Читать книгу Klassiek reeks: Op soek na generaal Mannetjies Mentz - Christoffel Coetzee - Страница 9

Оглавление

“Ons moet erken dat Ma die ding sien aankom het.” Ek onthou die woorde goed. Waarom ek dit onthou, weet ek nie, dalk omdat aunt Soph alleen by uitsondering geneentheid teenoor Ma geopenbaar het.

Die “ding” waarna aunt Soph, my ouer suster, verwys, is die oprukkende kolonne van die Engelse troepe en die invloed daarvan op ons lewe. Ma het ingesien dat indien ons ons lewe wou handhaaf, ons dit sou moes inperk tot die oorhangende kranse teen die hoogtes van die Roode- en Wittebergen waar vroue en kinders reeds met die Basotho-oorloë veilige vertoef gekry het. Hierdie oorhangende kranse en spelonke, min of meer onbereikbaar en onsigbaar vanuit die Poorte of Nekke oor die berge, is die Skuiltes.

Dit is dan die storie van ons verknorsing, en hoe ons wêreld verklein het tot die Skuiltes. Dit is ook die storie van generaal Mannetjies Mentz en sy kommando se optrede in die Nekke, en die gevolge daarvan wat ons lewens so verander het dat dit nooit weer dieselfde was nie.

Skielik is dit 13 Maart 1900 en Bloemfontein val in die hande van die Kakies onder Roberts. Generaal De Wet en president Steyn is ’n regering op vlug, vanaf Kroonstad na Heilbron. Die hoofkommando’s kleef soos uitgevrete bosluise onder Martiens Prinsloo, die Vrystaatse bevelvoerder, se stert toe dit lank reeds duidelik is dat generaal Buller nie die Vrystaat oor Van Reenen of enige ander Drakensbergpas sal binneval nie. Die aankoms van dié kommando’s in die Oos-Vrystaat en die verbete aanval deur die Britse magte is die swaai van die bees se stert wat hulle van generaal Prinsloo laat afval.

Saans kyk ons hoe die rook van die eerste huise ál nader brand. Ons verbeel ons dat ons die rook in die vroeë winterlug kan ruik. Ma sê: “Hier trap hulle ons nog vas.”

Ma vat pen en papier, maak die deur toe en skryf ’n brief aan Jan Witsie in die Hoek. Sy maak die pap dik aan: Daar was nog nie ’n kafferoorlog teen die Engelse nie, of dit is geveg met jou buismagasyne of “onderlaaiers”, Winchesters en Remingtons uit Kimberley. Dink jy die Engelse sal Isandlwana so maklik vergeet? En sy hou aan met die opnoem van plekke en datums, drie bladsye lank.

Jy en jou mense is welkom om by ons en die kinders in die Skuiltes aan te sluit.

Wat in my belang is, is ook in jou belang. In dié trant skryf Ma aan Jan Witsie. Jy kan jou diere saambring: wat nie die klowe kan op nie, kan op Uitkyk agterbly. Dis ’n aanbod wat Jan nie sal weerstaan nie.

Generaal Rundle jaag die burgers onder generaal De Villiers en generaal Crowther uit Thaba ’Nchu en Ladybrand tot in Ficksburg, en dis 24 Mei en Rundle beset Ficksburg en dis 25 Mei en hy beset Senekal. Tot teen Kommandonek en Witnek lê sy kolonne. Ma sê: “Dis net tyd, dan is hulle in en oor die Poorte, tot in Fouriesburg. Voordat hulle in Fouriesburg is, trap hulle ons hier vas.” Sy kyk in die pad af of sy nog nie die Witsies sien aankom nie.

Generaals Hunter en Colville trek parallel ál met die spoor langs, maar swaai van die spooreinde by Kroonstad regs na Lindley. Marthinus Prinsloo laat Lindley in die hande van vyftig burgers – hy verwar die verdediging van die dorp met die ledigheid in die Drakensberge waar die burgers hulle dae verwyl het met “Bok-bok staan styf, hoeveel vingers op my lyf”. Hunter se pad lê oop na Heilbron. En dis 22 Mei en De Wet lei die regering van ons Republiek uit Heilbron na ’n plek iewers tussen Frankfort en Heilbron wat deur die geskiedenis vergeet is. Vanaf dié vergete plaat peperbome vlug die regering na Bethlehem waar ’n krygsraad Marthinus Prinsloo, die ou kryger uit die Basotho-oorloë, deur generaal De Wet as bevelvoerder vervang.

Op 5 Junie val lord Roberts Pretoria binne. Pretoria is ’n dorp in ’n ander land, met ’n president wat so oud is dat hy dink die aarde is plat, en wat sy eie duim met sy knipmes afgesny het. Dit is die somtotaal van ons kennis oor Pretoria.

Bethlehem is óns dorp. Daar het ons in die Jordaanrivier geswem en Wolhuterskop geklim, en in die begin van Junie rol waens vol vroue en kinders uit die dorp die Brandwaterkom deur Retiefs- en Slabbertsnek binne. Op 7 Junie trek generaal De Wet hom ook tot agter die berge in die Kom terug.

Ma betig aunt Soph wat sê: “De Wet is ook nie my herder nie.”

Ma verdedig generaal De Wet deur te sê sy manne laat hom in die steek. Hulle is saam met die vroue en kinders deur die Nek, op pad Fouriesburg toe, nog voordat die beslissing oor Bethlehem gevel is.

“Nogtans,” kry aunt Soph die laaste woord in.

Dis nie net Ma en aunt Anne, Pa se jongste suster, wat die erns besef nie – ek is groot genoeg en lê snags wakker.

Aunt Anne doen haar bes om die bekommernis weg te steek. Sy word so eenkant van ons groot – neus in die lug, dink ons, met uitspattige klere en baie boeke, wat Soph tog in die geheim lees. Hoe verkeerd ons was, dit kom ons dié winter en halfsomer agter toe sy tot ons redding kom, gedurende die stukkie somer voordat ons haar teen die Skuiltes sou begrawe.

Toe ons ons verstand kry, was sy reeds op die Seminary. Sy het net lang vakansies uit die Boland teruggekom, met stories wat ons in ieder geval nie geglo het nie. Sy was ’n mooi meisie, met so ’n deurskynende vel, peaches and cream soos hulle op Engels sê. Omdat sy alleen grootgeword het, het liefde moeilik tot haar gekom. Maar toe sy dit gee, dag ná dag teen die Skuiltes toe dit nodig was, toe géé sy dit: As jy jou knie nerfaf val, troos sy. Word jy uit ’n nagmerrie wakker, klim jy teen haar rug in.

Deur die oorlog deur bly haar dood ’n rou seer, en daarna ’n letsel wat ons lewenslank sou dra.

Selfs arme oom Japie verstaan iets is nie pluis nie, met dié dat Ma so al in die pad af kyk of sy die Witsies nog nie sien nie.

En oom Japie? Waarheen is oom Japie, die ou dikkertjie met sy waggelstap, nou weer op pad, kwaad-kwaad omdat Ma meer in die pad as in hom belang stel? Hy is uitasem, met die armpies wat heen en weer woer-woer, handpalms na agter en die kort vingertjies wyd gesper.

Maar oom Japie kon waggel waar ons al vergeet het om te loop. En onthou hy iets wat ons reeds vergeet het, wanneer hy so apart in sy eie stiltes sit? Verlang hy terug na ’n ander herkoms, ver anderkant die rede en die redelikheid? En as hy só skree, soos net oom Japie kan skree, sien hy daardie allervreeslikhede wat nog net in nagmerries aan ons openbaar word? Wie sou kon raai teen watter horisonne hy sy oë op skrefies rig, elke uur van die lang dag? Wie weet watter probleme sy yl wenkbroue deurentyd plooi? Welke vinnige verwisseling van uitsig oor vreemde landskappe laat hang sy mond permanent in verbasing oop?

Die Witsies sê oom Japie wandel in die Lig van Genade en die Engel Gabriël hou sy vlerke altyd so ligweg om oom Japie gevou, net ingeval. En, snaaks, dit is kompleet of jy in sy teenwoordigheid ook onder die vlerkspan van die Seën skuil. Al daardie baie jare dat hy vir ons gespaar gebly het.

Soph gee voor die oorlog is ’n groot avontuur. Soph met die bos blonde krulhare wat sy net in bedwang hou deur hulle agter haar kop vas te maak, sy was soos ’n ma vir ons nadat ons aunt Anne teen dié middelsomer begrawe het.

Ons het iemand nodig gehad om ons gedrag en ons gedagtes te stuur, al was dit dikwels in die verkeerde rigting. Soph het dit met haar lopende kommentaar gedoen. Ek twyfel of ons jou aunt Soph altyd reg verstaan het, maar haar ontoegeeflike oordeel het die brûe verskaf tussen gebeure wat andersins sonder onderlinge verband sou bly.

Al het ons dit nie tóé geweet nie, het aunt Soph ook haar vrese gehad, en dit was groter vrese as ons s’n en dalk net so groot soos Ma se onbekende vrese. Soph kon verder as ons ander kyk, met dié dat haar harde uitsprake onverwagte samehange oor lang tye, ver plekke en uiteenlopende ervarings gelê het. Sy het ons teen dié vrese beskerm deur verduidelikings te gee en in te gryp in ons verwagtings. Selfs ek, maar veral die tweeling, jou aunt Joey en jou aunt Miemie, was nog ongevormde kinders en al was ons eiewys sou ons dié vrese en teleurgestelde visies nie kon verwerk nie. En Ma was so onvoorbereid om dié funksies te vervul.

As ek nou terugdink, dan sien ek die oorsprong van die ding tussen Ma en aunt Soph. Soph het Ma verkwalik omdat sy vir Soph ingedruk het in ’n rol waarvoor Soph self nog onvoorbereid was – ongeag hóé goed sy dié rol vervul het. Soph sou langer Ma se kind wou bly.

Pa, oom Giepie en oom Frans is op kommando. Aanvanklik veg al drie in die Bethlehemse kommando onder generaal Swart Migiel Prinsloo, die bittereinder-broer van ou Martiens. Dis veral oom Blink Frans wat ’n rol het in die storie wat ek hier vertel, van Mannetjies Mentz se ingryping in ons lewe teen die Skuiltes. Van Frans, my lieflingbroer, se vreeslike kant van die saak weet ek eers meer as veertig jaar later ten volle, toe hy sy gladde pen opneem – en tóé ook weet ek eers van sy skuldgevoelens en sy vertwyfeling deur die baie jare heen. En tóé eers weet ek van sy onvermoë om dit, sy skuld en twyfel, tot ’n balans te bring. Dis Frans se storie en Frans het dit beter vertel. Dis nie ’n maklike of ’n mooi storie nie, maar ek sluit dit hierby in.

Ma en aunt Anne, wat ons teen middelsomer sou begrawe, staan saans met verkykers om brandende plaashuise te eien. “Gert Griffiths se vrou en kinders soek vannag ander slaapplek.” “Vanaand brand Nooitgedacht se opstal.” “Dis ook maar ’n geluk tant Annie lê met die kanker by haar suster op Senekal.” En die naam van generaal Hunter word ’n vloek, veral omdat hy selfs die dorpe nie spaar nie. Wanneer Ma-hulle nie teen die horison na rook soek nie, kyk hulle pad-af of die Witsies nog nie aan die kom is nie.

Vroue en kinders in waens, allerhande soorte Kaapse karre en selfs ’n spaaider met ses osse ry oor ons plaas van hulle afgebrande plaashuise na die dorpe toe. Bedags is hulle uitgelewer aan kaffers en, erger, hensoppers en joiners. Ma gee oornag en sop en troos, en stop in menige verslae hand ’n verleë emmertjie dun wintersmelk en ’n brood toegedraai in ’n klam gaasdoek vir die pad.

Hoe meer Ma sien, des te meer vasberade is sy dat ons ons nie hier soos muise in ’n waenhuishoek sal laat vastrap nie.

“As daar af te brand is, dan brand ek my eie werf af,” sê Ma. “Ek sweer, as Jan Witsie nie kom nie, dan verraai ek sy leeftyd van smokkel aan al wat Kakie is.” Aunt Anne bevestig haar geloof in die Witsies: “Hulle sal kom.”

En die Witsies kom! In die loop van drie dae kom hulle in groepe: die vroue en kinders op ’n wa; die mans te perd agter drie troppe vee. “As die Engelse twee opkommandeer, dan is een trop oor,” sê Jan Witsie van sy troppe vee. Dieselfde dag nog verdwyn twee troppe beeste in ’n kloof op, na die Skuiltes. “Net die allersterkstes, Jan. ’n Tweehonderd stuk goeie Uysbees, een van ons vir een van julle syne, tot die getal vol is.” Die tweeling tel sing-sing af: “Een vir Uitkyk, een vir die Witsies.” ’n Groot hoeveelheid vee bly agter om op Uitkyk deur Witsies opgepas te word. Daagliks daarna volg troppie vir troppie skaap bergop.

Jan en sy groot seuns praat op die agterstoep met Ma, koue hande om warm bekers koffie. Tot laatnag ghries hulle die waens in die lig van ’n lantern.

Daar is net dae oor voor die vertrek. Ek kom om die hoek waar Ma, oorlede aunt Anne en die Witsievroue waterdigte seilsakke vir mielie-, boontjie- en ertjiesaad op die agterstoep stik terwyl hulle gesange en Hallelujaliedere op Sesotho en Hollands sing, heupe swaai en hande klap. Tussenin rook hulle hul lang rietpype en Ma stuur haar snuif om. Party neem dit deur die neus, maar ander sit die knippie snuif so onder die lang onderlip.

Vir my lyk dit onsedelik, soveel so dat Ma dit raaksien. Sy sê: “Eerder ’n Wederdoper of ’n Sionser met ’n lied in die hart as ’n Dopper om in die oorlogstyd deur die oog van ’n naald te gaan.”

Ma sê: Prijs den Heer. Die Witsievroue antwoord in ’n koor: Alleluja, alleluja! Prijsenheer! Amen, Amen!

Daar is iets vals aan die uitbundige godsdiensuitinge, ál asof dit die trane moet afweer en die vroue gereed maak vir ’n tyd dat hulle sal weier om Prijs den Heer saam met Ma te sing. Onrustige nagte deur hoor die kinders hoe grootmense by die waens stry oor wat moet bly as vuurmaakgoed vir die Kakies en wat moet saamgaan Skuiltes toe. In die bitter koue van die eerste lig word ons lomerig wakker met dieselfde “dit gaan saam, maar dat bly” waarmee ons die vorige aand aan ’t slape geraak het. Niks is ooit deur die lang nagte beslis nie, so voel dit vir ons.

Ons kinders sink pekelbalie ná pekelbalie met klippe in die gronddam sodat die hout dig kan uitswel teen die hoepels. Môreoggend slag ons vark.

“Jou hansvark ook,” sê aunt Miems, en oom Japie gaan aan die skreeu dat jy hom wie weet waar oor die werf kan hoor.

Wat ek van daardie winter onthou, is veral die bittere en nat koue. Reën, kapok, sneeu en mis – selfs ou-ou Witsies onthou nie ’n erger winter in menseheugenis nie. Onder die wilgebome by die populierbos lê die ys dae lank sonder om te smelt. Ons loop vandag met die laaste balies dam toe, sê Ma, en oom Japie maak ’n vuisie in my hand en die velletjie bars al teen die ou kinderkneukeltjies langs van die koue.

Ek was toe twaalf, maar na sestig jaar kry ek nog nagmerries by die gedagte daaraan, skielik is daar bloed in my hand. Sies tog, arme oom Japie!

En as ek moet sê hoe die winter geruik het, dan sê ek dit het bedags na misrook geruik en saans na veld- en huisbrand. Hoe het dit gelyk? Dan sal ek sê ons het hier vlak voor ons oë vasgekyk teen ’n wasige misrook en alles was blou van trane, asof ons doer na die Wittebergen kyk. Oor die werf praat almal hard, met ’n winterhelderte en afskeid se gelykpraat.

Ná Boekevat sê Ma vannag moet almal vroeg gaan slaap.

Ons weet van die Skuiltes, uit stories toe die Boesmans nog daar weggekruip het, en hoe Pa en sy broers niks met hulle daar kon uitrig nie. Tot die Witsies uit die Hoek hier aangekom het – en waar Pa-hulle vir twintig jaar nie die Boesmans uit die Skuiltes kon kry nie, bring die Witsies met hulle die kennis dat byeswerms slaag waar lood en kruit misluk. “En toe die Basotho’s in die laaste oorlog daar skuil, toe los ons die bye teen húlle,” lag Pa. “Ons leer ook.”

“Eerder saam met die Witsies in die Boesmanskuiltes, as om hier vir Hunter se voorhoedes te wag,” sê Ma.

Natuurlik slaap ons kinders daardie nag nie veel nie. Die vooruitsig van die trek na die Skuiltes is iets soos ’n Krismis in daardie mistroostige wintertyd, met Ma wat met elke skemer wonder: Wie se huis sou dit nou wees wat daar brand? As ek moet raai, dan is dit die opstal van Gert van Rooij.

Terwyl ons nog slaap, slag en pekel die Witsies al wat vark is. Wakker het die grootmense nie geduld met ons nie. “Bly net onder ons voete uit.”

Maar eers deel Ma wapens uit, en daardie wapens vertel die storie van ons familie – selfs voordat ons Uitkyk toe is. Daar is die Brown Bess-vuursteenslag waarmee ons, meisie- en seunskinders, leer skiet het. En die Bess wat my oupa omgebou het in ’n doppieslot voordat hy van McClear Town na Bethlehem getrek het met die natrek. Sniders uit die Basotho-oorloë, twee Martini Henri’s wat Pa en Jan Witsie uit die Transvaalse Oorlog van Majuba af teruggebring het.

Die Witsies sweer by hulle Remingtons met die buismagasyn onder die loop, en Ma is daarmee tevrede. Pa het haar voldoende vertel van die jagtogte in Zoeloeland en hoe die Witsies ná elke skoot blitssnel hul greep op die loop verstel om die geweer tot ’n nuwe ewewig te bring.

Vanaf dié dag loop Ma nie weer sonder die Colt-pistool in die voorskootsak nie, en dit was ’n verkeerde ding.

“Maar as dit op skiet uitloop, is dit die Witsies se roers en die Here wat ons sal moet beskerm,” vlei Ma. Ek dink nie Ma het ooit uitgevind tot welke uiterstes Jan Witsie se buismagasyne ons in die toekoms tot redding sou kom nie – ek self het eers uit oom Blink Frans se storie daarvan geleer, meer as veertig jaar later.

Met die eerste oggendson beweeg die waens, buite bereik van Hunter en sy stadige Engelse waens en vyfponders. Dan nog ’n harde dag of twee tot by die Skuiltes – of so reken ons.

Oor die eerste bult, waar ons die opstal nie meer kan sien nie, roep Ma vir Jan.

“Het jy ’n vuurslag, Jan?”

En dit is hier waar dinge begin skeef loop. Al praat Ma in die vervolg selde en kyk net so voor haar uit, met die hand voortdurend in die voorskootsak, is dit moeilik om die vinger presies te lê op wat skeef geloop het. Maar dis met dié skeeflopery dat ons begin spot en sê Ma tel skape in haar gedagtes, of sy sê die Rigters en Konings op wanneer sy so stil voor haar uitkyk asof sy niks sien nie.

Later gee ons op om te wonder wat agter haar oë aangaan. Ma se stiltes is daagliks minder vreesaanjaend; ons raak vertroud daarmee as deel van ons daaglikse roetine, as slegs nog ’n perspektief op vertroude dinge.

Wanneer sy so staan en kyk, kyk, kyk, soos sy doen sedert die eerste dag op pad Skuiltes toe, sê ai Eliza en aunt Soph …

Aunt Soph sê: “… as sy so staan en kyk, kan sy net sowel al die Rigters en Konings in volgorde opsê, van Joshua af tot Eliakim. Sy los nie Ahas of Asaria uit die prentjie uit nie. Dié was ’n koning van Israel en daardie van Judea. Ma weet wie se noemnaam Jerubbaal was. Was Barak ’n werklike Rigter? Van alles en nog wat, dit sal sy jou kan vertel as jy die skewe behoefte had om te weet.”

Ai Eliza sê: “… En sou jy haar vra, sal sy jou tot op die laaste skaap na presies vertel hoeveel daar in die klowe rondom die Skuiltes is. Soeviel ooie en soeviel hamels, en dalk nog soeviel tweetand en soeviel volbekke.”

“… en,” sê aunt Soph, “as sy so kyk, dan kan sy sonder om vas te haak die Bybelboeke uit haar kop opsê, van Genesis tot Openbaring. Sonder om Obadja te vergeet of om deurmekaar te raak met die Filippense en Filémon se sendbriewe.” Al wat ons ons Ma ooit sien lees, is De Vriend des Vrijstaats en die Bybel, en De ZuidAfrikaan, ás ’n flenters gelese uitgawe af en toe by ons aanland.

En dan dans aunt Soph en ai Eliza die slofdans, rondomtalie, trap die askoek vas dat die stof so staan. Klap hande, en iedere keer dat die agterwêrelde by mekaar uitkom in hierdie wilde stofdans, stamp dit dat dit dril. Só. Al in die rondte, skoffel, skoffel, met elke rondte vashak, stamp. Slof, slof, slof, trap die hak in die grond vas, en aunt Joey kom in die pad en haar plat stêre stamp teen ai Eliza se Griekwastêre. Rondomtalie! Gryp vir oom Japie, al in die rondte, en wens dat kindjie groot al was om al die diertjies op te pas … Om en om, in die Skuiltes se sleurdans.

“Hallelu-ja!”

“Am-en!”

“Allelu-ja!”

“Prijs den Heer!”

Amper nes toe Ma en die Witsiemeide weke gelede op Uitkyk se agterstoep Hollandse en Sesotho-gesange gesing het terwyl hulle saad in die seilsakkies toewerk.

Maar tog ook nie só nie, want ai Eliza en aunt Soph kyk eers goed of Ma nie in die omtrek is nie voordat hulle in die as begin trap. Maar as ek hulle tot respekte en sedelikheid roep, sê aunt Soph: “Ja, dalk kyk sy net die toekoms in soos op die berg Nebo toe die Here die Beloofde Land aan ’n knorrige Moses uitgewys het.” Onse arme Ma, want ek dink dalk hou sy nie van wat sy vanaf die berg Nebo sien nie.

Maar om so met Jan te praat, met die hand op die Colt in die voorskootsak – dit was dalk die begin van die verandering in Ma.

Iewers in die oorlog het ons Ma verloor, só besig was sy om vir ons ’n lewe teen die Skuiltes te maak. As sy ná die oorlog van haarself teen die Skuiltes praat, sê sy “sy” of selfs “die vrou” en verwys na “haar skepsels” en “die vrou se diere”.

Vir ’n vreemdeling sou sy sê, wanneer sy na die oorlogstyd verwys: “As jy nou hier kom staan, dan wys ek jou waar die vrou was, maar sy weet nie of sy dit sou oorleef sonder haar skepsels nie. As jong vrou, met my man in die jagveld of op kommando, het ek geleer om my lewe in hulle hande te laat. As dit moet, dan doen ek dit môre weer.”

Dit was kompleet of sy van twee of drie mense praat, met dié deurmekaar ge-“sy” en ge-“ek”. Sou jy haar nie ken nie, moes jy jou ore spits om te weet wie is wie: “die vrou” uit die oorlog, en ’n “ek” van voor én na die oorlog.

En Jan Witsie skrik hom yskoud, die eerste keer dat Ma so kyk, terwyl haar hand jeukerig krap in die voorskootsak met die Colt.

“Ekskuus, miesies?”

“Ek vra, Jan, of jy ’n vuurslag het?”

“Ja, mies, ek het ’n vuurslag. Waarvoor het mies die vuurslag nodig?”

“Sê tog ja as jy ’n vuurslag het!”

“Ek hét ’n vuurslag.”

“Klim op jou perd; ry terug. Steek die plaasopstal aan die brand.”

“Nee, mies, dit kan ek nie doen nie. Mies, wat sal ek vir die oubaas sê as hulle terugkom? Ek kan hom mos nie sê ek het die opstal somaar gebrand nie?”

En dis toe dat Ma die vreemde ding doen.

Sy haal die Colt uit haar voorskootsak. “Ek sal nie vir die perd mik nie. Dit is ’n mooi dier. Ek sal direk na jou mik, tussen jou oë, en as ek dié teiken mis, dan is dit net ’n duim die- of deuskant toe. Vat nou jou perd en vuurslag en steek die opstal aan die brand voor ’n ongeluk kom wat nie ’n ongeluk sal wees nie.”

Ons almal – en dit sluit Jan Witsie self in, vertel hy ons later – oorweeg dit nie vir ’n enkele oomblik dat sy nie sou skiet nie, as hy dit waag om die bevel te verontagsaam.

Die kinders voel uitgesluit van Ma se krag, of besetenheid, of wat dit ook al mag wees. Ons weet nie wat aangaan nie. Iets is verkeerd. Ons kruip vir beskerming na die kil en onbekende halfmaan van aunt Anne se arms, al is daardie arms styf en ongewend aan troos. Dié vrou met die Colt is nie Ma nie. Dis iemand wat ons verneuk met Ma se gelaat. Selfs aunt Anne, vir wie ons teen die Skuiltes sou begrawe voor die einde van die jaar, kies kant met haar nat oë.

Dan vra Miemsie: “Ma wil die huis afbrand?”

“Ja,” sê Ma, en as ’n nagedagte: “En ook die buitegeboue, Jan. Ek het nie ’n Engelsman of hanskakie nodig om dit te doen nie.”

Jan Witsie sê, sag sodat ons nie weet of Ma hom hoor nie: “Nou kies mies maar die kaffer, vir die skuld van later …”

Ons huil en pleit, en oom Japie sit ’n keel op, al twyfel ek of hy weet waarom. Nes die res van ons huil hy van ’n vrees sonder naam, en waar sal ons hulp vandaan kom as die ondier uit nagmerries dreigend langs ons beddens staan?

Jan kyk ’n laaste keer na die Colt. Toe kry hy sy ry. Twee nagte brand die opstal agter die horison soos ’n veldbrand buite seisoen – en teen dié tyd is Jan lankal terug. Hy sê niks nie, behalwe om ’n enkele keer te mompel: “Nou’s ek ’n brandstigter ook.” Selfs die eerste nag het niemand Ma sien omkyk nie.

Ons trek deur die bitterste koue deur, ál nader na die berge toe, en sy sit stug langs die wadrywer. Sy sê niks deur die lang nag deur nie, al skreeu oom Japie die bibberende donkerte in dat die naderende berge antwoord gee.

Aunt Joey bid kliphard. Hoe meer ons haar vertel dat dit nie die oordeelsnag is wat agter die horison brand nie, des te harder bid sy om vergiffenis. Ek verduidelik aan haar sy is nog nie sewe jaar oud nie. Sy is nie sonde-aanspreeklik nie. Sy sê sy wil nie gered wees as ons almal nie saam met haar op die Smalle Weg is nie, en óns is sonde-aanspreeklik. Joey, so sê aunt Miemie, bid vir hulle twee én oom Japie wat só alleen op die Smalle Weg sal moet gaan, of hulle dan wil of nie.

Uiteindelik sê aunt Anne, vir wie ons middelsomer teen die Skuiltes sou begrawe: “Sal julle stilbly! Dis nie julle skuld dat die Engelse ons nog nie gehoor het nie.” Dwarsdeur die kabaal van dié nag, ’n lang nag totdat ons van uitputting aan die slaap raak met die môrester, kyk Ma nie om, of sê ’n dooie woord om ons stil te maak nie. Sy sit net so op die voorkis, stug, met haar hande gevou oor die voorskoot waar die Colt snoesig soos ’n klein katjie in een sak lê.

Die kinders stap lang ente, of ry in ’n ander wa, eerder as om Ma so stil daar op die wakis langs die drywer te sien sit. Dié nag raak ons aan haar nuwe stiltes gewoond – maar deur die oorlog bly dit as ’n selfverwyt in ons ore raas.

Ek dink ons weet almal dat hierdie ’n tyd van afskeid is. Wanneer Ma weer ons ma word, sal almal behalwe oom Japie te groot wees vir troos en vertroeteling.

Dit is moeilik om die vinger presies te lê op hoe Ma verander het, so handomkeer, daar agter die eerste koppie van waar Uitkyk se opstal nie meer sigbaar is nie. Wat het dan verkeerd geloop in die kort duur waarin ons gedryf is om ’n ongemaklike skuiling te soek teen aunt Anne se lyf wat nog hoekig soos dié van ’n jong meisie was, daar op die snerpwit Vrystaatse wintergras terwyl die ryp onder ons gebarste kaalvoete ontdooi? Dit is ’n saak van onmoontlikheid om dié verandering te verklaar. Dis so onmoontlik soos om ’n vinger presies op dié punt van ’n negeoog te lê en te sê: “Hier lê die kwaad.” Veral omdat Ma, in die maande wat gevolg het, beter na ons sou kyk as wat van ’n ma verwag kan word.

Klassiek reeks: Op soek na generaal Mannetjies Mentz

Подняться наверх