Читать книгу Fiela se kind - Dalene Matthee - Страница 10

6

Оглавление

Toe Fiela die môre die agterdeur oopmaak, het sy geweet daar sou nie op daardie dag aalwee getap word nie. Die noordwestewind het gewaai. Al sou jy die vetste blare sny en onderstebo pak en dan self op jou kop gaan staan, sou hulle jou nie ’n lepel vol sap gee nie. Kom die noordwestewind, hou die aalwee sy sap in hom vas.

Agter haar in die skemer kombuis het Kittie dunhout gebreek om die vuur op te maak. Bokant die huis by die klein kraaltjie was Dawid besig om die bok te melk.

“Blaas maar dood die kers, Kittie,” het sy oor haar skouer gesê en buitetoe geloop.

Die nag se laaste donkerte het nog oor die aarde gelê: oorkant die Kloof, aan die voete van die koppe en die kranse, was dit sommer nog swart. Die maan was ver gekrimp en het blinkwit in die weste gesit. Bo by die varkhok het die rooi haan gekraai asof hy wou seker maak hy kry die dag gebreek.

Sy het die dag se pad vooruit geloop en dink. Tollie moes in die huis bly. Die wyfie het hom die vorige dag geskop. Deur die Here se genade net ’n lang bloedskraap teen die bobeen af tot by die knie, maar dit kon ’n lelike ding gewees het. Kinders dink mos jy praat wind as jy praat. Luister nie voordat hulle nie seergekry het nie. Sy het die Here sommer agter die varkhok op haar knieë gaan dank nadat sy klaar geskel het. Die kind kon dood gewees het. Maar dis omdat hulle nie weet wat dit is as ’n volstruis ’n regte skop skop nie. Sy weet. Sy was al uitgegroei toe die wilde volstruis die slag vir Nicolaas Dannhauser onder op Diepkloof oopgeskop het. Die Dannhausers was vreemde witmense wat kom intrek het, en toe loop sukkel die man deur die veld waar die wilde voëls aan’t broei was. Hulle moes hom met die perdekar loop optel en met hom injaag dorp toe. Een moes langsaan sit om die derms bymekaar te hou. Ou dokter Avis het hom darem toegewerk en deurgehaal gekry, maar Dannhauser was agterna nooit weer ’n gesonde man nie. En dan dink die kinders jy praat wind.

Sy het na die wyfie se kamp toe geloop.

“Jy’s omgemoer, nè?” skel sy oor die takheining. “As jy gister my kind oopgeskop het, het ek jou nek vir jou afgeknak!” Die voël het pik-pik gewei. Agter oor die koppe het die son uitgekom en die Kloof vol strepe warmte kom gooi.

Dit was toe sy wou omdraai dat die gedagte by haar opkom, eers versigtig maar toe al hoe astranter, totdat sy vir haarself moes walle gooi. Sê nou sy maak ’n fout? Sê nou sy beduiwel alles?

Die ding wou nie los nie. Dit was die dag waarop die wyfie by Skopper in die kamp moes kom en klaar. Maar sonder bedenking was sy nie toe sy voor die huis om na die mannetjie se kamp toe loop nie.

“Skopper, jy moet nou mooi vir my kom luister,” het sy met hom gepraat. Hy het sy nek regop getrek en haar aangekyk asof hy weet sy het gekom om ’n groot ding te sê. “Ek gaan Pollie vandag by jou injaag en ek waarsku jou van twee kante af: Sy’s beneuk en jy moet ligloop vir haar. Aan die ander kant wil ek hê jy moet haar goed aankyk sodat jy bekwaam kan raak vir haar. Moenie dat die skande oor jou kom en daar van Wolwekraal se mannetjie gesê word hy was te sleg nie. Mooiste mannetjie in die Kloof met slapte in die swingel, hoe sal dít klink?” Hy wás mooi. Sy lyfvere was roetswart en blink teen die spierwit pluime van sy vlerke. “Pollie is vet en pragtig en jy moet haar vat, want ek het nie vir jou ’n ander wyfie nie. Jy baklei haar nie vandag hier uit nie, ek vra jou mooi.”

Die huis het na oggend geruik toe sy terugkom in die kombuis; die renosterhoutvuur het lustig onder die koffiewater geskiet en Kittie was besig om van die varsgebrande koffie in die sak te skep.

Almal behalwe Selling was op.

“Ons sal nie vandag veld toe gaan nie, die aalwee sal nie tap nie,” het sy gesê.

“Noordwestewind, ek het ook so gedink,” stem Dawid saam.

“En jy lyk verniet so bly, Benjamin, jy sal eers die werf vee en die hoenderhok help skoonmaak voor jy loop speel.”

“Ja, Ma.”

Sy het self die brood gesny en die melkwit varkvet opgesmeer en elkeen s’n uitgedeel. Oor die volstruise het sy eers stilgebly.

“Maak die koffie en skink vir ons, Kittie. Emma, jy moet later in die dag kruis toe loop en vir miss Baby en vir antie Maria elkeen ’n stukkie seep loop wegbring. Sê vir hulle die seep is nie hierdie keer so mooi soos miss Baby s’n laas was nie, maar Ma maak weer volgende keer reg.”

“Sê dis Benjamin se skuld,” snip Kittie. Sy en Benjamin was die hele week al haaks in die aalweekoppe. “Sê dis hy wat in die seeppot gestaan en roei het in plaas van roer.”

“Jy jok! Dis jy wat nie jou beurt kom roer het nie!”

“Skei uit, kinders! Skink die koffie, Kittie. Emma, jy moet sommer by die winkel ook aangaan en vir ons ’n emmer meel saambring. Benjamin, loop sê jou pa moet opstaan. Ons moet klaarkry, die wyfie gaan vandag by Skopper in die kamp kom.” Sy het geweet hulle sou stom staan. “Julle het my reg gehoor.”

“Ma speel seker,” sê Dawid.

“Ek speel nie. Vandag is die dag. Tollie moet in die huis bly met sy been, ons ander sal haar injaag.”

“My been is reg, Ma!”

“Reg lyk nie so nie – loop sê jou pa moet opstaan, Benjamin!”

“Sê nou Skopper wil haar nie hê nie, Ma?” vra Kittie onrustig.

“Dan weet ek nie so mooi nie.”

Benjamin het teruggekom van die kamer af en nog brood gevra. “Baas Koos het die ander dag by die winkel gesê ek moet vir Ma sê hy ruil Ma twee mannetjies vir Skopper.”

“As hy dink ek sal Skopper vir twee van sy ou motgevrete mannetjies verruil, kan hy weer loop dink. Ek is nie onnooslik nie.”

“Ek het vir hom gesê Ma is nie onnooslik nie.”

“Benjamin!” Sy het sommer ’n hou met die nat doek na hom gepiets. “Van wanneer af praat jy met grootmense asof hulle jou maters is?”

“Die oubaas het nie gehoor nie, Ma, mens moet skree om hom te laat hoor.”

“Eet ordentlik, moenie jou mond so vol prop nie.”

“Dis die brood wat so lekker is, Ma.”

Toe Selling die kombuis inkom, het sy hom net een kyk gegee en geweet die noordwestewind is nie net in die aalwyne in nie.

“Skink jou pa se koffie, Kittie.”

“Gee eers vir my ’n slukkie van die bakbossietreksel, Fiela, die wêreld draai vanmôre met my.”

“Die wêreld kan nie vanmôre met jou draai nie, Selling. Rossinski kom anderweek en die karwatse en die velle moet klaar.” Sy het vir hom ’n groot dop van die treksel ingegooi en twee lepels suiker ingeroer. “My oorle ma het altyd gesê as die wêreld met jou draai, is dit ’n teken jou maag staan stil. Ek sal agtermiddag vir jou laat gansies pluk en trek, maar vanmôre kan dit nie. Ek het al die hande nodig, want ek gaan die wyfie by Skopper injaag.”

“Fiela?”

“Vandag.”

“Jy maak ’n fout, Fiela, wag nog ’n week of twee.”

“Nee. Ek het hulle lank genoeg uitmekaar gehou. Ek het hulle weke lank in die veld gehad, ek het lampolie in hulle ore gegooi sodat daar nie ’n bosluis moet wees om hulle te hinder nie, ek het Skopper uitgehonger – ek wag nie langer nie.”

Die dou het nog nat oor die werf gelê toe sy elkeen se tak uitdeel. Tollie wou nie hoor nie, hy wou help.

“Asseblief, Ma.”

“Nou goed, keer jy dan dat Skopper nie uitkom nie. Staan binne die opening en maak jou klein as ons haar injaag sodat sy jou nie sien nie.”

By die wyfie se kamp het sy Kittie en Emma aangesê om onder te keer; sy en Benjamin sou bokant keer en hulle sou met haar bo om die huis gaan en dan af tot by die ander kamp.

Selling het op die hoek van die huis kom staan en haar ’n laaste keer probeer omhaal om te wag. “Fiela, jy’s te haastig, die mannetjie se skene verkleur nog nie eers nie.”

“Dalk verkleur hulle as sy by hom in die kamp is, Selling.” Vir die kinders het sy geskree om reg te staan. “As sy weghol, laat haar hol. Ons kan haar altyd weer aankeer, maar moenie haar verwilder nie.” Sy is alleen in die kamp in om die wyfie uit te keer. “Jy los nou jou beneuktigheid,” het sy paaiend met haar gepraat en die witdoringtak tussen haar en die volstruis gehou. “Dis die mooiste mannetjie in die Kloof en hy sal hom nie ophou met ’n beduiwelde wyfie nie.” In haar hart het sy gesê: Here, as ek vandag ’n fout maak, kyk tog net dat hulle mekaar nie tot niet baklei nie. Dit raak veretyd; as hulle die pluime verniel, kry ek niks daarvoor nie. Vir die wyfie het sy vermakerig bygevoeg: “As hy jou nie aanstaan nie, loop kry ek vir hom ’n ander een.” Toe het sy haar suutjies al nader na die opening toe gekeer en haar met die tweede probeerslag netjies uitgejaag en die kinders beduie om nader te kom en te kom help.

“Fiela!” Dit was Selling wat van die huis se kant af roep, maar Selling moes wag; die wyfie het langnek getrippel soos ’n perd wat lus het om te hol.

“Stadig!” het sy die kinders teëgehou. “Laat sak die takke effens en keer aan die kante.”

“Fiela!”

Die verbrande wyfie wou haar nie om die huis laat jaag nie en hulle moes teen die skuinste met haar uit en bo om die varkhok met haar gaan draai.

Sy weet goed dis nie vanmôre veld toe se jaag nie, het Fiela gedink. Die wyfie se kop het die hele tyd heen en weer op die lang nek gedraai asof die groot swart oë oral en alles wou sien. Nes ’n hoender wat uitgekeer word vir die slag en wantrouig begin raak.

“Pollie!” het Benjamin vir die wyfie geskree, “as jy met Skopper trou, bak Ma vir julle ’n geelkoek!”

“Lig jou tak, Benjamin, as die wyfie vandag omspring, gaan sy skop om raak te skop! Sy’t lus vir neuk.”

Toe hulle bo om die varkhok met haar draai en begin afkom na Skopper se kamp toe, het die perdekar onderkant die huis opgekom. Die skrik het Fiela se verstand uit haar kop uit geruk, maar haar lyf het bly draf en keer. Here, dit kan nie waar wees nie, nie na al die weke nie!

Hulle was amper by Skopper se kamp toe die wyfie skielik wegswenk en weer met hulle bo om die varkhok gaan draai. Met die tweede afkom het Kittie rats langs haar ingespring en haar ingekeer gekry.

Dit was dieselfde twee mans. Die lange en die dikke.

Haar kop het skielik op twee plekke gelyk begin dink.

“Kom uit daar uit die kamp, Tollie. Pak toe die opening!”

Die wyfie het al langs die binnekant van die heining af begin hol; onder het sy gedraai dat die klippers spat en weer tot bo gehol. Af. Op. Sy was vasgekeer en het uitkomplek gesoek.

Die twee mans het die perde vasgemaak en na Selling toe aangestap. Benjamin het ’n entjie van haar af gestaan met sy doringtak voor hom uitgehou, en sy het geweet hy weet dis die dag wat sy gesê het vir hulle mag aanbreek.

Die wyfie het al vinniger gehol, op en af teen die heining. Skopper het in die middel van die kamp gestaan asof hy nie kon besluit of hy self ook aan die hol moes gaan en of hy haar daar uit moes baklei nie.

Fiela het skielik nie omgegee wat hy doen nie. Sy wou vir Benjamin skree om die koppe in te hol en weg te kruip, maar haar mond wou nie oop nie en haar hart wou nie bedaar nie.

Benjamin het haar eendag in die aalweekoppe na die dinge gevra. Hulle was aan’t aalwee tap en hy moes help blare sny en in die rondte opmekaar pak: snykante ondertoe sodat die taai, bitter geel sap oor die stuk plaat kon drup.

“Ma?”

“Pak nog ’n laag, Benjamin.”

“Ma, Ma sê altyd ek is Ma se hanskind.”

“Ja – moenie dat die dorings jou so skraap nie, kind. Vat die blaar soos jy ’n pofadder sal vat, bly weg van die sye af waar die dorings sit.” Sy het geweet waarheen hy wou praat en probeer uitstel soek. “Ons moet opskud. Emma en Kittie het al twee hope wat tap. Môre sal ons weer ’n slag kan uitkook.”

Benjamin het van die tap gehou, maar as hulle die dag die bymekaargemaakte sap in die drom op die buitevuur moes uitkook tot dit dik en swart en glaserig is, het hy altyd ’n plan gemaak om weg te kom.

“Alles proe bitter, Ma, tot die lug ook! Die rook maak ’n mens se klere en ’n mens se lyf en alles bitter. Ek sal vir Ma iets anders doen.”

Sy het hom maar altyd laat wegkom, by die tap was hy darem so fluks.

Maar sy kon nie van sy vrae af wegkom daardie dag nie.

“Hoekom was Ma so bang toe hulle die dag die mense kom tel het?”

“Ek was g’n bang nie.”

“Ma was bang. Ek het gesien.”

“As ’n mens met ’n adder te doen het, is dit nie te sê jy’s bang as jy jou klippe vir hom regkry nie.”

Hulle het saam die kwylende blare om en om op die hoop gepak. Na ’n ruk het sy gedink hy het die ding gelos, maar toe begin hy weer torring.

“Hoekom is ’n mens wit of bruin, Ma?”

“Vra jy my nou na die Here se geheim? Hoekom is ’n spreeu swart en ’n vink geel?”

“Hoekom is ek wit en Ma-hulle bruin?”

“Omdat jy ’n hanskind is. Pak vorentoe daardie blaar, hy drup mis.”

“Hoekom het Ma die dag gesê hulle sal Ma eers moet keel-af sny voor hulle my kan vat? Wou hulle my vat?”

“Dit was wind se praat. Waar kan jy ’n ander mens se kind sommer kom staan vat?”

Sy het van haar hurke af opgestaan, maar Benjamin het bly sit.

“Ma?”

Daar was onrus in die kind. Sy het weggekyk na die verte toe, tot onder waar die vaalblou bergspitse die Kloof sluit, en sy het geweet die kind gaan ’n ding vra waaroor sy nie vir hom sou kon lieg nie.

“Ja, Benjamin?”

“Gaan hulle my kom vat, Ma?”

Die kind het ’n manier gehad om na jou te kyk asof hy uit sy hart in jóúne in kyk. “Ma sal jou nie laat vat nie, Benjamin. Maar êrens wag daar vir ons ’n dag waarop net die Here ons sal kan help.”

“Gaan hulle terugkom?”

“Ek weet nie. As hulle nie kom nie, sal ’n ander adder op ’n ander dag kom. Ons sal maar moet wag en sien. Maar Ma sal jou nie laat vat nie.”

“Hoekom tap die aalwee nie as die noordwestewind waai nie, Ma?”

“Dis die aalwee se geheim.”

Benjamin het die doringtak laat sak en omgekyk na haar toe. Here, het sy in haar binneste gedink, hoekom kry ek skielik so ’n aardige gevoel?

“Fiela!” het Selling benoud geroep.

Die wyfie het nog steeds gehol en Skopper het nog steeds in die middel van die kamp rondgetrippel. Dawid en Tollie en die twee meisiekinders was besig om die opening toe te pak, maar hulle oë het bly huis toe draai.

“Fiela, kom hier!”

Sy het haar tak teen die heining gesmyt en met elke tree wat sy gee, gevoel soos een wat aan die leeg bloei is.

“Môre!” Die lange het mildelik gegroet. “Ek sien julle is nog altyd doenig met die volstruise. Gaan julle laat broei?” Sy het hom nie antwoord gegee nie. “Ek hoor vere se pryse gaan sak.”

Dit was ’n lieg, maar sy het hom dit nie gesê nie. Hy kon staan en praatjies maak tot hy van sy eie praatjies moeg is. Sy sou hom ook nie vra wat hulle kom soek het nie.

Die dikke het skuldigweg nader gestaan. “Ek sien julle het darem ’n bietjie reën gehad … Ons het laas nag agter in De Vlugt geslaap, by die Standers. Ons is gisteroggend ’n bietjie laat weg op Knysna.”

Die wyfie se pote het egalig grond geraak en ’n hoender het bo by die varkhok aan die kekkel gegaan.

“Mister Goldsbury, die nuwe magistraat op Knysna, het ons gestuur,” het die lange gesê, maar hy het haar nie in die gesig gekyk nie. “Hy wil die kind sien.”

Sy het nie haar stem verhef nie. “Ek het daar niks op teë nie, hy kan kom kyk.”

“Hy wil die kind op Knysna sien.”

“Hy kan hom hier kom sien.”

Die lange het hom opgeruk. “Luister, atta, ek is moeg en jy moenie vandag moeilik raak nie. Ons het ver gekom. Die magistraat is nie ’n man met wie ’n mens sukkel nie. Hy wil die kind op Knysna hê en dis klaar.”

“Oormôre,” het die dikke bygevoeg. “Vrydag. Mister Goldsbury wil net die saak van die kind wat die slag in die Bos weggeraak het, opklaar. Dis al. Die ding sluit. Die ma van die kind sal ook Vrydag in die hof op Knysna wees. Sy moet kom kyk of dit haar kind is.”

“Dis nie haar kind nie.”

“Dan moet ons soveel te meer sorg dat sy en mister Goldsbury dit self ook vasstel,” het die lange gesê. “Laat die saak dan afgehandel kom.”

Hulle was haar aan die vaskeer. Sy het dit geweet. “Hoekom kom kyk die bosvrou dan nie hier as sy wil kyk nie?”

“Dis groot sake hierdie, atta, dis dinge wat voor ’n magistraat gesê en gedoen moet word. As sy hiernatoe kom, kan julle praat soos julle wil, maar voor die magistraat staan jy onder eed en moet jy reg praat. Daarby is die bosmense baie sku. Die boswagter sê juis hy weet nie hoe hulle Vrydag die vrou op die dorp gaan kry nie, wat nog te sê van in die hof.”

Hulle het jou klaar omgejaag, Fiela Komoetie, het sy vir haarself gesê, hulle pak nog net die opening toe. Sy het Selling se swakte deur haar lyf voel trek. Spartel en skree sou haar nie help nie, al wat oorgebly het, was om nie voor hulle te loop lê nie.

“Ek sal hom self Knysna toe vat.”

“Waarvan praat jy nou, atta?” Die lange se ongeduld het lelik begin deurslaan. “Die magistraat wil hom Vrydag in die hof sien, dis oormôre! Nie anderweek nie. Dit sal jou minstens twee dae te voet neem om daar te kom, en met die kind by jou nog langer! Dis te ver om met hom te loop.”

“Nou verstaan ek baas nie. Volgens baas het hy, toe hy maar drie jaar oud was, alleen oor die berge gekom tot hier, en nou dink baas dis ver vir hom om te loop?”

“Ek het nie gesê dit is die kind nie, ek het gesê die magistraat wil die kind sien om die saak op te klaar.”

“Ek sê vir baas julle mors julle tyd, dis nie daardie kind nie.”

“As jy dan so seker daarvan is, steek jy nie dalk vir ons iets weg nie?” het die lange agterdogtig gevra.

“Ek het niks om weg te steek nie, ek sê net vir baas-hulle dis nie daardie kind nie. Hy’t nie van die Bos af gekom tot hier nie. Iemand het hom hier kom neersit toe dit nag was sodat niemand moes sien nie. Maar ek is gewillig om die kind Maandag op Knysna vir die magistraat en vir die bosvrou te loop wys sodat hierdie ding kan end kry.”

Toe het die dikke se geduld ook begin lol. “Jy kan nie die magistraat voorsê nie. As hy gesê het Vrydag, is dit Vrydag of hy skryf vir jou aan die verkeerde kant van die wet in en jy staan Maandag vir minagting in die hof!”

“Dan ry ek saam met julle met die kar.”

“Daar’s nie plek op die kar nie,” het die lange gekeer. “Jy weet self hoe ellendig die pad hier agter oor die berg is. Die poskar had verlede maand nog weer ’n ongeluk, op dieselfde plek waar mister MacPherson met die poskar verongeluk het.”

“Nou wil julle mý kind loop staan en verongeluk?”

“Maar dis dan hoekom ons sê ons kan jou nie ook oplaai nie; ons wil nie die kar te swaar hê nie.” Die lange was ergerlik. “Môre vroeg kom laai ons die kind op, môreaand slaap hy by my in my huis op Knysna, Vrydagoggend neem ek hom vir mister Goldsbury hof toe en die bosvrou kom kyk of dit haar kind is.”

“Dis nie haar kind nie!”

“As dit nie haar kind is nie, bring ons hom Saterdag terug.”

Sy het geweet hoe die kloekhen voel as die valk in die lug kom hang en daar is geen skuilte vir haar om heen te vlug nie. Al wat vir háár oorgebly het, was om te pleit.

“Here, baas, ek het die kind belowe dat ek hom nie sal laat vat nie. Hy’s so vas aan my, baas. Hy’s maar nog net ’n kind en hy’t min wil. Ons is sy wil en God kyk op ons af en Hy skryf iedere traan op wat ’n kind deur onse wil stort. Het baas dan nie ’n hart nie? Al wat ek vra, is dat baas my saam met die kind vat. Ons sal terugloop.”

“Ons kan nie,” het die dikke gesê. “Maar ons sal mooi na hom kyk, jy hoef nie bang te wees nie.”

Sy wás bang. Hulle het met ’n ding gekom waarteen sy nie langer kon baklei nie. Hulle had die wet aan hulle kant en die wet is baas. As die magistraat net die kind vir die bosvrou wou wys, was daar niks te vrees nie, maar daar was so baie ander redes wat hulle in hulle koppe kon wegsteek en waarvan sy nie kon weet nie. Dít was die vrees wat haar in wanhoop laat staan het en die woede in haar laat kom het.

“As baas-hulle nie loop sê het van die kind nie, as julle julle bekke gehou het, het hierdie ding nie nou oor ons gelê nie!”

“Jy kon tog nie die kind vir ewig weggesteek het nie!” het die lange haar uitgedaag.

“Ek het hom nie weggesteek nie!” het sy gestry.

“Die mense sê die kind kom nie in die kerk nie, hy verheiden.”

Sy het van voor af geskrik. “Met ander woorde, julle het by andere oor die kind loop praat? My agter my rug loop verskinder?”

“Hulle sê die kind is nie saam met jou ander kinders skool toe nie.”

“Ek leer hom van die Here. Tollie en Dawid het hom geleer soos hulle in die skool geleer het. Iedere middag. Miss Baby Stewart, onder op die kruis langs die winkel, het hom twee middae in die week somme geleer omdat Tollie en Dawid self nie die somme altyd verstaan het nie. Benjamin kon húlle later van somme leer. Nee, baas, ek het hom nie weggesteek nie, ek het hom net uitgespaar waar ek kon omdat hy wit is. Ek het hom maar net weggehou van adders soos julle!”

“Fiela!” Selling het haar geken as sy duiwel vat. “Die baas sê mos hulle sal hom Saterdag terugbring.”

“Hoe weet ek hulle staan nie en lieg nie?” het sy vir Selling geskree.

“Baas, lieg baas-hulle?” het Selling bedremmeld en reguit vir die lange gevra.

“Ons lieg nie, maar as die magistraat van jou vrou se houding moet verneem, gaan dinge sleg lyk vir julle. Die magistraat wil net die kind vir die bosvrou wys, maar nou moet ek my van ’n bruinvel laat staan en beledig. Ek het nou genoeg gehad. Môre voordag kom laai ek die kind op. As hy nie regstaan nie, ry ek sonder hom en kan die magistraat die konstabel stuur om hom te haal. Dié sal nie kom staan en verduidelik soos ek nie, hy sal hom kom vat en klaar. Hy’s ’n Ier.”

Toe hulle wegry, het Wolwekraal agter hulle tot ’n verslae stilstand gekom. Alles, behalwe die wyfie.

En Fiela se kop het na elke kant toe uitkoms gesoek. Sy moes die kind vat en bo in die fonteinkloof met hom gaan wegkruip. Nee, sy moes kruis toe loop, na miss Baby toe, en hom daar gaan wegsteek. Of by antie Maria. Maar antie Maria was kok by Petrus Zondagh-hulle en het in die werk gestaan. Sy moes na Petrus toe, hy sou weet wat om te doen. Nee, fonteinkloof toe sou die beste wees.

Selling het inmekaar op sy bankie langs die huis gaan sit. Kittie en Emma het by die peerboom gestaan en huil, en Dawid en Tollie het rantjiesveld toe geloop.

Benjamin het sy skuite op die water gaan sit.

Here wat op die mens neersien, wat moet ek doen?

Sy het varkhok toe geloop. Na die bok toe. Kamp toe. Vangdam toe. Veld toe. Terug. Net soos die wyfie kon sy nie tot ruste kom nie. Varkhok toe. Kombuis toe. Vangdam toe.

“Ma?”

“Bly stil, Benjamin, Ma dink.”

“Wat dink Ma?”

“Alles.”

Veld toe. Kamp toe. Varkhok toe. Here, watter kant toe? Lieg hulle of praat hulle die waarheid?

Teen die middag was daar twee kante oor: Die kind moes alleen in die fonteinkloof loop wegkruip en almal moes sweer dat hy verdwyn het soos hy gekom het. Weggeloop. Of sy moes klaarmaak en hom saamstuur Knysna toe en op haar knieë bly tot Saterdag toe en glo dat hulle hom sal terugbring. Die bosvrou se kind was hy nie, daarvoor sou sy sonder sien haar hand op die Bybel lê.

“Ma, die wyfie het bedaar, sy wei nou. Skopper ook.” Dit was of Benjamin haar daarmee wou troos.

“Loop speel, Benjamin, Ma is nog nie klaar gedink nie.”

Die kind het geweet hulle is vas, dit was in sy oë geskryf. En hy het nie teruggegaan sloot toe nie, hy het by Selling teen die muur gaan sit.

Nee, die kind kon nie alleen fonteinkloof toe nie. Dit was ’n bang dwaas se uitkoms. Daarby het ’n tier skaars ’n maand gelede weer daar deurgekom en een van die Laghaans se ou slingermaer skape kom vang.

Dawid en Tollie het agter die huis op die nabank gesit. Kittie en Emma het op die hoek van die huis gestaan. Sy het geweet hulle wag dat dit tot klaarte in haar moet kom, dat sy moet sê na watter kant toe.

Daar was net een kant oor.

“Dawid!” Sy het loop staan waar hulle haar almal kon sien en hoor. “Kry reg jou voete, jy moet dorp toe. Tollie, breek dunhout en pak ’n buitevuur aan vir warm water se maak. Emma, maak kleinvuur in die huis en hang vir ons kos oor. Kittie, loop haal die blik met die naaldegoed.” Hulle het haar net aangestaar. Sy sou moes reguit praat. “Benjamin gaan Knysna toe,” sê sy en sien Selling se hand uitgaan om oor Benjamin se kop te gaan lê. “Dit kan nie anders nie. Ek het oral gedink en ek kry nie ’n ander pad nie. Maar Saterdag sal hulle hom terugbring, sê ek vir julle. Hoor jy my, Benjamin? Saterdag sal hulle jou terugbring, en die Here help hulle as hulle ooit weer hulle pote op hierdie werf sit! Ma stuur jou saam sodat die magistraat en die bosvrou jou kan bekyk en klaar kyk. En Ma belowe jou, jy sal nie nodig hê om jou kop anderkant daardie berg te laat sak omdat jy as ’n Komoetie ingeskryf staan in die Goewerment se boek nie. Dawid gaan kortpad vat oor Jan Koles se kop dorp toe met die skaapvelle en ’n paar karwatse, en hy gaan vir mister Pace sê hy moet vir my daarvoor vir jou ’n mooie hemp en ’n paar winkelskoene stuur. Selling, trek af die kind se voet op ’n stukkie vel. Tollie, maak die vuur. Kittie, bring die naaldegoed, daar’s ’n naat los aan Benjamin se beste broek.” Die skrik was nog nie uit hulle uit nie, want hulle het haar nog steeds net bly aanstaar. “Haal asem! Ons moet die kind regkry, hy sal hom nie loop skaam nie!”

Skemer was Dawid terug van die dorp af. Die hemp was ’n bietjie groot, maar dit was beter as te klein. ’n Mooi hemp. ’n Bloue. Die skoene was net reg.

En die kinders was nie meer so verskrik nie. Dit was amper soos Oujaarsdag se regmaak om na antie Rosie onder op Haarlem te gaan.

“Jy moet vir ons iets moois van Knysna saambring, hoor?”

“Hulle sê daar’s olifante in die Bos, dalk sien jy een.”

“Dink net hoe lekker gaan jy perdekar ry!”

“Moenie huil nie, Benjamin, miskien kan jy nog vir ons ’n lekker vis loop vang!”

Sy het hulle laat begaan. Dit het Benjamin beter laat voel en ’n bietjie belangrik daarby, en dit het gehelp dat hulle nie agterkom hoe bekommerd sy is nie. Net Selling het haar onrustig bly dophou.

Daar was baie vir haar eie hande te doen. Die wit haan moes geslag kom, sy moes vetkoek knie en bak. Die kind moes genoeg kos saamkry om na Saterdag toe te hou. Sy het sy hare gesny, sy naels geknip, sy voete met lampolie en kersvet ingesmeer sodat daar nie ’n skurftetjie aan hulle moes agterbly nie. Sy wou haar nie skaam nie. Daar sou nie ’n vinger na ’n Komoetie gewys word nie.

Sy het die kinders laat terg en praat. Háár praat sou sy praat wanneer sy hom in die kamer in die bad het vir die groot skrop. Sy voete moes net eers saf word.

Kort na Dawid gekom het, het hulle geëet. Die kos wou in haar keel bly sit, maar sy het aangehou met eet, want Benjamin het haar dopgehou asof hy wou seker maak dat sy nie bang is nie.

Solank Kittie en Emma die skottelgoed was, het sy buitetoe gevlug. Dawid was by die vuur.

“Die water is reg, Ma.”

“Ek wag dat die meisiekinders klaarkry in die kombuis.” Dawid was besig om man te word. Daar was grootmensonrus op sy gesig in die gloed van die vuur. “Ma loop sommer ’n bietjie na die volstruise toe.”

“Sê nou hy is die kind wat agter in die Bos weggeraak het, Ma?” het Dawid haar gekeer.

“Hy is nie. Wag tot jy gesien het hoe dit hier agter oor die berge lyk en jy sal ook weet dat dit nie hy kan wees nie. Jy ken die wêreld maar net kortpad deur besemgoedkloof tot agter in De Vlugt. Ek ken hom pad langs. En De Vlugt is maar agter die eerste berg. Nee, Dawid, dis al troos wat ons vanaand het, die bosvrou se kind is hy nie. En Vrydag sal sy dit ook weet. ’n Ooi ken haar lam.”

Sy het weggedraai en die donker in geloop. Die sterre het blink bo die Kloof gehang, rustig, asof daar geen sorge bokant die aarde is nie.

Gaan saam met Benjamin, Here, het sy loop en bid. Bly by hom, hy’s safter as ons, want hy’s wit. Staan langs hom as hy voor die magistraat moet verskyn. Kyk dat hy netjies en skoon daar staan en kyk dat sy skoene vas is.

By die volstruise se kamp het sy oor die heining gesoek tot waar sy die wyfie sien sit.

“Gedink jou gô sal uit wees,” sê sy vir haar en loop tot waar Skopper onder in die hoek staan. “En as jy nou só staan? Dink jy nou of jy haar sal vat of uitbaklei? Jy neuk net nie môre of oormôre of die dag daarna nie, ek sê jou. Hier’s genoeg hartseer op Wolwekraal.”

Bo in die rante het die naguiltjie sy droewige roep gegee. Toe Benjamin klein was en die naguil het naby die huis kom torre soek en sy roep kom roep, het dit altyd die kind tussen haar en Selling in die kooi gejaag.

“Wat maak so, Pa?”

“Naguiltjie.” Selling het maar sleg geslaap en van gesels in die nag gehou.

“Dit klink dan nie soos ’n uil nie.”

“Lyk ook nie soos een nie. Jy sal in die kliprantjies loop en bo-oor hom trap en hom nie raaksien nie. Hy lyk nes die klippe en hy hou sy lyf plat as jy aankom.”

“Tollie sê dis ’n spook wat so maak.”

“Tollie lieg.”

Selling se stories oor die veld en die diere – party ook maar dik liegstories – kon die kind soms ure lank laat rieme vashou as daar langsweep gevleg moes word. Daar was tye wat dit vir haar gelyk het of Benjamin meer geduld met sy pa se swakte het as die ander kinders.

Sy het omgedraai huis toe.

“Bring die water, Dawid.”

Hulle moes vir haar die sinkbad vol water dra. Sy het van die bêreseep uitgehaal, ’n nuwe wasdoek en ’n skoon stuk flennie vir die afdroog. Toe die kind uitgetrek staan, het die nood haar van nog ’n kant af kom druk: Was hy nie te maer nie? Was hy nie te bleek nie? Wat van die skrape aan sy arms en sy bene? Aalweetyd was almal vol skrape, dis net dat die kind se witte vel die skrape so wys.

“Ma …”

“Klim in, Benjamin!”

“Ma, die water is te warm.”

“Hy’s nie te warm nie, ek het hom gevoel.”

“Ek het vir Ma gesê ek sal by die sloot gaan was. Ek is nie ’n baby nie.”

“Jy kan nie met die sloot se was voor die magistraat loop staan nie. Sit!”

“Ma, ek is bang.”

“Jaag weg die bang. En onthou om nie vir die magistraat baas te sê nie. Jy sê vir hom: my heer.”

“Is hy die Here?”

“Moenie jou aspris onnooslik hou nie, Benjamin! Hy’s die magistraat, die grootman van die wet. Die een wat voor hom loop staan en lieg, sit sommer met sy gat binne-in die tronk.”

“Ma moet saamgaan.”

“Daar’s nie plek op die kar nie.”

“Eina! Ma was my ore van my kop af.”

“Sit stil! Sê vir Ma, hoe het Ma gesê moet jy sê as die magistraat jou vra wat jou naam is?”

“Benjamin Komoetie.”

“Wie’s jou ma?”

“Fiela Komoetie.”

“Wie’s jou pa?”

“Selling Komoetie.”

“Waar woon jy?”

“Wolwekraal in die Lange Kloof. Ons eie grond.”

“Hoe’t jy Ma se kind gekom?”

“Hoe’t Ma nou weer gesê moet ek sê?”

“Die Here het jou aan Ma toebetrou.”

“Die Here het my aan Ma toebetrou.”

“Weer.”

“Die Here het my aan Ma toebetrou.”

“As hy jou laat skryf, dan skryf jy op jou mooiste. As hy jou laat lees, dan lees jy op jou mooiste, soos jy altyd vir Ma die Bybel lees. Oor die somme is Ma nie bekommerd nie.”

“Ek ken nie meer die nege-maal-tafel nie, Ma.”

“Hy sal dit nie vra nie.”

“Wie sê vir Ma?”

“Hy sal nie tafels vra nie.”

“Ek is bang, Ma.”

“Jaag weg die bang.” Here, het sy in haar hart gesê, vat weg my eie bang.

“Ma, sê nou hulle bring my nie weer terug nie?”

“Die magistraat sal kyk dat hulle jou terugbring. Saterdag, soos hulle gesê het. Die magistraat se woord is wet. Gee aan jou voet.”

Selling het op die kooi kom sit en in die kers in vasgekyk asof sy kop ver van sy lyf af was.

“Ma …”

“Hou stil jou voet, Benjamin! Ma het jou goed in die klein trommel gepak; jou slaaphemp onder, dan jou ander goed en bo-op jou beste broek en jou nuwe hemp. Die hemp trek jy Vrydag aan, en jy trek dit weer uit as jy klaar voor die magistraat was en sit dit netjies terug in die trommel. Moenie hom opfrommel nie.”

“Nee, Ma.”

“En Dawid leen vir jou sy beste baadjie. Maar jy trek nie Vrydag die baadjie aan nie, jy trek jou ou hemp onder die nuwe een aan, en as dit koud is, trek jy jou flenniehemp ook onder aan.”

“Ja, Ma.”

“Die vyf sjielings wat Ma in die lap knoop, los jy net so in die trommel. Dis vir ingeval.”

“Watse ingeval?”

“Vir ingeval die magistraat vra of jy geld het. Sodat hy kan sien die Komoeties is nie kaalgat nie.”

“En as Ma die geld nodig kry?”

“Ma sal dit nie na Saterdag toe nodig kry nie. Maar jy loop gee nie die geld uit nie, jy bring dit net so weer terug. Jou kos sal hou.”

“Sê nou ek verloor die geld?”

“Dan foeter ek jou.”

“Sê nou hulle vat dit?”

“Dan maak jy maar liewers nie moeilikheid nie.”

Langsaan in die ander kamer het sy Kittie hoor snuif. Sy het geweet die ander kinders luister na elke woord wat daar gepraat word. Selling se hande het om en om inmekaar bly woel.

“Fiela …”

“Ja, Selling?”

“Ek wonder of dit nie beter sal wees as hy liewerster vir die magistraat ‘weledele heer’ sê nie?”

Weledele heer. Dit het mooi geklink.

“Was Pa al voor die magistraat?” het Benjamin gevra. Sy het Selling sien skrik en self ook geskrik. “Tollie sê Pa was in die tronk.”

Sy dog haar hart gaan staan. “As jy voor die magistraat loop sê jou pa was in die tronk, kom daar moeilikheid!”

“Ek het mos nie gesê ek sal sê nie, Ma.”

“Jissus!”

“Ek sal nie sê nie, Ma.”

Sy het voordag opgestaan, die vuur opgemaak, koffiewater oorgehang, brood gesmeer, seker gemaak dat die kind se goed reg is. Haar kop was lig, sy het nie geslaap nie. Sy het vir die Here gesê as Hy kyk dat haar kind veilig terugkom, vat sy Augustusmaand die helfte van Skopper se pluksel en loop gee dit net so vir die kerk op die dorp. As die volstruise broei, vat sy die drie sterkste kuikens en verkoop hulle en loop gee dié geld ook. Die Here ken haar, Hy sal weet sy sal nie in benoudheid lieg nie.

Die ander het opgestaan en kombuis toe gekom en hulle het min gepraat. Benjamin het sy koffie gedrink en sy brood geëet en sy oë was bang en vol trane. Toe Selling begin huil, het sy buite gaan staan tot die lig van die perdekar se lantern onder in die Kloof uitslaan. Toe het sy binne gaan wag.

Die lange het nie gegroet nie, hy was stuurs. Tollie en Dawid moes Benjamin op die kar tel, want hy wou nie self opklim nie.

Fiela se kind

Подняться наверх