Читать книгу Klassiek reeks: Op soek na generaal Mannetjies Mentz - Christoffel Coetzee - Страница 11

Оглавление

Ma laat alle toegangsweë uit die kloof toerol toe ons eers teen die Skuiltes ingeburger is, behalwe dié een voor ons Naudés se Skuilte. Van bo het ons ’n uitsig op naderende besoekers sonder dat hulle ons kan sien. As dubbele veiligheidsmaatreël plaas Ma vier en twintig uur van die dag ’n gewapende wag voor die toegang.

Vreemdelinge is nie onwelkom teen die Skuiltes nie, mits hulle nie agterbakse bybedoelings het nie. Maar met die ryp nog wit en bros, staan daar een oggend twee mans voor ons Skuilte sonder dat die wag alarm maak.

“Hoe het julle by die wag verby gekom?” vra Ma.

“Ons moes hom ongelukkig van agter bekruip en vasmaak,” sê die netjiese, lang man met sy goed versorgde moestas en blink kamaste. Hy dra ’n skoon, wit hemp met ’n plat kraag en ’n strikdas daaronder, iets wat ons in die oorlog selde gesien het. “Maar ons het die wag nie té seergemaak nie, en tante kan nou maar stuur om hom los te maak.” Hy hou sy swart hoed in sy hand terwyl hy met Ma praat – ’n beskaafde, versekerde man sonder ’n teken van onderdanigheid, ’n man wat sy man sal staan, selfs teen Ma, so dink ons.

Ma sê: “’n Man wat sleg genoeg is om hom te laat bekruip en vasmaak, moet vasgemaak bly.” Die netjiese man het Ma reeds aan sy kant; hy draai haar met sy goeie maniere om sy pinkie.

“Nee,” sê die netjiese man, “die wag is nie sleg nie; ons is net baie goed met dié soort ding. As ons nie daarmee goed was nie, dan was ons lankal dood.” Ons kry nie die indruk dat hy grootpraat nie.

“Maar nou,” sê die man, “kan ons die heel beste onder ons verloor as tante nie help nie.”

“Die heel dapperste onder ons,” kom dit uit die tweede man se digte baard wat aaneenloop met sy deurmekaar hare, en die woorde kom uit as iets tussen ’n kwylstotter en ’n gesis. Tot nog toe het niemand veel aandag aan die ander man gegee nie – nie net omdat enigiemand deur die gemanierde man in die skadu gestel sal word nie, maar die ander man staan diep in die oggendskemerte in sonder om ’n woord te sê. Noudat hy uiteindelik iets sê, is die skemerte reeds aan die wyk. Ons aandag verskuif na die jong reus.

Waar jy die een deur ’n ring kan trek, is sy maat net die teenoorgestelde. Hy dra ’n vuil kakiejas wat hy tot bo toeknoop, maar dit is ál met die naat langs teen die moue oopgesny om sy massiewe arms te laat pas. Ewe-eens is die sypante en naat agter teen sy rug af plek-plek oop, om dit moontlik te maak om die breë skouers voldoende plek in die Engelse jas te gee. Toe die Kakies se kwartiermeester jasse laat maak het, het hy nie hóm in gedagte gehad nie, sê aunt Soph later.

Eens op ’n tyd het ’n dokter met bomenslike geduld iets aan sy haaslip probeer doen. Maar op die amperse stukkie bolip loop die mediese petit point-werk steek vir fyn steek lelik skeef, soos deurmekaar duisendpootspore ná die reën. ’n Oogtand gryns.

In sy pogings om die reus se haaslip te vervang met iets soos ’n bolip, span die vel oor dié kant van sy gesig nou so styf dat die linkeroog leep trek. Die bolid druip oor die oog. Dit moet sy sig aantas; hy draai deurentyd die aansienliker sy van die gesig na jou – en die regterkant van sy gesig behoort aan iemand anders. Ek weet ’n man is nie mooi nie, dit leer ons in die Engelse les: A girl is beautiful, but some men are handsome. Maar so lelik as wat sy linkerkant is, so mooi is die regterkant onder die gekoekte hare en baard, sonder om meisiemooi te wees.

Hy is klaarblyklik gewend dat sy woorde onbegrip ontlok. Hoewel ons hom daarna selde indien ooit weer hoor praat, neem hy ons geskokte ongeloof as teken van onbegrip. Hy herhaal stadiger, in ’n volsin: “As ons ons nie haas nie, dan verloor ons die heel beste onder ons,” en ’n fyn speekselreën sproei deur die gesplete verhemelte oor die swart baard.

Ons is van kleins af geleer om nie te staar nie. Maar hier kon jy nie anders nie. Die rede, so sê aunt Soph later, is dat ons in hierdie geval te doen het met ’n Wonderwerk uit Gods Skeppende Hand. Die Here het verveeld by die wal van ’n spruit gesit toe Hy ingedagte ’n goeie stuk klei in sy hand neem. Die Here, sê aunt Soph later, kyk lank na die klei. Hy brei dit in sy hand. Hy druk hier en druk daar. So speel-speel maak die Here die beeld van ’n man uit die klei, al is dit net om te kyk of Hy nie intussen sy ou slag verloor het nie. Toe laat die Here die kleipop val, per abuis. Die Here tel dit op om reg te maak wat verbrou is. Hy probeer om die klei van klippies, stof en gras skoon te blaas. So kom dit dat die Here sy konkelwerk laat lewe: toe Hy nog so blaas-blaas om die gemors uit te kry wat met die val in die klei weggesink het, toe blaas die Here mis, reg binne-in die mismaakte kleipop se neusgate in. En dit was te laat vir trane, want die Here se skepping is sterk. Hy is uit oefening om sy skepping tot orde te roep soos destyds in die tuin. Die man dreig die Here om hom te laat gaan. Toe die Here nog die saak oordink, laat spaander die kleipop Boereoorlog toe om kommandant Mannetjies Mentz se linkerhand te word, so vertel aunt Soph.

Waar die woorde “as ons ons nie haas nie” in die mond van ’n ander na ’n versoek sou klink, is dit hier ’n dreigement om liefs in te val by wat hulle planne mag wees. Die manierlike man sit sy Mauser-jagmodel met die Duitse silwerbeslag en graveerwerk van allerlei jagtonele (’n legendariese wapen, met die verloop van tyd) teen ’n klip neer om sy goedgunstigheid te bewys. Die reus, daarenteen, klou sy Lee-Metford styf vas, kneukels wit om die loop, gereed om dit te lig, sou ons nie gehoor aan sy dreigement gee nie – wat dié planne ook al mag blyk te wees.

“Ekskuus, tante,” sê die netjiese man, “dit is Niemann en ek is veldkornet Voss.”

“Wat bring julle hier?” vra Ma.

Veldkornet Voss kom tot die punt. “Tante,” sê hy, “een van ons manne, om die waarheid te sê, ons kommandant, lê swaar gewond onder in die Nek, ’n skouerwond. Ons is bevrees dat hy dit nie deur nog ’n nag sal maak as hy nie dringend versorg word nie.”

“En wie sê ek sal iets aan sy welsyn kan doen?” vra Ma.

“Tante,” sê veldkornet Voss, “tante het die reputasie hier rond dat tante nie sommer die dood by die voordeur innooi nie …”

Dit is woorde wat Ma wil hoor: dat sy teenkantig teen die dood is, sê aunt Soph later. Ma durf nie gewone vyande aan nie; hulle order sy soos sy wil. Maar dalk is aunt Soph nie heeltemal reg nie, want die veldkornet is nog nie klaar nie – en wat hy verder sê, mag die finale deurslag gee.

“… en tante se seun Frans is saam met ons. Hy’s aan ’t waak by die kommandant …”

“Laat ons nie praat van ‘waak’ alvorens die tyd ryp is nie. Sien julle kans om julle kommandant, kommandant …?”

“Mannetjies Mentz,” sê Velkornet Voss.

“Verbeel jou,” sê Ma, “Frans is aan ’t veg saam met Mannetjies Mentz! Ek het van julle klomp gehoor. Julle lê die Engelse begeleide in die Nekke voor en laat die krygsgevangenes vry? Julle dwing hulle om hulle weer by die kommando’s aan te sluit?”

Veldkornet Voss sê: “Nie dwing nie, tante. Ons gee hulle net ’n tweede kans om die skandalige besluit van Martiens Prinsloo in heroorweging te neem.”

Ma sê: “As julle hulle dwing, maak nie saak hóé nie, dan is dit ook goed genoeg vir my!” Niemann gryns Ma goedkeurend toe, terwyl twee druppels kwyl in die vroeë oggendson op sy deurmekaar baard blink.

“Sien julle kans om kommandant Mentz hier bergop te kry?”

“Ja,” sê Voss. “Ons sal hom hier kry.”

Ma waarsku: “Gebruik ’n harde draagbaar. Skuif dit onder hom in, soos hy daar lê. Strêp hom dan styf oor die komberse vas, sodat hy hom nie kan roer nie. Ons wil nie meer kwaad as goed doen, noudat die kwaad reeds gedoen is nie.”

Op pad na die Nek om ’n sterwende kommandant Mentz teen die Skuiltes te kry, sny hulle die ongelukkige wag los. Hy vertel hoe Niemann hom van agter bekruip, en die oop mes voor teen sy keel gehou het terwyl hulle hom met rouriem vasmaak. Hy was stewig vas, toe sê Niemann hy’t iets vir die wag om hom aan dié oggend te bly herinner. Die wag wys ’n lelike stippellyn van bloed, soos die mes plek-plek oor sy keel gevat het – en toe slaan hulle hom uit sodat hy nie kon skreeu om alarm te maak nie.

Maar Ma is in ’n vergewensgesinde bui. Eerste in haar gedagte is die voorbereiding vir die gewonde man. Jan Witsie sê die wag is ’n gelukkige man. Dis selde, sê Jan, dat Niemann en sy maats so ligtelik met mense werk. Jan Witsie weet iets wat aunt Soph vermoed, en haar vae vermoedens is voldoende rede tot bekommernis.

So kom dit toe dat Mannetjies Mentz se pad die eerste keer met ons s’n kruis. Daarna was ons lewe nooit weer dieselfde nie.

’n Paar uur later bring hulle Mannetjies Mentz, vasgegord op ’n breë plank, teen die Skuiltes op. Daar is sowat ’n dosyn van sy manne saam met hom, onder wie oom Frans. Hulle is almal jonk, oor die algemeen nie veel ouer as oom Frans nie. Hulle is soos veldkornet Voss aangetrek – nie só uitgevat nie, maar nogtans so dat dit na ’n soort uniform lyk. Anders as Niemann, lyk hulle ook skoon. Aunt Soph sê die vuilste klad onder hulle is die streep onder oom Frans se neus waar hy ’n snor probeer kweek.

Oom Frans kom skaars groet voordat hy teruggaan vuur toe. Hy groet ons plegtig met die hand. Hy lyk skaam dat hy ons ooit raakloop, asof ons mekaar net van verlangs ken, en ons vorige ontmoeting skandelik was, en hy nie meer presies kan onthou waar en wanneer dié vlugtige ontmoeting plaasgevind het nie. Of waar hy die eerste keer van ons gehoor het nie. En nou’s hy bang ons sal dié bykans vergete geleentheid weer ophaal, met ’n stinkstorie of twee daarby, indien daar inderdaad so ’n ontmoeting was, en hy ons nie net van hoorsê ken nie.

“Aangenaam om u weer te ontmoet,” sê aunt Soph. “Van waar ken ek u nou weer, meneer?”

By die vuur wag Mentz se manne Ma se oordeel af. Ons bly uit die pad. Dis net aunt Anne en aunt Soph wat binne vir Ma help, maar ek kyk skelmpies binnetoe. Veldkornet Voss en Niemann is saam met hulle by die gewonde kommandant.

Kommandant Mentz lê en hyg hoog teen die kussings. Wat ek van hom onthou, is dat hy só doodgewoon was, nie oud nie en nie besonder jonk nie, ’n eerste grys haar in sy stoppelbaard en ’n kortgeknipte militêre snor. As jy my nou na die kleur van sy hare en snorbaard vra, dan het dit my ontgaan. Dis maar net hare en stoppels. Hy is die soort man by wie jy in die straat sal verbystap – en juis dit sal die straat vir jou ’n veilige plek maak. Nie ’n aantreklike man nie, maar ook nie onaantreklik nie – een wat juis daarom vertroue inboesem, al ken jy die man van g’n Adamskant nie. Ek kan my nie eens die kleur van sy oë herinner nie – maar dit was nóg innemende, nóg kil of afwysende oë. Dit was net oë, dié soort oë wat ongerymdhede raaksien en waaronder jy rustig verder sal stap in die straat, as jy hom dan om die een of ander rede sou opmerk.

Hy gee inhoud aan die uitdrukking “die man in die straat” as die gemiddelde man wat jou eie oordele en vooroordele deel en tot jou beskerming sal kom as dit moet, dink ek dikwels in die jare daarna.

Dis slegs later dat ons besef het die doodgewone en die vertroulike en oënskynlik betroubare is dikwels onskeibaar van die ondeurgrondelike gesig van ons onbegrip.

Dis ’n wonder dat pyn nie ’n merk op dié gewone, doodgewone gesig laat nie, want daar binne, in die allenigheid rondom die siekbed, blyk dit dat Mannetjies Mentz meer as sy deel pyn het waarmee hy daagliks saamlewe. Dis die pyn van ’n vroeëre marteling, meer uitgerek as waartoe ’n koeëlwond in staat is. Dis ’n pyn wat op onwaarskynlike wyse toegedien is, en om ondenkbare redes. Dis ’n pyn wat só langdurig moet wees dat jy sal verwag om dit in sy vertroude gelaatstrekke veruiterlik te sien.

Nogtans is die gesig van kommandant Mannetjies Mentz vry van enige sprekende uitdrukking, van pyn of nie pyn nie. Vergeefs soek ons in sy gesig na ’n opgekropte wraakgier om ons te herinner aan die duistere aanleiding tot dié fyn beplande aftakeling: dit moes jare gelede gebeur het, maar dun, rooi, opgehewe striemhoue golf oor sy rug en skouers. Dit laat die rug- en skouervel met ’n diep pers kleur, soos die geplooide, papierdun, gelooide vel van iemand wat die ergste brand oorleef het.

Maar sy rug en skouers moes ná dié allervreeslike en langsame ontsteking sonder enige versorging genees het – ’n genesing wat nooit volledig was nie, want iedere keer dat sy liggaam verswak word deur koors, soos nou, breek die kwaad weer geel onder die teer pers vel uit en loop die riffels van etter vol.

Selfs Ma, en sy het in haar lewe die verwoesting gesien wat die een mens op die liggaam van ’n ander kan wreek in sy vele fasette, is met stomheid geslaan.

“En dié, dié …?”

Veldkornet Voss draai net sy rug. Hy laat dit aan Niemann oor om deur sy gesplete verhemelte te mompel: “Lank gelede.” Dis duidelik dat die oorsake van die wonde teen sy rug en skouers ’n verbode onderwerp is.

En Ma sê met ’n skerpte waaronder selfs Niemann ineenkrimp: “Nie so lank gelede dat dit nie meer saak maak nie. Dit verskoon nie die feit dat wie dit ook al aan hom gedoen het, nou sorg dat julle kommandant nie ou bene gaan maak nie – al word hy ook gesond van dié koeëlwond.”

Niemann se swye hierna sou veelseggend kon wees, in die lig dat dit later sou blyk dat hy dink die kommandant is omtrent onsterflik. As ons ons raaiwerk doen, en dit bly net by raaiwerk, kom Voss en Niemann ’n lang pad saam met die kommandant, van lank voor die oorlog af …

Die pynlike koeël, wat die lyf in die holte tussen die nek en skouerknop binnegedring het, doof nie ander en ouer pyn nie. Mannetjies Mentz kreun toe Ma aan die etterende hale raak.

Ma sê: “Voor ons hieraan ’n einde maak,” en sy lê klem op haar volgende woorde, “vir tyd en wyl totdat dit weer op ’n ander dag ontsteek, is dit nie eens nodig om verder te kyk nie. Dán is ons op moedverloor se vlakte. Kry twee van jou manne om te help vashou,” sê Ma vir Voss.

Dis Niemann wat sê: “Hulle weet nie hiervan nie.”

Ma sê: “Jy sal dit nie veel langer kan stil hou nie. Sulke dinge het ’n aard om uit te kom. Nou maar goed,” en sy skree na my en Eliza om te kom help. Voor ons nader kom, sê Ma aan veldkornet Voss: “Laat ons een ding goed verstaan: Ek is hier in bevel. As jy of jou vriend nie hou van wat ek gaan doen of sê nie, dra julle julle kommandant bergaf na ’n graf wat julle self grawe.”

Toe sy die swere oopsny en verbind, skreeu Mannetjies Mentz toe ou herinneringe roer. Hy beur teen die gesperieme wat hom teen die bed vasgord toe die karbolsuur die opgehewe golwe tot op die rou vlees skoonbrand. Veldkornet Voss en Niemann moet vasdruk, want hy beur tot breekpunt toe: óf die gespes óf hy self moet toegee aan die eensame oorsprong van die pyn.

Buite by die vuur word sy twaalftal stil, want hulle dink hy skree ten hemele van pyn oor die Engelse koeël.

Ma druk warm yster teen die koeëlwond, so rooiwarm dat die Skuilte na gebrande vleis ruik. Die dag se eerste kos steek in my, ai Eliza, veldkornet Voss en aunt Anne (en, wie weet selfs in Niemann en aunt Soph) se kele vas. Sy krap met ’n tang in die wond rond op soek na die koeëlpunt. Sy vat-vat iets raak, trek, net om dit weer diep in sy blad te verloor, en weer en weer te verloor.

Maar deur dit alles lê Mannetjies Mentz stil, sonder om ’n geluid te maak. Weke later is daar nog pers ringe om haar voorarm waar die kommandant uit pyn aunt Anne se voorarm met beide hande vasgegryp het, so diep het hy sy hande in haar dun wit arm gesink om enige verdere uitroep van pyn te keer.

Dié koeëlwond, anders as sy ontsteekte rug, verwerf nog nie ’n eie geskiedenis nie. Hierdie pyn is te nuut om in benewelde ure by hom te spook, te nuut om deur sy liggaam alleenlik onthou te word sonder die bemiddeling van sy bewussyn en om deur die newels van droom en koors te breek. Daarom kan hy die pyn uit die vyand se geweer onderdruk. Die óú pyn rig sy lewe, al weet sy manne nie daarvan nie. Die koeëlwond waarvan hulle weet kan nooit sy lewe só rig nie.

Ma vat niks met die tang in die wond stewig genoeg vas nie. Oplaas gooi sy vuurwarm geneesolie in die wond af, sonder dat Mannetjies Mentz ’n oog knip. Sy burgers begin weer gedemp rondom die vuur praat. Wat hulle betref, vel Ma ’n onwrikbare oordeel oor die koeëlwond, want waarom het hulle kommandant dan netnou van pyn gegil?

Uitgeput lê kommandant Mannetjies Mentz en slaap. Ma vra veldkornet Voss en Niemann om die burgers om die vuur nader te roep.

“Kyk,” sê Ma, “dit is nie tyd vir doekies omdraai nie, en ek sê reguit julle kommandant sal dit nie maak nie. As ek ’n dokter was … Maar wat ek weet, het ek uit nood geleer. Ek kan hom ’n dag of drie, vier aan die lewe hou. Julle kan bly om … om tot siens te sê, want ek veronderstel julle het nog ’n oorlog om te veg?”

Die burgers kyk na mekaar, in stilte. Ma sê: “Praat. Hy kan julle nie nou hoor nie. Hy sal nie weer voor die oggend by sy volle verstand wees nie.”

Veldkornet Voss vra: “Tante, gaan tante vir die kommandant vertel van die einde?” En Ma sê: “Ek glo ’n mens moet genoeg tyd hê om vrede met sy Here te maak.”

Deur sy linkerkant grinnik Niemann ’n gryns van uitdaging. Die gryns sê: “Ons sal sien.” Hy gryns by die blote gedagte aan Ma se onkunde aangaande die kommandant se sterflikheid, en drie druppels kwyl blink in sy baard.

Dit is snaaks, noudat ek terugdink, dat Ma nie die burgers gevra het om hulle tot haar laaste verweer te wend deur Prijs den Heer te sing nie. Het sy die boodskap van Niemann se gryns begryp?

Dié nag is dit stil om die vuur, terwyl die kommandant se burgers wag op die oggend. Oom Frans kom nie eens nagsê nie. Ons neem die stilte as ’n laaste eerbetoon voordat hulle tot wedersiens aan hulle bevelvoerder sê. Ma hou hom onder verdowing en die kommandant het ’n goeie nagrus.

Maar die burgers se vaarwel aan hulle kommandant loop die volgende oggend skeef.

Hulle staan om sy bed, en hy sê: “Ek hoor by die tante sy en die Here het planne vir my. Ek steun hulle planne voorlopig nie. Aangesien ek niks te verloor het om hulle planne vir hulle tot later uit te stel nie, maak ek ander planne. Die tante sê ook dit sal drie dae neem voordat die inflammasie die liggaam uit alle oorde aanval. Ek het daarom nie veel tyd om my planne ten uitvoer te bring nie.

“Ek het ’n Engelse offisier nodig, dringend nodig, so gou moontlik, met minstens die rang van ’n kaptein, min of meer my eie ouderdom en liggaamsbou. Dit gee my twee dae te perd tot by die militêre hospitaal op Bethlehem.

“Julle sal in my afwesigheid die bevel van veldkornet Voss aanvaar. Nou moet ek slaap om my rus op te bou vir die pad Bethlehem toe. Intussen sorg julle dat julle die Kakie hier kry.”

Niemann gryns in die rigting van kommandant Mannetjies Mentz. “Nee,” sê die kommandant en hy kyk reguit na Niemann, “ek het die offisier lewend nodig, ongeskonde, as ek enige hoop op sukses koester.”

Niemann het trane van teleurstelling in sy oë. Dit is wat aunt Soph later vertel. Hy sweer daar en dan om sake later te besleg, sê Soph. Dit is dalk maar een van Soph se stories – die plaasvervanger vir die kommandant was immers Charlie White, ’n reconnaissance scout wat die Engelse gewerf het om die kommandant en sy manne vas te trek.

Charlie White: luitenant, verkenner. Sy hande voor hom vasgebind sodat hy teen die opdraande aan sy saalboomknop moes vashou om bo te bly. Hy is ongedeerd.

Mannetjies Mentz het gevra vir ’n man van vergelykbare ouderdom en liggaamsbou. Is dit waarom die kommandant en Charlie in my geheue grotendeels verwisselbaar is – ’n verwisselbaarheid wat sy eie ontsteltenis sou meebring?

Ons kennismaking met die kommandant is kortstondig, terwyl hy meestal deur die koors benewel is. Dit beteken egter nie dat hy nie nog vir jare daarna ons lewe, en veral ons drome, sou oorheers nie. Dié verwisselbaarheid tussen Mannetjies Mentz en Charlie White doen nie veel om Mentz uit ons lewe te skakel nie. Die teendeel is dalk nader aan die waarheid.

Met die koms van die Engelse verkenner raak Mannetjies Mentz op sy siekbed haastig. Sy lewe hang aan ’n draadjie, en dié draadjie is nou net twee dae lank. Hy kry Niemann om die hande van die Engelse verkenner los te sny. Hy vra Ma om hom te verbind terwyl hy met die Engelse verkenner praat. Hulle praat op Engels, en die kommandant praat Engels asof hy dit aan moedersknie geleer het – nie die soort Engels wat ons kinders later eers op skool sou leer nie, hoe vlot ons ook al daarmee omgaan.

Terwyl die verkenner die rou skaafmerke om sy gewrigte vryf, vra die kommandant hom uit na die soort verkenningswerk waarby hy betrokke is. Sy groep moes kyk dat ’n Nek vry is voordat krygsgevangenes uit die Kom begelei kon word. Die kommandant lag koorsig, maar sonder leedvermaak.

“Nie altyd so ’n sukses van julle orders gemaak nie, nè?”

“Nee,” erken die Engelse verkenner.

“Deurentyd het ons julle dopgehou, plaas daarvan dat julle ons dophou. As julle ons daar soek, dan lê ons die eskorts en hulle krygsgevangenes in dié Nek voor. Ons weet presies waar om na julle te soek. Kyk hoe maklik het my handvol manne jou gevang. Ons weet presies wat julle doen en late is – behalwe vir ’n enkele keer, en dié enkele keer toe skiet julle my. Maar dit is oorlogstyd, en jy’t ’n opdrag. Dit kon net sowel enigiemand anders gewees het. Ek het nie ’n wrok teen jou nie. Om ’n wrok teen jou te hê, sal op selfhaat neerkom, want binne enkele ure is ék,” en die kommandant kyk op die Engelsman se pas, “Charles White. ’n Effens ouer uitgawe, maar andersins geloofwaardig? Stem die werklike luitenant White nie saam nie?”

Kommandant Mentz gee die stapel identiteitsdokumente aan veldkornet Voss. “Kry vir klein Naudé om die ouderdom met tien jaar te vermeerder.” Blink Frans was altyd goed met teken en so aan; al die lang vervelige dae as kind met asma in die bed het hy gelê en teken. En by teken het dit nie gebly nie – gee hom enige handskrif; hy maak dit so getrou na dat jy dit nie van die oorspronklike kan herken nie. Ek onthou hoe hy Morrie Segal meermale uit die moeilikheid gekry het deur dié se pa se handskrif na te boots. Morrie kon ongelukkig gister nie by sy huiswerk uitkom nie, want hy moes in die winkel help om die pot aan die kook te hou … kompleet met ou Jacob se spelfoute en sy soort krom en skewe Hollands.

Hy vra die Engelse verkenner in die fynste besonderhede uit na sy jeug. Waar hy vandaan kom. Sy bevelstruktuur en sy vriende. Hy vra selfs die naam van die verkenner se perd.

Hy lag koorsig toe hy Frans se werk vir die Engelse verkenner wys. “Goed, nè?”

By die dokumente voeg oom Frans ’n aanbevelingsbrief van die verkenner se bevelvoerder aan die superintendent van die Bethlehemse militêre hospitaal, in die bevelvoerder se eie handskrif en op amptelike papier (kompleet met stempel en briefhoof). Daarin word Lieutenant C. White se onmisbaarheid beklemtoon en die dokter se persoonlike aandag by die geval aangevra. Die toon van die brief insinueer ’n belofte van bevordering aan die dokter in die geval van sukses, sonder om dit reguit te sê.

Die Engelse verkenner kyk na oom Frans se werk. “Dis ’n merkwaardige kriminele talent. Natuurlik druis dit lynreg in teen die Geneefse Konvensie …”

“Sê wie? Die toekomstige prokureur, gesel van alle Skotse kriminele? Sodra jy jou klere uittrek, dan word ek luitenant Charles White, vrywilliger van Princess Street, Edinburgh, Skotland, prokureursklerk van beroep. En,” sê die kommandant, “oor die Geneefse Konvensie het ek my eie mening. Ek hoop dat ons kans sal kry om daaroor te praat, by ’n latere geleentheid as ek weer reggedokter is.”

Mannetjies Mentz vra luitenant White: “Het jy Niemann al ontmoet?”

“Ja,” sê die Engelse verkenner.

Kommandant Mannetjies Mentz sê: “’n Lojale kêrel, en ek is seker dat sy reputasie selfs in die Engelse kampe onder in die Kom bekend is, alhoewel ek en jy op middelgrond, tussen Nek en Nek, opereer. Wel, ek kan Niemann hier los om jou op te pas, en laat ek jou verseker, luitenant, dat hy jou tot aan die einde van die aarde sal agtervolg as jy dit durf waag om weg te kom. My weddenskap is egter dat hy jou sal vastrek voordat ek tien tree weg is. Aan die ander kant, ons het Niemann in die veld nodig. Sou jy ontsnap, sal hy alles net so los om jou spoor te vat. ’n Angswekkende talent, dié van Niemann, om op ’n spoor te bly totdat hy sy prooi vaskeer. Jy kom uit ’n ras van jagters, en jy weet hoe ’n jagdier eers met sy prooi speel … Jy wil sekerlik nie hê dat Niemann hier moet bly om jou op te pas nie …”

Die Engelse verkenner sê niks nie.

“… hier tussen hierdie onskuldige mense?” sê kommandant Mentz. “As jy dit nie wil hê nie, dan moet jy so sê, en my bewondering vir die Engelse ras was nog altyd vasgevang in die spreuk Their word is their bond …”

Charlie White sê steeds niks nie.

“Of, as jy dit so verkies, dan los ek veldkornet Voss én Niemann beide hier, dié een om die uiterstes waartoe die ander in staat is, te balanseer. ’n Meer subtiele span, maar dalk ook meer effektief,” sê kommandant Mannetjies Mentz. “Sonder twyfel ’n span wat meer goedkeuring van die mense hier sal wegdra, en hulle wense durf ons nie ignoreer nie.”

“Daar is geen rede om dié mense in gevaar te stel nie,” sê Charles White. “Laat jou burgers Niemann met hulle saamneem. Ek belowe om net hier te bly, totdat ek woord ontvang dat jy uit die hospitaal is, of gevang is …”

Die kommandant snork by die aanhoor van dié laaste opsie, maar sê tog: “Ons verstaan mekaar. Ek hoop jy het begrip dat ek na my eie welsyn moet omsien. In ieder geval is ek nie van plan om langer as wat die noodsaak voorskryf aan ’n hospitaalbed gekluister te wees nie. Trek nou jou klere uit.”

En dit was die eerste en enigste keer dat ek werklik in die siel van die kommandant kon sien, dat hy nie sou skroom om met die lewens van vroue en kinders ’n ooreenkoms te verseël nie, sê aunt Soph later.

Ma sê: “Ek verbaas my aan die kommandant se woordrykheid en spraaksaamheid dié oggend. Dit moet die laudanum teen die pyn wees wat nog nie uitgewerk is nie.” Dit is verklaring genoeg vir Ma.

Luitenant White draai sy rug na ons wat die kommandant se wonde so goed moontlik verbind vir die pynlike perderit na Bethlehem. Die luitenant bewe in die oggendkoue, maar kommandant Mannetjies Mentz stoom koorsig in sy eie sweet.

Ons help hom die Engelsman se klere aantrek, en voordat sy manne hom bergaf dra, met die Engelsman se perd agterna, gee Ma hom ’n bottel laudanum vir die koors en die pyn. Sy waarsku hom om dit nie nou te drink nie, aangesien ’n vorige dosis nog nie uitgewerk is nie. Eers dan sal hy dit nodig kry. “O, ja,” herhaal Ma, nie sonder leedvermaak nie, “miskien kry jy dit nie nodig nie!”

Dié aand hoor ek hoe Jan Witsie die wag op Sesotho uittrap. Ek hoor egter net frases: “… al twee doodskiet … eerste oogopslag …” Ek weet hy praat oor veldkornet Voss en Niemann. Jan Witsie weet iets wat ons nie weet nie, maar toe ek hom daarna uitvra, toe loop hy anderpad sonder om enigiets te sê. Ek vertel vir aunt Anne wat ek gehoor het. “Jan Witsie weet die beste,” sê sy.

Klassiek reeks: Op soek na generaal Mannetjies Mentz

Подняться наверх