag, van belang kan wees. Kolonel Mentz is in die Wittebergen gebore. Die Wittebergen en die Roodebergen vorm die Brandwaterkom (so genoem na die kort rivier wat daar ontspring en in die Caledonrivier vloei).

In dié kom of vallei gee hoofkommandant Marthinus Prinsloo op 29 Junie 1900 aan generaal sir Archibald Hunter oor met die meerderheid Vrystaatse burgers, terwyl vroue en kinders toekyk uit die beskutte kranse waar hulle hul toevlug neem vir die loop van die oorlog.

In die Nekke of Poorte wat toegang tot die Kom verleen, het generaal Mannetjies Mentz die eerste keer die vrugte van sukses geproe.

Kolonel Hendrik Mentz word egter in Johannesburg groot. Verder is daar geen aanduidings dat hy ooit in die omgewing van die Brandwaterkom was nie, siende dat hy aan die Natalse front onder generaal Ben Viljoen en daarna onder generaal F. C. Beyers geveg het. Hoewel die generaal Mentz na wie ons soek die (mees) algemene familienaam Hendrik kon dra, weet ons nie of hy dit met die kolonel gedeel het nie.

Kolonel Hendrik was bestem vir ’n publieke lewe ná die oorlog. Hy voer, as brigadekolonel, die Derde Berede Skutters in die Unie se kampanje in Duits-Suidwes-Afrika aan. Hy word deur generaal Louis Botha aangestel as militêre goewerneur van Windhoek. As minister van lande is die Mentzmeer na hom vernoem. In 1920 word hy die Unie se eerste minister van verdediging (’n feit wat nie deur Malan vermeld word nie). Hy woon verskeie konferensies by en lê die grondslag van die Suid-Afrikaanse vloot voordat hy in die 1924-verkiesing verslaan word.

Ten spyte van sy besige openbare lewe, skryf dr. J. Ploeger in sy bydrae tot die Biografiese woordeboek, was “dit nie bekend […] wie sy moeder was nie” – en dít ’n korte vyftig jaar ná sy dood! Hierdie opmerking herinner ons hoe vlugtig persoonlike besonderhede van selfs openbare figure is – veral in ’n oorwegend mondelinge gemeenskap.

Die ander twee inskrywings onder “Mentz” in die Biografiese woordeboek is dié van:

Mentz, Joachim Frederik (1887-1957): NG Kerk-predikant en bittereinder, seun van kmdt. F. E.; en

Mentz, Joachim Frederich (of Frederik) (1725?-1777): Landdros van die distrik van Swellendam.

Joachim Frederich, oorspronklik ’n matroos, is die stamvader van die Mentze. Uit sy lendene en dié van Maria de Waal spruit driesentimeterkolom in die Wes-Randse telefoongids, drie sentimeter in die Bloemfonteinse, twee sentimeter in die Skiereilandgids, vyf sentimeter in die Oos-Randse gids, vier sentimeter in die Johannesburgse en twee sentimeter in die Durbanse gids onderskeidelik (gemiddeld vier inskrywings per sentimeter). Vir Oranjemund, Somerset-Wes, Queenstown en Tsumeb is daar ’n enkele inskrywing elk, in Kimberley en Windhoek twee, in Welkom drie en in Stella vier inskrywings. Swellendam, van waar Joachim Frederich en Maria begin met hulle beskeie aandeel aan die bevolking van die land se telefoongidse, loop ná honderd en tagtig jaar leeg van hulle afstammelinge, sonder ’n enkele inskrywing.

Dit beteken egter nie dat die tydperk sedert die vestiging van Joachim Frederich op Swellendam met sy Maria ’n deurlopende periode van vermenigvuldiging verteenwoordig nie. Inderdaad, gedurende dié eerste Swellendamse jare is dit hittete of dié nuwe geslag oorleef dit nie aan die Kaap nie.

Ds. A. P. Smit skryf in die Gedenk album van die Mentz geslag [1949: Pro Ecclesia, Stellenbosch] dat die huwelik “van nagenoeg agtien jaar ’n gelukkige een” was. Ds. Smit verskaf nie ’n bron nie, maar te midde van ’n kinderryke patriargale gemeenskap is dit te betwyfel of die eerste Mentz-egpaar veel troos kon put uit twee getroude dogters – een getroud met die “liberale en berugte” landdros Maynier wat uit die Graaff-Reinet van ons skoolgeskiedenis verjaag is deur die “dapper” Van Jaarsveld.

Met ’n wolk van uitwissing oor hulle koppe is dit nie vergesog om te spekuleer dat blote hoop op oorlewing die enigste geluk was wat die Mentz-huwelik ten grondslag kon lê nie: Jan Frederik (gedoop 6 Jan. 1765) is “blykbaar vroeg dood, en die laaste wat ons van [die tweede broer] Joachim Frederich [gedoop 15 Jan. 1769] hoor, is in 1802, toe hy as 33-jarige vrygesel steeds onder een dak verkeer met sy jongste broer, Hendrik” (gebore 1776).

As dit nie vir hierdie Hendrik was nie, was dit die laaste wat ons van ’n Mentz sou hoor. Hy is gebore toe sy vader reeds afgetree het – die hoop beskaam dus nie, maar is tot die uiterste beproef.

’n Jaar later is die stamvader se hoop vir altyd uitgedoof, sonder dat hy sien hoe die eerste Hendrik ses seuns en, byna as ’n toegif, sewe dogters uit huwelike met Maria de Villiers (1775-1837) en toe met Elizabeth Susanna Myburgh (?-1850) verwek. Hy strooi hulle wyd oor die nuwe land: vanaf die Drakenstein in die Boland tot in die Oos-Kaap by Somerset-Oos, Uitenhage en Bedford. Uiteindelik beland ’n tak van dié boom in die Suid-Vrystaat.

Die eerste Hendrik sterf in 1860 by sy seun op Driekop, in die Smithfield-distrik. Oud en der dagen zat lui die skaars leesbare inskripsie op sy sandsteen-grafsteen.

Die geslag Mentz is gered en telefoongidse van die toekoms ’n paar bladsye dikker, terwyl die geskrewe geskiedenis bly swyg oor ’n verlore generaal.

Heraldry of South African families deur dr. C. Pama [1972: Balkema, Kaapstad] bevat geen familiewapen vir “Mentz” nie. Die draers van dié laaste naam “Mentz” word daardeur die (meestal) twyfelagtige aanspraak op patrisiërstatus gespaar. Die familiewapen vir “Von” Mentz voor in ds. A. P. Smit se gedenkalbum is ’n deursigtige poging, tipies van dié tyd, om met die Van der Bijls en De Villiers’s mee te ding om ydele eer. As ons dan nie ’n majoor Piet, ’n lord of selfs ’n Sakkie de Villiers het wat so lekker kan gesels nie, dan …

Elke Mentz dra lig of swaar aan sy eie individuele misstap of parogiale eer en verdwyn tussen mynwerkers, afslaers en spekulante, onderwysers, boere, tailors, tinkers soos oom Joggem van Dewetsdorp, predikante, wilddiewe, klerke, ’n dokter of twee en ’n generaal wat soek geraak het.

Die roem van generaal Mannetjies Mentz is hoofsaaklik streeksgebonde. Daar kan nou geargumenteer word dat ons ons daarom nie tot bronne kan wend nie.

Dis deels waar.

Selfs die mees uitputtende dokumentasie van die oorlog laat ons met leë hande wat generaal Mannetjies Mentz betref: die steeds onvoltooide reeks werke van wyle dr. J. H. Breytenbach, Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899-1902 [Die Staatsdrukker, Pretoria], swyg.

In deel 1, Die Boere-offensief, Okt-Nov 1899, en in deel 2, Die eerste Britse offensief, Nov 1899-Des 1899, vind ons geen verwysing na enigiemand met die laaste naam “Mentz” nie.

In deel 3, Die stryd in Natal, Jan-Feb 1900, is daar twee bladverwysings:

Mentz, veldk. N. J.: Dit bevat ’n beskrywing van die Slag van Acton Homes in Natal, 16 Januarie 1900, waar hy sneuwel (maar volgens sy grafskrif sterf hy op 18 Januarie). Veldkornet Mentz word beskryf as ongeveer sestig jaar oud.

Deel 4 en 5, Die Boere-terugtog uit Kaapland en Die Britse opmars na Pretoria, bevat weer geen inskrywing in die indeks van “Mentz” nie. Ons moet daarop let dat deel 5 die oorlog tot omstreeks Mei 1900 dek – twee jaar van stryd lê nog voor. Ook die oorgawe van hoofkommandant Prinsloo in die Brandwaterkom, waar die oorgrote deel van ons soektog na generaal Mentz afspeel, lê twee maande (en hoeveel verdere ongeskrewe boekdele?) in die verskiet.

Die naam van kommandant (later generaal) Mannetjies Mentz duik in die weke en maande ná die oorgawe van Prinsloo se Vrystaatse hoofmag die eerste keer op. Indien die opvolgboekdele van Breytenbach ooit verskyn, sal dit dalk verdere lig kan werp op Mannetjies Mentz?

Ons het dus bitter weinig waarop ons ons kan verlaat in ’n soektog na generaal Mannetjies Mentz.

Maar wat weet ons van hom, selfs al is dit hoofsaaklik uit oorvertellings?

Dat hy ’n baanbreker van die guerillataktiek was en hom hart en siel daarin gewerp het, tot ’n mate wat in alle waarskynlikheid nooit eers deur generaal De Wet en andere in hulle wildste drome oorweeg is nie. As sodanig is hy allermins ’n grensfiguur, maar sekerlik belangrik genoeg om in die chronologie van die SuidAfrikaanse Oorlog vir homself ’n eie plek oop te veg.

Ons het dus die naam van ’n persoon wat na bewering betrokke was by sekere keerpunte in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Oorlog.

Ons het ook gedokumenteerde beskrywings van sekere gebeure sonder dat die dokumentasie Mannetjies Mentz daaraan verbind. So ’n koppeling vind slegs in die volksmond plaas.

In hierdie gevalle is dit histories onverantwoordelik om ons op twyfelagtige mondelinge getuienis te verlaat deur te sê: “In hierdie gebeure is die hand van generaal Mannetjies Mentz te bespeur.” Die “verklaring” werp min of geen lig op die veronderstelde gebeure nie. Ons beveilig onsself liefs deur te sê dat nadere besonderhede oor die insidente verlore is, of dat ons verdere uitsprake voorbehou totdat ons oor feite beskik.

Aan die ander kant, dit gebeur dat ons sommige oorlogsoptredes aan generaal Mentz toedig sonder dat dié insidente in sigself op enige sekerheid berus. In hierdie geval oorleef beide die voorval en die naam wat ons aan die beweerde voorval bind bloot in die volksmond. In dié totale afwesigheid van enige feite steek ’n geregverdigde twyfel sy kop dubbel en dwars uit.

Dit gee aan die vraag of generaal Mentz werklik bestaan het ’n nuwe dringendheid.

Ons leef in ’n tyd waarin mondelinge oorlewering ’n nuwe status as ’n aanvaarbare historiese aanspraak verkry. Hierdie status is oordrewe: oorlewering, in die afwesigheid van stawende dokumentasie, werk óf verskralend óf kreatief op die geskiedenis in. Ons kan die verskralende of kreatiewe invloed verduidelik na aanleiding van ’n voorval wat aan generaal Mannetjies Menz self toegeskryf word.

Daar is voldoende dokumentasie dat ’n twintigtal swaar gewapende burgers die Brits besette Middelburg, Transvaal, vroeg een Mei-oggend in 1902 onder die skuiling van die eerste koue binnesluip. ’n Runnik en die onverskillige hoefklap van ’n perd verdwyn in die dorpenaars se donker drome, want daar is ’n verposing in die stryd: oor die hele land bespreek Boereoffisiere vredesvoorwaardes met hulle burgers en onder mekaar.

Dit is die uur waarin selfs die ipekonderis sy eie simptome gediagnoseer het en nou tevrede slaap. Dis die uur waarin die slaaplose oplaas sluimer. Die gewete swig uiteindelik voor vermoeienis, want dis nou eers tweede hanekraai.

In stilte beset die burgers die tronk. Die bewaarders, onder die bevel van ’n Engelse onderoffisier en merendeels bestaande uit hensoppers of hanskakies, is nou nog dronk van die vorige aand se ietwat vroegtydige viering van die vrede.

Die storie lui dat die burgers onder die bevel van generaal Mannetjies Mentz en sy getrouste volgelinge staan. Hulle is op pad na Delagoabaai om ’n vrede te ontsnap wat hulle uitsluit. Voordat hulle egter aan hulle eie veiligheid dink, is dit nodig om ’n lid van generaal Mentz se kommando, Rooi Roux, uit die Middelburgse gevangenis te bevry – hy word aangehou op ’n klag van moord op ’n Engelse offisier. Die gewonde offisier is na bewering met die kolf van sy geweer papgeslaan, soos dit Rooi Roux se manier in geslote geveg met die vyand is.

Generaal Mannetjies Mentz laat die paar gevangenes vry. In hulle eie tronkselle sluit hy die bewaarders toe. Toe die kommando die tronk en die onbewaakte barakke met dinamiet in die lug blaas, met die nuwe gevangenes en al, ruk die dorp uit sy diepe slaap.

Die dweper sien die aarde bewe en voor hom oopgaan. Hy sal voortaan tussen uitverkorenes leef. Die ipekonderis sterf aan ’n geweldige bloeding op die brein. Hy verbaas hom oor die afwesigheid van pyn en oor sy vermoë om in sy “sterwensuur” tot op die stoep te stap. In die vervolg trap die slaaplose dou tot met die eerste lig.

Sommiges beweer Mentz-hulle stroop winkels van lewensmiddele wat hulle by die konsentrasiekamp buite die dorp besorg. Daar word gesuggereer dat twee ruiters, een aan elke kant, Rooi Roux met moeite regop op sy perd hou, terwyl hy Kent gij dat Volk sing, want, kenmerkend, was Rooi Roux nie kieskeurig oor sy drinkmaats of die geleentheid ter viering nie – veral nie nou dat die datum vir sy krygsverhoor vinnig nader nie. Voordat generaal Mannetjies Mentz en sy kommando die dorp uitry, sonder haas, en met of sonder lewensmidddele bestem vir die konsentrasiekamp, herken heelwat Middelburgers hom en sy twee vernaamste adjudante, veldkornet Voss en Niemann. Weens ’n uiterlik wat hom agtervolg, ook waar hy nie gaan nie, is dit veral Niemann wat opvallend teenwoordig was in Middelburg. Aldus die storie.

Wie ook al verantwoordelik was vir die ontsnapping van die aangehoudenes, dit was nie generaal Mentz nie. Dit kon enigiemand anders wees, luitenant Henri Slegtkamp2 met die jammerlike oorblyfsels van kaptein Jack Hindon se verkenners dalk, maar nie generaal Mannetjies Mentz nie.

Selfs oppervlakkig gesproke strook die dorpstorie nie met die min feite tot ons beskikking nie. So, byvoorbeeld, kon Rooi Roux nie sing nie, nie om sy lewe te red nie. Hy was nie ’n selfbewuste soort mens nie, maar menige bakleiery ontstaan om ’n besope Rooi Roux so ver te kry om te probeer sing. Tweedens, dit was ook nie Rooi Roux wat bevry is nie, wié ook al wié bevry het. Vir Rooi Roux was alle redding te laat, want teen Mei 1902 is hy langer as ’n jaar reeds dood – ten einde laaste byt hy in Maart 1901 naby Marico in die stof in ’n opdraande stryd tussen sy vertroude geweerkolf en ’n Britse saagbajonet.

Laat ons argumentshalwe aanneem dat die beweerde feite met die waarheid strook. Dan ook kon die invallers nie generaal Mentz en sy kommando wees nie. Ten tyde van die Middelburgse inval was hy, vergesel van veldkornet Voss, Niemann en Blink Frans Naudé, al oor die Transvaalse grens in Portugees-Oos-Afrika.

Hier is ’n voorbeeld hoe mondelinge oorlewering kreatief op die geskiedenis inwerk. Daar is ook verdere voorbeelde, nie altyd spesifiek uit die Suid-Afrikaanse Oorlog nie.3

Dieselfde voorval wat die geskiedenis aandik, kan ironies ook gebruik word om aan te toon hoe mondelinge oorlewering die geskiedenis verskraal. Volgens oorlewering was generaal Mentz en sy kommando teen die einde van die oorlog dikwels in die Middelburg-omgewing bedrywig. Laat ons argumentshalwe aanneem dat dit histories korrek is om die meeste van die insidente in die Middelburg-omgewing aan hom toe te skryf. Het hierdie “kleurlose” maar werklike insidente, en generaal Mentz se aandeel daarin, in vergetelheid verval omdat dit minder “dramaties” of “heroïes” was as die een insident wat wel onthou word, naamlik die inval in Middelburg om Roux te bevry? Vandag nog word barste in huismure uitgewys as ’n gevolg van die ontploffing by die tronk.

Verskraling, soos ook kreatiewe aandikking, is die direkte gevolg van dié verdigsel.

Hoe gaan ons dus te werk om vas te stel wie Mannetjies Mentz was?

’n Moontlikheid is dat hy nie werklik Mannetjies Mentz heet nie, maar sonder om noodwendig ’n fiktiewe persoon te wees.

Hierdie moontlikheid is nie so vergesog as wat dit mag klink nie. “Kommandant Jan Vorster, alias Jan Pieter Retief, Kaapse Rebel” deur dr. P. W. Vorster [1987: Military History Journal 7,4] vertel die verhaal van kommandant Jan Vorster (1846-1925) van die distrik Hay, Griekwaland-Wes. Hy word op 5 Augustus 1900 by Potchefstroom gevange geneem. As Kaapse rebel staar hy swaar gevangenisstraf in die gesig, en gee daarom sy naam aan as Jan Pieter Retief van Johannesburg. In September 1900 word hy na Ceylon gestuur.

Vanuit Diyatalawa ontwikkel Vorster ’n elementêre “kode” – ’n verwysingsisteem om met sy familie in verbinding te bly. Hy teken sy briewe aan familielede as J. P. Retief. Ten spyte daarvan dat die owerheid sy briewe sensor, stel die Engelse nooit sy identiteit vas nie. Met die vrede in 1902 gee hy voor om ’n Hollandse burger te wees wat aan Boerekant geveg het, want amnestie sluit Boereoffisiere uit die Britse kolonies uit. Ná afkondiging van gunstiger amnestievoorwaardes kom kommandant Vorster op 15 Julie 1903 uit Holland in die Kaap aan.

Is dit moontlik dat Mannetjies Mentz so ’n naam as ’n alias aanvaar het? In sy geval is daar egter geen aanduiding dat ’n kode gebruik was nie. Indien hy soos kommandant Vorster ’n alias gebruik, dan is dit waarskynlik om sy ou naam in onbruik te laat verval. Om welke redes ook al, die ou Mannetjies Mentz (onder watter naam ook al) moes van die toneel verdwyn.

Tweedens: was Mannetjies Mentz nie, byvoorbeeld, ’n soort “kollektiewe” eienaam nie, geskep met die uitsluitlike doel om ’n kapstok te wees vir ’n spesifieke soort optrede waarvoor niemand verantwoordelikheid wou aanvaar nie?

Is dit ondenkbaar dat die naam “Mannetjies Mentz” geskep is met die spesifieke motief om aanspreeklikheid te ontsnap? Is dit ondenkbaar dat die sinsnede “die hand van Mannetjies Mentz” ’n manier is om toerekenbaarheid, moreel of andersins, op te skort (of te verwys, of uit te stel, of oor so ’n breë omvang moontlik te versprei)? As die opskorting van skuld sou dit dan funksioneer as ’n sekulêre weergawe van “’n handeling van Bo” (of, soos ander sal sê, “uit die dieptes van die Duisternis”).

In Amerikaanse Engels, waar name in die ghetto uiteraard van minder belang is en dikwels diens doen as ’n “skuiling”, is ’n naam soms ’n handle: in ’n geval soos dié wat ons nou oorweeg, is ’n naam ’n blote handvatsel om koffers so vinnig moontlik uit die regterhand van toerekenbaarheid na die linkerhand van verontskuldiging te verskuif. Dit is ’n haak waarmee ons wolbale van die spoorlyn verwyder terwyl die lokomotief nader stoom.

Verdere moontlikhede is legio. Veronderstel ons stel vas dat Mannetjies Mentz wel ’n historiese figuur was. Laat ons verder veronderstel dat hy besonder onbekwaam as kryger was. Iedere keer dat hy ’n geweer in die hand neem, het hy homself in die voet geskiet. Hy was ’n bespotlike figuur, die toonbeeld van onvermoë eerder as een van bekwaamheid, en hy dra die rang van “generaal” slegs in ’n satiriese of ironiese sin.

Dan was beskrywings van voorvalle waarby die “generaal” volgens oorlewering betrokke was, nie waar van die historiese figuur Mannetjies Mentz nie. Dit was bloot bedoel om as oordrywing van die werklikheid verstaan te word. Mannetjies Mentz vervul hier die funksie van ’n Von Münchhausen-figuur.4

Ironie of satire het ’n eie sosiologiese agtergrond nodig waarop dit as ’t ware parasiteer. Die bepaalde omstandighede waarbinne Mannetjies Mentz as ’n Von Münchhausen-figuur geskep is, is nie noodwendig bevorderlik vir ironie of satire nie – die sosio-historiese eise van die historiese periode kan om ’n ander toon as dié van ironie of satire vra. Dan is dit moontlik dat die werklike sosiologiese agtergrond satire of ironie op sy kop keer.

Teen só ’n agtergrond is dit denkbaar dat die “bedoelde” ironiese interpretasie van volksvertellings rondom die Mannetjies Mentz-figuur plek moes maak vir ’n “letterlike” of “feitelike” vertolking – die bedoelde bespotlikheid van die baron verander ongesiens in heldeverering. Marx kon nie die geskiedenis willens en wetens op sy kop draai nie; hy het ’n bepaalde konteks nodig gehad.

Dit is moontlik dat die tydsgewrig ’n “normale” gesigswaarde van vertellings vereis. Enige ander (bedoelde) waarde wat aan die woorde geheg moet word, sal nie in dié konteks begryp word nie. So ’n ommeswaai van bedoeling is veral nie vergesog in ’n periode van nasionale heropbou nie. Dan soek ons eerder na werklike helde as na ironisering van heldfigure.

In my soektog na generaal Mannetjies Mentz is ’n verwante moontlikheid aan die hand gedoen lank voordat ek op die dokumentêre bewyse afkom wat (so glo ek) die bestaan van generaal Mannetjies Mentz ’n waarskynlikheid maak (indien nie bewys nie).

En selfs nadat ek dié dokumentasie bekom het (wat hier byeengebring is), is die vraag steeds: was dit voldoende om te weet wie Mannetjies Mentz was?

Vroeg in my soektog na Mannetjies Mentz is moontlikhede vir die identifikasie van generaal Mannetjies Mentz reeds deur ’n veteraandrawwer teenoor my aan die hand gedoen.

’n Afgetrede skoolhoof van Krugersdorp vertel my dat hy oorspronklik kom uit ’n tak van die Mentz-familie wat steeds suid van Bloemfontein saamgetrek is. Hulle is die direkte afstammelinge van die stamvader en -moeder se vyfde spruit, Hendrik (1776-1860).

Hendrik vestig hom langs die Caledonrivier, op die plaas Driekop. Dié kolonie Mentze bestaan nou hoofsaaklik uit neefs en niggies, en ander met meer verlangse verbintenisse. En dit is Mentz-wêreld dié: Mentzfort, Mentzburg en Mentzkraal is ’n paar van die name op die plaaskaart van Suid-Vrystaatse distrikte.

Skemeraand ry ek dertig myl na die plaas van die afgetrede skoolhoof se broer. Hy is ’n gesellige man met ’n rooi vel en hare wat nog steeds rooiblond tussen grys is. Ek verduidelik, en die Mentz-kêrel sê: “Laat ek eers vir ons ’n dop kry.” Hy gooi die glas halfvol Klipdrift en vul dit op met Coke en ys. “Nou kan ek op my gemak praat,” sê hy.

“Ek hoop,” sê hy, “dat jy kan sien ek was ons laatlam. My broer in Krugersdorp, die een wat jou hierheen gestuur het, is in sy laat sewentigs. Ek self is nou eers in my vroeë sestigs.

“Ek weet dus uiteraard minder as my broer se geslag oor dié tydperk waarin jy belang stel.”

Hy gooi nog ’n brandewyn en skreeu agtertoe: “Gertie, is die bed oorgetrek vir die meneer? Nee, nee, dis nie moeite nie, met al die kinders die huis uit op hulle grond …” beduie hy terwyl hy die brandewyn met die oog meet, want ’n maatglas kan so ’n dop nie meet nie.

“Man,” sê die rooiblonde boer, “as jy my vra, is jy omtrent twintig, dertig jaar te laat.” Dit is ’n antwoord waaraan ek reeds gewoond is, maar met verloop van tyd meer dikwels sou hoor.

Die boer wys my ’n twaalfsitplektafel van Oregon pine met stinkhoutpote wat die oorlog oorleef het. Hier was ’n Engelse kamphospitaal en die tafel is as ’n operasietafel gebruik. “Hulle het geen nut vir die ander meubels gehad nie. Dis eenkant op ’n hoop gegooi en verbrand.” Teen die een hoek van die tafelblad is die buitelyne van ’n ru gekerfde dambord nog sigbaar. “Dis ná jare nog so duidelik omdat die bloed die grein kleur.”

Die volgende oggend sê die rooikop: “En ja, daar is my neef Kobus. Hy is die oudste van ons hier wat nog lewe, al in sy laat sewentigs. Sy ma, tant Lizzie, is verlede jaar dood nadat sy ’n heupbeen gebreek het – en só wil ek nie gaan nie. Jy het so ver gery dat jy maar net sowel by hom kan aangaan. Ry verby Smithfield tot oor die Caledon, en dan draai jy onmiddellik regs sodra jy oor die brug is.”

Die neef is ’n haastige man, altyd op ’n drafstap. Op-die-plekdraf drink ons tee. Hy is ’n jintelmanboer, dra ’n das by sy gestrykte kakiebroek en ’n vilthoed (net so effe windmakerig skeef met ’n klein, onopsigtelike pouveer in die band). As ’n veteraandrawwer is sy voete uiteraard vir hom van belang. Hy wys na sy veelkleurige Reeboks, honderde rande werd. Verskoon die tekkies, sê die veteraandrawwer, jintelmanboer, maar op sewe en sewentig, spog hy, betrek rumatiek nou die voete. Draf saam lande toe, dan kan ons praat.

Selfs op ’n stewige drafstap blyk hy ’n ingeligte, welbelese man te wees. Ja, uit sy kinderdae weet hy van Mannetjies Mentz. Wat weet hy van generaal Mentz? Maar net wat ek seker weet, want die ou mense het tot op ’n punt oor die generaal gepraat en dan stilgebly – soos ek behoort te weet as ek goed na die stories oor die generaal luister.

En dié stilbly …?

Daar was nie onvoorwaardelike goedkeuring vir die doen en late van Mannetjies Mentz nie, daarvan getuig die onverwagte stilbly so midde-in ’n storie, sê hy so al drawwende. En soms praat ’n ou mens net ’n sin of twee te veel. Bevestiging van versweë blaam, dalk? Dit laat ’n mens dink die generaal was ’n soort Henri Slegtkamp, maar net slegter, nè?

Nee, hy het ook in oorlogsboeke nooit die naam van generaal Mannetjies Mentz teëgekom nie.

Vind hy dié stilte in geskrewe geskiedenis oor generaal Mentz nie eienaardig nie, as die stories uit sy kinderdae waar was?

Eienaardig, ja, as ’n mens op die uitkyk vir die naam bly. Kyk, iedere keer dat hy ’n boek oor die oorlog oopmaak, kom hy op nuwe name af – ’n oorlog met meer generaals as manskappe, dit is altyddeur die storie van onse geskiedenis.

’n Afwesigheid uit die geskrewe geskiedenis is “eienaardig” indien Mannetjies Mentz werklik so ’n prominente rol in die oorlogsgebeure gespeel het as wat hulle ons as kinders wou wysmaak. “Eienaardig” beteken egter nie “onverklaarbaar” nie. So, byvoorbeeld, kon die geskiedenis self (vroeër as die geskiedskrywers) ’n oordeel oor generaal Mentz uitgespreek het deur te besluit om te swyg. “As die prys van swye dié van openbaarmaking oorbie, dan is dit nie meer só eienaardig nie,” sê die man op ’n drafstap. “Kyk,” sê hy ietwat uitasem, “wat ek bedoel, werk só:

“Kom ons veronderstel dit was moontlik om Hans Dons5 uit die geskiedenis te sny. Sal die vertellers van ’n geskiedenis wat skatpligtig is aan sogenaamde volksideale, en nie blote verhaal sonder ‘boodskap’ is nie, nie verkies het om voor te gee dat Hans de Lange nie bestaan het nie?

“En,” vra die man wat deur sy golwende lusernlande draf, “dalk het die Boereleiers met die tyd slimmer geword, deur ’n vrot plek betyds uit te sny? Generaal Mentz het nie so ’n sleutelrol gespeel dat hy onmisbaar was nie. Daarbenewens was hy jonk genoeg om te verdwyn: hy verskyn asof uit die niet op die toneel te midde van verwarrende omstandighede – omstandighede in die Brandwaterkom waar die akteurs nie eens weet wie die hoofrol speel nie. Om net so weer in die niet te verdwyn, is nie so moeilik nie. Van nêrens na nêrens.”

Die man, wat draf-draf koes vir die water uit sy besproeiingstelsel, vra: “En wat sou die apologete van volksmoraal, volksedes, volksideale, die volksdit en volksdat wou gee om iemand anders as Freek Bezuidenhout6 te kry om oor die varkhokmuur na die Pandoere te skiet?

“So ’n plaasvervanger vir Freek Bezuidenhout moes liefs ’n stewige Boervrou aan sy sy hê om gereed te wees om sy geweer te laai en die kruit vas te stamp. In plaas daarvan besluit die geskiedenis dat sy ’n wilde en wulpse Hottentotwyfie was wat Bezuidenhout na sy eie wellustige en harde hand geleer het.

“Die waarheid moes eenvoudig uit, en so verander ’n volksmite in die verontskuldigende oë van die eerbiedwaardige volksvadere in ’n stinkstorie,” sê die veteraandrawwer terwyl hy ’n stewiger pas aangee terug huis toe.

“In die geval van Bezuidenhout en De Lange kon dit nog weggesteek word. Wys my ’n skoolboek wat die waarheid vertel! Wyle ou Uys7 het ek geken. Die volksvadere vergewe of vergeet die ou oproermaker nooit vir die waarheid nie.

“Dis nie noodwendig dat Mannetjies Mentz sleg was dat ons so min weet nie,” sê die drawwer, “ás hy inderdaad sleg was – dit beweer ek nie. Dit is alles ’n voorveronderstelling om te verduidelik waarom die geskiedenis Mannetjies Mentz moontlik kon vergeet het. Waar daar een moontlikheid is, bestaan ’n hele lot ander moontlikhede daarnaas,” sê die drawwende man.

Is daar ’n moontlikheid dat hy en generaal Mentz familie was?

Die man staan skielik botstil. Nee, sy ma het dit altyd ten sterkste ontken, en sy was ’n kenner van al die kinkels en kabels in hulle familie, binne en buite die huweliksbed. Hy is skielik uitasem, en stil soos in dié stories waarteen hy waarsku.

Nooit voorheen en ook nooit daarna erken enigiemand aan my ’n familieverwantskap met generaal Mannetjies Mentz nie – al is dit waarskynlik dat ek in my soektog op die een of ander veraf familielid sou afkom.

Opsommenderwys kan ons ons posisie aan die begin van ons soektog na generaal Mannetjies Mentz soos volg verduidelik: Ons het nóg ’n naam wat ons kan lei na spesifieke gebeure, nóg het ons die sekerheid van spesifieke gebeure wat ons uiteindelik kan lei na ’n persoon, met so-en-so ’n naam.

Dié onbenydenswaardigheid kan ons illustreer aan die hand van dr. Jan Ploeger se biografiese inskrywing oor kolonel Hendrik Mentz in die Biografiese woordeboek, waarvolgens dit onbekend sou wees wie kolonel Mentz se moeder was.

Kolonel Mentz was ’n publieke figuur. Volgens die inskrywing in die Woordeboek lei hy ’n besige huislike lewe: Hy was twee keer getroud. Hy het twee van sy vyf kinders uit die twee huwelike oorlewe. Dit laat ons met verbasing dat niemand, niemand in die relatiewe kort vyftig jaar ná sy dood enigiets oor sy moeder weet nie.

Ek vra my af of daar nooit ’n geleentheid is waarbinne dié inligting ter sprake kom nie? Was daar nooit ’n geleentheid om byvoorbeeld te sê: “En dit was my moeder se geliefkoosde gereg” nie?

Sê een van die twee mevv. Mentz nie geïrriteerd nie, in die plofbaarheid van ’n stereotiepe huislike situasie: “Al wat ek hoor, is van jou ma se kookvernuf. Ek weet niks van haar nie”?

Oorleef in die herinnering van haar geliefdes geen persoonlike karaktertrekke van die moeder van kolonel Hendrik Mentz nie, selfs al is sy bloot die stil, kleurlose ou tannie wat op die agtergrond van stoel tot stoel skuifel? Het die kolonel, of sy oorlewende eggenote, nooit rede om sy kinders van hulle ouma te vertel nie? Bly geen foto’s of dokumente, geboorte-, doop-, doodsertifikate bewaar nie? Bly daar geen droë, blink kalbassie oor nie, waarvan iemand kon sê: “Tot op die been van haar vingers het Ouma hiermee onse kouse gestop”?

Is daar geen blywende beskrywing wat ons in staat sou stel om teruggevoer te word deur middel van ’n oorsaaklike ketting na ’n persoon met hierdie-en-hierdie naam, ’n persoon wat ook die kolonel se moeder was nie?

Wat die geval ook al mag wees, dit lyk asof die volgende as ’n historiese uitgangspunt aanvaar moet word, in ieder geval, as ons met mondelinge oorlewering van historiese feite te doen het: soos die generasies tussen die lepel en die mond vergroot, val daar meer historiese pap op die grond.

Waarom, dan, volg ons ’n doodlooppad in ons soektog na generaal Mannetjies Mentz? Is dit nie blote tydmors nie? Is die lewe nie te kort om met stories uit jou jeug op loop te gaan nie? Daar is meer as een antwoord, maar die belangrikste is dat sommiges van ons selferkende amateurs is. Ons lewens word nie deur sillabusse en sperdatums gebind nie. Uit die oogpunt van die professionele historikus, hoe is die amateur anders definieerbaar as ’n vermorser van tyd? Maar die tyd is sy eie, soos ook sy kort lewe.

Tweedens, soos dit sal blyk uit die sentrale gedeeltes van dié soektog, my eie onmiddellike familiegeskiedenis is verweef met meer as een insident wat gebind is aan generaal Mannetjies Mentz – vir ’n hele geslag oorheers die ingryping van Mannetjies Mentz die lot van die Naudés (al praat hulle selde selfs onder mekaar daaroor). Ek laat dit aan die leser oor of dié verweefdheid afgemaak kan word as “legende” of “volksvertelling”.

Derdens glo ek dat ek afgekom het op onafhanklike dokumentasie wat, indien dit nie die bestaan van generaal Mannetjies Mentz afdoende bewys nie, tog daartoe sal bydra dat ’n aanspraak op die historisiteit van die generaal met meer erns opgeneem moet word.

Hierdie nuwe dokumentasie het ek uiteindelik in die agterplaas van my eie familiegeskiedenis gevind. Dit bestaan uit ’n bandopname, gerig aan my, van my grootmoeder Ounooi wat ’n jong kind in die winter van 1900 was, en uit ’n geskrewe weergawe van my oom Blink Frans wat tussen 1900 en 1909 deurentyd aan die sy van generaal Mannetjies Mentz was. Dié twee dokumente word hier aangebied as deel 2 en deel 3.

Die derde onafhanklike bevestiging is verkry uit die nagelate dokumente van generaal Coen Brits, bevelvoerder van die Derde Brigade van die Unie se inval in Duits-Oos-Afrika in 1916-17. Hierdie rapport van Britz aan generaal J. C. Smuts is nie voorheen gepubliseer nie, dalk as bewys hoe Mentz uit die geheue van ’n volk verdwyn het (óf as ’n doelbewuste poging om hom te laat verdwyn, maar moontlik ook weens natuurlike redes). Dié dokument word hier aangebied as deel 4.

Dit is eers gedurende latere jare dat ek my vermoedens deur dokumentasie gestaaf kon kry. In die voorafgaande jare maak my soektog van my hoofsaaklik ’n ekspert oor diegene wat die familienaam “Mentz” dra.

Ek leer die verskeie vertakkings van die familie van mekaar onderskei – behalwe as Mannetjies Mentz ter sprake kom. Oor hom swyg alle geslagsregisters. Geboorte- en doopregisters bly sonder sy naam, selfs nadat ek oortuig is dat ek generaal Mannetjies Mentz nou kan identifiseer as ’n historiese figuur.

In die loop van bykans twintig jaar neem my soektog min of meer ’n vaste patroon aan, ’n patroonmatigheid wat aangehelp word deur die aard van my beroep wat ek byna per toeval naas my stokperdjie beoefen.

Die beroep hou my voortdurend op die pad, van dorp tot stad tot dorp. Daar is dié plekke wat ek nog nie voorheen besoek het nie, en die telefoongids open nuwe moontlikhede. Hierdie soektog word ’n leefwyse. Die gidsinskrywings maak selde of nooit ’n natuurlike einde aan ’n soektog ter plaatse nie: daar is voortdurend nuwe gidsinskrywings, veral in die stede, en ou gidsinskrywings verdwyn uit die ontvolkte platteland.

Dit is by hoë uitsondering dat ek dieselfde Mentz ooit meer as ’n enkele keer teëkom, behalwe dié wat in die loop van jare “vriende” word – die oudstes onder hulle, meestal.

Met die tyd word diegene met die laaste naam “Mentz” vir my soos vervreemde familie. Soos met besoeke aan vervreemde familie maak ek nie afsprake nie. Afsprake loop te maklik met die foon in die hand dood.

Ek daag bloot by die voordeur op, vra of ek mag inkom. Op sigself is dit ’n versoek wat moeilik genoeg is om te weier. Van daar neem sake hulle eie loop, met die vrymoedigheid om byvoorbeeld aan ’n huis in Roodepoort te sê: “Ek ken jou oom in Parow.”

Honderde, dalk duisende kere klop my hart vinniger, boem-boem-boem, as ek my hand teen die deur lig of regstaan om die klokkie te lui.

Is die einde van die soektog agter hierdie toe deur? En as dit agter hierdie deur sou eindig, met die antwoorde op al my vrae, wat dan?

Sal ek ’n verplasing aanvra na my firma se administratiewe hoofkantoor met ’n vyfdagwerkweek, agt en veertig weke van die jaar? Hoe sal die firma op my versoek om ’n oorplasing reageer? Hulle het lank reeds opgehou om druk op my uit te oefen om my na die hoofkantoor te bevorder, maar omdat ek ’n besonder effektiewe verkoopsman is, verskoon hulle my as eksentries beskeie.

Maar wát as die antwoorde op my vrae agter hierdie voordeur lê? Hoe pas ek aan by ’n nuwe lewe? Nee, dalk verkies ek dat die antwoord nié agter dié deur lê nie, so dink ek as ek my kneukels weer vasberade teen die deur lig of die klokkie ’n tweede maal lui.

In die loop van twintig jaar leer ek om, met een oogopslag na die buurt, my ontvangs en die voorhuis vooruit te loop. Dit word ’n speletjie. Ek word minder en minder teleurgestel deur my tiperings (met die tyd, inderdaad stereotiperings). My oordeel maak vanself dieselfde subtiele klemverskuiwings mee, wanneer die landwye gemeenskap Mentze skaars merkbare veranderings in smaak en gebruike ondergaan.

Ek sien hoe ’n tweede of derde geslag met nagemaakte stink-en-geelhoutmeubels terugtrek na gesogte gerestoureerde skakelhuise in buurtes wat deur ’n opwaarts mobiele vorige geslag met sak en bal-en-kloumeubels van imbuia verlaat is – ewe min in enige Kaapse styl as die meubels wat dit vervang. Die skakelhuise is verruil vir siersteenhuise in voorstede waar grasperke tot op die sypaadjies oop was, met blou swembaddens en “braais” daarlangsaan. Dié voorstede vertoon nou bouvallig agter ses voet hoë precast met lemmetjiesdraad bo-op en geute wat loshang in die wind om die mure vinniger af te skilfer.

Maar daar is genoeg uitsonderings om my voortdurend te verras. Die soektog verval selde of nooit in verveling nie. Soms kom daar nog op die koop toe ’n ouma of ’n oupa saam met die Van Dyck-tapyt en die gepotte delicious monsters. Of die oupa en ouma woon in by ’n seun of dogter in ’n granny flat in Muckleneuk of Tuine of agter die precast van Florida – al word hulle nou meer dikwels gestuur na ’n ouetehuis of een van die meer gegoede “aftree-inrigtings” vir senior burgers met fasiliteite vir “tuisversorging” vanuit ’n siekeboeg.

Dan vind ek uit omtrent besoektye, koop sjokolade en vrugte, en gaan op soek.

Tussen die samegestelde geur van snuif, port, naeltjies, vergeelde papier, salwe en olies met ’n mentol- of ’n spiritus-basis kom ek die naaste aan ’n herwinning van my eensame, aaneenlopende en insidentlose kinderdae (behalwe skelm rook met oom Japie, “simpel” noem die dorpenaars hom en “mal” terg die skoolkinders en klonkies).

Dis vakansies tussen oupas en oumas, twee ongetroude ooms en veraf verwante tantes wat voortdurend in die rou is. Daar is ’n reuk van stof en Eau de Cologne in Victoriaanse sandsteenhuise met eindelose gange en diep, donker verandas. Stronke smeul winters dag- en naglank in kaggels. Die wind deur sipresse en bloekombome om die huis waai my snags bang.

Die ou mense op wie ek afkom, is uitgehonger vir praat, en hulle praat maklik – al is hulle inligting uit die oorlog in die meeste gevalle nou al tweede- of derdehands soos my eie.

Ek is ’n goeie luisteraar. Ek luister simpatiek na klagtes oor skoonseuns, maar veral skoondogters. Af en toe word ’n snuistery van sentimentele waarde uitgehaal, ’n kaartman of slang wat uitspring met die wegskuif van ’n deksel, en die naam van die kamp en die krygsgevangene met trots daarop uitgekerf. Of dalk die oorlogskorrespondensie van ’n vader of oom (maar nou meermale dié van ’n grootvader of grootoom).

My belangstelling is eg, en by meer as een geleentheid word die kleinood met die groetslag in my hand gegee. As ek beswaar maak dat dit eerder as familie-erfstuk bewaar moet word, beantwoord hulle my teenkanting met: “Ek gee dit eerder vir iemand wat daarna sal omsien. Die kinders het nie meer die belangstelling nie.” Ek verbeel my dat daar ná die dood van die skenker lang soektogte na dié items op tou gesit sal word, tussen sleutels waarvan die slotte lankal weg is en vergeelde foto’s. Daar sal donker insinuasies oor die verdwyning wees wat die grondslag van lang familievetes vorm, dit verbeel ek my. Maar meestal mis niemand dié erfstuk nie.

Tog dra ek die klein geskenkies terug na my woonstel in die stad, as kleinode soos dit bedoel was. Ek bewaar dit saam met patroondoppies wat ek op slagvelde optel, ook dié van Surrender Hill of Verliesfontein uit die Brandwaterkom.

Daar is ook van die ander goed wat in dié bladsye tot ’n storie sal word: die waentjie wat Oupagrootjie in die kamp in Indië kerf – ses osse in dieselfde wit, byna greinlose en vreemdsoortige hout, en ses uit vlammende oliewenhout uit die klowe van die Roodebergen. ’n Afgebreekte geweerkolf wat ’n ontmoeting met generaal Mentz vir vyftig, sestig jaar lank in verskeie geheues tot herinnering sou roep. ’n Horssweepstok van geel been, fyn uitgekerf – alles deel van my kinderdae.

Ek is ’n versamelaar. Ek glo soos my oom Blink Frans dat dinge ons aan die lewe bind. “Goeters maak stories,” sê Blink Frans (in wat Ounooi, my ouma en sy suster, sy kindsheid noem).

Tussen sy boeke is ’n Victoriaanse versamelbundel, in goedkoop seilomslag onsuksesvol gekamoefleer as kunsleer, van Darwin se Origin of the species en Voyage of the Beagle. Oom Blink Frans bring dit uit Duits-Oos saam, as enigste “soewenier” uit dié tyd wat altyd maar in ’n soort vaagheid gehul bly. In die kantlyn van die boek, uitgegee in Londen, 1891, deur iets wat hulself The Rationalist’s Society noem, is aantekeninge in ’n fyn skrif wat met die eerste oogopslag na Engels lyk. Maar kyk goed na dié skrif wat effens skeef na links lê.

Ons kyk weer en herken die Victoriaanse gier, in navolging van “beskaafde” Italiaanse dinge (en Da Vinci skryf só): spieëlskrif. Dis geduldig geoefen tot die lopende vlotheid van ’n kind wat sy handtekening verfyn het. Wat om die een of ander rede belangrik genoeg geag is om teen die indringing van oningewyde oë “beskerm” te word, is op die goedkoop geel en wollerige papier nou vir altyd ’n onleesbare rarigheid, selfs met behulp van ’n spieël en vergrootglas.

Is dit die enigste voorbeeld van Mannetjies Mentz se handskrif?

In die woonstel is die Bybellessenaar van stink- en geelhout wat my oom Frans onder verflae in ’n lank vergete huis herken en opgekoop het om as landmeterstekenbord te gebruik; tant Hannie Das se witdoringstoel en my oupagrootjie se trektafel van boekenhout. Op die boekenhoutblad is bloedvlekke uit die jagveld wat baie skropborsels weerstaan het, en sirkels, halfsirkels, kwartsirkels gelaat deur ontelbare glase, wat heenwys na dertig jaar se eensaamheid op die stoep van ’n kliphuis op Bethlehem.

Die witdoringstoel en trektafel staan agter tralies op my balkon. As ek tuis is, sit ek soos ’n meer gematigde oom Frans daar.

Ek hou ’n soort kontak met die ou mense wat ek op besoek ná besoek aan dorpe en stede teëkom. Ek stuur en ontvang ongereelde Kers- of poskaarte, totdat die kontak met die volgende besoek onverwags opdroog. Nou woon daar meer dikwels ander, jongeres in die kamers in ouetehuise of woonstelletjies in aftreeoorde. Hulle name ontruim selfs die matrones se geheues.

Al mag ek nou spesifieke insidente met redelike sekerheid koppel aan die persoon van generaal Mannetjies Mentz, weet ek niks meer as dit nie. Ek kan nie eens die “inhoudlose” bewering “Mannetjies Mentz had ’n moeder” bevestig nie, maar moet tevrede wees met die nog bleker bewering van biologiese noodsaak, naamlik: “Die persoon wat ons ken as ‘Mannetjies Mentz’ (maar wat moontlik nie ‘Mannetjies Mentz’ heet nie) het ’n moeder gehad.” Om dié rede gaan my soektog na generaal Mannetjies Mentz voort.8

Klassiek reeks: Op soek na generaal Mannetjies Mentz

Подняться наверх